Die Keniaanse nasionale krieketspan (Engels: Kenya national cricket team; Swahili: Timu ya kriketi ya Kenya), met die bynaam Simbas (Swahili vir “leeus”), is die nasionale krieketspan wat Kenia in internasionale krieket verteenwoordig. Krieket word in Kenia deur Krieket Kenia (CK, van Engels: Cricket Kenya; Swahili: Shirikisho la Kriketi Kenya) beheer. Die land is sedert 1981 ’n assosiaatlid van die Internasionale Krieketraad, nadat hulle vroeër van die Oos-Afrikaanse krieketspan weggebreek het; as Oos-Afrika het hulle aan die eerste Krieketwêreldbeker 1975 deelgeneem. Sedertdien het hulle tussen 1996 en 2011 aan vyf krieketwêreldbekertoernooie deelgeneem en tydens die Krieketwêreldbeker 2003 het die medegasheer Kenia tot die halfeindrondte gevorder, hul beste prestasie tot dusver. Kenia kon tot dusver slegs een keer vir die T20I-wêreldbeker kwalifiseer, in 2007. Saam met Namibië en Uganda is Kenia tradisioneel een van die sterker nasionale Afrikakrieketspanne na die toetslande Suid-Afrika en Zimbabwe.
Kenia het van 1996 EDI-status in voorbereiding op die Krieketwêreldbeker 1996 geniet en het dié status 18 jaar lank behou, nadat hulle tydens die 2014-krieketwêreldbekerkwalifikasie in die vyfde plek geëindig en hul EDI-status verloor het. Van April 2019 tot Desember 2022 het Kenia deelgeneem aan die 2019/21 Krieketwêreldbeker Uitdaagliga wat as kwalifisering vir die Krieketwêreldbeker 2023 gedien het.
In April 2018 het die IKR besluit om aan al sy lede volle T20I-status toe te ken. Vervolgens word al die T20I-wedstryde wat Kenia ná 1 Januarie 2019 teen ander IKR-lede speel as ’n volle T20I erken. Kenia is tans (April 2026) 33ste op die Twintig20-wêreldranglys.
Beheerliggaam
Krieket Kenia (Engels: Cricket Kenya, CK; Swahili: Shirikisho la Kriketi Kenya) is in 2005 as opvolger van die Keniaanse Krieketvereniging (Kenya Cricket Association, KCA) gestig en verantwoordelik vir die reël van krieket in Kenia. Sedertdien verteenwoordig dit Kenia as ’n assosiaatlid by die Internasionale Krieketraad (IKR). Daarbenewens was die Keniaanse beheerliggaam in 1997 ’n stigtingslid van die Afrikakrieketvereniging (Africa Cricket Association, “ACA”).
Krieket Kenia bestuur al die Kenia-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van T20I-reekse teen ander spanne, en die reël van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is CK verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Keniaanse span.
Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Kenia oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.
Geskiedenis Beginjare Britse koloniste het krieket aan die einde van die 19de eeu na Kenia saamgebring. Die eerste bekende wedstryd – “Oos-Afrikaanse Protektoraat t Res van die wêreld” (sic) – is in Desember 1899 in Mombasa gespeel. Nasionale wedstryde (“Amptenare t Settlers”) is van 1910 tot in 1964 gereeld beslis. In 1914 het ’n Keniaanse span in Uganda vir die eerste keer weg gespeel en wen die Keniane met vyf paaltjies tydens ’n wedstryd in Entebbe. Ná die toestroming van Indiese arbeiders na Afrika om die streek se spoornetwerk op te rig het die gewildheid van krieket toegeneem en aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog was dit een van die mees beoefende sportsoorte in die streek.
Eerste internasionale wedstryde is in 1951 gespeel, toe hulle teen Tanganjika gespeel het. Twee jaar later is die Keniaanse Krieketvereniging (Kenya Cricket Association, “KCA”) gestig. Vervolgens het enkele spanne soos die “nieblanke” span van Suid-Afrika na Kenia vir wedstryde begin toer.
Oos-Afrikaanse span
duimnael|Vlag van die Oos-Afrikaanse nasionale krieketspan, later Oos- en Sentraal-Afrika In 1951 is die Oos-Afrikaanse Krieketkonferensie (Engels: East Africa Cricket Conference, EACC; later die Oos- en Sentraal-Afrikaanse Krieketkonferensie, East and Central Africa Cricket Conference, ECACC) gestig as die beheerliggaam van krieket in die streek. Hulle het toesig gehou oor die interkoloniale wedstryde tussen die drie stigtingslede Kenia, Uganda en Tanganjika. Later in dieselfde jaar het ’n saamgestelde Oos-Afrikaanse span Rhodesië gehuisves.
Oos-Afrika se volgende gedokumenteerde wedstryd was in 1956 teen ’n besoekende Pakistanse span. Onder die kapteinskap van Denis Dawson (die broer van die Suid-Afrikaanse toetsspeler Ossie Dawson) het die Oos-Afrikane die driedaagse wedstryd met agt paaltjies verloor. In die volgende jaar is die Oos-Afrikane deur die besoekende Sunder-krieketklub met nege paaltjies verslaan. In 1958 het ’n Suid-Afrikaanse span met spelers van ’n nie-Europese herkoms na die streek getoer en een wedstryd teen Oos-Afrika in Nairobi gespeel. Onder hul kaptein Malcolm Ronaldson, ’n voormalige eersterangse speler vir die Oostelike Provinsie, is Oos-Afrika in dié wedstryd deur die Suid-Afrikane met sewe paaltjies verslaan.
Gedurende die 1960’s het Oos-Afrika verskeie toerende spanne ontmoet. In 1962 het hulle twee wedstryde teen die Statebond se krieketspan gespeel. In die eerste wedstryd in Nairobi (10 tot 12 Februarie 1962) is die Oos-Afrikane met 20 lopies geklop. Dié wedstryd word veral onthou vir ’n vinnige honderdtal deur Basil D'Oliveira in die Statebondspan se tweede beurt. In die tweede wedstryd in Oktober, ook in Nairobi, het die Statebondspan Oos-Afrika met 118 lopies geklop. Die besoekende Marylebone-krieketklub (MKK) het in 1963/64 drie wedstryde in Uganda gespeel, een in Tanganjika en sewe in Kenia. Een van dié wedstryde teen die Oos-Afrikaanse span in Kampala het die MKK met ’n beurt en 71 lopies gewen. In 1966 het Oos-Afrika by die Internasionale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) as ’n assosiaatlid aangesluit. In dieselfde jaar het Zambië by die jaarlikse toernooi aangesluit, wat daarmee ’n vierhoekige toernooi geword het. In Augustus 1967 het die besoekende Indiërs een driedaagse eersterangse wedstryd teen Oos-Afrika met agt paaltjies gewen. In 1968 het ’n internasionale span van Engelse eersterangse spelers in ’n driedaagse wedstryd teen Oos-Afrika in Nairobi onbeslis gespeel.
In Junie en Julie 1972 het Oos-Afrika Engeland vir 18 wedstryde teen plaaslike spanne besoek en ’n oorwinning oor Noord-Wallis aangeteken. Geen van dié wedstryde het eersterangse status geniet nie. Die MKK het in 1973/74 weer Oos-Afrika besoek. In Desember 1973 het hulle twee wedstryde in Zambië gespeel, gevolg deur nog twee in Tanzanië en toe vier in Kenia. Hul enigste wedstryd teen die volle Oos-Afrikaanse span, wat oor eersterangse status beskik het, is deur die MKK met 237 lopies gewen.
Oos-Afrika is genooi om aan die eerste Krieketwêreldbeker 1975 deel te neem. Hulle was naas Sri Lanka een van twee nietoetspanne wat vir dié toernooi genooi is. Kenia het die helfte van die span se 14 spelers gestel. Voor dié toernooi is die span se deelname egter bevraagteken, nadat Tanzanië gedreig het sy spelers te verbied om na Engeland te toer in protes teen die Britse en Ierse Leeus-rugbyspan se toer na Suid-Afrika onder apartheid in 1974. Die insluiting van Oos-Afrika is as ’n belangrike stap vir die toernooi beskou, aangesien die deelname van ’n Afrikaspan as nodig geag is om van dit ’n ware wêreldbekertoernooi te maak. Die twee sterkste krieketlande in Afrika, Suid-Afrika en Rhodesië, het hul spelers op grond van ras gekeur en is uitgesluit as deel van die sportboikot teen Suid-Afrika, waarvolgens Oos-Afrika as Afrikaverteenwoordiger deelgeneem het. Ná opwarmingswedstryde teen Somerset, Wallis, Glamorgan en verskeie ander klubspanne, het hulle in die eerste rondte teen Engeland, Indië en Nieu-Seeland gespeel, maar al drie sy wedstryde verloor. Die krieketwêreldbekertoernooi is opgevolg deur ’n eersterangse wedstryd teen Sri Lanka op die County Ground in Taunton.
In 1978 het die Minor Counties Krieketvereniging Kenia besoek vir sewe wedstryde, waaronder twee teen Oos-Afrika. Die eerste wedstryd met 60 boulbeurte het die Minor Counties met agt paaltjies gewen. ’n Beplande driedaagse wedstryd is afgelas sonder dat ’n bal geboul is. Tydens die IKR-trofee 1979 het die span die kwalifisering vir die Krieketwêreldbeker 1979 in Engeland misgeloop, nadat hulle in die eerste rondte deur Bermuda verslaan is.
IKR-lidmaatskap Nadat hulle lankal as sterkste deel van die Oos-Afrikaanse span beskou is, het Kenia kort ná ’n toer na Zimbabwe in 1981 weggebreek en op sy eie as ’n assosiaatlid by die IKR aangesluit. Tydens dié toer het Kenia twee driedaagse wedstryde teen Zimbabwe gespeel en albei verloor. Aansluitend het hulle aan die kwalifiseringrondtes vir die volgende krieketwêreldbekertoernooie deelgeneem. Tydens die IKR-trofee 1982 se eerste rondte het hulle agter Zimbabwe, Papoea-Nieu-Guinee en Kanada in die vierde plek geëindig en is sodoende uitgeskakel. Tydens die IKR-trofee 1986 se eerste rondte het die Keniane ook in die vierde plek geëindig. Tydens die IKR-trofee 1990 het hulle beter gevaar en die eerste rondte tweede van vier deelnemende spanne afgesluit. In die tussenrondte het die span ná Zimbabwe ook tweede afgesluit. Hulle het die halfeindstryd gehaal, maar hulle is deur Nederland met vyf paaltjies geklop. In September 1986 het Kenia in sy eerste eersterangse wedstryd teen Pakistan B gespeel.
Eerste prestasies Die IKR-trofee 1994 is in Nairobi aangebied en in teenstelling met vorige toernooie is om drie deelnemende plekke vir die Krieketwêreldbeker 1996 in Indië, Pakistan en Sri Lanka gespeel. Kenia het beide die eerste rondte en die tussenrondte gewen, in die halfeindstryd Bermuda geklop en hulle is eers in die eindstryd deur die Verenigde Arabiese Emirate met twee paaltjies verslaan, waardeur hulle vir die Krieketwêreldbeker 1996 gekwalifiseer het. Kenia het toe in Augustus 1995 tuis teen Indië A gespeel en in September/Oktober dieselfde jaar na Suid-Afrika getoer. Tydens die Krieketwêreldbeker 1996 het Kenia ’n verrassende oorwinning oor Wes-Indië aangeteken, maar hulle is in al hul ander wedstryde deur onderskeidelik Australië, Indië, Sri Lanka en Zimbabwe geklop. Vervolgens het Kenia sy groep laaste afgesluit en is uit die toernooi geskakel. Ná sy vertoning tydens die krieketwêreldbekertoernooi het Kenia as enigste nietoetsland van die IKR volle EDI-status verkry, wat aan hulle nuwe speelmoontlikhede besorg het. Destyds is die span as ’n toekomstige toetsland beskou.
In September/Oktober 1996 het Kenia die Sameer-beker aangebied, waaraan ook Pakistan, Suid-Afrika en Sri Lanka deelgeneem het. In Desember het Nederland Kenia vir vier eendaagse wedstryde besoek en Kenia het alle sy wedstryde gewen. Hulle het in Maart 1997 die kwarteindstryd van die Suid-Afrikaanse Standard Bank-beker behaal, maar hulle het met 104 lopies teen Natal op Kingsmead verloor. Dit is opgevolg deur die IKR-trofee 1997 in Maleisië. Kenia het die eindstryd gehaal, maar hulle is deur Bangladesj met twee paaltjies verslaan, genoeg om vir die Krieketwêreldbeker 1999 te kwalifiseer. In Oktober dieselfde jaar is in Nairobi die President’s-beker aangebied, waaraan Bangladesj en Zimbabwe deelgeneem het.