Botswana, amptelik die Republiek Botswana (Tswana: Lefatshe la Botswana, Engels: Republic of Botswana), is ’n landingeslote land in Suider-Afrika. Die land was voorheen die Britse protektoraat Betsjoeanaland binne die Volkebond. Met onafhanklikheid op 30 September 1966 verander die land se naam na Botswana. Sedertdien handhaaf Botswana ’n tradisie van ’n stabiele verteenwoordigende republiek met ’n konsekwente stelsel van ononderbroke demokratiese verkiesingsHAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, en die beste posisie van Afrika in die wêreldwye korrupsie-indeks sedert sowat 1998. Dit is nou Afrika se oudste deurlopende demokrasie.
duimnael|links|Nasa-Satellietbeeld van Botswana duimnael|links|Kaart van Botswana Botswana is ’n droë en topografies platte land, sowat 70% van sy oppervlakte word deur die Kalahariwoestyn beslaan, terwyl die noordooste deur die Okavangodelta oorheers word. Dit word deur Suid-Afrika in die suide en suidooste, Namibië in die weste en noorde, en Zimbabwe in die noordooste begrens. Die grens met Zambië in die noorde naby Kazungula is swak gedefinieer maar is hoogstens ’n paar honderd meter lank. Volgens ander menings ontmoet die grense van die vier lande Botswana, Namibië, Zambië en Zimbabwe op een enkele punt en sal vervolgens die enigste internasionale vierlandepunt wêreldwyd vorm. Dié moontlike vierlandepunt is egter sonder algemene internasionale erkenning. Hiervan hang ook die aantal buurlande van Botswana af: drie of vier. In die noorde word Botswana deur die smal Namibiese Kaprivistrook van Angola geskei.
Die eerste inwoners van die hedendaagse Botswana was sedert 25 000 v.C. die Boesmans wat vir hul rotstekeninge orals in Suider-Afrika bekend staan en veral jagter-versamelaars was. Die Bantoevolke het sowat 1000 jaar gelede Suider-Afrika binne beweeg en hulle hier as landbouers en veewagters gevestig. Die land se bevolking bestaan veral uit Batswana en hul taal is Setswana, ook bekend as Tswana. Tydens die Wedloop om Afrika het die hedendaagse Botswana in 1885 ’n Britse protektoraat geword, Betsjoeanaland, om te verhoed dat die gebied by die Zuid-Afrikaansche Republiek of Duits-Suidwes-Afrika ingelyf word. Op 30 September 1966 het die land van die Verenigde Koninkryk onafhanklik geword en sy naam na Botswana (“land van die Tswanas”) verander.
Botswana is ’n middelgroot land van sowat 2,4 miljoen mense en is een van die mins bevolkte lande wêreldwyd. Sowat 10% van die bevolking bly in die hoofstad en grootste stad Gaborone. Botswana was eens een van die armste lande ter wêreld — met ’n BBP per kapita van sowat VS$70 per jaar in die laat 1960’s — maar het sedertdien homself in ’n land met ’n hoër middelinkomste met een van die wêreld se snelgroeiendste ekonomieë omgeskep. Die ekonomie, nou verbonde aan dié van Suid-Afrika, word oorheers deur mynbou, beesboerdery en toerisme. Botswana spog met ’n BBP (Koopkragpariteit) per kapita van omtrent $17 500 per jaar in 2023, een van die hoogstes in Afrika. Sy hoë bruto nasionale inkomste (volgens sommige ramings die vierde grootste in Afrika) gee die land ’n relatief hoë lewenstandaard en die hoogste Menslike-ontwikkelingsindeks van die vastelandse Afrika suid van die Sahara.
Botswana is ’n lidland van die Afrika-unie, Suider-Afrikaanse Doeane-unie, Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, Beweging van Onverbonde Lande, Britse Statebond en die Verenigde Nasies. Die land word erg deur die MIV/Vigs-epidemie geraak. Ten spyte van die sukses om behandelings beskikbaar te stel aan diegene wat besmet is, en om die bevolking algemeen in te lig oor hoe om die verspreiding van MIV/vigs te stop, het die aantal mense met MIV/Vigs van 290 000 in 2005 tot 320 000 in 2013 gestyg. Soos in 2014 het Botswana die derde hoogste voorkomsskoers vir MIV/vigs, aangesien ongeveer 20% van die bevolking besmet is. Daarbenewens sal in die nabye toekoms veral die aardverwarming en die tekort aan vars water die grootste uitdagings vir Botswana wees.
Etimologie Die landsnaam beteken “land van die Tswanas” en verwys na die dominerende etniese groep van Botswana. Die Grondwet van Botswana erken ’n homogene Tswana-staat. Die term Batswana is oorspronklik op die Tswanas toegepas, wat nog steeds die geval is. Dit word egter ook algemeen as ’n demoniem vir alle burgers van Botswana gebruik, ongeag hul etniese agtergrond. In Tswana is Batswana die meervoud; die enkelvoud Motswana kan na óf ’n enkele lid van die Tswanas óf ná ’n enkele burger van Botswana verwys.
Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|links|Rotstekeninge by Tsodilo duimnael|Khoisan besig om sprinkane te braai – akwatint in kleur deur Samuel Daniell in 1804 duimnael|Britse koloniale tekening van ’n “Booshuana-dorp” in 1806 Volgens argeologiese opgrawings is Botswana sedert sowat twee miljoen jaar deur hominidae bevolk. Klipwerktuie en fauna-oorblyfsels getuig daarvan, dat alle dele van die land minstens sedert 400 000 jaar bevolk is. In Oktober 2019 het navorsers bekend gemaak dat Botswana sowat 200 000 jaar gelede die Wieg van die moderne mens was. Getuienisse van moderne mense soos rotstekeninge is sowat 73 000 jaar oud. Die oorspronklike inwoners van Suider-Afrika is die Boesman (San) en Khoikhoi-volke, wat dikwels onder die sambreelterm Khoisan saamgevat word. Albei praat Khoisan-tale, en hulle het oor lang afstande gejag, versamel en verhandel. Toe beeste ongeveer 2000 jaar gelede vir die eerste keer na Suider-Afrika gebring is, het pastoralisme ’n belangrike kenmerk van die ekonomie geword, aangesien die gebied oor groot grasvlaktes, vry van die tsetsevlieg, beskik.
Dit is onbekend wanneer Bantoevolke hulle vanaf die noorde in die land gevestig het, alhoewel 600 n.C. algemeen aanvaar word. Destyds het die voorvaders van die hedendaagse Kalanga hulle in die noordoostelike gebiede van die land gevestig. Hierdie proto-Kalanga was nou verbonde aan state in Zimbabwe, maar ook aan Mapungubwe in Suid-Afrika. Dié state, wat buite die huidige Botswana geleë was, het blykbaar groot veekuddes in die sentrale distrik aangehou — glo in getalle soortgelyk aan dié van die moderne veedigtheid. Hierdie massiewe veeteeltkompleks het tot 1300 n.C. voorspoedig geword en blykbaar ná die agteruitgaan van Mapungubwe ineengestort. Gedurende hierdie tydperk het die eerste Tswana-sprekende groepe, die Bakgalagadi, na die suide van die Kalahari beweeg. Al hierdie verskillende volke is deur handelsroetes langs die Limpoporivier met die Indiese Oseaan verbind, en handelsgoedere uit Asië soos krale het in ruil vir ivoor, goud en renosterhoring waarskynlik hul weg na Botswana gevind.
Die koms van die Tswana-sprekers se voorouers wat die streek kom beheer het, is nog nie presies gedateer nie. Lede van die Bakwena, ’n kapteinskap onder die legendariese leier Kgabo II, het hulle teen 1500 n.C. in die suidelike Kalahari gevestig, en sy volk het die Bakgalagadi in ’n westelike rigting in die woestyn verdring. Oor die jare heen het verskeie nasate van die Bakwena na aangrensende gebiede beweeg. Die Bangwaketse het gebiede in die weste bevolk, terwyl die Bangwato hulle in die noordooste, in voormalige Kalanga-gebiede, gevestig het. Nie lank daarna nie, dalk in die 1790’s, het nasate van die Bangwato, die Batawana, na die Okavangodelta beweeg.
Uitwerking van die Mfecane
duimnael|links|upright|Sechele I (aan bewind in 1831–1892) het ’n Merafe-koalisie teen Boere aangevoer duimnael|upright|Kgosi Khama III (aan bewind in 1872–1873 en 1875–1923) Die eerste skriftelike optekeninge rakende die hedendaagse Botswana het in 1824 verskyn. Volgens dié optekeninge het die Bangwaketse die hersende mag in die gebied geword. Onder Makaba II het die Bangwaketse hul groot troppe beeste in goed beskermde woestyngebiede aangehou en hul militêre mag benut om hul bure aan te val. Ander destydse kapteinskappe in die gebied het oor bevolkings van sowat 10 000 beskik en was redelik welvarend. Dié balans is gedurende die Mfecane (1823–1843) beëindig, toe ’n opeenvolging van indringende mense uit Suid-Afrika die land binnegekom het. Alhoewel die Bangwaketse in staat was om in 1826 die aanvallende Bakololo te verslaan, is oor die tyd heen al die groot kapteinskappe in Botswana aangeval, verswak en verarm. Beide die Bakololo en Amandebele het herhaaldelik strooptogte onderneem, en beeste, vroue en kinders in groot getalle van die Batswana gevat — waarvan die meeste in die woestyn of na heiligdomgebiede soos heuwels en grotte verdryf is. Eers na 1843, toe die Amandebele na die weste van Zimbabwe verhuis het, het hierdie bedreiging bedaar.
Gedurende die 1840’s en 1850’s het die handel met die Kaapkolonie toegeneem en die Batswana-kapteinskappe in staat gestel om te herbou. Die Bakwena, Bangwaketse, Bangwato en Batawana het saamgespan om die winsgewende ivoorhandel te beheer, en toe die inkomste benut om perde en wapens in te voer, en sodoende beheer oor die hedendaagse Botswana te verkry. Dié proses is teen 1880 afgesluit, en sodoende is die Boesmanne, Kalanga, Bakgalagadi en ander hedendaagse minderhede deur die Batswana onderwerp.
Ná die Groot Trek het Afrikaners van die Kaapkolonie hulle in Transvaal langs die grens van Botswana gevestig. In 1852 het ’n koalisie van Tswana-kapteinskappe onder Sechele I tydens die Slag van Dimawe Afrikaner-invalle afgeweer en in 1860, ná sowat agt jaar se onderbroke spanning en vyandigheid, in Potchefstroom uiteindelik ’n vredesooreenkoms gesluit. Met dié ooreenkoms is die hedendaagse grens tussen Suid-Afrika en Botswana vasgelê, en die Afrikaners en Batswana het vreedsaam handel gedryf en saamgewerk.
Weens dié nuwe vreedsame toestande het die handel tussen 1860 en 1880 gedy en Christelike sendelinge het hieruit voordeel getrek. Teen 1856 het beide die Lutheraanse en die Londense Sendinggenootskap hulle in die land gevestig. Teen 1880 het elke dorp oor ’n inwonende sendeling beskik, en hulle invloed het stadigaan gegroei. Khama III (aan bewind in 1875–1923) was die eerste van die Tswana-kapteins wat van die Christendom ’n staatsgodsdiens gemaak het, en gevolglik ’n groot deel van die Tswana-gewoontereg verander. Die Christendom het teen die Eerste Wêreldoorlog die de facto amptelike godsdiens in al die owerhede geword.
Tussen 1881 en 1884 het die Boere en Batswana ’n verdere oorlog gevoer, nadat die Batswana in die suide deur Boerse en Britse huursoldate aangeval is. Vervolgens is op die suidelike gebied van die Batswana die Boererepublieke Stellaland en Goosen gestig; deels ná onderhandelinge met die plaaslike Korana. Die twee republieke is egter onder druk van die Britse magnaat Cecil John Rhodes deur Britse troepe beset en het in 1885 Brits-Betsjoeanaland geword. Tien jaar later is dit by die Kaapkolonie ingelyf en behoort vandag tot die Suid-Afrikaanse provinsie Noordwes.
Kolonialisme en Betsjoeanaland
duimnael|links|’n Duitse kaart uit 1905 toon nog die onverdeelde Betsjoeanaland-gebied duimnael|Die drie Dikgosi Khama III, Sebele I en Bathoen I het almal ’n Protektoraat onderhandel duimnael|Posseël uit Betsjoeanaland in 1960 Tydens die Wedloop om Afrika het die gebied van Botswana die belangstelling van beide die Duitse Keiserryk en die Verenigde Koninkryk gelok. Gedurende die Koloniale Konferensie van Berlyn het die Britte daarop besluit om Botswana te annekseer om sodoende die pad na die noorde te beveilig en die Kaapkolonie met sy gebiede verder noord te verbind. In Januarie 1885 het hulle Tswana-gebiede eensydig geannekseer en daarna die Warren-ekspedisie noord gestuur om hul beheer oor die gebied te konsolideer en die kapteins te oortuig om die Britse gesag te aanvaar. Ten spyte van hul bekommernisse het hulle uiteindelik tot dié bekwame prestasie ingestem.