Die Nepalese nasionale krieketspan (Nepalees: नेपाल राष्ट्रिय क्रिकेट टिम), ook bekend as The Rhinos, Gorkhalis of The Cardiac Kids, is die nasionale krieketspan wat Nepal in internasionale krieket verteenwoordig. Krieket word in Nepal deur die Krieketvereniging van Nepal (CAN) beheer. Nepal speel hul tuiswedstryde in Katmandoe en het tydens die T20I-wêreldbeker 2014 in Bangladesj hul eerste internasionale verskyning gemaak. Saam met Oman en die Verenigde Arabiese Emirate is Nepal tradisioneel een van die sterker Asiatiese nasionale krieketspanne na die vyf toetslande van Suid-Asië.

Nepal is sedert 1996 ’n assosiaatlid van die Internasionale Krieketraad, nadat hulle van 1988 af ’n geaffilieerde lid was. Aan Nepal is in Junie 2014 deur die IKR tot en met die T20I-wêreldbekerkwalifisering 2015 T20I-status toegeken. Op 15 Maart 2018 het Nepal vir die eerste keer internasionale eendagwedstryd-status (EDI) behaal (asook hul T20I-status terugontvang), nadat hulle die eerste uitspeelwedstryd tydens die Krieketkampioenskapskwalifisering 2018 gewen het.

Nepal het al sedert 1996 in internasionale wedstryde verskyn, insluitende al die AKR-trofeë behalwe vir die AKR T20I-beker 2015 in die Verenigde Arabiese Emirate. Nepal het ook aan die krieketwêreldbekerkwalifiseringstoernooie in 2001, 2014 en 2018, T20I-wêreldbekerkwalifisering in 2012, 2013, 2015, 2022 en 2023, Internasionale Bekertoernooie in 2004 en 2005, AKR Fast Track Countries-toernooie in 2004, 2005 en 2006, AKR T20I-bekertoernooie in 2007, 2009, 2011 en 2013, Asiatiese Spele in 2010 en 2014, asook die AKR Premierliga in 2014 deelgeneem. Nepal kon egter nog nie vir ’n krieketwêreldbekertoernooi, die IKR se vernaamste toernooi, kwalifiseer nie.

In teenstelling met ander kleiner krieketlande, wie se spanne veral uit buitelanders bestaan, bevat die Nepalese nasionale span inheemse spelers wat meestal deur die geledere gekom het om seniorkrieket te speel. In onlangse jare het Nepalese krieket ’n sterk vordering gesien, veral danksy die groot invloed van die krieketland Indië. Nepal se nabyheid aan Indië het gehelp om die speel in Nepal te laat ontwikkel. Op 15 Maart 2018 het Nepal vir die eerste keer EDI-status ontvang, nadat hulle tydens die 2018-krieketwêreldbekerkwalifiseringstoernooi se negende plek-uitspeelwedstryd Papoea-Nieu-Guinee geklop het.

In April 2018 het die IKR besluit om aan al sy lede volle T20I-status toe te ken. Vervolgens word al die T20I-wedstryde wat Nepal ná 1 Januarie 2019 teen ander IKR-lede speel as ’n volle T20I erken. Nepal is tans (Februarie 2026) 17de op die eendagranglys en 18de op die Twintig20-wêreldranglys.

Beheerliggaam duimnael|links|Setel van die Krieketvereniging van Nepal in Katmandoe Die Krieketvereniging van Nepal (Engels: Cricket Association of Nepal, CAN; Nepalees: नेपाल क्रिकेट सङ्घ) is in 1946 gestig en is verantwoordelik vir die reëling van krieket in Nepal. In 1988 het dit ’n geaffilieerde lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword en in 1996 ’n assosiaatlid. Daarbenewens het die CAN in 1990 ’n lid van die Asiatiese krieketkonferensie (Asian Cricket Conference, ACC; nou Asiatiese Krieketraad) geword.

Die Krieketvereniging van Nepal bestuur al die Nepal-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende mans, vroue en die jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is CAN verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Nepalese span.

Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Nepal oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.

Geskiedenis Beginjare (1877–1980’s) Krieket is deur die Britte tydens hul koloniale bewind in Indië ook aan die Brits-beïnvloede Koninkryk Nepal bekend gestel. In die 1877-boek History of Nepal beskryf Daniel Wright die krieketspel in Nepal soos volg: Attempts have been made at various times by their tutors to get the young men to play at cricket and other games, but such amusements are thought degrading. (“Hul tutors het verskeie kere pogings aangewend om die jong mans krieket en ander sporte te laat beoefen, maar sulke vermaaklikhede is as vernederend beskou.”) Oor baie jare heen is krieket as ’n sport vir here beskou en deelname was veral op die heersende Rana-dinastie en ander lede van die Nepalese hoërklas beperk.

Ná die Tweede Wêreldoorlog is in 1946 met die Krieketvereniging van Nepal die Nepalese beheerliggaam gestig. Ná die demokratisering ingevolge die 1951-rewolusie het krieket ook onder die bevolking gewildheid begin verwerf. In 1961 het die Krieketvereniging van Nepal by die Nasionale Sportraad aangesluit om krieket in die hele Nepal te bevorder. Nietemin was die nasionale wedstryde tot in die 1980’s tot Katmandoe beperk.

IKR-lidmaatskap (1988) Verbeteringe in Nepal se kommunikasie- en vervoerinfrastruktuur het bygedra om die spel in die 1980’s buite Katmandoe te vestig. In 1988 het die Nepalese beheerliggaam ’n geaffilieerde lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword. In die vroeë 1990’s is ’n groot ontwikkelingsprogram van stapel gestuur, waarvolgens plaaslike en distriktoernooie gestig en krieket meer en meer op skole aangebied is.

Die bevolking se belangstelling in krieket het vinnig toegeneem en die vraag om krieket te speel was só groot dat die aantal spanne by verskeie toernooie beperk moes word totdat meer geriewe in die middel-1990’s opgerig is. Nepal het in 1996 ’n assosiaatlid van die IKR geword en die nasionale span het in dieselfde jaar vir die eerste keer aan die AKR-trofee in Kuala Lumpur deelgeneem. Nepal het in die vierde plek geëindig, nadat hulle beide Broenei en Japan verslaan het. Twee jaar later was die geriewe in Nepal geskik om die AKR-trofee op die krieketvelde van Lalitpur en Kirtipur (op die Tribhuvan Universiteit Internasionale Krieketveld) en Katmandoe te huisves. Die gasheer Nepal was tydens dié toernooi egter nie suksesvol nie en hulle kon nie ’n enkele oorwinning behaal nie.

Eerste suksesse (2000–2008) duimnael|Die Tribhuvan Universiteit Internasionale Krieketveld naby Katmandoe dien as Nepal se tuisstadion duimnael|Die Nepalese nasionale krieketspan tydens die AKR-trofee 2013 duimnael|Die Nepalese nasionale krieketspan tydens die Krieketwêreldliga se afdeling drie 2013 in Bermuda duimnael|Nepalese ondersteuners tydens die Krieketwêreldliga se afdeling drie 2013 in Bermuda duimnael|Kaptein Paras Khadka kolf tydens die Krieketwêreldliga se afdeling drie 2013 in Bermuda duimnael|Krieketwedstryd tussen Nepal en Kenia in Katmandoe, 2017 In 2000 het Nepal se jeugontwikkelingsbeleid begin vrugte afwerp en die Nepalese o/19-span het tydens die o/19-krieketwêreldbeker die agtste plek behaal. Die seniorspan het tydens die AKR-trofee sy beste prestasie ooit behaal, nadat hulle die halfeindstryd gehaal het, maar hulle het dié wedstryd teen Hongkong in Sharjah verloor. Die volgende jaar het hulle vir die eerste keer aan die IKR-trofee deelgeneem. In dié toernooi in Ontario het hulle Duitsland en Gibraltar verslaan, maar ’n nederlaag teen die latere naaswenner Namibië het hulle van hul vordering tot die volgende rondte ontneem.

Nepal het tydens die AKR-trofee 2002 in Singapoer ná die Verenigde Arabiese Emirate as naaswenners geëindig en hulle het in 2003 die AKR se opkomende nasiestoernooi aangebied, waartydens hulle beide Bhoetan en die Maledive maklik verslaan het. Hul oorwinnings was so omvattend, dat hulle vir die volgende 2005-toernooi nie meer genooi is nie. Raju Khadka het tydens dié toernooi die eerste Nepalese krieketspeler geword om ’n internasionale honderdtal aan te teken, toe hy teen Bhoetan ’n onoorwonne 105 lopies van slegs 50 aflewerings gemoker het.

Nepal het tydens die Interkontinentale beker 2004 in eersterangse krieket verskyn, waartydens hulle Maleisië geklop en teen die Verenigde Arabiese Emirate gelykop gespeel het, waarvolgens hulle nie die halfeindstryd gehaal het nie. Nepal het tydens die Fast Track Countries Tournament 2004 die derde plek gehaal, waardeur hulle vir die Interkontinentale beker 2005 gekwalifiseer het. Tydens die AKR-trofee 2004 het Nepal vyfde geëindig, waarvolgens hulle die uitspeeltoernooi van die IKR-trofee 2005 gehaal het. Dié toernooi het hulle in die derde plek afgesluit, nadat hulle in ’n uitspeelwedstryd Katar verslaan het, waarvolgens hulle die IKR-trofee 2005 misgeloop het. Shakti Gauchan het teen Italië ’n honderdtal aangeteken en tydens die toernooi ’n onoorwonne 106 lopies van 103 aflewerings geslaan. Tydens die Interkontinentale beker 2005 het hulle die Verenigde Arabiese Emirate verslaan en gelykop teen Hongkong gespeel, maar die kwalifisering met ’n halwe punt minder net-net misgeloop. Die Fast Track Countries Tournament 2005 het hulle as naaswenners ná die Verenigde Arabiese Emirate afgesluit.

In Maart 2006 het Nepal in ’n uitspeelwedstryd teen Namibië in Windhoek gespeel om die laaste plek in die Interkontinentale Beker 2006 te bespreek. Nepal moes daadwerklik wen om vir dié toernooi te kwalifiseer, maar hulle het gelykop gespeel nadat op die eerste dag geen spel moontlik was nie. Later die jaar het hulle na Pakistan getoer en een wedstryd teen die Pakistanse Krieketakademie gespeel voordat hulle aan die AKR-trofee in Kuala Lumpur deelgeneem het.

Tydens die AKR-trofee 2006 het Nepal Mianmar op slegs 10 lopies in 12.1 boulbeurte uitgeboul, nadat Nepal die loot gewen en Mianmar ingestuur het; geen kolwer het meer as een lopie aangeteken nie. Mehboob Alam en Binod Das het onderskeidelik sewe en drie paaltjies geneem. In antwoord daarop het Nepal drie lopies van die eerste aflewering geslaan, opgevolg deur drie wydlopers wat vir vyf gegaan het, en toe nog drie lopies van die tweede aflewering aangeteken het om die wedstryd met tien paaltjies te beklink. Sommige deskundiges het dit as die grootste wanverhouding in die geskiedenis van internasionale krieket beskryf en die telling van tien lopies is die laagste op enige vlak in internasionale krieket vir mans. Nepal het in dié toernooi vierde geëindig nadat hulle ’n uitspeelwedstryd teen Afghanistan verloor het. Hulle het die AKR Premierliga 2006 gewen. Nepal het aan die AKR T20I-beker 2007 in Koeweit deelgeneem en vierde in hul eerste groep geëindig.

Vestiging op internasionale vlak (2008–2016) Tydens die Wêreldkrieketliga 2008 se afdeling vyf in Jersey het Nepal die derde plek behaal, in afdeling vyf uitgeval en sodoende die Krieketwêreldbeker 2011 misgeloop. Tydens die kwalifisering het Mehboob Alam ’n nuwe wêreldrekord opgestel en in die wedstryd teen Mosambiek al tien paaltjies geneem. Hy is vervolgens in die Guinness World Records ingeskryf, nadat hy die eerste bouler geword het om al tien paaltjies in ’n internasionale krieketwedstryd met beperkte boulbeurte te neem. Nepal het die groepfase eerste afgesluit, maar hulle is deur Afghanistan in die halfeindstryd verslaan en het, nadat hulle die Verenigde State in die uitspeelwedstryd om die derde plek geklop het, derde geëindig. Aangesien slegs die twee beste spanne van hierdie toernooi tot die Wêreldkrieketliga se afdeling vier in Tanzanië later die jaar kon vorder, het Nepal die kans misgeloop om sy droom vir deelname aan die Krieketwêreldbeker 2011 verder te neem. Later het Nepal in die AKR-elitetrofee verskyn en vierde geëindig, nadat hulle in die halfeindstryd deur die Verenigde Arabiese Emirate en in die uitspeelwedstryd om die derde plek deur Afghanistan verslaan is.