Die Hongkongse nasionale krieketspan (Chinees: Tradisionele karakters: 香港板球男子代表隊, Vereenvoudigde karakters: 香港板球男子代表队, Pinyin: Xiānggǎng Bǎnqiú Nanzǐ Dàibiǎoduì, Jyutping: Hoeng1gong2 Baan2kau4 Naam4zi2 Doi6biu2doi6*2) is die nasionale krieketspan wat die spesiale administratiewe streek van die Volksrepubliek China Hongkong in internasionale krieket verteenwoordig. Hulle word bestuur deur Krieket Hongkong (CHK, van Engels: Cricket Hong Kong; Chinees: 香港板球) wat in 1969 ’n assosiaatlid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword het. Hongkong het sy eerste krieketwedstryd in Maart 1866 gespeel. Hongkong is tradisioneel een van die sterker Asiatiese nasionale krieketspanne buite Suid-Asië.

Hongkong het sy eerste EDIs tydens die Asiatiese Beker 2004 gespeel, en in Januarie 2014 is, nadat hulle tydens die Krieketwêreldbekerkwalifisering 2014 derde geëindig het, aan hulle EDI-status tot in 2018 toegeken. Die span het in November 2013 T20I-status verkry, nadat hulle vir die T20I-wêreldbeker 2014 gekwalifiseer het. Hongkong was sy EDI-status in Maart 2018 kwyt, nadat hulle in die uitspeelwedstryd tydens die Krieketwêreldbekerkwalifisering 2018 teen Nederland verloor het. In September 2018 het Hongkong egter twee bykomende EDI-wedstryde tydens die Asiatiese Beker gespeel, nadat hulle die T20I-wêreldbekerkwalifikasie kon wen en die IKR aangekondig het dat al die wedstryde tydens die hooftoernooi as EDI-wedstryde erken sal word.

Hongkong het tot dusver aan elke krieketwêreldbekerkwalifiseringstoernooi, behalwe vir dié in 1979 en 2005, deelgeneem. Hulle het ook aan twee Interkontinentale Bekertoernooie deelgeneem, in 2005 en in 2015/17, asook aan twee T20I-wêreldbekertoernooie, in 2014 en 2016.

In April 2018 het die IKR besluit om aan al sy lede volle T20I-status toe te ken. Vervolgens word al die T20I-wedstryde wat Hongkong ná 1 Januarie 2019 teen ander IKR-lede speel as ’n volle T20I erken. Hongkong is tans (Oktober 2025) 24ste op die Twintig20-wêreldranglys.

Beheerliggaam

duimnael|links|Die Hongkong Krieketklub in 2017 Krieket Hongkong (Engels: Cricket Hong Kong, CHK; Chinees: 香港板球, Pinyin: Xiānggǎng Bǎnqiú, Jyutping: Hoeng1gong2 Baan2kau4) is in 1968 as Hongkongse Krieketvereniging (Hong Kong Cricket Association, HKCA) gestig en verantwoordelik vir die reëling van krieket in die spesiale administratiewe streek Hongkong. In 1969 het hulle as ’n assosiaatlid by die Internasionale Krieketraad (IKR) aangesluit. Daarbenewens het die CHK in 1983 ’n lid van die Asiatiese krieketkonferensie (Asian Cricket Conference, ACC; nou Asiatiese Krieketraad) geword.

Krieket Hongkong bestuur al die Hongkong-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van T20I-reekse teen ander spanne, en die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is CHK verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Hongkongse span.

Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Hongkong oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.

Geskiedenis Eerste strukture duimnael|Die spanne van Hongkong en Sjanghai in Oktober 1892 duimnael|Die Hongkongse krieketspan in 1908 duimnael|Krieketwedstryd tussen Hongkong en Sjanghai in 1908 Britte het krieket na die destydse Britse kolonie Hongkong saamgebring en die eerste bekende krieketwedstryd is in 1841 gespeel. Die Hongkongse Krieketklub is tien jaar later gestig, tot aan die einde van die eeu het verdere krieketklubs gevolg. Die Krieketklub (wat Hongkong verteenwoordig het) het enkele tussenhawenswedstryde teen spanne van die Chinese vasteland gespeel, van wie die eerste teen Sjanghai in 1866 wat hulle met ’n beurt kon wen. In 1890 het hulle vir die eerste keer teen die Straits Settlements gespeel en albei wedstryde gewen, van wie die eerste met ’n beurt. ’n Jaar later het Hongkong in Singapoer vir die eerste keer teen Ceylon (nou Sri Lanka) gespeel, maar met tien paaltjies verloor.

In 1892 het die SS Bokhara op pad terug van Sjanghai (waar die span met 157 lopies verloor het) in ’n tifoon gesink, wat die lewe van 125 mense geëis het. Net 23 mense het dié ramp oorleef, insluitende twee van die 13 Hongkongse spelers. Onder die elf ander spanlede wat in die ongeluk omgekom het, was die Surrey-krieketspeler John Dunn. Ná vyf jaar se pouse is die tussenhawewedstryde hervat, waarby hulle die tuiswedstryd teen die Straits Settlements met ’n beurt verloor het, terwyl hulle teen Sjanghai met een paaltjie kon wen. ’n Saamgestelde Hongkong-Sjanghai-span is deur die Straits Settlements ook met ’n beurt verslaan. Gedurende die 1903/04-seisoen is die eerste liga in Hongkong van stapel gestuur.

In 1920 het Hongkong vir die eerste keer teen Malaya gespeel, maar met 35 lopies verloor. Ses jaar later het hulle teen die in Federasie Malaya hernoemde span met ’n beurt verloor. In 1948 is die laaste wedstryd teen Sjanghai gespeel. Jack Chegwyn het in 1952 die eerste internasionale span na Hongkong aangevoer. In 1957 het die eerste wedstryd teen Singapoer onbeslis geëindig. In 1965 het Worcestershire Hongkong vir ’n wedstryd teen die nasionale span besoek. In dieselfde jaar het die eerste wedstryd tussen Maleisië en Hongkong in Kuala Lumpur onbeslis geëindig. In 1966 het die Marylebone-krieketklub (MKK) op pad huis toe van Australië en Nieu-Seeland vir die eerste keer ’n tussenstop in Hongkong gemaak. Die MKK, aangevoer deur Mike Smith, het die wedstryd met 74 lopies gewen. In 1968 is die beheerliggaam gestig as die Hongkongse Krieketvereniging (Hong Kong Cricket Association, HKCA) en een jaar later het dit ’n assosiaatlid van die Internasionale Krieketkonferensie (IKK, nou die Internasionale Krieketraad) geword.

Begin van internasionale krieket In 1970 het die Hongkongse span teen die MKK onder Tony Lewis onbeslis gespeel, en in 1971 is Hongkong in Ceylon deur die Ceylon Board President’s XI verslaan. Hongkong is nie vir die eerste Krieketwêreldbeker 1975 en die eerste IKR-trofee 1979 genooi nie, waarmee hulle ook die Krieketwêreldbeker 1979 misgeloop het. In 1980 het hulle Papoea-Nieu-Guinee vir twee wedstryde gehuisves, maar dié reeks het gelykop geëindig. Daarna het Hongkong vir die eerste keer deelgeneem aan die IKR-trofee 1982 wat as kwalifisering vir die Krieketwêreldbeker 1983 gedien het. Tydens dié toernooi kon die span, insluitende die toekomstige Engelse toetsspeler Dermot Reeve, slegs teen Israel en Gibraltar wen, waarmee hulle die tweede rondte en daarmee die hooftoernooi misgeloop het. In 1983 was Hongkong een van die Asiatiese Krieketraad (AKR) se stigtingslede. Die Suidoos-Asiatiese toernooi 1984 het Hongkong as naaswenner na Bangladesj afgesluit.

Hongkong het aan die volgende drie IKR-trofeë deelgeneem, maar in 1986 weer versuim om vanaf die eerste rondte te vorder en daarmee nie vir die Krieketwêreldbeker 1987 gekwalifiseer nie. Tydens die IKR-trofee 1990 het hulle die tweede rondte misgeloop en daarmee nie vir die Krieketwêreldbeker 1992 gekwalifiseer nie. Tydens die IKR-trofee 1994 het hulle eindelik tot die tweede rondte gevorder, maar nogtans die Krieketwêreldbeker 1996 misgeloop. In 1987 het Hongkong die laaste tussenhawenswedstryd teen Singapoer met 149 lopies gewen. In die daaropvolgende jaar het hulle Australië gehuisves, wat sy wedstryd teen ’n keurspan met 179 lopies gewen het. D. Paull het ses paaltjies vir 124 lopies (in 14.1 boulbeurte) in die Australiese beurt geneem. Daarna het Hongkong die tweede Suidoos-Asiatiese toernooi weer as naaswenner na Bangladesj afgesluit. In 1990 het die span tydens die eerste Volvo-beker vir die eerste keer teen Thailand gespeel. Die reeks van twee wedstryde het gelykop geëindig. ’n Jaar later het Hongkong die eerste Tuanku Ja’afar-beker gewen, wat ter ere van die later gekose Maleise koning Yang di-Pertuan Agong jaarliks tussen die vier nasionale spanne van Hongkong, Maleisië, Singapoer en Thailand beslis is. Die Hong Kong Cricket Sixes, wat deur die Hongkongse beheerliggaam bedink en in 1992 vir die eerste keer besli is, het die vernaamste internasionale kriekettoernooi in ses-per-kant-krieket geword. Die konsep is ontleen aan die Hongkong Sewes en word deur die wêreldbeheerliggaam IKR erken. In dieselfde jaar het Hongkong tydens die Suidoos-Asiatiese toernooi weer as naaswenner na Bangladesj geëindig. Die Volvo-beker, wat nou in die eendagformaat aangebied is, het Hongkong as naaswenner na Thailand afgesluit. Aansluitend het hulle die Tuanku Ja’afar-beker verdedig. ’n Jaar later het Bangladesj Hongkong besoek en al drie wedstryde teen die nasionale span gewen. Daarna het hulle die Tuanku Ja’afar-beker vir die derde keer agtereenvolgens beklink. In 1995 het Hongkong se teenbesoek in Bangladesj plaasgevind, maar hulle het albei wedstryde teen die nasionale span verloor.

In 1996 het Hongkong aan die eerste AKR-trofee deelgeneem, maar hulle is reeds in die groepfase uitgeskakel, nadat hulle deur beide Bangladesj en Fidji verslaan is. Daarna het hulle tydens die Tuanku Ja’afar-beker met hul vierde agtereenvolgende titeloorwinning weggestap. In 1997 is die kroonkolonie Hongkong deur die Britte aan die Volksrepubliek China oorhandig, wat die nasionale span se internasionale deelname egter nie beïnvloed het nie. In dieselfde jaar het die nasionale span tydens die IKR-trofee die agtste plek behaal, hul beste prestasie in dié toernooi tot dusver, maar die nasionale span het nogtans die Krieketwêreldbeker 1999 misgeloop. Tydens die AKR-trofee 1998 is hulle in die halfeindstryd deur Maleisië verslaan. Aansluitend het hulle vir die vyfde keer die Tuanku Ja’afar-beker gewen en dié titel in 1999 verdedig.

In die nuwe millennium Tydens die AKR-trofee 2000 het Hongkong vir die eerste keer die eindstryd gehaal, maar hulle is deur die Verenigde Arabiese Emirate verslaan. Daarmee het die nasionale span vir die Asiatiese Beker 2002 gekwalifiseer (wat later na 2004 verskuif is), waartydens hulle vir die eerste keer EDI-krieket kon speel. In dieselfde jaar het hulle Nieu-Seeland gehuisves. Die IKR-trofee 2001 het vir Hongkong teleurstellend verloop, aangesien hulle ná slegs een oorwinning oor Papoea-Nieu-Guinee reeds in die groepfase uitgeskakel is, waarmee hulle die Krieketwêreldbeker 2003 misgeloop het. Ter viering van die Hongkong Krieketklub se 150ste bestaansjaar het die Marylebone-krieketklub en die Melbourne-krieketklub Hongkong besoek vir ’n driehoekse toernooi, wat die Marylebone-krieketklub gewen het. Daarna het Hongkong sy sewende Tuanku Ja’afar-beker gewen. Tydens die AKR-trofee 2002 het die nasionale span die halfeindstryd gehaal, maar hulle het weer teen die Verenigde Arabiese Emirate vasgeval. Daarna het hulle die Tuanku Ja’afar-beker verdedig. In 2003 het hulle hul negende en laaste Tuanku Ja’afar-beker ingepalm.