Changyuraptor is ’n genus roof-dinosourusse "met vier vlerke" uit die Vroeë Krytperiode wat in China ontdek is. Dit behoort tot die suborde Theropoda en daar is net een spesie, Changyuraptor yangi.

Ten tyde van sy ontdekking was Changyuraptor yangi die grootste bekende lid van die Microraptorinae, of viervlerkige dinosourusse.

Ontdekking Die fossiel is in 2012 ontdek deur ’n span wetenskaplikes onder leiding van dr. Luis Chiappe, direkteur van die Dinosourus-instituut van die Natuurhistoriese Museum van Los Angeles. Die genusnaam is afgelei van die Chinese woorde vir "langverige raptor" en die spesienaam gedenk die navorser Yang Yandong.

Beskrywing ’n Ontleding van die fossiel aan die Universiteit van Kaapstad, Suid-Afrika, het gewys die dier was volgroeid en sowat 1,2 m lank, en dit het sowat 4,1 kg geweeg – min of meer soveel as ’n kalkoen. Dit maak die Changyuraptor die grootste viervlerkige dinosourus bekend: minstens 60% groter as vorige groot mikroraptorines.

Changyuraptor het vere oor sy hele lyf gehad, insluitende sy arms en bene, en daarom het dit gelyk of hy twee paar vlerke het. Die teenwoordigheid van lang vere aan al vier ledemate dui ook daarop dat hy kon vlieg. Die dinosourus se stert was lank en geveer, met elke stertveer sowat 30 cm lank, en dit het sowat 30% van sy lengte uitgemaak. Dit het die dier dalk gehelp om sagter en veiliger te land.

Betekenis Microraptor, ’n dinosourus omtrent so groot soos ’n kraai wat sowat 1 kg geweeg het, was die eerste mikroraptorine wat ontdek is, in 2003. Dit het nes ander spesies soos Anchiornis en Xiaotingia groot, geveerde ledemate en lang, benerige sterte gehad en dit het wetenskaplikes laat glo hul klein grootte was die gevolg van ’n evolusieproses om hulle in staat te stel om te vlieg. Changyuraptor se grootte en gewig weerspreek dié hipotese.

Verwysings

Kategorie:Theropoda