Die Namibiese nasionale krieketspan, met die bynaam “die Arende”, is die nasionale krieketspan wat Namibië in internasionale krieket verteenwoordig. Krieket word in Namibië deur Krieket Namibië (CN, van Engels: Cricket Namibia, CN) beheer. Namibië is sedert 1992 ’n assosiaatlid van die Internasionale Krieketraad (IKR), en het in 2007 by die IKR se Hoëprestasieprogram aangesluit. Namibië het aan die Krieketwêreldbeker 2003 in Suid-Afrika deelgeneem, maar al sy wedstryde verloor. Hulle het tot dusver aan elke Interkontinentale Bekertoernooi deelgeneem. Saam met Kenia en Uganda is Namibië tradisioneel een van die sterker nasionale Afrikakrieketspanne na die toetslande Suid-Afrika en Zimbabwe.
In onlangse jare het Namibiese krieket ’n sterk vordering gesien, veral danksy die groot invloed van die krieketland Suid-Afrika. Krieket is deur Suid-Afrika na die destydse mandaatgebied Suidwes-Afrika gebring en het daar gewildheid onder die bevolking verwerf, veral in die suide van dié land en rondom Windhoek, maar ook Namibië se nabyheid aan Suid-Afrika het gehelp om die spel in Namibië te laat ontwikkel. Vername Namibiese krieketspelers sluit in Neil Rossouw en Pieter Rossouw.
In April 2018 het die IKR besluit om aan al sy lede volle T20I-status toe te ken. Vervolgens word al die T20I-wedstryde wat Namibië ná 1 Januarie 2019 teen ander IKR-lede speel as ’n volle T20I erken. Namibië is tans (Februarie 2026) 18de op die eendagranglys en 15de op die Twintig20-wêreldranglys. In Oktober 2019 het die Namibiese nasionale krieketspan tydens die T20I-wêreldbekerkwalifisering 2019 gekwalifiseer vir die T20I-wêreldbeker 2021, waar hulle in die eerste rondte hul eerste toernooi-oorwinnings oor Nederland en Ierland kon aanteken en sodoende die Super Twaalf gehaal het, hul beste prestasie in dié tyd tydens ’n internasionale toernooi. Daarmee het hulle regstreeks vir die T20I-wêreldbeker 2022 gekwalifiseer. Saam met Suid-Afrika en Zimbabwe sal Namibië die Krieketwêreldbeker 2027 aanbied.
Beheerliggaam
Krieket Namibië (Engels: Cricket Namibia, CN) is in 1989 gestig en verantwoordelik vir die reël van krieket in Namibië. In 1992 het hulle as ’n assosiaatlid by die Internasionale Krieketraad (IKR) aangesluit. Daarbenewens was die Namibiese beheerliggaam in 1997 ’n stigtingslid van die Afrikakrieketvereniging (Africa Cricket Association, “ACA”).
Krieket Namibië bestuur al die Namibië-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reël van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is CN verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Namibiese span.
Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Namibië oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.
Geskiedenis Voor onafhanklikheid (1909–1989) Die eerste bekende krieketwedstryd is in 1909 in Windhoek gespeel, toe Namibië ’n Duitse kolonie was. Met die Suid-Afrikaanse magsoorname tydens die Suidwes-Afrika-veldtog in die Eerste Wêreldoorlog het dié sport in die huidige Namibië begin versprei. Die eerste amptelike krieketwedstryd is in 1915 tussen Suid-Afrikaanse soldate en ’n plaaslike span uit Otjiwarongo gespeel. Met die Suid-Afrikaanse besetting van Namibië (aanvanklik as ’n Volkebondmandaat) het krieket in ’n professionele sport begin ontwikkel. Teen 1930 is die Suidwes-Afrikaanse Krieketunie (Engels: South West Africa Cricket Union, SWACU) gestig en het wedstryde begin reël. In 1958 is die eerste internasionale wedstryde teen Suid-Afrika gespeel. Van 1961/62 af het Suidwes-Afrika aan die Suid-Afrikaanse toernooie deelgeneem. Tussen 1962 en 1989 het hulle 130 wedstryde teen die Suid-Afrikaanse provinsies gespeel, van wie Suidwes-Afrika 31 gewen het.
Ná Suid-Afrika se Republiekwording in 1961 het dit die destydse Suidwes-Afrika as ’n integrale deel van sy staatsgebied begin beskou. Vervolgens het die Verenigde Nasies Suid-Afrika van sy mandaat ontneem, wat die regering egter geïgnoreer het. Met die de facto-anneksasie is die rassistiese apartheidswette, waarvolgens die Suid-Afrikaanse bevolkingsgroepe in “blanke” en “nieblanke” (onder die wetgewing gedefinieer as “swart”, “bruin” of “Indiërs”) geskei is, ook in Suidwes-Afrika geïmplementeer. Daardeur is “nieblankes” van amper alle sport uitgesluit. ’n Jaar vroeër het die Volksbevrydingsleër van Namibië (PLAN), ’n gewapende tak van die SWAPO, die Namibiese Onafhanklikheidsoorlog begin. Suidwes-Afrikaanse rebelle het die boikot van die Apartheidsregime verwelkom en protesbewegings in ander lande ondersteun. Die ondertekening van die Gleneagles-ooreenkoms deur 33 lidlande van die Britse Statebond op 15 Junie 1977 het Suid-Afrika se sportiewe isolasie verder verskerp. As gevolg van die ooreenkoms is die land ten einde van stappe teen die apartheidspolitiek stelselmatig van die Britse Statebond se sportwêreld geïsoleer. In die ooreenkoms is ook voorsiening gemaak vir sanksies teen lidlande wat die ooreenkoms sou oortree, en instellings wat bewysbaar die Suid-Afrikaanse rasseskeiding ondersteun het, is uit alle internasionale sport uitgesluit. SAIRV: A Survey of Race Relations in South Africa 1977. Johannesburg 1978, bl. 563–564. Aangesien Namibië destyds as ’t ware as vyfde Suid-Afrikaanse provinsie bestuur is, is die plaaslike krieket ook geraak. In Januarie 1989 het Suidwes-Afrika sy laaste seisoen binne die Suid-Afrikaanse krieket gespeel. In April het die PLAN sy laaste gewapende opstand geloods en die Suidwes-Afrikaanse Krieketunie het sy bande met die Suid-Afrikaanse Krieketraad (Engels: South African Cricket Board, SACB) verbreek.
In 1989 is die Namibiese Krieketraad amptelik gestig. In November 1989 het ’n Namibiese span in Botswana sy eerste internasionale wedstryde gespeel, hoewel die beheerliggaam eers in 1992 by die Internasionale Krieketraad (IKR) aangesluit het.
Ná onafhanklikheid (1990–1999) Op die Namibiese Onafhanklikheidsdag, 21 Maart 1990, en die daaropvolgende dae het Gloucestershire teen die eerste saamgestelde Namibiese nasionale krieketspan gespeel, en die gasheer het al die drie wedstryde gewen. Namibië het ook die daaropvolgende wedstryde teen Nederland in April gewen. Voor die stigting van die vastelandse beheerliggaam, die Afrikakrieketvereniging (AKV), is ná twee skooltoere tussen Namibië en Botswana in 1989 en 1990 die SCSA Zone VI Cricket Federation gestig. In September 1991 is in in Windhoek die eerste AKV-toernooi aangebied, waaraan die gasheer, Botswana, Lesotho, Malawi, Zambië en die Universiteit van Oxford se krieketspan deelgeneem het.
Die nasionale span kon nie vir die Krieketwêreldbeker 1992 kwalifiseer nie, aangesien hulle net voor die IKR-trofee 1990 onafhanklikheid verkry het. In 1994 het Namibië sy eerste deur die IKR erkende wedstryde tydens internasionale toernooie gespeel. Tydens sy eerste deelname aan ’n toernooi, die IKR-trofee 1994 in Kenia, het Namibië met die Philip Snow Plate sy eerste trofee gewen. Met hul derde plek in hul groep het hulle egter die Krieketwêreldbeker 1996 misgeloop. Drie jaar later het die IKR-trofee 1997 in Maleisië vir die Namibiese span teleurstellend verloop, waarvolgens hulle die Krieketwêreldbeker 1999 misgeloop het.
Eerste deelname aan ’n krieketwêreldbekertoernooi (2003) duimnael|Namibië teen Engeland tydens die Krieketwêreldbeker 2003 Namibië se pad na die Krieketwêreldbeker 2003 in Suid-Afrika het met die IKR-trofee 2001 in Kanada begin. Namibië het die eindstryd in Toronto gehaal, maar hulle het teen Nederland verloor; dit was egter genoeg om vir hul eerste krieketwêreldbekertoernooi te kwalifiseer. Namibië het in April 2002 die IKR Sesnasies-uitdaging aangebied en in die vierde plek geëindig. In September het die Afrikabeker vir Namibië teleurstellend verloop, nadat hulle in hul groep net Tanzanië geklop en in die vierde plek geëindig het, enkele weke later het hulle vier wedstryde teen ’n tweede Zimbabwiese span verloor. Tydens die toer na Kenia direk op die Zimbabwiese toer het hulle beter gevaar, toe Namibië Kenia in ’n EDI-reeks van vier wedstryde verslaan het. Aansluitend het Namibië deelgeneem aan die Suid-Afrikaanse plaaslike EDI-krieket se hoogste vlak, die Standard Bank-beker, maar al sy vyf wedstryde verloor. In Januarie 2003 het Namibië die reeks van vyf EDIs teen Bangladesj met 1–4 verloor.
In sy eerste wedstryd tydens die Krieketwêreldbeker op 10 Februarie 2003 in Harare is Namibië deur Zimbabwe met 86 lopies verslaan; dit was die eerste EDI-wedstryd vir Namibië. Namibië is ook in sy wedstryde, wat in Suid-Afrika aangebied is, deur Pakistan (met 171 lopies) en deur Engeland (met 55 lopies) verslaan. Namibië kon in dié wedstryd egter goed tred hou, danksy Jan-Berrie Burger wat vir sy beurt van 85 lopies as “speler van die wedstryd” benoem is en aan Namibië amper ’n verrassende oorwinning besorg het. Daarna is hulle deur Indië (met 181 lopies) en die latere wêreldkampioen Australië (met 256 lopies) geklop, destyds die hoogste EDI-telling, wat later tydens die Krieketwêreldbeker 2007 deur Indië met 257 lopies teen Bermuda oortref is. Die toernooi is afgesluit met ’n nederlaag van 64 lopies teen die medekwalifiseerders Nederland. In die wedstryd teen Engeland het Rudie van Vuuren die eerste Namibiese krieketspeler geword, wat vyf paaltjies in ’n EDI-wedstryd geneem het. Toe hy met die Namibiese nasionale rugbyspan ook aan die Rugbywêreldbeker 2003 in Australië deelgeneem het, het hy die eerste sportlui geword wat in dieselfde jaar in twee verskillende sportkodes aan wêreldbekertoernooie deelgeneem het. Ná die Krieketwêreldbeker het die belangstelling aan krieket in Namibië egter aansienlik afgeneem en dit is vir die daaropvolgende 18 jaar as ’n “sterwende sport” beskou.
Ná die Krieketwêreldbeker (2003–2005) In Augustus 2003 het Namibië die EDI-reeks teen die tweede Zimbabwiese span met 2–1 gewen, maar hulle het albei driedaagse wedstryde verloor. Tydens die teenbesoek in die daaropvolgende Januarie het Namibië die EDI-reeks van vyf wedstryde met 4–1 gewen; hulle het ook ’n wedstryd teen ’n Zimbabwiese o/19-span gewen. In Februarie het Bangladesj die EDI-reeks van drie wedstryde in Namibië beklink, terwyl die driedaagse wedstryd onbeslis geëindig het. Daarna het Namibië aan die IKR Sesnasies-uitdaging 2004 in die Verenigde Arabiese Emirate deelgeneem. Namibië het volgens lopietempo in die derde plek geëindig, nadat hulle Kanada, Nederland en die Verenigde Arabiese Emirate verslaan, maar teen Skotland en die Verenigde State verloor het. Tydens die Internasionale Beker 2004 het Namibië in twee wedstryde teen Kenia en Uganda gespeel, maar hulle het albei verloor. Tussen dié twee wedstryde het die Namibiërs ’n Afrikanasiestoernooi in Zambië gewen. In dieselfde jaar het hulle aan die Zimbabwiese nasionale EDI-toernooi deelgeneem en as naaswenner geëindig. Tydens hul besoek aan Zimbabwe het hulle ook twee wedstryde teen die nasionale span gewen. Daarop het die Engelse besoek aan Namibië vir twee wedstryde gevolg en die besoekers het albei wedstryde gewen.