Hierdie artikel handel oor die Nederlandse nasionale manskrieketspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouekrieketspan, sien Nederlandse nasionale vrouekrieketspan.

Die Nederlandse nasionale krieketspan (Nederlands: Nederlands cricketelftal), met die byname Oranje en “vlieënde Nederlanders”, is die nasionale krieketspan wat Nederland in internasionale krieket verteenwoordig. Krieket word in Nederland deur die Koninklike Nederlandse Krieketbond (KNCB, van Nederlands: Koninklijke Nederlandse Cricket Bond) beheer. Nederland speel sy tuiswedstryde op die VRA-krieketveld in Amstelveen, net buite Amsterdam, en het tydens die Krieketwêreldbeker 1996 in Suid-Asië sy eerste verskyning gemaak. Saam met Skotland is Nederland tradisioneel een van die sterker Europese nasionale krieketspanne ná die toetslande Engeland en Ierland.

Krieket word sedert die 18de eeu in Nederland gespeel en was reeds in die 1860’s ’n gewilde sport in dié land. Ander sportsoorte – veral sokker – het intussen onder Nederlanders meer gewild geword en krieket verbygesteek; tans is daar sowat 6 000 krieketspelers in Nederland. Die eerste nasionale vereniging, die voorloper van die huidige Koninklike Nederlandse Krieketbond, is in 1883 gestig, en in 1966 is assosiaatstatus deur die Internasionale Krieketraad aan Nederland toegeken. Die Nederlandse nasionale krieketspan het tot dusver aan elke krieketwêreldbekerkwalifiseringstoernooi deelgeneem; hulle het die 2001-toernooi in Kanada gewen en was drie keer die naaswenner (in 1986, 1990 en 2023). Hulle het ook aan vyf krieketwêreldbekertoernooie (in 1996, 2003, 2007, 2011 en 2023) deelgeneem, en vanaf 1996 het die nasionale span aan die plaaslike Engelse NatWest-trofee, asook sy opvolger, die C&G-trofee, deelgeneem. Tydens die Krieketwêreldbeker 1999 is een wedstryd, dié tussen Suid-Afrika en Kenia, op Nederlandse bodem gespeel, maar die Nederlandse span self het nie aan dié toernooi deelgeneem nie. In 2004 het hulle eersterangse krieket in die Interkontinentale beker gespeel, gelykop gespeel teen Skotland in Aberdeen en in Deventer met ’n beurt teen Ierland verloor.

Nederland het van 1 Januarie 2006 tot 1 Februarie 2014 EDI-status geniet. Hulle het in Junie 2014 hul T20I-status herwin nadat hulle in 2008 hul eerste wedstryd in hierdie formaat gespeel het. Nederland het sy EDI-status ná afloop van die krieketwêreldbekerkwalifiseringstoernooi in Maart 2018 herwin. Hulle het hierdie status ná hul oorwinning tydens die Wêreldkrieketligakampioenskap 2015–17 en hul gevolglike kwalifisering vir die EDI-liga 2020–22 verkry, en sal hierdie status tot die krieketwêreldbekerkwalifiseringstoernooi in 2026 behou.

In April 2018 het die IKR besluit om aan al sy lede volle T20I-status toe te ken. Vervolgens word al die T20I-wedstryde wat Nederland ná 1 Januarie 2019 teen ander IKR-lede speel as ’n volle T20I erken. Nederland is tans (Februarie 2026) 15de op die eendagranglys en 13de op die Twintig20-wêreldranglys.

Beheerliggaam

duimnael|links|Krieketwedstryde by die Krieketklub Bloemendaal, Noord-Holland Die Koninklike Nederlandse Krieketbond (Nederland: Koninklijke Nederlandse Cricket Bond, KNCB) is in 1883 as Nederlandse Krieketbond gestig en het in 1958 ’n Koninklike Handves ontvang. Dit is verantwoordelik vir die reël van krieket in Nederland en verteenwoordig sedert 1966 Nederland as ’n assosiaatlid by die Internasionale Krieketraad (IKR). Spelers van Sint Maarten, ’n outonome land binne die Koninkryk van die Nederlande, mag vir die Wes-Indiese nasionale krieketspan gekeur word.

Die Koninklike Nederlandse Krieketbond bestuur al die Nederland-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reël van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is die KNCB verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Nederlandse span.

Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Nederland oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.

Geskiedenis Invoering en vestiging van krieket duimnael|links|Die voormalige Instituut Noorthey, waar onder andere krieket onderrig is, in 1849 ’n Engelse handelaar het krieket in die 1780’s vir die eerste keer na Nederland gebring, meer spesifiek na Scheveningen. Volgens ’n berig deur die koopman Thomas Hope, wat in Amsterdam gewerk het in die 1790’s, was krieket vir die Nederlandse gemeenskap in Rome ’n belangrike ontspanningsaktiwiteit. Die krieketspel was reeds sedert die teenwoordigheid van Britse soldate tydens die Napoleontiese Oorloë in die vroeë 19de eeu in Nederland bekend.

Die daaropvolgende verwysing na krieket dateer uit 1845, toe leerlinge by die Instituut Noorthey in Leidschendam dié sport beoefen het. In die daaropvolgende jaar word berig dat Suid-Afrikaanse studente by die Universiteit Utrecht krieket speel. In 1856 het leerlinge van die Kaapkolonie en uit Nederland in Utrecht krieket teen mekaar gespeel. In 1857 is die eerste Nederlandse krieketklub in Leidschendam gestig.

Daarna het die sport stadiger ontwikkel en is veral deur Nederlandse aristokrate tydens hul kontak met Engeland beoefen. In 1875 is in Deventer met Utile Dulci die oudste Nederlandse krieketklub gestig wat tot vandag toe aktief is, in 1878 het die Haagsche CC gevolg en in 1881 Rood en Wit in Haarlem. Ten minste vanaf die middel-1870’s het ná die stigting van verdere krieketklubs krieket spoedig begin ontwikkel in Nederland. Die sport het veral weens Victoriaanse waardes soos ’n regverdige spel, amateurisme en eksklusiwiteit gewild geraak. Teen 1888 was daar 18 krieketklubs in Nederland met sowat 300 lede. Hulle het soms gespeel volgens hul eie reëls wat nie altyd met dié van die Marylebone-krieketklub (MCC) ooreengestem het nie. Byvoorbeeld was dit by die klub in Deventer as onsportief beskou om die bal agter die paaltjies te slaan en op dié manier lopies aan te teken.

Die nasionale span se eerste jare Die Nederlandse nasionale krieketspan het sy eerste wedstryd in 1881 gespeel. Hulle het met 22 spelers teen ’n Uxbridge-krieketklubspan te staan gekom, maar hulle het met ’n beurt verloor. Nadat die behoefte aan ’n sentrale reël van krieket in Nederland duidelik geword het, is op 30 September 1883 op inisiatief van die Haagsche Krieketklub en 18 ander stigtingslede, waarvan vier vandag nog bestaan (HCC, Hercules Utrecht, Hilversum en UD Deventer), die Nederlandse Krieketbond (NCB) gestig. Ten tye van die beheerliggaam se stigting was die vlak van Nederlandse krieket beskeie. Die bal is meestal uit die onderarm geboul en wedstryde het op elke effens plat oppervlak plaasgevind. In 1899 het die beheerliggaam die Engelse Arthur Bentley aangestel om die Nederlandse krieket te verbeter. Hy het moderne boulwerkmetodes ingevoer en onder hom het ook beide die kolf- en veldwerk aansienlik verbeter. Die ontwikkeling van krieket in die Europese Nederland het ook dié in die Nederlandse oorsese gebiede beïnvloed; byvoorbeeld het die sport in Sint Maarten gevestig, dié eiland stel egter spelers beskikbaar vir die Wes-Indiese nasionale krieketspan, wat sedert 1928 toetskrieketstatus geniet.

Gedurende die 1880’s en 1890’s het Engelse klubspanne Nederland gereeld besoek. Die kleredrag, speelstyl en houding wat deur hierdie klubspelers vertoon is, is deur die Nederlanders nageboots. In 1884 het die Haagsche CC die eerste nasionale kampioenskap gewen. In 1886 het die Engelse nasionale span begin om Nederland te besoek en in 1888 het ’n Engelse span, aangevoer deur Lord Sheffield, in Den Haag gespeel. Sir Arthur Conan Doyle, die skrywer van onder andere Sherlock Holmes, het in die 1891-span gespeel. In 1892 was die “Here van Holland” die eerste Nederlandse span en die eerste krieketspan van buite die Britse Ryk wat Engeland besoek het. In Yorkshire het hulle in vyf wedstryde teen klubspanne te staan gekom. In 1893 het die Yorkshire-span Nederland besoek en in Heemstede teen All Holland gespeel, tydens dié toer het die draaibouler Ted Peate in albei wedstryde se beurte nege paaltjies elk geneem. In 1894 het hulle weer Engeland besoek en op Lord’s in ’n wedstryd teen die MCC gespeel, wat die gasheer met ’n beurt en 169 lopies gewen het. Die besoeke deur Engelse spanne het gedurende die 1890’s voortgegaan en op een van dié toere het Carst Posthuma debuteer, wat later die eerste Nederlandse eersterangse krieketspeler sou word. Gedurende sy loopbaan het hy altesaam 2 339 paaltjies teen ’n boulgemiddelde van 8.66 geneem.

Aan die einde van die 19de eeu was krieket vir ’n kort tyd onder die hoërklas van die bevolking gewild, maar ná 1890 is dit deur sokker vervang. Baie krieketklubs is in sokkerklubs omskep, nadat hulle vir ’n rukkie albei sportsoorte aangebied het. Maar die sport het nog nooit heeltemal verdwyn nie. In Randstad se hoërklaskringe het krieket ’n beperkte aanhangerskap behou. In die eerste dekade van die 20ste eeu het krieket in Nederland verder aan gewildheid verloor, veral onder jong sportlui, wat deels te wyte was aan die Nederlandse simpatie met die Boere tydens die Tweede Vryheidsoorlog, derhalwe wou hulle nie ’n sport beoefen wat veral met Engeland verbind was nie.

Toenemende internasionale verhoudings In 1901 het die “Here van Holland” weer na Engeland getoer en die Nederlandse krieket was meer gevestig. Tydens dié toer het hulle in vyf wedstryde gespeel, waarvan twee onbeslis geëindig het, terwyl hulle in die ander wedstryde nederlae gely het. In een wedstryd het die Nederlandse 377 lopies met die verlies van al die paaltjies aangeteken, maar die MCC het met 485 lopies gewen. In 1905 het hulle in Antwerpen vir die eerste keer België ontmoet en gelykop gespeel. In 1908 het J.C. Schröder teen België in Antwerpen 117 lopies tot die algehele telling van 240 lopies bygedra. In 1910 het die Nederlandse span België vir ’n toernooi tydens die Wêreldtentoonstelling in Brussel besoek, waaraan saam met die gasheer ook die MCC en Frankryk deelgeneem het. Hulle is deur die MCC met twee paaltjies geklop, en deur Frankryk met 63 lopies, waarop hulle teen België met 116 lopies gewen het. In 1915 is tydens die Eerste Wêreldoorlog, waartydens Nederland neutraal gebly het, ’n groot aantal Britse offisiere geïnterneer en baie van hulle het by plaaslike krieketklubs aangesluit. ’n Span bestaande uit hierdie spelers het selfs die Nederlandse kampioenskap in 1918 gewen. Tot in 1937, net onderbroke deur die Eerste Wêreldoorlog, het Nederland gereeld teen België gespeel.