Hierdie artikel handel oor die Ierse nasionale manskrieketspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouekrieketspan, sien Ierse nasionale vrouekrieketspan.

Die Ierse nasionale krieketspan (Engels: Ireland national cricket team; Iers-Gaelies: Foireann cruicéad náisiúnta na hÉireann), met die byname Men in Green en Green whites, is die nasionale krieketspan wat die hele Ierland (beide die Republiek Ierland en Noord-Ierland) in toets- en kitskrieket verteenwoordig. Dit word beheer en geadministreer deur Krieket Ierland (CI, van Engels: Cricket Ireland) en is ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) met toets-, EDI- en T20I-status. Ierland is tans (Februarie 2026) tiende op die IKR-toetsranglys, twaalfde op die eendagranglys en twaalfde op die die Twintig20-wêreldranglys.

Krieket is op die been gebring in Ierland in die 19de eeu en die eerste wedstryd deur ’n Ierse span is in 1855 gespeel. Ierland het in die laat 19de eeu na Kanada en die Verenigde State getoer, en hulle het soms wedstryde teen die toerspanne gehuisves. Wedywering met Skotland is gestig toe die eerste spanne in 1888 teen mekaar gespeel het. Ierland se eerste eersterangse wedstryd is in 1902 gespeel. Tot in die vroeë 1990’s is Ierland (net soos Skotland) amptelik verteenwoordig deur die Engelse nasionale krieketspan wat as ’t ware die span van die hele Verenigde Koninkryk en die Republiek Ierland was. Ierland is in 1993 deur die IKR assosiaatstatus toegeken, maar hulle het hul eerste volle EDI in 2006 teen Engeland met die oog op die Krieketwêreldbeker 2007 gespeel; dit was Ierland se eerste suksesvolle kwalifisering. Tydens dié toernooi het Ierland verskeie noemenswaardige uitslae teen volle lede behaal, insluitende ’n gelykop teen Zimbabwe, en oorwinnings oor beide Pakistan en Bangladesj het Ierland se EDI-status ná die toernooi laat bevestig. Sedertdien het hulle al in 210 EDI-wedstryde gespeel, 83 gewen, 108 verloor, in drie gelykop en 16 onbeslis gespeel. Ná verdere sukses in die kortste vorm van krieket het Ierland ook vir die IKR se T20I-wêreldbekertoernooie in 2009, 2010, 2012, 2014, 2016, 2021, 2022, 2024 en 2026 gekwalifiseer. Ierland het in 2009 kontrakte aan hul spelers bekendgestel, dit merk dus die oorgang na ’n professionele span.

Voordat hulle toetsstatus verkry het, het Ierland ook internasionale eersterangse krieket tydens die IKR se Interkontinentale Beker gespeel, wat hulle tussen 2005 en 2013 vier keer gewen het. Voor hul sukses in die eersterangse Interkontinentale Beker en verdere oorwinnings oor volle lede tydens die Krieketwêreldbeker 2011 (Engeland) en Krieketwêreldbeker 2015 (Wes-Indië en Zimbabwe), is na Ierland as die „leidende assosiaatlid“ verwys en hul voorneme bekend gemaak om teen 2020 ’n volle lid te word. Hierdie doel is in Junie 2017 bereik, toe die IKR volle status aan beide Afghanistan en Ierland toegeken het, waarvolgens albei spanne toetswedstryde mag speel. Hulle is die elfde volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR), en ná Engeland die tweede in Europa, nadat hulle – saam met Afghanistan – op 22 Junie 2017 bekroon is met toetsstatus.

Die Ierse nasionale krieketspan verteenwoordig die hele Ierland en nie net een onafhanklike staat nie. Spelers uit beide die Republiek Ierland en Noord-Ierland, een van die vier lande van die Verenigde Koninkryk, mag vir die Ierse krieketspan opstap. Vervolgens gebruik die Ierse krieketspan nóg een van die lande se volksliedere, nóg een van hul vlae as ’n verteenwoordigende simbool; pleks daarvan gebruik die Ierse nasionale krieketspan sy eie vlag – dié van Krieket Ierland – en himne – Ireland’s Call – wat ook deur die Ierse nasionale rugbyspan gebruik word. As gevolg van die gemeensame span vir beide die Republiek Ierland en Noord-Ierland word die Ierse nasionale krieketspan, net soos die soortgelyke Ierse nasionale hokkiespan en die Ierse nasionale rugbyspan, as ’n belangrike simbool vir vrede en samewerking op die polities verdeelde eiland Ierland beskou. In internasionale krieket is daar net twee ander spanne wat meer as een krieketland verteenwoordig, hulle is Engeland – vir beide Engeland en Wallis – en Wes-Indië vir verskeie eilandstate van die Karibiese gebied.

Beheerliggaam

duimnael|links|’n Krieketwedstryd by die adjunkkoning se losie op Phoenixpark, Dublin, 29 September 1866 Krieket Ierland (Engels: Cricket Ireland, CI) is in 1923 deur verteenwoordigers uit Munster, Northern, Connacht en North West gestig as die Ierse Krieketunie (Engels: Irish Cricket Union, ICU) en verantwoordelik vir die reël van krieket in Ierland. In 1993 het hulle as ’n assosiaatlid by die Internasionale Krieketraad (IKR) aangesluit en sedert 22 Junie 2017 is Ierland ’n volle lid en mag dus toetskrieket speel.

Krieket Ierland bestuur al die Ierland-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reël van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is CI verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Ierse span.

Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Ierland oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem. Ireland Wolves is die tweede nasionale span van Ierland en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.

Geskiedenis Voor hul toetreding tot die IKR duimnael|links|upright|Die Engelsman Charles Lawrence was in die 1850’s verantwoordelik vir die ontwikkeling van krieket in Ierland duimnael|Die „All-Ireland Verenigde Krieketspan“ op Phoenixpark, Dublin, ca. 1858 In die eerste verwysing na krieket in Ierland word in 1731 ’n wedstryd op Phoenixpark in Dublin beskryf. Daarbenewens is krieket in die vroeë 19de eeu deur die Engelse na die stede Kilkenny en Ballinasloe in Ierland gebring. In die 1830’s het die spel begin versprei; baie van die klubs wat in die volgende 30 jaar gestig is bestaan tot vandag toe. Die eerste Ierse nasionale span het in 1855 teen die Here uit Engeland in Dublin gespeel en met 107 lopies gewen. In die 1850’s was die Engelsman Charles Lawrence as afrigter verantwoordelik vir die ontwikkeling van die spel in Ierland. In dié tydperk is Ierland vir die eerste keer deur professionele spanne besoek. Ierland se eerste wedstryd teen die Marylebone-krieketklub (MKK) was in 1858.

Die spel het tot in die vroeë 1880’s gewildheid verwerf en oor die hele eiland versprei. In 1884 het Michael Cusack in reaksie op die as ’n bedreiging beskoude verspreiding van Engelse sportsoorte die Gaeliese Atletiekvereniging (Gaelic Athletic Association, GAA) gestig, ten einde van ’n identifikasie met die Ierse kultuur deur middel van sport. Sy poging om krieket onder die patronaatskap van die GAA te plaas het egter misluk. Vir meer as ’n eeu is volgens reël 42 van die GAA-statuut die deelname aan “vreemde spele” (foreign games) op die plekke van dié beheerliggaam verbied; “vreemd” het uitdruklik op rugby, sokker, veldhokkie en krieket gemik. Tot in 1971 is GAA-lede volgens reël 27 self verbied, om aan hierdie sportsoorte deel te neem of om sulke sportsoorte in stadions te besoek.

In 1890 is ’n vroeë voorloper van Krieket Ierland gestig, maar hul enigste taak was om die Ierse internasionale span saam te stel. Ierse spanne het in 1879, 1888, 1892 en 1909 na Kanada en die Verenigde State getoer, andersins moes hulle daarop staat maak dat ander nasionale spanne die eiland besoek het. Hul eerste wedstryd met eersterangse status is op 19 Mei 1902 teen ’n Londense countyspan, insluitende W.G. Grace, gespeel. Die Iere, aangevoer deur Sir Tim O’Brien, het maklik met 238 lopies gewen. Ná die Engelse toer in 1902 – waar Ierland van vier wedstryde een gewen, in twee gelykop gespeel en een nederlaag gely het – het Ierland vir ’n verdere vyf jaar nie eersterangse krieket gespeel nie. Hoewel die Iere in 1894 teen Suid-Afrika verloor het – Ierland se eerste wedstryd teen ’n toetsland – het Ierland Suid-Afrika in 1904 geklop; hul eerste oorwinning oor ’n toetsland. In 1909 is die eerste jaarlikse eersterangse wedstryd tussen Ierland en Skotland aangebied, en vanaf 1924 is ’n jaarlikse wedstryd teen die MKK gereël. Ná die Tweede Wêreldoorlog het die spel se gewildheid in Ierland dramaties gedaal, naas sportiewe redes was veral die groeiende nasionale bewussyn en die konkurrensie deur die GAA uitslaggewend. Dit het eers in 1993 verander, toe Ierland by die Internasionale Krieketraad aangesluit het.

Die Iere het tot in 1999 jaarlikse eersterangse wedstryde teen die Skotte gespeel, net onderbroke deur die wêreldoorloë, maar al hul ander krieketwedstryde was van besoekende internasionale spanne afhanklik. Ierland was soms egter in staat om toetslande tydens hierdie geleenthede te verras, byvoorbeeld het hulle in 1928 Wes-Indië met 60 lopies tydens ’n driedaagse wedstryd in Dublin verslaan; dit was Ierland se eerste oorwinning oor dié span. In 1969 het die Ierse span tydens ’n wedstryd in Sion Mills, Tyrone, ’n Wes-Indiese span, insluitende Clive Lloyd en Clyde Walcott, met nege paaltjies verslaan, nadat hulle Wes-Indië op 25 lopies uitgeboul het. Dit was tot in 2003 die laaste keer wat Ierland ’n toerende span verslaan het, toe hulle Zimbabwe met tien paaltjies verslaan het.

Die Iere en die Skotte het destyds veral met Sri Lanka om die titel as die beste nietoetsland meegeding – inderdaad het Ierland in 1979 tydens ’n deur reën geaffekteerde wedstryd met Sri Lanka gelykop gespeel, nadat Ierland 341 lopies vir die verlies van sewe paaltjies in twee beurte aangeteken het, terwyl Sri Lanka 288 lopies vir die verlies van ses paaltjies in een beurt aangeteken het. Ierland, saam met Skotland en Nederland, is soms vir deelname aan die kompetisies vir Engelse countyspanne, insluitende die Benson & Hedges-beker en die Friends Provident-trofee (voorheen die C&G-trofee), genooi. Aangesien in countykrieket geen beperkings rakende nasionaliteit bestaan nie, kon gedurende die kompetisie nie-Iere vir die Ierse span speel. Byvoorbeeld het die Suid-Afrikaner Hansie Cronjé in 1997 vir Ierland gespeel, maar ook die Nieu-Seelander Jesse Ryder in 2007.

Aansluiting by die IKR duimnael|Ierland (in heldergroen) speel teen Essex in die Friends Provident Trophy in 2007 op Castle Avenue in Dublin Ierland het in 1993, een jaar vroeër as Skotland, by die IKR as ’n assosiaatlid aangesluit. Vervolgens kon Ierland aan die krieketwêreldbekerkwalifisering deelneem. Hul eerste deelname was in 1994 by die IKR-trofee, waartydens hulle in die sewende plek geëindig het. Drie jaar later het hulle tydens die toernooi tot die halfeindstryd gevorder, maar die uitspeelwedstryd om die derde plek teen Skotland verloor, en sodoende versuim om vir die Krieketwêreldbeker 1999 te kwalifiseer. Tydens die 2001-toernooi het Ierland agtste geëindig.

Met die invoering van die Interkontinentale beker in 2004 het Ierland ’n kans gekry om gereeld eersterangse krieket te spel. Nadat hulle versuim het om tydens die 2004-toernooi vanaf die groepfase te vorder, het Ierland in Oktober 2005 sy eerste bekertitel met ’n oorwinning van ses paaltjies oor Kenia ingepalm. Tydens die IKR-trofee in 2005, wat in Ierland aangebied is – die groepfase in Belfast, Noord-Ierland, en die uitklopfase in Dublin, Republiek Ierland – het die Iere die eindstryd gehaal, maar teen Skotland verloor. Nadat Ierland as naaswenner geëindig het, het hulle hul plek by die Krieketwêreldbeker 2007 bespreek, maar ook ’n bykomende $500 000 oor die volgende vier jaar van die IKR ontvang om die ontwikkeling van Ierse krieket aan te moedig. Hulle het ook amptelike EDI-status tot in 2009 verkry.