Hierdie artikel handel oor die Skotse nasionale manskrieketspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouekrieketspan, sien Skotse nasionale vrouekrieketspan.
Die Skotse nasionale krieketspan (Engels: Scotland national cricket team; Skots-Gaelies: Sgioba nàiseanta criogaid na h-Alba; Skots: Scotland naitional cricket team) is die nasionale krieketspan wat Skotland in internasionale krieket verteenwoordig. Krieket word in Skotland deur Krieket Skotland (CS, van Engels: Cricket Scotland) beheer. Skotland speel sy tuiswedstryde meestal op The Grange Club, Edinburg. Saam met Nederland is Skotland tradisioneel een van die sterker Europese nasionale krieketspanne ná die toetslande Engeland en Ierland.
Wedywering met Ierland is gestig toe die eerste spanne in 1888 teen mekaar gespeel het. Tot in die vroeë 1990’s is Skotland (net soos Ierland) in internasionale krieket amptelik verteenwoordig deur die Engelse nasionale krieketspan wat as ’t ware die span van die hele Verenigde Koninkryk en die Republiek Ierland was. Skotland het ná die verbreking van bande met die Engelse nasionale krieketspan twee jaar vroeër in 1994 ’n assosiaatlid van die Internasionale Krieketraad geword. Sedertdien het hulle aan drie krieketwêreldbekertoernooie (in 1999, 2007 en 2015) en ses T20I-wêreldbekertoernooie (in 2007, 2009, 2016, 2021, 2022 en 2024) deelgeneem. Hul eerste oorwinning in enige van hierdie toernooie het egter eers gekom nadat hulle Hongkong tydens die T20I-wêreldbeker 2016 verslaan het. Daarbenewens het Skotland twee wedstryde tydens die 1999-toernooi tuis gespeel en sodoende die eerste assosiaatland geword om wêreldbekerwedstryde aan te bied. Skotland het aan al die IKR Interkontinentale Bekertoernooie deelgeneem en ook die eerste toernooi in 2004 gewen. Tussen 2010 en 2013 het die span aan die ECB 40 as die Skotse Saltires meegeding.
In April 2018 het die IKR besluit om aan al sy lede volle T20I-status toe te ken. Vervolgens word al die T20I-wedstryde wat Skotland ná 1 Januarie 2019 teen ander IKR-lede speel as ’n volle T20I erken. Skotland is tans (Februarie 2026) 13de op die eendagranglys en 14de op die Twintig20-wêreldranglys.
Beheerliggaam
duimnael|links|’n Krieketwedstryd by die Birkmyrepark, Kilmacolm, 1903 Krieket Skotland (Engels: Cricket Scotland, CS) is in 1908 as die Skotse Krieketunie (Scottish Cricket Union, SCU) gestig en verantwoordelik vir die reël van krieket in Skotland. In 1994 het hulle as ’n assosiaatlid by die Internasionale Krieketraad (IKR) aangesluit.
Krieket Skotland bestuur al die Skotland-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reël van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is CS verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Skotse span.
Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Skotland oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.
Geskiedenis Voor hul toetreding tot die IKR duimnael|links|upright|Leslie Balfour-Melville, Skotse krieketkaptein en president van die Skotse Krieketunie, ca. 1891 Krieket is vanuit die naburige Engeland taamlik vroeg na Skotland geneem met die eerste bekende krieketwedstryd in Skotland wat in 1785 in Alloa tussen twee aristokratespanne – Duke of Athol’s XI v Hon. Col. Talbot’s XI – gespeel is. Dit sou egter nog tot in die middel van die 19de eeu duur totdat die Skotse krieket se ontwikkeling momentum verkry het: In 1849 het ’n Engelse span Skotland besoek wat die bevolking se belangstelling aansienlik verhoog en tot die stigting van ’n aantal krieketklubs gelei het. Dit was die eerste internasionale krieketwedstryd van ’n Skotse span ooit, wat uit 22 spelers bestaan en in Edinburg teen die Engelse te staan gekom het. Charles Lawrence het in die tweede Engelse beurt al die paaltjies vir Skotland geneem. Die eerste wedstryd van ’n Skotse span dateer uit 1846, teen Perth. Die eerste volle internasionale wedstryd is in 1865 op die Londense The Oval teen Surrey gespeel en deur Skotland met 172 lopies gewen; daarna is hulle egter deur die Marylebone-krieketklub (MKK) verslaan.
In 1874 het Skotland teen die MKK op Lord’s geseëvier. In 1878 het Australië tydens sy eerste toer na die Britse Eilande Skotland besoek en in Glasgow teen ’n Wes-Skotse keurspan te staan gekom. In 1879 is met die Skotse Krieketunie (Scottish Cricket Union, SCU) die eerste beheerliggaam gestig, wat weens finansiële moeilikhede en ’n dalende ledetal egter net vier jaar bestaan het. In 1880 het Skotland Australië in Edinburg verwelkom en hulle het met agt paaltjies verloor. In 1882 het die nasionale span Australië met sewe paaltjies verslaan. Ná die ontbinding van die eerste Skotse beheerliggaam het die Grange-krieketklub tot in 1909 al die krieket bestuur. In 1888 het die eerste wedstryd teen Ierland in Dublin gevolg en dit is deur die gasheer gewen. In 1894 het hulle vir die eerste keer Suid-Afrika ontmoet, in 1906 Wes-Indië, in 1911 ’n gesamentlike Indiese span en in 1927 Nieu-Seeland. In 1908 is die Skotse Krieketunie opnuut gestig en van 1909 af is ’n jaarlikse eersterangse wedstryd teen Ierland gespeel.
In 1948 het Australië, ná die afsluiting van hul toer om die As na Engeland, Skotland vir twee wedstryde besoek. Albei wedstryde, wat deur Australië gewen is, was die laaste internasionale wedstryde vir Donald Bradman. Hy het in sy tipiese styl gespeel en ’n onoorwonne 123 lopies in sy beurt vir die Australiese oorwinning aangeteken. In 1954 het die Skotte in Edinburg vir die eerste keer teen Pakistan te staan gekom. Ná die Tweede Wêreldoorlog was die vestiging in die Engelse nasionale kriekettoernooie die belangrikste stap in die Skotse krieket se ontwikkeling. Die Skotte en die Iere het destyds veral met Sri Lanka om die titel as die beste nietoetslande meegeding. Skotland, saam met Ierland en Nederland, is soms vir deelname aan die toernooie vir Engelse countyspanne, insluitende die Benson & Hedges-beker en die Friends Provident-trofee (voorheen die C&G-trofee), genooi. Aangesien in countykrieket geen beperkings rakende nasionaliteit bestaan nie, kon gedurende die toernooi nie-Skotte vir die Skotse span speel. Byvoorbeeld het die Pakistani Yasir Arafat in 2004 en 2005 vir Skotland gespeel. In 1980 het Skotland vir die eerste keer aan die Benson & Hedges-beker deelgeneem en van 1983 af ook aan die NatWest-trofee; hul eerste oorwinning in dié toernooi het hulle in 1986 teen Lancashire aangeteken.
Voor Skotland se eie lidmaatskap in die Internasionale Krieketraad (IKR) is die spelers en spanne – net soos in Ierland – deur die Engelse beheerliggaam verteenwoordig. Skotse spelers het goeie bydrae vir ander spanne gelewer, veral vir die Engelse nasionale krieketspan. Sir Arthur Conan Doyle, onder andere die skrywer van Sherlock Holmes, het vir die Engelse 1891-span verskyn. Van die bekendste krieketspelers uit Skotland is waarskynlik die voormalige Engelse kaptein Mike Denness, Warwickshire se veelsydige Dougie Brown en die voormalige Engelse toetsspeler Gavin Hamilton. ’n Ander bekende Skotse krieketspeler is Brian Hardie, wat gedurende die 1970’s en 1980’s belangrike bydrae vir die suksesvolle Essex-span gelewer het. Dalk een van die beste draaiers en later joernalis was Ian Peebles wat in 1931 saam met Donald Bradman as “krieketspelers van die jaar” aangewys is. Een van die berugste spelers, Douglas Jardine, was ’n Skot en hy het die “lyfteorie” uitgedink. Dié in Australië verguisde speelmanier het as “lyfkrieket” bekend geword.
Aansluiting by die IKR duimnael|The Grange Club, Skotland se tuisstadion in Glasgow. Dit is tydens die Krieketwêreldbeker 1999 vir twee Skotse wedstryde gebruik Behalwe vir wedstryde teen besoekende spanne soos Australië, Australië ‘A’ of Nieu-Seeland, en onreëlmatige wedstryde teen Engelse eersterangse countyspanne of die MKK het Skotland sedert 1909 amper jaarliks in ’n eersterangse wedstryd teen Ierland gespeel. In 1992 het Skotland sy bande met die Engelse beheerliggaam Toets- en Countykrieketraad verbreek en aansoek gedoen vir eie lidmaatskap in die IKR, wat in 1994 goedgekeur is, een jaar later as Ierland. In 1992 het Skotland ook sy eerste oorsese toer onderneem en Suid-Afrika (meer spesifiek Johannesburg en Pretoria) besoek. In 1994 het ’n verdere toer na Suid-Afrika gevolg, dié keer na Kaapstad. In 1996 het hulle vir die eerste keer aan die Europese Kampioenskap deelgeneem. Tydens hul eerste deelname aan die IKR-trofee het Skotland tot die halfeindrondte gevorder, die klein finale om die derde plek teen Ierland gewen en sodoende vir die Krieketwêreldbeker 1999 gekwalifiseer. In 1998 het Skotland aan die Statebondspele se kriekettoernooi in Kuala Lumpur, Maleisië, deelgeneem, maar hulle het in hul groep in die laaste plek geëindig. Die Krieketwêreldbeker 1999 het vir Skotland teleurstellend verloop en ná nederlae teen Australië, Pakistan, Bangladesj, Wes-Indië en Nieu-Seeland is hulle in die groepfase uitgeskakel. Nietemin het hulle die twee groepwedstryde teen Bangladesj en Nieu-Seeland voor tuisskare op The Grange Club gespeel. Die Skotte het tot in 1999 jaarlikse eersterangse wedstryde teen die Iere gespeel, net onderbroke deur die wêreldoorloë, maar al hul ander krieketwedstryde was van besoekende internasionale spanne afhanklik.
In 2001 is die beheerliggaam in Krieket Skotland hernoem wat met strukturele hervormings gepaard gegaan het. Tydens die IKR-trofee 2001 het Skotland die beslissende wedstryd teen Kanada verloor en sodoende die Krieketwêreldbeker 2003 in Suid-Afrika misgeloop. In 2004 het Skotland as een van die leidende assosiaatlede gevestig, nadat hulle die eerste Interkontinentale Beker gewen het. Tydens die 2005-toernooi het hulle egter nie daarin geslaag om tot die tweede rondte te vorder nie. Tydens die IKR-trofee 2005 het hulle die eindstryd teen die gasheer Ierland gewen en sodoende weer vir die krieketwêreldbekertoernooi gekwalifiseer.
In Maart 2006 het Skotland ’n toer na Barbados onderneem. Hulle het goed vertoon, hoewel hulle net een – teen die gasheer – van hul ses wedstryde gewen het. Veral Dougie Brown het tot Skotland se prestasie bygedra, nadat hy in 2004 weer vir die Skotse span in aanmerking gekom het. Aansluitend het hulle aan die Cheltenham-en-Gloucester-trofee deelgeneem. Tydens dié toernooi het Skotland beter gevaar as verwag en drie van hul nege wedstryde gewen, waardeur hulle in die agtste plek van die Noordelike konferensie geëindig het.
Verkryging van EDI-status duimnael|Dougie Brown het op 36 vir Skotland verskyn en hy het in 2007 tydens die Krieketwêreldbeker en die T20I-wêreldbeker vir Skotland gespeel In Junie dieselfde jaar het Skotland in sy eerste EDI-wedstryd sedert die Krieketwêreldbeker 1999 gespeel, toe hulle teen Pakistan in Edinburg te staan gekom het. Dié wedstryd, wat die Skotte sonder die twee sleutelspelers Dougie Brown en Navdeep Poonia moes speel, het hulle met vyf paaltjies verloor. In Augustus 2006 het Skotland in die Europese Kampioenskap se afdeling een teen Denemarke, Italië, Ierland en Nederland gespeel, met die wedstryde teen Ierland en Nederland wat ODI-status geniet het. Skotland het eindelik sy eerste oorwinning aangeteken, toe hulle Nederland in ’n weens reën verkorte wedstryd verslaan het. Van hul wedstryde moes hulle egter weer sonder ’n aantal sleutelspelers speel en ná hul nederlaag teen Ierland het Skotland dié toernooi as naaswenner afgesluit.