__NOTOC__
Die Nicholsonse koester (Anthus nicholsoni) is 'n algemene maar gelokaliseerde standvoël wat hoofsaaklik op oop, klipbesaaide heuwelhange in grasveld en savanne voorkom. Die spesie kom een-een of in pare voor en sit dikwels op rotse, struike of bome. Hulle behoort tot 'n spesie-kompleks met 'n uitgestrekte verspreiding in Afrika en Suid-Asië, wat vroeër onder Anthus similis (Engels: long-billed pipit) verenig is. Die Nicholsonse en miombokoesters word nou egter as aparte spesies in hierdie kompleks beskou. Die Nicholsonse koester is feitlik tot Eswatini, Suid-Afrika, Lesotho en Namibië beperk, waar hul verspreiding dié van kliprandjies, koppies en berghange volg, van seevlak tot in die Lesotho-hoogland. Die voël is 19 cm groot en weeg 30 gram. Dit is vernoem na Francis Nicholson (1843-1925), 'n Engelse katoenhandelaar en amateur-ornitoloog wat 'n belangstelling in die Motacillidae gehad het. In Engels staan dit as "Nicholson's pipit" bekend.
Subspesies Vyf subspesies word erken: A. nicholsoni nicholsoni — Noordwes tot benede-Oranjerivier A. nicholsoni leucocraspedon Reichenow, 1915 — Khomas-hoogland en omstreke A. nicholsoni petricolus Clancey, 1956 — Transvaal, Eswatini, noord-Vrystaat, KwaZulu-Natal, Lesotho-hoogland A. nicholsoni palliditinctus Clancey, 1956 — Kaokoveld A. nicholsoni primarius Clancey, 1990 — Wes-Kaap, Oos-Kaap en suidelike Noord-Kaap en Vrystaat
Galery
Sien ook Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse voëls Lys van Suid-Afrikaanse voëls (gegroepeer) Lys van Suider-Afrikaanse voëls volgens wetenskaplike name
Verwysings
Bronnelys Sasol Voëls van Suider-Afrika. Struik Nature. Vierde Uitgawe 2011.
Kategorie:Koesters