Herakleitos (Grieks: Ἡράκλειτος, Herakleitos; 540 v.C.— 480 v.C.) was 'n pre-Sokratiese filosoof uit Efese, Ionië. Daar word hy in 'n vooraanstaande familie gebore, en bly sy hele lewe in Efese. Hy staan bekend as 'n melankoliese en hooghartige man wat religieuse en filosofiese tradisies kritiseer. Voorts het hy homself gedistansieer van sy medeburgers en ondanks aandrang, het hy geweier om deel te neem aan die politiek. Hy fokus eerder op die filosofie. Sy filosofie, wat hy opteken, poog om die dinamiese eenheid van alles te openbaar. Tog stig hy nie 'n skool nie en verkondig hy nie sy leer in die openbaar nie. Volgens hom moet die mens moeite doen om die waarheid te vind.

Herakleitos se filosofie word meestal geken deur die aanhalings en parafrase van latere outeurs. Daaruit blyk dit relativisties en proses-filosofies georiënteerd te wees. Die kern van sy leer sluit in die beginsels van eenheid sowel as die stryd en wording om te wees. Hy stel dat alles uiteindelik 'n eenheid vorm, maar wel tot stand kom op 'n dialektiese wyse danksy die beginsel van stryd. Waargenome verandering in die wêreld kom voort uit die transformasie van elemente, met vuur as oersubstansie. Sodoende was alles altyd in beweging en dus in wording. Vandaar die stelling: 'Alles vloei'. Niks behoort volgens hom egter die gepaste maatstaf te oorskryf nie. Alles en iedereen moet volgens Herakleitos sy plek in die kosmos ken. Vir die mens lê die weg na vrede daarin.

Dié pre-Sokraat word bekend as 'die duistere' omdat hy sy filosofie in moeilike, kernagtige en assosiatiewe bewoording op skrif stel. Die teks het 'n literêre karakter, met dubbelsinnigheid, alliterasie en woordspelings. Hiermee bemoeilik hy opsetlik die interpretasie van sy teks. Mense moet, vind hy, moeite doen om sy filosofie te begryp, net soos die mens moeite moet doen om die natuur te deurgrond. Hierdie styl vul sy gedagtegoed aan. Dubbelsinnigheid suggereer eenheid, paradokse suggereer die eenheid van teenstellings, alliterasie suggereer harmonie, ensovoorts.

Die filosofie van Herakleitos word bekend na sy dood en het 'n invloed in die klassieke denke van die oudheid. Onder andere Plato, Aristoteles, die Epikureers, Neoplatoniste en Kerkvaders verwys na hom, maar spesifiek die stoïsisme neem Herakleitos se idees oor vir hul eskatologie. In die Middeleeue was daar weinig belangstelling. In moderne tye het hy wel 'n invloed op filosowe soos Friedrich Nietzsche, Martin Heidegger en dialektiese denkers soos Georg Wilhelm Friedrich Hegel, en op skrywers soos Jorge Luis Borges, Harry Mulisch en Hugo Claus.

Lewe en karakter Diogenes Laërtius se Lewe en leer van beroemde filosowe, vertaal van die Oudgrieks na Latyn in 1594, is 'n belangrike bron oor die lewe van Herakleitos en ander antieke Griekse filosowe.

Lewe Die beperkte informasie oor Herakleitos se lewe kom hoofsaaklik uit die Lewe en leer van beroemde filosowe (boek IX) van Diogenes Laërtius, wat ander outeurs aanhaal. Herakleitos word rondom 540 v.C. gebore in die welvarende, Ioniese Efese aan die Anatoliese weskus, as seun van die aristokraat Bloson van Heracon. Bloson sou die nasaat wees van Androclus, die stigter van die kolonie en seun van die Griekse tiran Codrus. Ionië maak tydens Herakleitos se lewe deel uit van die Persiese Ryk. Hy beleef dan ook die Ioniese opstand teen die Persiese oorheersing in die 6de eeu v.C. Diogenes vermeld dat die aristokraat 'n wonderkind en outodidak was. Tog ken Herakleitos ook die werk van andere filosowe. Voorts erf hy die posisie van priester-koning, maar staan dit af aan sy jonger broer.

Volgens 'n anekdote oortuig Herakleitos die destydse tiran Melancomas daarvan om af te tree. In die loop van sy lewe groei Herakleitos se weersin aan mense, en verag hy sowel sy stadsgenote as die inwoners van Athene. Sy laaste jare bring hy deur as kluisenaar. Daar word egter tans deur kenners vermoed dat hierdie inligting moontik latere versinsels is. Reise, misantropie, vorste adviseer en kluisenaarskap was naamlik standaard deel van verskeie biografieë van filosowe van hierdie tyd.

Afsterwe Oor Herakleitos se dood teen ongeveer 480 v.C. in Efese bestaan verskillende verhale. Bepaalde bronne meld dat hy sterf aan edema; ander beweer dat hy hiervan genees het en aan 'n ander siekte sterf. Diogenes gee drie weergawes bekom van verskillende bronne. Herakleitos kry edema deur die eet van plante en kruie, raadpleeg toe 'n arts, kritiseer vervolgens die geneeskunde en wil na eie insig met koeimis bedek word om uit te droog in die son. Hy genees nie en sterf daarna. In één weergawe word hy verskeur deur honde omdat hulle hom deur die mis nie herken nie.

Vermoedelik is hierdie anekdotes nie betroubaar nie. Sommige navorsers sien daarin verwysings na Zoroastriese begrafnisrituele, waarby koeimis gebruik word en lyke agtergelaat word om verskeur te word deur wilde diere.

Karakter Theophrastus skryf Herakleitos se melankolie daaraan toe aan sy geskrifte 'maar half af' is en ‘na 'n vreemde mengelmoes lyk. Lucius Annaeus Seneca, Juvenalis, Lucianus en Sidonius Apollinaris noem hom die 'huilende filosoof' omdat hy beweer dat 'alles vloei' en omdat die domheid van mense hom laat huil. Herakleitos, wat bekend word as pessimis, word teenoor 'die laggende filosoof' Demokritus geplaas, wie juis moes lag weens domheid en tragiek.

Diogenes Laërtius beskryf Herakleitos as hooghartig, krities en later ook verbitterd. Hy het 'n kritiese ingesteldheid teenoor didaktiese, filosofiese en religieuse tradisies. So steun hy nie die denke van outoriteite soos Homerus, Hesiodos en Pythagoras nie. Ook distantieer hy homself van die massa en veroordeel hy sy stadsgenote omdat hulle sy vriend Hermodorus verban het. Die inwoners het na die verdrywing van die tirannie 'n beter bestuur daar wou stel, maar bekom te veel invloed volgens hom. Herakleitos weier later om te help met die stadsbestuur. Hy was nie 'n demokraat nie, maar beweer: 'Wet is om aan één man se wil gehoorsaam te wees, indien dié man die beste is', oftewel die mees wyse. Hy interesseer homself nie in politiek nie. Diogenes vermeld tewens dat Herakleitos deur die Persiese koning Darius uitgenooi word vir diens van sy hof, maar dat hy dit van die hand gewys het.

Werk

Herakleitos se boek Kort na 500 v.C. voltooi Herakleitos sy filosofiese werk. Die werk is in die Ioniese dialek gestel en in prosa geskryf, waarmee hy aansluit by die Ioniese gebruik om in prosa historiē ('ondersoeke/studies') aan te bied. Hy plaas die werk in bewaring by die groot Artemistempel te Efese, wat nie ongebruiklik was nie. Die geskrif is volgens Diogenes Laërtius Oor die natuur (Peri fyseōs) of moontlik Die muses. Desondanks kom die woord fysis ('natuur') maar vier keer in die oorblywende fragmente van die werk voor. Die woord dui veral op die aard van sake, nie op natuur nie. Die werk bestaan volgens Theophrastus uit drie dele: oor die heelal, oor die politiek, en oor die gode. Hierdie is egter 'n latere interpretasie en klassifikasie, aangesien die oorblywende teksfragmente 'n eenheid vorm.

Dit is nie duidelik of die fragmente van 'n afskrif is van die werk in die tempel nie of dalk 'n kopie wat Herakleitos self besit het nie. Volgens Diogenes was dit 'n sekere Crates wie die boek vir die eerste keer na Griekeland gebring het. In 356 v.C. steek Herostratos die heiligdom aan die brand en gaan die oorspronklike teks verlore. Daar bestaan slegs nog aanhalings, opsommings, in tekste van latere outeurs. Dele wat nog bestaan, vorm die grootste versameling prosa van vóór Herodotus se Historiës. Vroeë voorbeelde van aanhalers is Plato en Aristoteles, maar die meeste outeurs is van na ongeveer 100 n.C., byvoorbeeld Sextus Empiricus, Plotinus, en veral Plutarchus, Diogenes Laërtius, Johannes Stobaeus, Hippolytus van Rome en Clemens van Alexandrië.

Fragmente Daar bestaan geen konsensus oor die aantal fragmente van Herakleitos se filosofiese werk wat nog bestaan nie. Moderne uitgawes dui op tussen 125 tot 156. Voorts is daar ongeveer honderde aanhalings van Herakleito bekend. In die geval van enkele fragmente is die egtheid omstrede of onduidelik van wat aanhalings is en wat toevoegings is van die aanhaler. Die oorspronklike volgorde van die fragmente is ook nie duidelik nie. In sy uitgawe van alle pre-sokratiese fragmente plaas Hermann Diels die fragmente alfabeties onder die name van die outeurs wie hom aangehaal het. A-fragmente is sy getuienisse, B-fragmenten sy aanhalings. Diverse uitgawes hanteer die neutrale opsomming van Diels, andere gebruik 'n tomatiese indeling. Die probleem by laasgenoemde is dat Herakleitos se filosofie 'n hegte eenheid vorm in tomatiek, taal- en beeldgebruik. Enkele uitgawes bevat 'n hipotetiese rekonstruksie van die oorspronklike volgorde.

Filosofie Navorsers bestudeer veral die bewaarde fragmente, en tot 'n mindere mate die getuienisse van latere outeurs. Die rede hiervoor is dat sy teks interpretasie altyd moeilik was, en omdat ander skrywers hul eie doelstellings gehad het met die aanhaling en verwysing na uittreksels. Uit die oorlewende fragmente blyk dit dat Herakleitos verskeie filosofiese begrippe vir die eerste keer gebruik.

In fragment B35 kom die woord filosoof (filosofoi andres) voor, waar dié sy letterlike, etimologiese betekenis het: 'wys-geer/iemand wie die wysheid begeer'. Die egtheid van die fragment is egter onseker. Indien eg, sou dit die oudste vermelding van die woord filosoof wees. 'n Tweede belangrike konsep is die begrip nomos ('wet') as algemene, universele, goddelike wet in fragment B114. Die derde is kosmos ('orde') in die fragment wat vir die eerste die betekenis 'wêreld' het. Vierdens gebruik Herakleitos logos as eerste om 'n natuurlike wet(matigheid) uit te druk. Ten slotte is Herakleitos se werk van die oudste bewaarde bron waarin die Sibille genoem word. Die Sibille het in die klassieke oudheid verwys na 'n aantal vroue wie, geïnspireerd deur 'n godheid (gewoonlik Apollo) en daardeur in ekstase, spontaan en ongevraag die toekoms voorspel in Griekse hexameters.

Standpunte Herakleitos stel homself teenoor religieuse, etiese en filosofiese tradisies, soos die van die Eleate. Hy kritiseer ekplisiet die filosowe Pythagoras, Hecataeus en Xenophanes, maar ook die digters Homerus, Hesiodus en Archilochus. Hy was wel positief oor Bias van Priëne, een van die Sewe Wyses. Hesiodus en Homerus geniet baie aansien maar sou volgens hom die gode verkeerd voorgestel het, wat vir die mens as 'n slegte voorbeeld dien. Ook sien hulle nie in dat stryd 'n essensieële deel van die natuur is, en die essensieële eenheid van teenstrydighede. Die filosowe en digters sou blindelings nagevolg word deur 'praatjiemakers', terwyl die massa in Herakleitos se oë blind vertrou op gesag. Na sy mening moet mens egter nie 'optree as kinders van ons ouers'.

Herakleitos bou voort op die tradisie van die Miletiese skool wat begin word deur Thales van Milete en Anaximander. Hy soek rasionele verklarings vir natuurgebeure. Net soos Xenophanes en pythagoreers distansieer Herakleitos homself tewens van religieuse en etiese tradisies. So beskou Xenophanes die gode as antropomorfiese fiksie, en postuleer hy één, abstrakte god wat na niks lyk in die mens of sy gedagtes. Vermoedelik was Herakleitos in sy jonge jare deur hierdie denker beïnvloed. Enkele bronne vermeld Xenophanes ook sou dien as sy leermeester. 'n Tweede sou Hippasus die pythagoreer gewees het. Hy glo dat die kosmos altyd in beweging was en dat vuur die basiselement daarvan was. In beide gevalle is 'n meester-leerlingverhouding nietemin onwaarskynlik.