Die Omaanse nasionale krieketspan (Arabies: منتخب سلطنة عمان للكريكت) is die nasionale krieketspan wat Oman in internasionale krieket verteenwoordig. Hulle word bestuur deur Oman Krieket (OC, van Engels: Oman Cricket) wat in 1979 gestig is. Hulle het in 2000 ’n geaffilieerde lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) en in 2014 ’n assosiaatlid geword. Die nasionale span het wedstryde op T20I-vlak gespeel. Op 24 April 2019 het Oman vir die eerste keer tot in 2022 EDI-status ontvang, nadat hulle die gasheer Namibië met vier paaltjies tydens die Wêreldkrieketliga se afdeling twee 2019 kon klop. Saam met Nepal en die Verenigde Arabiese Emirate is Oman tradisioneel een van die sterker Asiatiese nasionale krieketspanne na die vyf toetslande van Suid-Asië.
Oman het tydens die AKR-trofee 2002 sy eerste internasionale wedstryde gespeel, en die span het aan baie AKR-toernooie deelgeneem, tydens die AKR-trofee 2004 as naaswenner geëindig en twee keer die AKR T20I-beker gewen. Oman het aan krieketwêreldbekerkwalifiseringstoernooie deelgeneem sonder om vir die uiteindelike toernooi te kwalifiseer, die negende plek tydens die IKR-trofee 2005 behaal en elfde tydens die 2009-wêreldbekerkwalifisering geëindig. In Julie 2015 het Oman met sy oorwinning oor Namibië tydens die T20I-wêreldbekerkwalifisering 2005 T20I-status behaal en vir die T20I-wêreldbeker 2016 in Indië gekwalifiseer, sy eerste deelname aan ’n vername internasionale toernooi.
In April 2018 het die IKR besluit om aan al sy lede volle T20I-status toe te ken. Vervolgens word al die T20I-wedstryde wat Oman ná 1 Januarie 2019 teen ander IKR-lede speel as ’n volle T20I erken. Oman is tans (Februarie 2026) 16de op die eendagranglys en 20ste op die Twintig20-wêreldranglys.
Beheerliggaam
Oman Krieket (Engels: Oman Cricket, OC) is in 1979 gestig en verantwoordelik vir die reëling van krieket in Oman. In 2000 het dit ’n geaffilieerde lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword en in 2014 ’n assosiaatlid. Daarbenewens het OC in 2000 ’n lid van die Asiatiese Krieketraad (Asian Cricket Council, ACC) geword.
Oman Krieket bestuur al die Oman-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is OC verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Omaanse span.
Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Oman oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.
Geskiedenis Die nasionale span se eerste jare Krieket is na Oman gebring, toe dit ’n Britse protektoraat was. Gedurende die 1970’s is die eerste krieketklubs gestig. In 1979 is die beheerliggaam Oman Krieket gestig. Teen dié tydperk was daar in Oman slegs een krieketveld waarop gereelde wedstryde aangebied is, dit is deur die staatsmaatskappy Petroleum Development Oman bestuur en na dié maatskappy PDO Ground genoem. Binne enkele jare het verskeie krieketvelde bygekom, só by die Sultan-Qabus-universiteit en een wat deur die lugredery Oman Air beheer is. Aan die begin van die 1980’s is op twee sokkerstadions af en toe uitstallingswedstryde aangebied, waaraan soms internasionale spelers deelgeneem het. In 1990/91 het die Omaanse nasionale span Indië besoek.
In 2000 het Oman ’n geaffilieerde lid van die Internasionale Krieketraad geword en in dieselfde jaar by die Asiatiese Krieketraad aangesluit, wat hulle vir wedstryde teen ander nasionale spanne toegelaat het. Weens sy nielidmaatskap in die wêreldbeheerliggaam kon die nasionale span nie aan die kwalifiserings vir die krieketwêreldbekertoernooie in 1979, 1983, 1987, 1992, 1996, 1999 en 2003 deelneem nie. Dieselfde het gegeld vir die Asiatiese Bekertoernooie in 1986, 1988, 1990, 1995, 1997 en 2000. Oman het sy internasionale debuut tydens die AKR-trofee 2002 in Singapoer gemaak, waar hulle ná ’n oorwinning oor Katar en nederlae teen die Verenigde Arabiese Emirate, Nepal en Koeweit hul groep in die voorlaaste plek afgesluit het. In 2003 het hulle aan die eerste Golfbeker in Koeweit deelgeneem. Tydens die AKR-trofee 2004 in Maleisië het Oman goed presteer, nadat hulle ná oorwinnings in die groepfase oor Afghanistan, Bahrein en Hongkong, asook Bhoetan in die kwarteindstryd en Katar in die halfeindstryd eers in die eindstryd deur die Emirate met 94 lopies verslaan is. As naaswenner het hulle vir die IKR-trofee 2005 gekwalifiseer, die laaste kwalifiseringsfase vir die Krieketwêreldbeker 2007. Daardeur het hulle ook vir die Asiatiese Beker 2006 gekwalifiseer. Later in 2004 het Oman die Midde-Oosterse Beker ná ’n gelykopwedstryd teen Bahrein ingepalm; vanweë hul oorwinning oor dieselfde opponent in die groepfase was dit genoeg om dié toernooi te wen.
IKR-trofee 2005 en nadraai duimnael|upright|Jitendra Redkar was van 2002 tot 2006 Omaanse Lys-A-kaptein tydens verskeie AKR- en IKR-toernooie, asook van 2007 tot 2009 hoofafrigter van die nasionale span In 2005 was Oman die eerste geaffilieerde lid wat aan die IKR-trofee deelgeneem het. Hulle is egter in al hul vyf groepwedstryde deur Skotland, Nederland, Kanada, Papoea-Nieu-Guinee en Namibië verslaan, waardeur hulle hul groep in die laaste plek afgesluit en die Krieketwêreldbeker 2007 misgeloop het, maar hulle het daarin geslaag om hul uitspeelwedstryde teen Uganda en die Verenigde State te wen; laasgenoemde nadat hulle ’n teiken van 345 lopies suksesvol gejaag het, waaronder ’n vennootskap van 127 lopies om die agtste paaltjie. Hierdeur het Oman in die negende plek onder twaalf deelnemende spanne geëindig. Daarmee het hulle vir die Wêreldkrieketliga 2007 se afdeling twee gekwalifiseer.
In 2006 het die Omanis se prestasies verswak, aangesien hulle tydens die AKR-beker se eerste rondte ná nederlae teen Singapoer en Bahrein uitgeskakel is; hul enigste oorwinning was oor die Maledive. Daarmee is hulle na die tweede afdeling afgegradeer en het vir die AKR Trofee-uitdaagtoernooi 2009 gekwalifiseer. Oman sou oorspronklik aan die Asiatiese Beker 2006 deelneem en tydens dié toernooi sy eerste EDI-wedstryde teen Indië en Pakistan speel. Die Asiatiese Beker is van 2006 na 2008 uitgestel en die Asiatiese Krieketraad het besluit om dié toernooi in ’n kwalifisering om te skep. Daaraan het egter Hongkong deelgeneem.
In Oktober en November 2007 het Oman aan die eerste AKR T20I-beker in Koeweit deelgeneem, waar hulle in Groep A teen Afghanistan, Maleisië, Nepal en Katar gespeel het. Die Omanis het in hul groep tweede geëindig en die halfeindstryd gehaal. Daar het hulle die gasheer verslaan en daarna die beker met Afghanistan gedeel, nadat die eindstryd onbeslis geëindig het. Aan die einde van November 2007 het die Omanis Namibië besoek vir afdeling twee van die Wêreldkrieketliga. Hulle het Denemarke, die gasheer en die Verenigde Arabiese Emirate, bykomend tot die twee kwalifiseerders van afdeling drie – Uganda en Argentinië – ontmoet. Nadat die Omanis al hul groepwedstryde gewen het, is hulle in die eindstryd deur die Emirate met 67 lopies verslaan.
In Januarie 2009 het Oman deelgeneem aan die AKR-beker in Chiang Mai. Die nasionale span het dié toernooi ná oorwinnings oor die Maledive en Bhoetan onderskeidelik in die halfeindstryd en eindstryd maklik gewen. Die gunsteling en gasheer Thailand het slegs die vierde plek behaal. In April 2009 het die Omanis vir die Wêreldbekerkwalifisering 2009, die laaste kwalifiseringstoernooi vir die Krieketwêreldbeker 2011, na Suid-Afrika getoer. Tydens dié toernooi se eerste rondte het Oman Uganda verslaan; aangesien hulle voorheen teen Kanada, Ierland, Skotland en Namibië verloor het, is hulle uitgeskakel en het sodoende die Krieketwêreldbeker 2011 misgeloop. In die uitspeelwedstryd het hulle Denemarke met vyf paaltjies verslaan en sodoende in die elfde en dus voorlaaste plek geëindig. In dieselfde jaar het Oman tydens die AKR T20I-beker in die Verenigde Arabiese Emirate al sy vyf groepwedstryde teen Bahrein, Katar, Nepal, Maleisië en Koeweit gewen en sodoende die halfeindstryd gehaal. In die halfeindstryd is Oman deur die gasheer met ses paaltjies verslaan, waardeur hulle die kans misgeloop het om agtereenvolgende titels in te palm. In die uitspeelwedstryd om die derde plek het hulle Koeweit verslaan. Die Omanis het die AKR Trofee-uitdaagtoernooi in Thailand beklink, nadat hulle al hul groepwedstryde teen Bhoetan, Mianmar en Broenei gewen, in die halfeindstryd die Maledive en in die eindstryd Bhoetan verslaan het. Daarmee is hulle regstreeks na die AKR Elitetrofee opgegradeer. Tydens dié toernooi het Oman in die groepfase Singapoer en Koeweit verslaan, maar hulle het teen Nepal en Hongkong verloor. In die uitspeelwedstryd om die vyfde plek het hulle die Verenigde Arabiese Emirate met 34 lopies verslaan, waarmee hulle in die afdeling aangebly het.
In Julie 2008 het Oman Krieket aangekondig om in Al Amarat naby die hoofstad Maskat ’n krieketveld op internasionale vlak op te rig. Die boukoste is oorspronklik op sowat 2 miljioen Omaanse rial beraam en die grond sou deur die departement van sport beskikbaar gestel word, die ander deel van die finansiering sou deur korporatiewe borgskappe ingesamel word. Op 17 Oktober 2012 is die Omaanse Krieketakademieveld in die hoofstad Maskat as eerste (en tot dusver enigste) internasionale krieketveld met gras ingewy. Andersins word krieket in Oman “meestal gespeel op graslose, heeltemal bruin buitevelde, op betonblaaie bedek met kunsmatige gras” (has mostly been played on grassless, utterly brown outfields, on concrete strips covered with artificial turf). Tydens die AKR Elitetrofee 2012 het die Omanis die groepwedstryde teen Bhoetan en die Maledive gewen, maar teen Afghanistan en Maleisië verloor. In die uitspeelwedstryd om die vyfde plek is hulle deur Hongkong verslaan, waarmee Oman vir die AKR Premierliga 2014 gekwalifiseer het. Tydens dié toernooi het die nasionale span Maleisië, Hongkong en Nepal geklop, terwyl hulle deur Afghanistan en die Verenigde Arabiese Emirate verslaan is. Hiermee het hulle in die derde plek geëindig en vir die AKR Kampioenskap 2014 gekwalifiseer. Aangesien Afghanistan en die Verenigde Arabiese Emirate besig was met voorbereidings op die Krieketwêreldbeker is die AKR Kampioenskap 2014 gekanselleer.
duimnael|Yousuf Rahim Baksh is een van min inheemse Omanis wat vir die Omaanse nasionale krieketspan gekeur is Teen 2010 is krieket in Oman oorwegend deur emigrante uit die toetslande Bangladesj, Indië, Pakistan en Sri Lanka (en hul nasate) gespeel, maar minder deur inheemse Omanis. In dié jaar was slegs 100 van die 780 spelers in die nasionale liga Arabiere (oftewel 13 persent). Die aantal het tot in 2016 op sowat 400 gestyg met die algehele getal wat ook toegeneem het. Vir spanne wat in die Omaanse Liga meeding is ’n kwota ingestel en hulle moet ’n sekere aantal Omaanse spelers vir hul wedstryde benoem. Op nasionale vlak is slegs min Omanis vir die nasionale span gekeur. Tydens die T20I-wêreldbeker 2016 was slegs een van die spelers, Sufyan Mehmood, ’n inheemse (hoewel met Yousuf Rahim Baksh nog een as plaasvervanger benoem is). Voorheen was Ameet Sampat die enigste in Oman gebore speler wat vir die nasionale krieketspan verskyn het (in Lys-A-krieket).