Die Afghaanse nasionale krieketspan (Pasjtoe: د افغانستان د کريکټ ملي لوبډله; Persies: تیم ملی کریکت افغانستان) is die nasionale krieketspan wat Afghanistan in toets- en kitskrieket verteenwoordig. Dit word beheer en geadministreer deur die Afghaanse Krieketraad (Engels: Afghanistan Cricket Board, ACB; Pasjtoe: د افغانستان کريکټ بورډ; Persies: کریکت بورد افغانستان) en is ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) met toets-, EDI- en T20I-status. Krieket word sedert die middel van die 19de eeu in Afghanistan gespeel, maar dit is net in onlangse jare wat die nasionale span sukses behaal het. Afghanistan is tans (Februarie 2026) twaalfde op die IKR-toetsranglys, sewende op die eendagranglys en tiende op die Twintig20-wêreldranglys.

Die Afghaanse Krieketraad is in 1995 gestig, het in 2001 ’n geaffilieerde lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword en in 2003 ’n lid van die Asiatiese Krieketraad (AKR). Hulle is die twaalfde volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR), en die vyfde in Asië, nadat hulle – saam met Ierland – op 22 Junie 2017 bekroon is met toetsstatus.

Afghanistan se opgradering binne die IKR het gekom nadat hulle amper ’n dekade lank internasionale krieket gespeel het. Afghanistan is ook die eerste span wat volle status verkry het nadat hulle van 2001 tot 2013 ’n assosiaatlid was en ook die enigste assosiaatlid was wat aan ’n vername IKR-toernooi deelgeneem het. Hulle het op 23 Februarie 2019 die rekord vir die destyds hoogste internasionale T20I-telling met hul 278/3 teen Ierland op Rajiv Gandhi Internasionale Krieketstadion, Dehradun, aangeteken. Van hul onlangse prestasies sluit in die kwalifisering vir die krieketwêreldbekertoernooie in 2015, 2019 en 2023; tydens die 2015-toernooi het Afghanistan sy eerste krieketwêreldbekeroorwinning aangeteken, nadat hulle Skotland verslaan het. In onlangse jare kon die span groot prestasies behaal soos vir die halfeindstryd van die T20I-wêreldbeker 2024 en die Kampioenetrofee 2025 te kwalifiseer.

As gevolg van die voortgesette burgeroorlog sedert 2001 en die magsoorname deur die Taliban in 2021, asook ’n gebrek aan fasiliteite op ’n internasionale standaard, is die nasionale krieketspan gedwonge om sy tuiswedstryde in sy buurlande te speel. Van Afghanistan se amptelike tuiswedstryde is reeds in Indië, Sri Lanka en die Verenigde Arabiese Emirate gespeel.

Beheerliggaam

duimnael|links|Die provinsiale streke van die Afghaanse Krieketraad Die beheerliggaam is in 1995 as die Afghaanse Krieketfederasie gestig. In 2009 is dit in Afghaanse Krieketraad (Engels: Afghanistan Cricket Board, ACB; Pasjtoe: د افغانستان کريکټ بورډ; Persies: کریکت بورد افغانستان) hernoem. In Junie 2013 het hulle as ’n assosiaatlid by die Internasionale Krieketraad (IKR) aangesluit en sedert 22 Junie 2017 is Afghanistan ’n volle lid en mag dus toetskrieket speel. Daarbenewens het die Afghaanse beheerliggaam in 2001 ’n lid van die Asiatiese Krieketraad (Asian Cricket Council, ACC) geword.

Die Afghaanse Krieketraad bestuur al die Afghanistan-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reël van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is die ACB verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Afghaanse span.

Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Afghanistan oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem. Afghanistan A is die tweede nasionale span van Afghanistan en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.

Geskiedenis Voor-EDI-geskiedenis Die eerste bekende krieketwedstryd in Afghanistan is gedurende die Eerste Anglo-Afghaanse Oorlog in 1839 deur Britse soldate in Kaboel gespeel. Maar in teenstelling met die meeste ander lande het die Britte geen blywende nalatenskap van krieket agtergelaat nie, en dit sou meer as ’n honderd jaar neem voordat krieket na Afghanistan terugkeer. Gedurende die 1990’s het krieket onder die Afghaanse vlugtelinge in Pakistan gewildheid verwerf en die Afghaanse Krieketfederasie (nou die Afghaanse Krieketraad) is daar in 1995 gestig. Ná hul hervestiging in Afghanistan het die voormalige vlugtelinge voortgegaan om krieket te speel. Net soos al die ander sportsoorte is krieket eers deur die Taliban verbied, maar in 2000 het krieket die enigste sport in Afghanistan geword wat deur die Taliban toegelaat is. Die volgende jaar het die Afghaanse Krieketfederasie ’n vennootlid van die Internasionale Krieketraad geword. Die Afghaanse krieketstyl weerspieël die ontwikkelingsagtergrond in Pakistanse vlugtelingkampe en is nie anders as die algemene stylkenmerk van Pakistanse krieket nie, soos die klem op vinnige boulwerk en polsdraaikolfwerk.

In 2001 het die Afghaanse nasionale span aan ’n Viernasietoernooi deelgeneem. Die Afghaanse span is die volgende jaar genooi om op die tweede vlak van Pakistanse plaaslike krieket te speel, en dié toer het internasionale media-aandag aan Afghaanse krieket besorg, aangesien die Amerikaans-geleide inval in Afghanistan begin het terwyl die Afghaanse span in Pakistan was. Tydens die vyf-wedstrydtoer het die span drie wedstryde verloor en in twee gelykop gespeel. In 2001 het die Afghaanse span aan ’n toer van vier wedstryde na Pakistan in Pesjawar en Rawalpindi deelgeneem; in 2003 en 2004 het verdere besoeke gevolg. In 2004 het Afghanistan aan die AKR-trofee in Kuala Lumpur – die plaaslike kwalifiseringskompetisie vir die IKR-trofee – deelgeneem en respektabel vertoon, met oorwinnings oor die gasheer Maleisië en Bahrein. Tydens die AKR-trofee 2006 het hulle die derde plek gehaal en só ook twee jaar later tydens die AKR Elitetrofee.

Die Afghaanse span het in 2003 aan twee Pakistanse toernooie deelgeneem en in daardie jaar hul eerste wedstryd gewen. Hulle het in 2006 meer suksesvol geword en as naaswenner ná Bahrein tydens die Midde-Oosterse beker geëindig en ’n span van die Marylebone-krieketklub (MKK), insluitende die voormalige Engelse kaptein Mike Gatting, met 171 lopies in Mumbai verslaan. Gatting is met ’n nulletjie kleedkamer toe gestuur. Gedurende die somer in 2006 het die Afghaanse span na Engeland getoer en ses van hul sewe wedstryde gewen. Drie van hul oorwinnings was oor die tweede county-spanne Essex, Glamorgan en Leicestershire. Tydens die AKR-trofee in dieselfde jaar het hulle derde geëindig, nadat hulle Nepal in ’n uitspeelwedstryd verslaan het.

In 2007 het die Afghaanse span sy eerste toernooi gewen en die AKR se T20I-beker met Oman gedeel, nadat hulle in die eindstryd gelykop gespeel het. Afghanistan het in 2008 sy kwalifisering vir die Krieketwêreldbeker 2011 in Jersey begin en afdeling vyf van die Wêreldkrieketliga gewen. In dieselfde jaar het hulle derde tydens die AKR-elite-trofee geëindig. Enkele maande later het Afghanistan ’n tweede agtereenvolgende Wêreldkrieketliga-toernooi, die afdeling vier in Tanzanië, gewen. In Januarie 2009 het Afghanistan in die Wêreldbekerkwalifikasie gevorder nadat hulle afdeling drie van die Wêreldkrieketliga in Buenos Aires gewen, en die tabel volgens lopietempo bo Uganda en Papoea-Nieu-Guinee afgesluit het.

EDI-status duimnael|Die Afghaanse nasionale span in Rotterdam tydens die Wêreldkrieketliga se afdeling een in 2010 Tydens die kwalifiserende toernooi vir die Krieketwêreldbeker 2011 het Afghanistan net-net versuim om vir dié toernooi te kwalifiseer, maar hulle het EDI-status vir vier jaar verwerf. Hul eerste EDI-wedstryd was teen Skotland in die uitspeelwedstryd om die vyfde plek, hulle het die Skotte reeds voorheen tydens die toernooi verslaan, en het ook dié keer met 89 lopies gewen. Tydens die Interkontinentale beker 2009–10 het Afghanistan sy eerste eersterangse wedstryd teen ’n Zimbabwe XI in ’n vierdaagse wedstryd in Mutare gespeel. Gedurende dié wedstryd, wat gelykop geëindig het, het die Afghaanse kolwer Noor Ali honderdtalle in albei sy beurte aangeteken, waarvolgens hy slegs die vierde speler geword het om dié prestasie in ’n eersterangse debuut te maak. Later, in Augustus 2009, het hulle tydens dieselfde kompetisie teen Nederland op die VRA-krieketveld te staan gekom, en ’n wedstryd met ’n lae telling met een paaltjie gewen. Afghanistan het daarna aan die AKR se T20I-beker in die Verenigde Arabiese Emirate deelgeneem. Afghanistan het in Groep A al hul vyf groepwedstryde gewen. In die halfeindstryd het Afghanistan Koeweit met agt paaltjies verslaan. In die eindstryd het hulle teen die gasheer, die Verenigde Arabiese Emirate te staan gekom, en hulle met 84 lopies verslaan.

Op 1 Februarie 2010 het Afghanistan sy eerste T20I-wedstryd teen Ierland gespeel, maar met vyf paaltjies verloor. Op 13 Februarie 2010 het Afghanistan tydens die T20I-wêreldbekerkwalifisering eers die Verenigde Arabiese Emirate met vier paaltjies geklop. In die eindstryd het hulle Ierland met agt paaltjies verslaan en sodoende vir die T20I-wêreldbeker in April 2010 in Wes-Indië gekwalifiseer. Afghanistan is tydens die T20I-wêreldbeker in 2010 in Groep C geloot, saam met Indië en Suid-Afrika. Tydens hul openingswedstryd teen Indië het die openingskolwer Noor Ali 50 lopies aangeteken en sodoende Afghanistan tot ’n telling van 115 in hul 20 boulbeurte geneem. Ondanks dié telling het hulle die wedstryd met agt paaltjies verloor. In hul tweede wedstryd teen Suid-Afrika is die span op een stadium tot 14/6 beperk, voordat ’n laat jagtog deur Mirwais Ashraf en Hamid Hassan Afghanistan 88 almal uit laat aanteken, wat tot ’n nederlaag van 59 lopies gelei het.

Die Afghaanse span se Interkontinentale beker is in 2010 met oorwinnings oor Ierland, Kanada, Skotland en Kenia voortgesit, voordat hulle Skotland met sewe paaltjies in die eindstryd in Doebai verslaan. In 2010 het hulle ook die AKR-elite-trofee in Koeweit gewen, nadat hulle Nepal in die eindstryd verslaan en derde tydens die afdeling een van die Wêreldkrieketliga in Nederland geëindig het. Afghanistan het aan die kriekettoernooi tydens die Asiatiese Spele 2010 in die Volksrepubliek China deelgeneem en die silwermedalje ingepalm, nadat hulle teen Bangladesj in die eindstryd verloor het. In 2011 het Afghanistan in die Interkontinentale bekertoernooi 2011–13 begin speel. Hulle het Kanada geklop en teen die Verenigde Arabiese Emirate gelykop gespeel. In die gelyktydige EDI-liga het hulle twee wedstryde teen Kanada gewen en is twee keer deur die Verenigde Arabiese Emirate verslaan.

Afghanistan het sy eerste EDI-wedstryd teen ’n volle lid van die IKR in Februarie 2012 teen Pakistan in Sharjah gespeel. In Augustus 2012 het Afghanistan ook teen Australië vir een EDI-wedstryd op dieselfde plek te staan gekom. Hulle is in albei EDI-wedstryde verslaan. In Maart 2013 het Afghanistan twee T20I-wedstryde teen Skotland en die Verenigde Arabiese Emirate gewen. Hulle het ook twee EDI-wedstryde tydens die Wêreldkrieketliga teen dieselfde teenstanders gewen. Afghanistan het ná die twee oortuigende oorwinnings die tweede plek op die tabel met Skotland gedeel, wat aan hulle ’n hupstoot besorg het om vir die Krieketwêreldbeker 2015 te kwalifiseer. Ierland het die Wêreldkrieketliga met 24 punte gewen en Afghanistan eindig tweede met 19 punte en kwalifiseer sodoende vir die Krieketwêreldbeker. Nederland, op die vierde plek, het die volgende maand teen Namibië te staan gekom, terwyl die vyfde Verenigde Arabiese Emirate in Maart Ierland gehuisves het. Afghanistan het Skotland ook ’n swak nederlaag tydens hul Interkontinentale bekerwedstryd in Aboe Dhabi toegedien en Skotland met ’n beurt en vyf lopies verslaan; Izatullah Dawlatzai het elf paaltjies geneem.

Assosiaatlid