Izak David du Plessis (Philipstown, 25 Junie 1900 – Kaapstad, 11 Desember 1981) was 'n Afrikaanse skrywer en digter wat onder die naam I.D. du Plessis gepubliseer het. Hy was een van die sogenaamde Dertigers.http://www.dbnl.org/tekst/_jaa003198201_01/_jaa003198201_01_0011.phpLindenberg, E., et al. Inleiding tot die Afrikaanse Letterkunde. Pretoria en Kaapstad: Vyfde uitgawe, 1980.
Du Plessis is een van die veelsydigste en vrugbaarste skrywers wat die Afrikaanse letterkunde nog gehad het.Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Du_Plessis,_Izak_David Naas jeugverhale, navertellings van ou legendes en volksverhale, spookstories, kortverhale, essays, werke oor die Maleiers en 'n outobiografie is hy die skrywer van een en twintig bundels poësie – bloemlesings en versamelings uitgesonderd – waarin hy uiteenlopende vorme soos die ballade en sonnet, die biegvers en hekeldig, die volkse vers en kwatryn beoefen. Hy skryf ook onder die skuilnaam Okulis.
Lewe en werk
Vroeë lewe en skoolloopbaan Izak David du Plessis is op 25 Junie 1900 op Philipstown in die Karoo gebore as een van vyf kinders (vier seuns en ’n dogter), van Hendrik Jakob du Plessis en Huibrecht Johanna Alida du Plessis. Sy broers is Petrus Vorster, Jacobus Stephanus en Jacob en sy suster is Issie Davida.
Sy vader is eers onderwyser en toe prokureur op Philipstown en vanaf 1902–1905 prokureur in Kaapstad. In 1905 trek die gesin na Steynsburg, waar sy pa as prokureur praktiseer, maar die gesin keer in 1908 terug na Kaapstad as sy pa as regsadviseur aangestel word van die Spoorweë tydens die Burton-regime. Izak se pa is in 1929 oorlede en hy is slegs agt jaar oud toe sy moeder in 1908 oorlede is. Hy word vanaf die ouderdom van agtien maande in Kaapstad groot, behalwe vir die tydperk 1905 tot 1908 wanneer die gesin in Steynsburg bly. Sy skoolopleiding begin op Steynsburg en hy gaan dan vanaf 1908 op Petrusville skool en woon daarna ’n plaasskool in die Karoo by, waarna hy vanaf 1910 weer in Kaapstad is. Hy matrikuleer in 1917 aan Wynberg Boys High School in Kaapstad,Storiewerf: http://www.storiewerf.co.za/cvs/cv_idduplessis_ph.htm waar die latere Eerste Minister Hendrik Verwoerd vir 'n paar jaar een van sy skoolmaats is. Daar heers in hierdie tyd sterk akademiese wedywering tussen Izak en Verwoerd en hulle neem gereeld beurte om eerste in die klas te staan.
Verdere studie en loopbaan Vanaf 1918 studeer hy aan die Universiteit van Kaapstad waar hy die B.A.-graad in 1921 met lof behaal. Hy verower talle pryse, onder andere, die Donallier-prys vir Latyn, die Onze Jan Prys as eerste in die Unie van Suid-Afrika in die Hoogste Taalbondeksamen, die medalje vir Nederlands in sy finale B.A.-eksamen en die Redenaarsmedalje van die Universiteit van Kaapstad Debatsvereniging.
Hierna is hy drie jaar lank (van 1922 tot 1924) onderwyser in Latyn en Geskiedenis aan die Worcester Boys High School waarna hy sy studies aan die Universiteit van Kaapstad voortsit en in 1925 die B.Ed.-graad verwerf. Later sal hy op deeltydse basis ook sy M.A.-graad in 1931 aan hierdie universiteit voltooi, met onderskeiding in Nederlands en Afrikaans.
Hy bly die grootste deel van sy lewe in ’n woonstel in Tuynstraat, wat later Koningin Victoriastraat word. In 1925 op deeltydse basis en vanaf 1926 voltyds word hy joernalis in die redaksie van Die Burger (hy is die eerste sportredakteur van hierdie koerant, waar hy onder andere gereeld oor rugby verslag doen) en in 1927 is hy assistent-redakteur van Die Huisgenoot. Vanaf 1928 is hy lektor in Humaniteite aan die Kaapse Tegniese Kollege en soms deeltydse lektor aan die Universiteit van Kaapstad. In hierdie jare ontstaan sy belangstelling in sport (veral rugby) en begin hy jeugverhale oor hierdie tema skryf, terwyl hy vanaf die vroeë dertigerjare ook toenemend belangstel in die maatskaplike lewe en kulturele produkte van die Maleiers. In die jare 1933–1934 besoek hy dan ook die Ooste, waar hy onder meer Java en Bali aandoen. In 1932 aanvaar hy ’n aanstelling as lektor in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad en in 1935 promoveer hy hier met ’n proefskrif oor Die bydrae van die Kaapse Maleier tot die Afrikaanse volkslied. In die dertigerjare reis hy heelwat in die buiteland en benewens die Ooste besoek hy onder meer Europa (waar hy die Berlynse Olimpiese Spele van 1936 bywoon) en Suid-Amerika. Persoonlike lewe Hy is nooit in sy lewe getroud nie. Na aanleiding van sy bundel gedigte Vreemde liefde is dit egter duidelik dat hy hom aangetrokke gevoel het tot dieselfde geslag in ’n tyd toe die gemeenskap baie sterk gekant was teen hierdie soort verhoudings.Botha, Danie Oulitnet: http://www.oulitnet.co.za/gay/verwytvers.asp In ’n poging om ’n “normale” lewe te lei, raak hy dan in die veertigerjare verloof aan dr. Anna de Villiers, bekende romanskrywer en taalhistorikus van Stellenbosch.Steyn, J.C. Van Wyk Louw: ’n Lewensverhaal Deel I. Tafelberg-uitgewers Beperk. Eerste uitgawe, 1998. bl. 383. Hy verbreek hierdie verhouding, maar voel hierna so ongelukkig dat hy straf begin drink en sodoende sy betrekking by die universiteit in gevaar stel. Die rektor versoek dan vir N.P. van Wyk Louw en J. du P. Scholtz om met hom te gaan praat, waarna hy sy drankgebruik afskaal. Izak het later ’n langdurige en stabiele verhouding met sy lewensmaat John Wakefield.
Kaapse Maleier-gemeenskap Sy verbintenis met die Maleier-gemeenskap aan die Kaap is besonder diep.Esat: http://esat.sun.ac.za/index.php/Izak_David_du_Plessis In 1931 kom hy in die loop van sy navorsing vir sy doktorsgraad oor die volkslied op ’n bron af wat ’n belangrike kultuurskat van Suid-Afrika aan die vergetelheid ontruk. Toevallig verneem hy dat die Kaapse Maleiers nog Hollandse volksliedere sing, en kom dan in aanraking met Rasdien Cornelius, een van die Maleise baassangers. Die ongeletterde Rasdien het sedert 1906 baie van die Hollandse volksliedere by Frans de Jong, ’n verloopte Hollandse matroos, geleer. So word in hierdie gemeenskap dan liedere bewaar wat selfs in Nederland vergete geraak het. Du Plessis lê die meeste van die liedere en die Maleise sang op plate vas en monster en organiseer ook die Maleiersang op groot en doeltreffende skaal. Nadat hy die vertroue van die Kaapse Maleiergemeenskap gewen het, loods hy verskeie aksies om die buitewêreld aan hierdie kleurryke gemeenskap en hulle prestasies voor te stel. Hy laat Rasdien se Hollandse koor oor die radio uitsaai en die destydse goewerneur-generaal, die hertog van Clarendon, hoor dit en nooi hulle uit om voor hom te kom optree. Sedertdien is hulle sangbedrywighede behoorlik en sterk georganiseer, met die Maleise Koorraad wat Du Plessis in 1935 gestig het, as middelpunt. Jaarliks het die Maleise kore in die Kaapstadse stadsaal bymekaar gekom om aan koorwedstryde deel te neem en die saal het oorgeloop van toeskouers. Hy bring ook ’n Maleise komitee op die been wat hulle saam met ’n groep Kapenaars beywer vir die behoud van die Maleise woonbuurt in die Bo-Kaap. In 1980 toer hy saam met die Raad van Maleierkore oorsee. Hulle bied konserte aan in Engeland, Italië en Nederland, waar hulle deelneem aan die Tulip-time International Choral Festival in Katwijk.
In 1948 word hy hoof van die Instituut vir Maleise Studies aan die Universiteit van Kaapstad en word later ook lid van die Raad van hierdie universiteit. Van 1951 tot 1961 dien hy as Kommissaris van Kleurlingsake en in 1961 word hy Sekretaris van die departement. Hy tree in Junie 1963 uit die staatsdiens, maar bly tot einde 1964 persoonlike adviseur van die betrokke Kabinetminister. Hierdie betrekking stel hom in staat om heelwat waardevolle werk vir hierdie bevolkingsgroep te doen. Hy is onder meer gemoeid met die oprigting van die Universiteit van Wes-Kaapland in 1961, waar hy vanaf die vroeë vyftigerjare dien in ’n komitee onder voorsitterskap van H.S. van der Walt, destydse Sekretaris van Onderwys, wat die universiteit se stigting moes beplan. Na stigting dien hy in die raad van die universiteit en word dan ook die kanselier vanaf 1970 tot 1978. Hy toon ook ’n besondere belangstelling in die musieklewe en is onder meer ’n stigterslid van die Kaapstadse Simfonie-orkes. Saam met sy lewensmaat John Wakefield deel hy vir geruime tyd tot aan die einde van sy lewe ’n huis in Somerset-Wes.
Op 29 November 1981 het hy ’n beroerte-aanval, waarna hy na die destydse Volkshospitaal in Kaapstad geneem is, waar hy op 11 Desember 1981 oorlede is.Botha, Amanda. Dr. Du Plessis op 81 oorlede. Die Transvaler, 12 Desember 1981
Grafkelder In die sestigerjare laat Izak ’n grafkelder in die styl van ’n kramat in die groen omgewing van die Franschhoek-vallei op die plaas Bordeaux bou. Sy lewensmaat, John Wakefield, wat in die middel sewentigerjare oorlede is, word hier begrawe. Ook sy honde, Sally en Buster, is in loodbelynde kiste in hierdie grafkelder weggebêre. Hier rus ook Jeun-Prieur, stamvader van die Du Plessis’s, saam met agt ander geslagte, met Izak die eerste van die tiende geslag. ’n Gedeelte van Izak se as is op 5 Februarie 1982 hier ter ruste gelê, terwyl die ander gedeelte in die kerkhof op die familieplaas Houtkraal naby De Aar begrawe is.
Skryfwerk
Poësie Reeds sedert 1920 publiseer hy gedigte in die tweetalige Kwartaalblad van die Universiteit van Kaapstad, Die Huisgenoot, Die Kleinspan en Die Nuwe Brandwag en later ook die Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring, sommiges onder die skuilnaam Okulis.Opperman, D.J. Digters van Dertig. Nasou Beperk. Kaapstad. Eerste druk, 1953, bl. 90. Benewens die Engelse gedig Ophelia in The South African Nation van 12 Maart 1927 is al sy aanvanklike gedigte in Afrikaans.
Hy stel in 1928 ’n manuskrip saam wat hy onder die titel Gedigte voorlê vir beoordeling van die Hertzogprys. Uit ’n groot aantal van hierdie gedigte wat sedert 1920 in tydskrifte verskyn het, stel hy sy debuutbundel Lied van Ali en ander gedigte saam. Dit bevat hoofsaaklik bekoorlike ligte liedjies, maar bevat ook treffende natuurbeelde, terwyl die vier ballades met Oosterse temas en suggesties van die wêreld van Islam nuut is in Afrikaans. Sy vertalings uit die Franse poësie is ook verdienstelik. Die bundel word in vyf afdelings verdeel. Vier Oosterse gedigte is die eerste afdeling en is ballades met ’n Oosterse tema. Die lied van Ali bevat ’n atmosfeerryke musikale beskrywing van die Oosterse mark, wat uitgroei tot ’n verhaal van liefde en jaloesie. Hierdie gedig en die ander drie, Die Sjalimeer, Die opaal en Dood van Ali word aan mekaar gebind deur die tragiese liefde van Ali vir die Sultan se vrou. Die afdeling Algemeen bevat gedigte oor ’n verskeidenheid onderwerpe. Hierin is enkele gevoelige natuurgedigte verdienstelik, soos Gee my met sy nostalgiese beskrywing van die Karoo se unieke landskap en veral Kelkiewyn met sy fyn klanknabootsing. As my hart nou wil sing is ’n spontane uiting van vreugde. Die afdeling Om te sing is ’n aantal liedjies, Uit die Frans bevat Franse vertalings van onder andere Verlaine, Hugo en Rostand, en Vir die kleinspan is kinderverse.
In die Sabie is ’n goedige hekeldig op destydse aktualiteite in die Afrikaanse samelewing (insluitende die spellingstryd, die Du Plessis-kerksaak en politieke toestande), vermom as ’n dieregeskiedenis met ’n windhond as sentrale karakter. Die luimige woordkeuse vermaak, maar die stuk mis die essensiële verontwaardiging wat die satire verby die alledaagse na ’n meer universele vlak kon neem. Ten spyte van nuwe temas en ’n nuwe aanslag, is hierdie poësie steeds meer tradisioneel van aard. Verder is die tema verouderd omdat die aktualiteit van die tyd vergete is en die stryd gestry is.
In sy volgende twee digbundels sluit hy aan by die meer individualistiese verse van sy tydgenote, die Dertigers.