Palmyra of Palmira (Aramees: ܬܕܡܘܪܬܐ, Tedmurtā; Arabies: تدمر, Tadmoer) is ’n antieke Semitiese stad in die hedendaagse Sirië. Argeologiese vondste dateer van tot die Neolitikum en dit is in die vroeë 2de millennium v.C. die eerste keer genoem as ’n karavaanrusplek vir reisigers in die Siriese Woestyn. Die stad word genoem in die annale van die Assiriese konings en is dalk ook in die Hebreeuse Bybel genoem. Palmyra is in die 1ste eeu in die Seleukidiese en toe die Romeinse Ryk opgeneem, wat dit laat vooruitgaan het.

Danksy die stad se rykdom is monumentale bouprojekte aangepak. Teen die 3de eeu n.C. was dit ’n vooruitstrewende metropolis en streeksentrum. Voor 273 was dit vir ’n groot deel van sy bestaan outonoom. Tydens die eerste twee eeue n.C. is dit by die Romeinse provinsie Sirië gelas en sy politieke organisasie is beïnvloed deur die Griekse stadstaatmodel. Die stad is deur ’n senaat geregeer wat verantwoordelik was vir openbare werk en die weermag. In die 3de eeu het Palmyra Romeinse regeringsinstellings ingevoer. Die stad se rykdom het van handelskaravane gekom; die Palmyrene, bekende handelaars, het handelsposte aan die Syroete deur die hele Romeinse Ryk gestig. Hulle was hoofsaaklik ’n mengsel van Amoriete, Arameërs en Arabiere, met ’n Joodse minderheid. Die stad se sosiale struktuur was stamgebonde en die inwoners het Palmyreens gepraat, wat ’n dialek van Aramees was. Grieks is vir handels- en diplomatieke doeleindes gebruik. Palmyra se kultuur, wat beïnvloed is deur die Grieks-Romeinse wêreld en Persië, het ’n eiesoortige kuns en argitektuur tot gevolg gehad. Die inwoners het plaaslike, Mesopotamiese en Arabiese gode aanbid.

In 260 het die Palmyreense koning Odaenathus die Persiese keiser Shapur I verslaan. Hy het verskeie kere teen die Perse geveg voordat hy in 267 vermoor is. Odaenathus is opgevolg deur sy twee jong seuns onder die regentskap van koningin Zenobia, wat teen Rome in opstand gekom en die ryk se oostelike provinsies in 270 begin inval het. Die Palmyreense heersers het in 271 keiserlike titels aangeneem. Die Romeinse keiser Aurelianus het die stad in 272 verslaan en dit in 273 geplunder ná ’n mislukte tweede opstand.

Onder die Bisantynse Ryk was Palmyra ’n minder belangrike sentrum. Die Palmyrene het hulle in die 4de eeu tot die Christendom bekeer en in die tweede helfte van die 1ste millennium tot Islam; Palmyreens en Grieks is vervang deur Arabies. Die stad – wat in 1400 deur die Mongole verwoes is – het onder die Ottomaanse Ryk ’n klein dorpie gebly tot in 1918, en daarna onder die Siriese koninkryk en die Franse Mandaat Sirië. In 1929 het die Franse begin om inwoners na die nuwe dorp Tadmoer te skuif. Die verskuiwing is in 1932 voltooi en die terrein van Palmyra is leeg gelaat.

Op 21 Mei 2015 het Palmyra onder beheer gekom van die ekstremistiese militante groep Islamitiese Staat in Irak en die Levant (ISIL). Verskeie antieke geboue is sedertdien vernietig, onder meer die Tempel van Baalsamin, die Tempel van Bel en die Triomfboog in Palmyra se kolonnade. Einde Maart 2016 het Siriese regeringsmagte, bygestaan deur die Russiese lugmag, algehele beheer oor die stad oorgeneem ná dae lange gevegte. Palmyra: Syria forces 'retake' Islamic State-held city, BBC.com, 27 Maart 2016. URL besoek op 27 Maart 2016.

Ligging en naam duimnael|links|Die Noord-Palmyreense Bergreeks. Palmyra is 215 km noordoos van die Siriese hoofstad, Damaskus, geleë in ’n oasis wat deur palms omring word. Twee bergreekse lê by die stad: die Noord-Palmyreense Bergreeks in die noorde en die Suid-Palmyreense Bergreeks in die suidweste. In die suide en ooste lê die Siriese Woestyn en ’n klein vallei loop deur die gebied.

Plinius die ouere het die dorp in die 70's n.C. beskryf as bekend vir sy woestynligging, die vrugbaarheid van sy grond en die fonteine wat dit omring, wat landbou en veeboerdery moontlik gemaak het.

"Tadmor" is die Semitiese en eerste bekende naam van die stad; dit is in die eerste helfte van die 2de millennium v.C. gebruik. Die oorsprong van die naam is nie duidelik nie; volgens die Nederlandse filoloog Albert Schultens kom dit van die Semitiese woord vir "dadels" (tamar), wat verwys na die palmbome om die stad.

Die naam "Palmyra" het in die vroeë 1ste eeu n.C. in die werk van Plinius die ouere verskyn en is in die Grieks-Romeinse wêreld gebruik. Volgens Schultens het die Romeine die naam na "Palmura" verander (van die Latynse woord palma ("palm"). Daarna is die naam na "Palmyra" verander. Dit kan ook ’n Griekse vertaling van "Tadmor" wees (as ’n mens aanneem dit beteken "palm"), soos Jean Starcky, ’n Franse priester en redakteur van die Dooie See-rolle, glo.

Geskiedenis duimnael|Die Efqa-fontein, wat in 1994 opgedroog het. duimnael|Die binnekant van die Tempel van Baalsamin. Islamitiese militante het dit op Sondag 23 Augustus 2015 opgeblaas met 'n groot hoeveelheid plofstof. duimnael|Die hoofaltaar van die Tempel van Bel. Die tempel is in Augustus 2015 minstens gedeeltelik deur ISIL verwoes. duimnael|Palmyra se teater. duimnael|Die Triomfboog by die ingang van Palmyra se kolonnade (in 2015 vernietig). Daar is bewyse by Palmyra gevind dat ’n nedersetting uit die Neolitikum naby Efqa bestaan het, met steengereedskap uit 7500 v.C. Onder die Tempel van Bel is tekens gevind van kultusbedrywighede uit 2300 v.C.

Vroeë tydperk Palmyra word omstreeks 2000 v.C., tydens die Bronstydperk, die eerste keer genoem toe Puzur-Isjtar die Tadmoreaan ingestem het tot ’n kontrak by die Assiriese handelspos in Kultepe. Dit word weer daarna in die Mari-tablette genoem as ’n rusplek vir handelskaravane en nomadiese stamme, soos die Suteërs. Koning Samsi-Adad I van Assirië het aan die begin van die 18de eeu v.C. by die gebied verbygegaan op sy pad na die Middellandse See-gebied. Teen daardie tyd was Palmyra die oostelike punt van die koninkryk Qatna. Die dorp word ook genoem in ’n tablet uit die 13de eeu v.C. wat by Emar ontdek is; daarin word die naam van twee getuies uit "Tadmor" aangeteken. Aan die begin van die 11de eeu v.C. noem koning Tiglat-Pileser I van Assirië sy oorwinning van die "Arameërs van Tadmar".

In 2 Kron 8:4 in die Bybel word vertel van "Tadmor" as ’n woestynstad wat versterk is deur koning Salomo van Israel, en dit word in die Talmoed ook genoem (Yebamot 17a-b). Flavius Josephus noem die Griekse naam "Palmyra", en skryf die stigting van "Tadmor" toe aan Salomo in Boek VIII van sy Oudheid van die Jode. Later skryf Islamitiese tradisies die stad se stigting toe aan Salomo se Djin. Die verbintenis van Palmyra met Salomo kan ’n samesmelting wees van "Tadmor" en die stad "Tamar" wat Salomo in Juda gebou het (1 Kon 9:18). Die Bybelse beskrywing van "Tadmor" en sy geboue stem nie ooreen met argeologiese vondste in Palmyra nie; laasgenoemde was ’n klein nedersetting tydens Salomo se bewind in die 10de eeu v.C.

Hellenistiese en Romeinse tydperk Tydens die Hellenistiese tydperk onder die Seleukiede (tussen 312 en 64 v.C.), het Palmyra ’n vooruitstrewende nedersetting geword wat trou aan die Seleukidiese koning gesweer het. In 217 v.C. het ’n Palmyreense mag onder sjeik Zabdibel by die leër van koning Antiochus III aangesluit in die Slag van Raphia, wat in ’n neerlaag vir die Seleukiede geëindig het. In die middel van die Hellenistiese tydperk het Palmyra verder as sy noorderoewer begin uitbrei. Teen die laat 2de eeu v.C. is bouwerk begin aan die toringgrafkelders in Palmyra se Vallei van Grafkelders en die stadstempels (veral die tempels vir Baalsamin, Al-lāt en die Hellenistiese tempel).

In 64 v.C. het die Romeinse Republiek die Seleukidiese Ryk geannekseer en die Romeinse generaal Pompeius het die Romeinse provinsie Sirië gestig. Palmyra was steeds onafhanklik en het handel gedryf met Rome en Partië, maar aan nie een van die twee behoort nie. Die vroegste bekende Palmyreense inskripsie dateer van omstreeks 44 v.C. Dit was toe nog ’n klein sjeikdom wat water aan karavane voorsien het. Die stad was egter ryk genoeg dat Markus Antonius in 41 v.C. ’n mag gestuur het om dit te verower.

Outonome streek Palmyra Palmyra het deel van die Romeinse Ryk geword toe dit geannekseer is en moes heffings betaal tydens Tiberius se vroeë bewind, omstreeks 14 n.C. Die Romeine het Palmyra in die provinsie Sirië ingesluit. Die streek het verskeie dorpe bevat (35 nedersettings is teen 2012 geïdentifiseer). Die Romeinse tydperk het groot vooruitgang vir die stad meegebring en dit het ’n groot deel van sy outonome status behou. Dit het baie Griekse stadstaatinstellings in sy regering aangeneem.

Daar was groot bouprojekte in Palmyra in die 1ste eeu, onder meer die stad se eerste muurversterkings en die Tempel van Bel, wat in 32 n.C. voltooi is. Palmyra het ontwikkel van ’n klein karavaanrusplek in ’n vooraanstaande handelsentrum.

Palmyreense handel het in die 2de eeu ’n hoogtepunt bereik. In 129 is Palmyra besoek deur Hadrianus, wat dit "Hadriaanse Palmyra" genoem en ’n vrye stad gemaak het. Hadrianus het ’n vergrieksing deur die ryk aangemoedig en dit het tot nuwe projekte gelei, onder meer ’n teater, kolonnade en die Tempel van Nabu.

Romeinse mag oor Palmyra is in 167 hervestig. In die 190's is Palmyra by die provinsie Fenisië gevoeg. Tussen 213 en 216 is baie van Palmyra se Griekse instellings deur Romeinse instellings vervang.

Palmyreense koninkryk en Persiese oorloë Die opkoms van die Sassanidiese Ryk in Persië het die Palmyreense handel groot skade berokken. Die Sassaniede het Palmyreense handelsposte in hul gebied toegemaak en ’n oorlog teen die Romeinse Ryk begin.

duimnael|links|150px|’n Borsbeeld, vermoedelik van Odaenathus. In ’n inskripsie uit 252 verskyn Odaenathus met die titel "meester van Palmyra". Die swakheid van die Romeinse Ryk en die konstante Persiese bedreiging was waarskynlik die rede dat Palmyra se raad besluit het om ’n meester vir die stad te kies sodat hy ’n versterkte leër kan aanvoer. Odaenathus het Shapur I van Persië gevra om Palmyra se belange in Persië te waarborg, maar dit is van die hand gewys.

In 260 het keiser Valerianus by die Slag van Edessa teen Shapur geveg, maar hy is verslaan en gevange geneem. Odaenathus het toe ’n leër teen Shapur op die been gebring bestaande uit Palmyrene, boere en die oorblywende Romeinse soldate in die streek. Hy het homself voor die slag as koning van Palmyra verklaar. Die Palmyrene het ’n groot oorwinning naby die oewers van die Eufraat behaal en die Perse teruggedryf. Een van Valerianus se offisiere, Macrianus die ouere, sy seuns Quietus en Macrianus die jongere, en die pretoriaanse prefek Balista het toe teen Valerianus se seun, Gallienus, in opstand gekom en die mag in Sirië oorgeneem.

In 261 het Odaenathus teen die oorblywende magsoornemers in Sirië opgeruk, en Quietus en Balista verslaan en doodgemaak. As beloning het hy die titel Imperator Totius Orientis ("Goewerneur van die Ooste") van Gallienus gekry en oor Sirië, Mesopotamië, Arabië en Anatolië se oostelike streke regeer as die keiserlike verteenwoordiger.

In 262 het Odaenathus opnuut ’n veldtog teen Shapur geloods en beslag gelê op die res van Romeinse Mesopotamië. Hy het ook die Persiese hoofstad, Ctesiphon, verower. Hierna het hy die titel "koning van konings" aangeneem.

Odaenathus het sy seun Hairan as medeheerser aangewys, maar dié is vermoor in dieselfde sluipmoordaanval wat die lewe van Odaenathus geëis het, blykbaar deur laasgenoemde se neef, Maeonius. Maeonius was dalk vir ’n kort rukkie keiser totdat hy deur Odaenathus se weduwee, Zenobia, verhoor en tereggestel is.

Odaenathus is deur sy seuns, Vaballathus (10) en die jonger Herodianus, opgevolg. Laasgenoemde is egter kort ná sy pa dood. Zenobia, hul ma, was die de facto-heerser en Vaballathus het in haar skadu gebly terwyl sy haar mag gevestig het. Die koningin was versigtig dat sy Rome nie uitdaag nie en het die grense met die Perse versterk.

Palmyreense Ryk duimnael|Die Palmyreense Ryk in 271 n.C.