Die Kaaimanseilande (Engels: Cayman Islands) is 'n selfregerende oorsese gebied van die Verenigde Koninkryk in die Wes-Indiese Eilande, noordwes van Jamaika en suidwes van Kuba. Die eilande het in 2024 'n bevolking van 66 653 gehad en dit is die grootste sodanige gebied volgens bevolking.
Die gebied van 264 km² bestaan uit drie eilande: Groot-Kaaiman, Kaaiman-brac en Klein-Kaaiman, wat suid van Kuba en noordoos van die Honduras lê, tussen Jamaika en Meksiko se Yucatán-skiereiland. Die hoofstad en grootste stad is George Town op Groot-Kaaiman, die digs bevolkte eiland van die drie.
Die Kaaimanseilande word beskou as deel van die geografies westelike Karibiese sone sowel as die Groot-Antille. Met 'n BBP per capita van VS$109 684 het die Kaaimanseilande die hoogste lewenstandaard in die Karibiese gebied en een van die hoogstes in die wêreld. Immigrante van meer as 140 lande en gebiede woon op die eilande.
Dit is 'n groot finansiële sentrum vir internasionale sakelui en ryk individue, grootliks omdat geen belasting op inkomste betaal word nie. Baie handelsbanke se hoofkantore is ook hier gevestig.
Die meeste inwoners van die Kaaimanseilande is veelrassige (swart en wit) Engelssprekendes.
Geskiedenis Teen 2017 is geen bewyse nog gevind dat die eilande bewoon was voordat Europeërs dit ontdek het nie. Die Kaaimanseilande se naam kom van die woord vir "krokodil" (caiman) in die taal van die inheemse Suid-Amerikaanse groep Arawakke. Die eerste Europeër wat die eilande gesien het, was vermoedelik Christophorus Columbus, op 10 Mei 1503, tydens sy laaste vaart na die Amerikas. Hy het dit "Las Tortugas" genoem, na die groot getal waterskilpaaie wat daar aangetref is (en feitlik almal sedertdien in jagtogte uitgewis is).
thumb|links|240px|2 Kaaimanseilandse dollar, 1975. In daaropvolgende jare is egter na die eilande as die "Kaaimans" verwys na aanleiding van die baie kaaimans wat daar teenwoordig was.
Nadat Columbus dit gesien het, is dit nie dadelik gekoloniseer nie, maar 'n verskeidenheid setlaars van verskillende agtergronde het eindelik gearriveer, onder andere seerowers, gestrande matrose en drosters van Oliver Cromwell se leër in Jamaika.
Sir Francis Drake het die eilande in 1586 vir 'n rukkie besoek.
Die eerste aangetekende permanente bewoner, Isaac Bodden, is omstreeks 1661 op Groot-Kaaiman gebore. Hy was die kleinseun van 'n oorspronklike setlaar met die naam Bodden, waarskynlik een van Cromwell se soldate wat betrokke was by die verowering van Jamaika van Spanje in 1655.
thumb|links|240px|Die Kaaimanseilandse Nasionale Museum, in George Town. thumb|links|240px|Heldeplein in die middestad van George Town, wat die Kaaimanseilande se oorlogsgesneuweldes gedenk. Engeland het amptelik saam met Jamaika beheer van die eilande oorgeneem kragtens die Verdrag van Madrid van 1670. In dieselfde jaar was daar 'n aanval op 'n skilpadvangersgemeenskap op Klein-Kaaiman deur die Spanjaarde onder die Portugese kaapvaarder Manuel Ribeiro Pardal. Ná verskeie onsuksesvolle pogings om hulle te vestig op wat toe 'n toevlugsoord vir seerowers geword het, het 'n permanente Engelse bevolking sedert die 1730's ontstaan.
Dit is gou gevolg deur die instelling van slawerny. Baie slawe is in Afrika gekoop en na die eilande gebring. Die gevolg is dat die meeste inheemse Kaaimanseilanders óf van Afrika- óf van Britse herkoms is. Die eerste sensus is in 1802 opgeneem en wys die bevolking op Groot-Kaaiman was 933, van wie 545 slawe was. Slawery is in 1833 deur Brittanje afgestel. Daar was toe meer as 950 slawe van Afrikaherkoms wat deur 116 families besit is.
Op 22 Junie 1863 is die Kaaimanseilande tot 'n afhanklike gebied van Jamaika verklaar. Die eilande is tot in 1962 bestuur as deel van die Kolonie Jamaika, totdat Jamaika 'n onafhanklike Statebondsland geword het.. Daarna is hulle weer dierek deur Brittanje bestuur. In 1972 is 'n groot mate van interne outonomie deur 'n nuwe grondwet toegeken, met nog hersienings in 1994.
In die 1950's het toerisme begin floreer ná die opening van die Internasionale Lughawe Owen Roberts, asook 'n bank en verskeie hotelle. Die regering fokus daarop om die eilande se ekonomie 'n hupstoot te gee met toerisme en die lok van buitelandse beleggers, wat albei van die 1970's af geweldig gestyg het. Die Kaaimanseilande is histories 'n belastingvrye bestemming, en die regering steun op indirekte pleks van direkte belasting. Dit maak die eilande dus 'n gewilde belastingvrye toevlugsoord..
In April 1986 is die eerste seebewaringsgebiede in die Kaaimanseilande aangewys, wat hulle die eerste eilande in die Karibiese gebied gemaak het wat hulle kwesbare seelewe beskerm.
Die grondwet is in 2001 en 2009 nog verander, en verskeie aspekte van menseregte is in die wetboek saamgevat.
Op 11 September 2004 is Groot-Kaaiman, wat feitlik onbeskerm op die seevlak lê, deur Orkaan Ivan getref. Dit was die ergste orkaan in 86 jaar op die eilande. Dit het 'n stormvloed van 2,4 meter hoog geskep wat baie gebiede op Groot-Kaaiman oorstroom het. 'n Geraamde 83% van die huise op die eiland is beskadig en 4% moes heeltemal herbou word. Sowat 70% van alle huise is erg deur water en wind beskadig. Ander het minder skade opgedoen weens dakke wat gedeeltelik afgewaai is, lae vlakke van oorstroming of windgewaaide orkaanpuin. Krag, water en kommunikasie is in sommige gebiede vir maande ontwrig. Danksy 'n herbouingsprogram was die eiland se infrastruktuur ná twee jaar amper weer soos voor die orkaan.
Weens die tropiese ligging van die Kaaimanseilande tref meer orkane of tropiese stelsels die eilande as enige ander gebied in die Atlantiese kom. Dit word gemiddeld elke twee jaar gedeeltelik of direk deur een getref.
Geografie thumb|upright=1.5|'n Kaart van die Kaaimanseilande wat die drie hoofeilande wys sowat 120 km van mekaar af.
Die eilande lê in die westelike Karibiese See en is die pieke van 'n ondersese bergreeks bekend as die Kaaimansrif. Die rif lê aan die Kaaimanstrog, 6 000 m diep, wat 6 km suid daarvan geleë is.Bush, Phillippe G. Grand Cayman, British West Indies . UNESCO Coastal region and small island papers 3. Die eilande lê oos van Mexiko en die Yucatán-skiereiland, noordoos van Costa Rica, noord van Panama, suid van Kuba en wes van Jamaika. Hulle is sowat 700 km van Miami af geleë.
thumb|240px|links|George Town se waterfront. Groot-Kaaiman is verreweg die grootste eiland, met 'n oppervlakte van 197 km2.Bush . Unesco.org. Besoek op 12 April 2014. Die twee ander eilande, Kaaiman-brac en Klein-Kaaiman, lê sowat 120 km oosnoordoos van Groot-Kaaiman, met oppervlaktes van onderskeidelik 38 en 28,5 km2. Die grootste landmassa van Groot-Kaaiman af is Kuba se Canarreos-argipel (sowat 240 km van daar).
Al drie eilande is gevorm deur groot koraalpilare en is feitlik plat. 'n Merkbare uitsondering is die Bluff op Kaaiman-brac se oostelike deel, wat tot 43 m bo die seevlak styg; dit is die hoogste punt op die eilande. (Brac is die Galliese woord vir bluff.)
Die terrein is hoofsaaklik 'n laaggeleë kalksteenbasis, omring deur koraalriwwe.
Fauna Die soogdierspesies van die Kaaimanseilande sluit in die Sentraal-Amerikaanse goudhaas en agt spesies vlermuise. Minstens drie inheemse knaagdierspesies was teenwoordig voor die ontdekking van die eilande deur Europeërs.
Die seelewe om Groot-Kaaiman sluit in tarpoene (Megalopidae), spierinkies (Atheriniformes), Franse keisersvisse (Pomacanthus paru) en reusebuissponse. 'n Paar walvisagtiges soos die potvis word ook 'n ent van die kus af aangetref.
thumb|240px|Die bloulikkewaan. Voëls sluit twee inheemse subspesies van Amazona-papegaaie in: Amazona leucocephala hesterna en Amazona leucocephala caymanensis. Hoewel nonnetjiesuile (Tyto alba) op al drie eilande voorkom, is hulle nie algemeen nie. Daar is ook vyf inheemse spesies skoenlappers,Askew, R.R. en Stafford, P.A. van B. (2008) Butterflies of the Cayman Islands. Apollo Books, Stenstrup. . wat in die Botaniese Park Queen Elizabeth II gesien kan word.
Van die ander merkwaardige diere in die park is die kritiek bedreigde bloulikkewaan (Cyclura lewisi). Dit is inheems aan Groot-Kaaiman,Grand Cayman Blue Iguana takes step back from extinction . IUCN (20 October 2012). Besoek op 12 April 2014. veral vanweë die rotsagtige, sonverligte, oop gebiede naby die eiland se kus – dit is voordelig vir die lê van eiers. Die kleintjies oorleef egter nie dikwels in die natuur nie weens habitatvernietiging en indringende soogdierroofdiere.
Die Kubaanse krokodil (Crocodylus rhombifer) het eens op die eilande gewoon. Die Amerikaanse krokodil (Crocodylus acutus) van Kuba herbevolk glo nou die eilande. Die naam "Kaaiman" kom van die Karibiese woord vir die verskeie krokodille wat die eilande bewoon het.
thumb|240px|Tekens by Rum Point gedenk orkane wat die eilande getref of amper gemis het. Klimaat Die Kaaimanseilande het 'n tropiese nat en droë klimaat. Die nat seisoen is van Mei tot Oktober en die droë seisoen van November tot April. Daar is net klein temperatuurverskille tussen die seisoene.
'n Groot natuurgevaar is die tropiese siklone wat vorm in die Atlantiese orkaanseisoen van Junie tot November.
Op 11 en 12 September 2004 het Orkaan Ivan die Kaaimanseilande getref. Twee mense is dood en groot skade is aan die infrastruktuur aangerig. Die algehele ekonomiese impak van die storms word geraam op sowat $3,4 miljard.
Demografie
Hoewel baie Kaaimanseilanders al geslagte daar woon, het baie van hulle wortels in byna elke deel van die wêreld. Nes lande soos die VSA, is die Kaaimanseilande 'n smeltkroes met burgers van elke agtergrond. Die meeste bewoners is nie Kaaimanseilanders nie.
Volgens die ekonomiese en statistiekekantoor van die regering het die eilande 'n bevolking van 71 432 gehad met die sensus van 10 Oktober 2021, maar dit het na raming sedertdien gestyg tot 81 546 teen Desember 2022. Dit is dus die digs bewoonde Britse oorsese gebied.
Met die 2021-sensus is onthul sowat 56% van die werkmag is nie Kaaimanseilanders nie; dit is die eerste keer in die gebied se geskiedenis dat die grootste deel van die werkmag immigrante is.
Die meeste Kaaimanseilanders is van gemenge Afrika- en Europese afkoms. Slawerny het voorgekom, maar was nie so algemeen as op ander Karibiese eilande nie. Toe dit eers afgeskaf is, het die swart en wit gemeenskappe oënskynlik makliker geïntegreer as in ander Karibiese nasies, en die bevolking is dus nou meer gemeng.
Die land se demografie verander vinnig. Immigrasie speel 'n groot rol, en die verandering in die bevolking se ouderdom het in die mees onlangse sensus waarskuwingsligte laat flikker. Die 2021-sensus wys 36% van die bevolking se groei sedert die 2010-sensus was in die ouderdomsgroep bo 65, terwyl die groei in mense jonger as 15 jaar net 8% was. Dit is weens 'n uiters lae geboortesyfer onder die Kaaimanseilanders, en dit laat die regering werkers van oorsee lok om die ekonomie bestendig te hou. Dit maak die jong eilandbewoners bekommerd, want die werkmag raak al hoe mededingender met die invloei van werkers, en dit stoot eiendomspryse en huurgeld op.
Omdat die bevolking die afgelope dekade so toegeneem het, het voormalige regeringsamptenare klem daarop gelê dat die eilande 'n versigtiger en beter bestuurde groei nodig het. Baie is bekommerd dat die land se infrastruktuur en dienste nie die vinnig groeiende bevolking kan onderhou nie. Daar word geraam dat die bevolking voor 2030 al 100 000 sal wees as die huidige tendense voortduur.
thumb|240px|Die Elmslie United Church, George Town. Tale en godsdiens