duimnael|260px|Die terrein van die Stonewall Inn tydens die LGBT Pride-naweek in 2016, ’n dag nadat president Barack Obama die stigting van die Stonewall- nasionale monument aangekondig het en minder as twee weke ná die skietery in die Pulse-nagklub in Orlando.

Die Stonewall-onluste of Stonewall-oproer was ’n reeks spontane, gewelddadige demonstrasies deur lede van die gay (LGBT)-gemeenskapIn dié tyd is die woord "gay" gebruik vir alle lede van die LGBT-gemeenskap. teen ’n polisieklopjag in die vroeë oggendure van 28 Junie 1969 op die Stonewall Inn in die Greenwich Village-buurt van Manhattan, New York. Dit word algemeen beskou as die belangrikste voorval wat gelei het tot die gaybevrydingsbeweging en die moderne stryd vir LGBT-regte in die VSA.

Gay Amerikaners het in die 1950's en 1960's met ’n antigayregstelsel te doen gehad. Vroeë homofiele groepe (soos gay groepe genoem is) het probeer bewys dat gays in die gemeenskap opgeneem kon word en het opvoeding sonder konfrontasie vir beide homoseksuele en heteroseksuele voorgestaan. Die laaste jare van die 1960's was egter baie netelig omdat baie sosiale/politieke bewegings aktief was, insluitende die burgerregtebeweging, die kontrakultuur van die 1960's en die teenkanting teen die Viëtnamoorlog. Hierdie invloede, tesame met die liberale omgewing van Greenwich Village, het saam gelei tot die Stonewall-onluste.

In die 1950's en 1960's het baie min instellings mense verwelkom wat openlik gay was. Dié wat het, was gewoonlik kroeë, hoewel die eienaars en bestuurders selde gay was. In dié tyd was die Stonewall Inn in besit van die Amerikaanse Mafia.Duberman, p. 183.Carter, pp. 79–83. Dit het alle soorte klante verwelkom en was gewild onder die armstes en die randfigure in die gay gemeenskap: fopdossers, transgender mense, verwyfde jong mans, butch lesbiërs, manlike prostitute en daklose jeugdiges.

Polisieklopjagte op gay kroeë was in die 1960's algemeen, maar by die Stonewall Inn het die polisie vinnig beheer verloor. Hulle het ’n skare gelok wat aangehits is om te rebelleer. Spanning tussen die polisie en gay inwoners van Greenwich Village het gelei tot hernude onluste die volgende aand, en weer ’n paar aande later. Binne weke het Village-inwoners in aktivistegroepe byeengekom om aan te dring op die reg van gays en lesbiërs om openlik oor hul seksuele oriëntasie te wees sonder die vrees om vervolg te word.

Ná die Stonewall-onluste het gender-, ras-, klas- en ander hindernisse gays en lesbiërs in New York gekeer om ’n verenigde gemeenskap te vorm. Binne ses maande is twee gay aktiviste-organisasies in New York op die been gebring wat op konfrontasietegnieke gekonsentreer het, en drie koerante is gestig om die regte van gays en lesbiërs te bevorder. Binne ’n paar jaar is verskeie gayregte-organisasies dwarsoor die VSA en die wêreld gestig. Op 28 Junie 1970 het die eerste Gay Pride-optogte in New York, Los Angeles, San Francisco en Chicago plaasgevind om die onluste te gedenk. Soortgelyke optogte is in ander stede gereël. Vandag word Gay Pride-parades jaarliks teen einde Junie dwarsoor die wêreld gehou om die Stonewall-onluste te gedenk."Pride Marches and Parades", in Encyclopedia of Lesbian, Gay, Bisexual, and Transgender History in America, Marc Stein, red. (2004), Charles Scribner's Sons.

’n Monument is in 2016 op die plek van die onluste opgerig.

Agtergrond Homoseksualiteit in die 20ste eeu in die VSA Ná die sosiale omwenteling van die Tweede Wêreldoorlog het baie mense in Amerika ’n brandende begeerte gehad om "die sosiale orde van voor die oorlog te herstel en die magte van verandering af te weer", volgens die historikus Barry Adam.Adam, p. 56. Aangespoor deur die nasionale klem op antikommunisme het senator Joseph McCarthy verhore gehou op soek na kommuniste in die regering, weermag en ander regeringsagentskappe en -instellings, en dit het gelei tot ’n nasionale paranoia. Anargiste, kommuniste en ander mense wat as on-Amerikaans en ondermynend ervaar is, is as veiligheidsrisiko's beskou. Homoseksuele is op die departement van buitelandse sake se lys ingesluit op grond van die teorie dat hulle maklik is om af te pers.

Deur die 1950's en 1960's het die FBI en polisiedepartemente lyste van bekende homoseksuele bygehou, asook van hul geliefkoosde ondernemings en vriende. Die poskantoor het op die hoogte gebly van adresse waarheen materiaal gepos is wat met homoseksualiteit verband hou.Edsall, p. 278. Staats- en plaaslike owerhede het op hul spoor gevolg: Kroeë wat gays gereeld besoek het, is toegemaak en hul klante is in hegtenis geneem en hul identiteit in plaaslike koerante onthul. Stede het klopjagte uitgevoer om gay mense weg te hou uit buurte, parke, kroeë en van strande af. Die dra van klere van die teenoorgestelde geslag is verbied en universiteite het lektore afgedank wat vermoedelik gay was.Adam, p. 59. Duisende gay mans en vroue is in die openbaar verneder, fisiek aangerand, afgedank, gevange gehou of in sielsieke-inrigtings toegesluit. Baie het hul privaat en professionele lewe geskei en dubbele lewens gelei.

In 1952 het die Amerikaanse Psigiatriese Vereniging homoseksualiteit in die Diagnostiese en Statistiese Handleiding (DSM) opgeneem as ’n geestesteuring. ’n Groot studie oor homoseksualiteit is gebruik as regverdiging vir die insluiting van die toestand as ’n veronderstelde geheime patologiese vrees vir die teenoorgestelde geslag wat veroorsaak word deur traumatiese ouer-kind-verhoudings. Dié siening was invloedryk in die mediese beroep.Edsall, p. 247. In 1956 het die sielkundige Evelyn Hooker egter ’n studie gedoen wat die geluk van goed aangepaste gays met dié van heteroseksuele mans vergelyk het, en geen verskil gevind nie.Edsall, p. 310. Haar studie het die mediese gemeenskap verstom en haar die heldin van baie gays en lesbiërs gemaak,Marcus, pp. 58–59. maar homoseksualiteit het tot in 1973 in die DSM gebly.

Homofiele aktivisme In reaksie op hierdie neiging het twee organisasies onafhanklik van mekaar ontstaan om die saak van homoseksuele te bevorder en sosiale geleenthede te skep waar gays en lesbiërs kon byeenkom sonder die vrees om in hegtenis geneem te word. In Los Angeles is die Mattachine-vereniging in 1950 gestig.Marcus, pp. 24–25. Hul doelwit was om homoseksuele te verenig, hulle op te voed en regshulp aan "seksuele afwykendes" te verskaf.Adam, pp. 62–63. In die aangesig van enorme teenstand weens sy radikale benadering het die vereniging in 1953 sy fokus verskuif na opneming in die gemeenskap en fatsoenlikheid. Hulle het gereken hulle kon meer mense se mening oor homoseksualiteit verander as hulle bewys gays en lesbiërs is gewone mense en nie anders as heteroseksuele nie.Adam, pp. 63–64.Marcus, pp. 42–43. Kort daarna het verskeie vroue in San Francisco in hul sitkamers vergader om die Dogters van Bilitis (DOB) vir lesbiërs te stig.Marcus, p. 21. Hoewel die agt vroue aanvanklik wou bymekaarkom om op ’n veilige plek te dans, het hulle soortgelyke doelwitte as die Mattachine ontwikkel namate hul getalle gegroei het, en hulle het hul lede aangemoedig om in die algemene gemeenskap opgeneem te word.Gallo, pp. 1–5, 11.

Een van die eerste uitdagings teen onderdrukking deur die regering was in 1953. ’n Organisasie met die naam ONE, Inc. het ’n tyskrif, ONE, gepubliseer. Die Amerikaanse posdiens het geweier om die Augustus-uitgawe oor homoseksuele in heteroseksuele huwelike af te lewer op grond daarvan dat die materiaal obseen was, al was dit in bruinpapier toegedraai. Die saak het eindelik in die hoogeregshof gedraai wat in 1958 beslis het dat ONE, Inc. sy materiaal deur die posdiens mag pos.Marcus, pp. 47–48.

Homofiele organisasies het toegeneem en na die ooskus versprei. Die lede het mettertyd dapperder geword. Frank Kameny het die Mattachine van Washington, D.C. gestig. Hy is uit die weermag ontslaan omdat hy gay was en het hulle gedagvaar om heraangestel te word, maar het misluk. Kameny het geskryf homoseksuele is nie anders as heteroseksuele nie. Sy boodskappe was dikwels gerig op geestesgesondheidsamptenare, wat soms Mattachine- en DOB-vergaderings bygewoon het om vir die lede te vertel hulle is abnormaal.Marcus, pp. 80–88. In 1965 het Kameny, geïnspireer deur die menseregtebeweging,Adam, p. 71. ’n staking voor die Withuis en ander regeringsgeboue georganiseer om beswaar te maak teen diskriminasie teen werknemers. Die stakings het baie gay mense geskok en van die leiers van die Mattachine en DOB ontstel.Marcus, pp. 105–108.DiGuglielmo, Joey (20 Oktober 2011). "Steps to Stonewall". Washington Blade. Besoek op 5 November 2012. Terselfdertyd het die frekwensie en felheid van demonstrasies in die menseregtebeweging en teenstand teen die Viëtnamoorlog deur die 1960's toegeneem, asook botsings met die polisie.Adam, pp. 72–73.

Opstand by Compton's Cafeteria Aan die rand van die paar klein gay gemeenskappe was mense wat genderverwagtings uitgedaag het. Hulle was verwyfde mans en manlike vroue, of mense wat as die ander geslag gelewe het as die een wat by geboorte aan hulle toegewys is. Sommige het dit deeltyds gedoen en ander voltyds. Hulle is in dié tyd "transvestiete" genoem, en hulle was die opsigtelikste verteenwoordigers van die seksuele minderhede. Hulle het die versigtig geskepte beeld weerspreek wat die Mattachine en DOB voorgehou het dat homoseksuele normale, gerespekteerde mense was.Stryker, Susan (Winter, 2008). "Transgender History, Homonormativity, and Disciplinarity". Radical History Review, pp. 145–157.

In 1966 het fopdossers, prostitute en transvestiete in Compton's Cafeteria in San Francisco gesit toe die polisie opdaag om mans wat soos vroue aangetrek is, te arresteer. ’n Opstand het ontstaan: Klante het koppies, pierings en borde rondgegooi en die restaurant se vensters gebreek. ’n Paar dae later, nadat die vensters vervang is, het die groep teruggekeer en dit weer gebreek.Boyd, Nan Alamilla (2004). "San Francisco" in the Encyclopedia of Lesbian, Gay, Bisexual and Transgendered History in America, Ed. Marc Stein. Vol. 3. Charles Scribner's Sons. pp. 71–78. Professor Susan Stryker klassifiseer die Compton's Cafeteria-opstand as diskriminasie teen transgender mense eerder as diskriminasie teen seksuele oriëntasie, en verbind dit met kwessies van gender, ras en klas wat deur die homofiele organisasies as onbelangrik afgemaak is. Dit was die begin van transgender-aktivisme in San Francisco.

Greenwich Village Die Manhattan-buurte Greenwich Village en Harlem was ná die Eerste Wêreldoorlog die tuiste van ’n taamlike getal homoseksuele mans en vroue wat in die weermag was en daarna in groter stede wou gaan woon. Die woongebiede van gays en lesbiërs, wat deur ’n koerant "vroue met kort hare en mans met lang hare" genoem is, het oor die volgende twee dekades ’n kenmerkende subkultuur ontwikkel.Edsall, pp. 253–254. Die verbod op alkohol ná die oorlog het gay instellings bevoordeel, want om te drink en ander "immorele" gedrag het ondergrondse bedrywighede geword. New York-stad het wette teen homoseksuele in openbare en privaat ondernemings uitgevaardig, maar omdat die vraag na alkohol groot was, was ondernemings waar gedrink kon word so talryk en van korte duur dat die owerhede nie ’n oog oor almal kon hou nie.Edsall, pp. 255–256.

duimnael|280px|Washington Square Park in Greenwich Village. Die sosiale onderdrukking van die 1950's het ’n kulturele revolusie in Greenwich Village tot gevolg gehad. ’n Aantal digters, wat later die beatdigters genoem is, het geskryf oor die euwels van dié tyd se sosiale organisasie. Hulle het anargisme, dwelms en hedonistiese plesiere opgehemel. Allen Ginsberg en William S. Burroughs – albei inwoners van Greenwich Village – het ook eerlik en openlik oor homoseksualiteit geskryf. Hul werk het simpatieke, liberale mense aangetrek, asook homoseksuele wat op soek was na ’n gemeenskap.Adam, pp. 68–69.