Die nag het net een oog is die Gotiese debuutroman van François Bloemhof. Dit is voor publikasie bekroon met Antenne, Saambou en De Kat se prys vir beginner-romansiers. Die boek word ook beskou as die eerste Gotiese riller in Afrikaans.Terblanche, E. 2019. Skrywersprofiel: François Bloemhof (1962-). LitNET

Karakters Hoofkarakters Catharina (Cathy) Botma - 29-jarige hoofkarakter en assistentbibliotekaresse van Botmasdorp; nasaat van die stigterslid van die dorp "Botma" ("die man") - die booswig

Newekarakters Barend Jakobus du Preez - petroljoggie by 'n vulstasie naby Rustenburg Magriet Suretha du Preez - moeder van Barend, pleeg selfmoord n.a.v. haar seun se moord Elaine Botma - suster van Cathy P(i)eter du Toit - joernalis van Johannesburg Mail Bertha du Toit - moeder van P(i)eter du Toit Anelda Louisa Ferreira - vertaler en hulp by die dorpsbiblioteek Marie Elana (Ferreira) Avenant - suster van Anelda Oom Paulus Dippenaar - burgemeester van die dorp Heidi Jansen - kelnerin en private ontkleemeisie Pierre Cobus Jansen - broer van Heidi Jansen Susanna (Ans) de Jager - die dorp se nuusdraer Dominee Stefanus Vollgraaff - predikant van Botmasdorp Alice Spencer - bibliotekaresse van Botmasdorp Phillip Meyer - polisieman op die dorp Debora Meyer - moeder van Phillip Meyer Gabriël Smit - 'n kerkganger met 'n bles Rienie Viljoen - afgetrede onderwyseres wat haar ouerhuis op Botmasdorp teruggekoop het, 'n "vaalhaarvroutjie" Aunt Johnny Venter - buurvrou van Cathy op Botmasdorp

Intrige

Proloog 'n Seun wat oënskynlik lewendig begrawe is, grawe sy pad oop uit 'n (vlak) graf en sweer in gebroke Hollands (Ik sweeher) hy sal wraak neem.

6 tot 12 Februarie 1991 Woensdag, 6 Februarie 1991 Omstreeks halftwee tydens sy nagskof ontvang Barend Jakobus du Preez 'n vreemde man (wat hoed dra in die middel van die nag) in die hokkie by die vulstasie naby Rustenburg vir koffie, nadat petrol ingegooi en betaal is. Dit blyk dat Barend 'n boorling van Botmasdorp is, naby Clanwilliam. Hy erken teenoor die vreemdeling hy het redelik onlangs nog die onverklaarbare behoefte ervaar om by sy heimat te gaan kuier. Barend raak skoon onthuts wanneer die vreemdeling sy naam en van weet. Ook dat hy in 1957 gebore is, geen sibbe het nie, sy ouers Dirk en Magriet heet, dat sy moeder nog lewe, sy vader dronk verongeluk het toe Barend tien was, dat Barend standerd drie en ses herhaal het. Voordat Barend kan skree raak hy heeltemal verlam en bewusteloos. Wanneer hy sy bewussyn herwin is hy in 'n stoel vasgebind en die vreemdeling begin sy dyspiere en polse afsny, en die gesig kerf.

Donderdag, 7 Februarie 1991 Terwyl Elaine wag op die woonstelblok (in Durban) se hysbak, keer die concierge se vrou haar voor. 'n Lang, skraal donker man met 'n hoed op het Elaine gesoek, maar geen boodskap gelaat nie. Aangesien dit nie Anton is nie ('n getroude man met wie sy 'n skelm verhouding aangaan), skeel dit Elaine nie. Sy bly tog net in Durban omdat Anton daar is. Die lang man daag toe wel op, sê agter die geslote voordeur hy is Anton, nooi homself binne wanneer Elaine oopmaak, vermoor haar en laai die lyk in die bagasieruimte van sy motor. Net nog 'n naam op sy uitwisboekie wat 'n kruisie bykry. Volgende aan die beurt is 'n inwoner op Riviersonderend.

Vrydag, 8 Februarie 1991 In die biblioteek op Botmasdorp kry Anelda 'n vreemde oproep uit Riviersonderend waar haar suster Marie bly. Haar suster het gevra of dit Anelda is wat praat en het op die bevestiging sonder meer die telefoon neergesit. Op pad huis toe vanaf die biblioteek word Cathy voorgekeer deur die burgemeester, Paulus Dippenaar. Op Woensdag, 20 Februarie, word Botmasdorp se 100-jarige bestaan gevier en omdat haar voorsaat een van die stigterslede was (dié stigterslid, 'n Botma) word Cathy gevra om 'n toespraak te lewer by die geleentheid; die toespraak moenie langer as 10 minute wees nie. Sy het dus 12 dae, ter voorbereiding van die eeufeesviering. Cathy stem teësinnig in.

Saterdag, 9 Februarie 1991 Cathy moet Peter inligting omtrent die dorp en omgewing verskaf. Binne vyf minute vind hulle by mekaar aanklank; sy word selfs vir ete uitgenooi. In die badkamer van die biblioteek kruip die twyfel weer nader en sy wonder wat Peter in haar tog raaksien. Hulle gaan halfagt na die restaurant. Peter erken hy bly in 'n hotel, al woon sy moeder op die dorp; hy en sy ma kom nie goed oor die weg nie, hulle het albei te uiteenlopende geaardhede. Sy ma het hom te streng grootgemaak en voortdurend met die Bybel en die hel oor kleinigheidjies gedreig. Die Saterdagaand dreig om bederf te word toe Heidi bitsig opmerk sy het Cathy skaars herken met al die grimering op. Peter red die aand deur Cathy te herinner hy het haar uitgevra nog voor sy grimering om sy onthalwe aangesit het. Onverklaarbaar het Peter ook gevoel hy moet terugkeer na Botmasdorp (Johannesburg Mail sou nie belangstel in hierdie dorp ver buitekant sy stadsgrense nie). Met die ete wat bedien word, blerts Peter met 'n pen Heidi se regteroog (haar grimering het glo gesmeer), sodat dit lyk asof haar oog uitloop. Peter en Cathy geniet die ete in stilte. Ans de Jager daag in die restaurant op en deel die nuus mee Magriet du Preez het selfmoord gepleeg deur 'n oordosis pille te drink - sy kon die moord op haar seun, Barend, nie verwerk nie. Hy was die enigste kind uit een van die ou families op die dorp. Voor sy loop, verneem Ans by Peter hy bly nog vir so twee weke, tot en met die eeufeesviering. Die kos aan tafel smaak nou na "dooie dier". Op pad terug huis toe, stap Peter en Cathy verby die geheimsinnige Moolman-huis, 'n bouval wat wonderbaarlik 'n anonieme koper gekry het; 'n enkele lig brand daarbinne. Peter sien Cathy by haar tuinhekkie af (voorheen haar ouerhuis).

Sondag, 10 Februarie 1991 Dominee Stefanus Vollgraaff (wat sy vader as dominee opgevolg het) preek uit Markus 5, vanaf vers 21. Wanneer 'n skaduwee voor die gebrandskilderde glasvenster verbyloop, word hy heeltemal ontsenu deur lasterlike gedagtes wat hom aanval. Hy lees byvoorbeeld "'...met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. Net toe hy vir Jesus sien, val hy op sy knieë voor Hom en smeek Hom dringend: 'My dogtertjie lê op haar uiterste. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe...' en kan hoereer, soos haar gewoonte was, daarom dat sy die lewe gelaat het." Hy vrees dat enigiemand agter daardie ooglede kan lê en skuil, 'n vampier wat met graagte die bevel sal gehoorsaam om op te staan. Dominee Vollgraaff weier om hierdie kind, hierdie boosheid, te laat opstaan met die uitspreek van die woorde uit die Bybel en so op sy kudde los te laat. Hy laat val die Bybel en storm by die kerk uit. Buitekant het die figuur agter die bougainvillea pas verdwyn.

Peter kuier by Cathy aan huis en hulle bekyk die familiefoto wat teen die sitkamermuur hang. Dit is 'n foto met haar betoorgrootvader, dié stigterslid van die dorp, omring deur maklik twintig mans en vrouens. Peter vertel Cathy van die vreemde oproep wat hom eintlik na Botmasdorp gebring het: 'n man het oor 'n baie swak lyn gesê iets groots gaan op Botmasdorp gebeur, "iets wat 'n goeie storie sal uitmaak". Soveel te meer vreemd omdat Peter niks verklap het dat hy bande met Botmasdorp het nie.

Op haar gebruiklike wandel deur die dorp op 'n Sondag merk Alice buiten die gehawende toestand van die biblioteektuin 'n stukkende ruit. By nadere ondersoek vind sy 'n hele paar dokumente en boeke is uit die biblioteek se argief gesteel.

Met die mis wat begin inrol kan Paulus Dippenaar nie slaap nie en gaan wandel. Die nuwe eienaar van die Moolman-plek wag op hom onder 'n boom. Hulle stap saam tot voor die man se huis en op die onheilspellende woorde "ek het vir jou gewag" laat Dippenaar spaander, net om oor die grondinsinking te struikel. Net voor Botma die burgemeester begin vermink, sê hy: "Indien dit enige troos is" [...] "julle het dit aan julleself gedoen".

Maandag, 11 Februarie 1991 Botmasdorp kry niks van die gewone Februarieweer nie; dit is so ysig soos 'n Europese Kersfees. Terwyl Alice tuis iets gaan haal het, skakel Cathy Durban toe, na Elaine, maar niemand antwoord nie. Alice vermoed Peter is verantwoordelik vir die verdwyning van die geslagsregisters, naam- en adreslyste, stukke oor die ontstaan van die dorp, belangrike gebeurtenisse in die verlede en die Botma-dagboek. Cathy betwyfel dit, aangesien Peter fotostate gemaak het. Alice verwag van Cathy sy moet werk daarvan maak om Peter te ondervra. Cathy herroep 'n tydperk uit haar kinderjare toe sy onder druk was om vir sielkundiges te lieg - hoe kan sy ander wil ondervra?

Die middag by die restaurant het Botma 'n ondubbelsinnige rol tienrandnote vir Heidi gewys en sy adres op 'n noot onder 'n piering gelaat. Geld en die geleentheid om die dorp se stof finaal van haar voete af te skud, dryf Heidi na die bouvallige huis. Voor haar oë word die hele huis 'n sprokiesmooi woning. Die wurmgevrete vy wat die man Heidi aanbied word voor haar oë 'n "volmaakte spesimen plooiloos gerond teen die rimpels van sy hand". Die skyn bedrieg, want dit smaak nie na vy nie. Al voel sy ook skurfte teen die muur van verf wat afdop, vertoon die mure vlekkeloos en skoon. Die huis het te veel detail, 'n prototipe, 'n cliché van 'n Botmasdorp-huis, soos sy verwag het. Voordat sy haar kan ontklee, merk sy skielik op sy is reeds kaal. Botma bedank Heidi vir die ontmoeting, met die ietwat beledigende woorde: "Daarmee bedoel ek, dat dorpies soos hierdie, so skynheilig, so góéd is, dat ek bly is jy het vir my bewys daar is iets immoreels in 'n dorp wat hom roem op sy morele waardes." Uit dank stop hy 'n paar note geld in haar mond, ook die vrot vy, terwyl hy haar neus toedruk.

Voordat Peter vir Cathy by die voordeur groet, kom Aunt Johnny Venter by die tuinhekkie in. Die buurvrou sê sy kon vroeër die dag deur haar kombuisvenster sien hoe 'n lang en donker man in die middel van die pad na die huis kyk; hy het nie by die erf ingegaan nie, maar duidelik na iets by die huis gesoek.

Dinsdag, 12 Februarie 1991 Marie se liggaam is deur haar man ontdek; Anelda word telefonies hiervan in die biblioteek van die slegte tyding meegedeel. Toevallig het die buurvrou die man wat met die moord verbind word ná elf gesien (kort voor die oproep op 8 Februarie). Marie en haar man het 'n uitval gehad en hy het nie in die huis geslaap nie. Anelda gaan met die goedkeuring van Alice huis toe. Byna oombliklik daarna kom Heidi die biblioteek binnegestrompel, byna soos 'n poppespel. Sy sê die man van die Moolmanhuis het werk vir Anelda. Belangrike werk. Skryfwerk. Alice gaan in Anelda se plek.

Heidi sit ondertussen in 'n katatoniese toestand (al voel haar oë vir Cathy soos eenrigting-loergate), en stel dan vrae op 'n meganiese wyse, soos iemand wat nie die reëls van 'n taal verstaan nie. Cathy besluit om Heidi by die huis te bring. Op pad kom hulle Tant Ans teë wat wil weet waarom Heidi skielik ophou werk het en skryf 'n boereraat vir olikheid voor. 'n Blok later sê Heidi met 'n sibilante skuring van die s'e en hoogdrawende a's: Vir wot wil sssy ollesss weet. Met moeite kry Cathy vir Heidi by die losieshuis. Op die vraag "wat gaan aan?" antwoord Heidi: "ek kan nie sê nie". Cathy wonder of Heidi bedoel het: "ek mág nie sê nie."