Ds. Helgard Müller (distrik Uitenhage, 14 Januarie 1859 – Burgersdorp, 3 Februarie 1898) was 'n predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk wat in sy kort loopbaan vier gemeentes bedien het, een in Natal en drie in Oos-Kaapland, maar wat enkele weke ná sy 39ste verjaardag 'n slagoffer van koorssiekte geword het.
Hoewel daar baie van hom verwag is as 'n ywerige en wakkere jong predikant met blykbaar onuitputlike werkkrag, het sy arbeid onder die verstrooide lidmate van die NG Kerk in die afgeleë en onherbergsame Griekwaland-Oos en Temboeland, toe hy soms ure op sy perd in kapok en misreën moes deurbring, sy gesondheid in so 'n mate aangetas dat hy nie 40 jaar sou haal nie.
In twee van sy Oos-Kaapse gemeentes, Barkly-Oos en Burgersdorp, is die ruim en sierlike kerkgebou waarna hy op 'n keer op 'n kerkraadsvergadering op Barkly-Oos uitgesien het, eers ná sy dienstyd opgerig, Barkly-Oos s'n in 1908 en dié van Burgersdorp in 1913. Net Tarkastad het reeds 'n toringkerk gehad nadat dit in 1880 ingewy is.
Herkoms en opleiding duimnael|links|285px|Ds. Müller het sy teologiese opleiding ontvang aan die Kweekskool op Stellenbosch. Dié eerste inrigting vir hoër onderwys in die Eikestad is in 1859 in die voormalige Drosdy gestig wat 'n barokgewel van 1767 gehad het totdat dit in 1868 'n verdiepinggebou geword het volgens planne opgestel deur die argitek Carl Otto Hager. Die platdak van daardie jaar het later plek gemaak vir 'n staandak, soos op dié foto gesien kan word. Die Kweekskool het sy huidige vorm in 1905 gekry, hoewel die fyn Victoriaanse gietysterwerk aan die gebou intussen verwyder en gedeeltelik deur beton vervang is.
duimnael|regs|240px|Ds. Müller het sy bediening in Mei 1885 in die NG gemeente Pietermaritzburg begin toe hy met handeoplegging in die tweede Voortrekkerkerk, ingewy in 1861, bevestig is. Dit is in 1955 gesloop om plek te maak vir die derde kerk, wat sedert 2008 deel van die Voortrekker-museumkompleks is.
Die toekomstige predikant is in die Coega-wyk van die distrik Uitenhage gebore as die seun van Antonie Michael Müller en Martha Jacoba van Niekerk. Hy het sy skoolopleiding op Uitenhage ontvang en sy naskoolse opleiding aan die Stellenbosse Kweekskool ontvang en is op 4 November 1884 tot die bediening toegelaat.
Ds. Müller se eerste gemeente was Pietermaritzburg waar hy op 16 Mei 1885 met handeoplegging bevestig is. Reeds hier is hy beskryf as 'n "ernstige prediker (en) trouwe zielzorger". Hy arbei slegs enkele maande in die Natalse hoofstad toe die Algemene Vergadering van die Natalse Kerk hom tot skriba gekies het, en die volgende jaar (1886) moes hy as uittredende skriba volgens die Kerk se bepalings die voorsitterskap van die Sinode op hom neem.
Op Barkly-Oos duimnael|regs|300px|Barkly-Oos se ou kerksaal, opgerig in 1930, huisves nou die openbare biblioteek. Die gebou links het later die museum geword, maar was in ds. Müller se tyd die dorpsbiblioteek, in wie se komitee hy gedien het.
Hy was skaars twee jaar in die bediening toe hy in 1887 die beroep na die NG gemeente Barkly-Oos in die Noordoos-Kaap aanneem, maar in dié kort tyd het hy hom reeds bewys as as 'n bekwame en toegewyde man. So pak hy dan ook sy taak op Barkly-Oos met erns en deeglikheid aan. Dit het hom byvoorbeeld gepla dat die kerkbesoek, veral van die lidmate wat ver van die dorp af gewoon het, ongereeld was. Daarom het hy in sommige buitewyke met gereelde maandelikse wyksdienste begin waar kerkraadslede gewoonlik voorgegaan het. Ook het hy 'n sustersbiduur begin wat nog lank ná sy vertrek voortbestaan het. Nietemin het die bywoning van veral die namiddagdiens op die dorp hom bly bekommer. Van die getroue kerkgangers het ds. Müller in 'n stadium gesê: "Het is aangenaam onder de prediking des Woords eene ernstige heilbegerigheid op veler aangezichten te lezen." Destyds het die diensprogram vereis dat die predikant 'n oggenddiens om elfuur moes waarneem, die Sondagskool om tweeuur in die middag en die namiddagdiens om halfvier. Toe was aanddienste nog nie gebruiklik nie.
Sondagskole, Engelse dienste en huisbesoek Dit het ds. Müller ook op Barkly-Oos gepla dat so baie kinders nie 'n Sondagskool bygewoon het nie. Ten einde bywoning te bevorder het hy in 1888 begin met een groot sentrale Sondagskool wat maandeliks op die dorp vergader het op die laaste Sondag van die maand. Toe moes soveel moontlik kinders se ouers hulle uit die buitewyke dorp toe bring waar hulle die lesse sou opsê wat hulle in die tussentyd tuis geleer het. Dit het daartoe gelei dat in baie huisgesinne in die distrik weeklikse Huissondagskooltjies ontstaan het waar die ouers hul kinders die lesse geleer het ter voorbereiding vir die laaste Sondag van die maand. Al het die bywoning van die Dorpsondagskool later weer afgeneem, het ds. Müller se plan ten minste die stigting van meer Buitesondagskooltjies in die hand gewerk. Die meeste hiervan is gehou saam met die maandelikse buitediens.
Ds. Müller het hom egter nie net bekommer oor die sieleheil van die Afrikaanse ingesetenes nie, maar ook dié van die Engelssprekendes op die dorp en in die distrik "die herderloos zijn en zich in die Episkopaalsche Kerk niet thuis gevoelen". In Februarie 1891 het hy dus met 'n maandelikse Engelse diens op Sondae begin.
Omdat hy 'n ware pastor was, het die jong predikant erns gemaak met herderlike huisbesoek in die buitewyke; daarom is die buitediens wat net ná so 'n huisbesoekrondte gevolg het, dan ook altyd besonder goed bygewoon. In sy godsdiensverslag van 1891 het ds. Müller berig dat hy sy hele gemeente, op 'n klein deeltjie na, met huisbesoek deurgegaan het. Dit was geen geringe prestasie nie, want tot en met die afstigting van Rossville op die dorpie Rhodes in 1893 het Barkly-Oos 'n groot, bergagtige gebied beslaan waarvan die paaie baie swak was.
Gesteld op ordelikheid duimnael|210px|links|Ds. Müller, waarskynlik hier afgeneem in die dekade ná 1890. Ds. Müller was besonder gesteld op ordelikheid en dat alles volgens die reëls moes geskied. Hy het byvoorbeeld daarop aangedring dat voornemende doopouers wie se name nie in die lidmaatregister was nie, hul attestate en lidmaat sertifikate moes inlewer, so nie het hy geweier om hul kind te doop. Alle jong mense wat hulle vir aanneming tot lidmaat wou aanmeld, moes eers hul doopseëls vertoon voor hulle tot die ondersoek toegelaat sou word. Ook met sy kerkraadslede was hy streng, want nuutverkose broers wie se naam nie in die lidmaatregister voorgekom het nie, moes hul lidmaatskapsertifikaat inlewer voor hy hulle in die amp sou bevestig.
Dankbaarheid van gemeente Dat ds. Müller se troue diens in die gemeente Barkly-Oos waardeer is, blyk daaruit dat toe hy in 1890 drie jaar in die gemeente gestaan het, die lidmate in die stilligheid besluit het om hul dankbaar tasbaar te bewys. Kerkraadslede het met lyste deur die gemeente gegaan en op Sondag 16 Februarie 1890, 'n maand en twee dae ná sy 31ste verjaardag, nadat die leraar die seën uitgespreek het, is hy versoek om voor die kansel te gaan staan. Daarop is hy verras met 'n adres en 'n beurs (kontantgeskenk), terwyl die gemeente hom staande Dat's Heeren zegen op uw daal toegesing het.
Hy het wel ses minderjarige kinders by oorlye gehad. Boedeldokument in die Kaapse argief MOOC1898 6-9-373 ref 481 Muller Hilgard Die ses kinders is na sy vrou se oorlye te Wellington 3 jaar later versorg deur haar jonger suster wat self 7 kinders gehad het
Pinksterdienste deur ds. Andrew Murray duimnael|regs|190px|Ds. (later dr.) Andrew Murray het in Mei 1891 op ds. Müller se uitnodiging nege Pinksterdienste op Barkly-Oos kom waarneem, waar die kerkvader sy 61ste verjaardag op 9 Mei Mei gevier het. 'n Hoogtepunt tydens ds. Müller se dienstyd op Barkly-Oos was die besoek, op sy uitnodiging, in Mei 1891 deur ds. (later dr.) Andrew Murray, die gevierde predikant, kerkleier en skrywer. Ds. Müller het hom genooi om tydens die Pinkster spesiale dienste op dié afgeleë dorp te kom hou. Dié dienste was besonder geseënd. Ds. Murray het, bygestaan deur ds. I.F.A. de Villiers, wat hom hierheen vergesel het, op Hemelvaartdag 10 Mei 1891 begin en drie daaropvolgende drie dae elke dag drie dienste gehou. Die opkomste was buitengewoon groot, veral die laaste dag, Sondag 13 Mei. Die destydse kerkgebou kon nie almal huisves nie en daarom moes ds. De Villiers twee dienste in die Christelike Jongeliedevereniging-saal waarneem. Volgens ds. A.P. Smit, skrywer van die gemeente se gedenkboek met sy eeufeesviering in 1973, het "baie in hierdie dae tot sondebesef en tot waaragtige inkeer gekom".
Terwyl ds. Murray op Barkly-Oos was het hy op Saterdag 9 Mei sy 61ste verjaardag gevier. In die kort tyd dat hy hier was, het die diakens en die vroulike lidmate £30 ingesamel om as verjaardaggeskenk aan die waardige ou kerkvader te oorhandig. Die jong mense het gevoel dat ds. Müller nie uitgesluit moes word en so het die CJV die Sondagaand ook aan hom 'n beurs oorhandig.
Kerksaal gesloop en kerkbou uitgestel Die kerkraad het al in Januarie 1891 blykbaar op ds. Müller se aandrang 'n kommissie van toesig benoem wat 'n wakende oog oor die kerklike geboue moes hou en die nodige herstelwerk van tyd tot tyd moes doen. Ds. Müller en sy kerkraad het juis in daardie jare baie kop gekrap oor die kerkgebou, wat veral met Nagmaalnaweke veels te klein vir die gemeente was. Met Nuwejaar 1888 was die opkoms so groot dat baie voornemende kerkgangers voor die kerkdeur moes omdraai. In die godsdiensverslag van daardie jaar roer ds. Müller die noodsaaklikheid van 'n ruimer en sierliker kerkgebou aan. Twee jaar later was die kerkraad eenparig van oordeel dat 'n nuwe kerkgebou dringend noodsaaklik was, en hulle besluit dan ook om dit vir oorweging aan 'n gemeentevergadering voor te lê. Die saak is egter keer op keer uitgestel, eers weens 'n beweging ten gunste van afstigting van 'n gedeelte van die gemeente en toe dit uiteindelik lei tot die afstigting in 1893 van die gemeente Rossville, is dit heeltemal op die lange baan geskuif. Dit is toe eers weer tydens die dienstyd van ds. Müller se opvolger, ds. F.W.R. Gie, geopper.
Eerste vaste orrelis Ds. Müller het hom sterk beywer vir die aanstelling van 'n orrelis. In die kerkraadsvergadering van Maart 1892 het hy gepleit vir die aanstelling van so iemand teen 'n klein vergoeding, maar die kerkraad het op dié vergadering met 'n meerderheid van stemme besluit om nie 'n orrelis aan te stel nie, maar slegs 'n voorsinger aan te hou. Dier koster, D.J. Sutherland, moes gevolglik maar aas voorsinger die gemeentesang bly lei. Toe Sutherland egter kort daarna as koster bedank en J.H. Greyvenstein in sy plek aangestel word, het die kerkraad besluit om vir eers nie 'n voorsinger aan te stel nie. Daar was destyds 'n harmonium in die kerk, want in Junie 1892 besluit die kerkraad om iemand te soek wat die harmonium kon bespeel en wel gratis.
Dis nie duidelik of so iemand aangestel is nie, maar ds. Müller se gedagte van 'n vaste orrelis het geleidelik veld gewen, want op die vergadering van Julie 1893 het die kerkraad met die beslissende stem van die voorsitter besluit om 'n orrelis aan te stel teen 'n jaarlikse vergoeding van £24. Die predikant het egter 'n maand of wat later vertrek en dis onduidelik of 'n orrelis reeds voor sy afskeid gekry is.
Griekwaland-Oos en Temboeland duimnael|regs|270px|Ds. Müller moes te perd oor die berge van Barkly-Oos na Griekwaland-Oos en Temboeland reis om die verstrooide lidmate van die NG Kerk te gaan bearbei. Ds. M.T.R. Smit skryf: "Die kapok en misreëns en lang ure op die perd het naderhand sy gesondheid aangetas en hom na 'n vroeë graf gesleur."