Duitsland (Duits: Deutschland, [ˈdɔʏtʃlant], ), amptelik die Bondsrepubliek Duitsland (in Afrikaans dikwels ook Federale Republiek Duitsland genoem; Duits: Bundesrepublik Deutschland, [ˈbundəsʁepuˌbliːk ˈdɔjtʃlant], ), is in die sentrum van Europa geleë en vervul in baie opsigte 'n brugfunksie tussen Wes-Europa en die lande van Sentraal- en Oos-Europa.

duimnael|links|Die Brandenburgse Poort in die hoofstad Berlyn, simbool van die herenigde Duitsland Die land word in die noorde begrens deur die Noordsee, Denemarke en die Oossee, in die ooste deur Pole en Tsjeggië, in die suide deur Oostenryk en Switserland, en in die weste deur Frankryk, Luxemburg, België en Nederland. Geen ander land in die Europese Unie het meer buurlande as Duitsland nie. Tatsachen über Deutschland: Geografie & Klima. Besoek op 29 Mei 2017

As 'n geografies uiteenlopende land het Duitsland 'n groot verskeidenheid landskappe wat van die kusgebiede langs die Noord- en Oossee en die uitgestrekte vlaktes van Noord-Duitsland oor die berglandskappe van Sentraal- en Suid-Duitsland tot die Alpe in die uiterste suide strek. Vyf groot rivierstelsels – dié van Ryn, Donau, Elbe, Main en Weser – kom in die land voor en word deur kanale met mekaar en die Europese netwerk van waterweë verbind.

Die Duitse Keiserryk is as 'n nasiestaat verenig tydens die Frans-Duitse Oorlog in 1871. Die huidige Duitsland is 'n demokratiese, parlementêre en federale republiek wat uit 16 deelstate bestaan. Die deelstate kan in sekere sfere, soos onderwys, onafhanklik van die federasie optree. Duitsland is, net soos baie ander Europese lande, 'n sosiale welvaartstaat, wat in sy binnelandse ekonomiese beleid die beginsels van 'n sosiale markekonomie toepas, en ook een van die liberalste lande ter wêreld waar groot waarde aan omgewingsbewaring en die bestryding van xenofobie geheg word.

Nogtans weeg behoudende waardes steeds swaar in Duitsland wat vanweë sy ryk kulturele, filosofiese en literêre erfenis ook as die "land van digters en denkers" bekendstaan. Ou tradisies word met trots bewaar en gewaardeer, net soos harde werk, juistheid en fiskale verantwoordelikheid. Fodor's Germany. Kindle-eBoek-uitgawe. New York: Fodor's Travel Publications 2014, pos. 109

Die Bondsrepubliek Duitsland is 'n lid van die Verenigde Nasies, NAVO, die G8- en die G4-nasies, asook 'n stigterslid van die Europese Unie. Duitsland, wat sedert die 1990's meer as drie miljoen immigrante uit Oos-Europa ontvang het, het tans die grootste bevolking van enige EU-lidstaat. As een van die wêreld se voorste nywerheidslande, wat hom op meganiese ingenieurswese en masjienbou, voertuie, chemiese produkte en huishoudelike goedere toespits, is Duitsland die grootste ekonomie in Europa en die vierde grootste ter wêreld. Sy ekonomiese en politieke gewig stel die land in staat om sy beleid van fiskale soberheid ook op Europese vlak toe te pas.

Etimologie Die Duitse term Deutschland, oorspronklik diutisciu land ("die Duitse lande") is ontleen aan deutsch (vergelyk Dutch), afgelei van die Ou Hoogduitse diutisc, "van die volk" (van diot of diota, "volk"), wat oorspronklik gebruik is om die taal van die gemeensame volk van Latyn en sy Romaanse nasate te onderskei. Dit is op sy beurt ontleen aan die Protogermaanse þiudiskaz, "van die volk" (sien ook die Latinisering Theodiscus), ontleen aan þeudō, met sy oorsprong in die Proto-Indo-Europese *tewtéh₂- "volk", waarvan die woord Teutone ook afgelei is.

Geografie

duimnael|links|Nasa-Satellietbeeld van Duitsland duimnael|Die Swartwoud in die winter, met die Franse Vogese-bergreeks in die agtergrond duimnael|Die Harz-gebergte se hoogste bergpiek, die Brocken, in die winter duimnael|links|Topografiese kaart van Duitsland duimnael|Die kasteel Hohentwiel het op een van die gedoofde vulkaankeëls van Hegau ontstaan Duitsland strek van die kusgebiede langs die Noord- en Oossee tot by die Sentraal-Alpe in die suide (waarvan egter net 'n klein gedeelte op Duitse grondgebied lê). In noord-suidelike rigting strek die Duitse staatsgebied oor 'n afstand van 876 km, in wes-oostelike rigting oor 640 km. Die land word dikwels as die hartland van Europa beskryf en grens aan nege buurlande: Denemarke in die noorde; Nederland, België, Luxemburg en Frankryk in die weste; Oostenryk en Switserland in die suide; en Pole en Tsjeggië in die ooste. Duitsland se internasionale grense loop oor 'n totale afstand van 3 786 km. Die langste gemeenskaplike grens is dié met Oostenryk wat oor 'n afstand van 817 km strek (die Bodenmeer is hierby nie ingereken nie). Statistisches Bundesamt: Statistisches Jahrbuch 2016. Deutschland und Internationales. Wiesbaden 2016, bl. 20 Die Noord- en Oossee vorm 'n natuurlike grenslyn in die noorde.

In noord-suidelike rigting is daar vier groot geografiese landskappe, wat veral volgens hulle hoogte van mekaar verskil. Die noorde van Duitsland word oorheers deur die Noord-Duitse Vlakte, wat tydens die ystydperke gevorm is.

Die sentrale gedeelte van die land is gekenmerk deur beboste bergreekse, die sogenaamde Mittelgebirge ("Middelgebergtes"). Daar is verskillende tipes van landskappe, onder andere: die gebied van die Mecklenburgse Mere in die noordoostelike vlakte, wat deur gletserpuine gevorm is; die blokberge van die Harz, wat nog voor die Alpe ontstaan het; die beboste bergreekse van die Schwarzwald (Swartwoud) en Böhmerwald, wat net soos die Franse Vogese deur opwaartse geologiese bewegings gevorm is; bekkens van sedimentêre gesteentes soos in die Swabiese Alb (Schwäbische Alb), 'n hoogplato wat as gevolg van erosie gevorm is en nou bo-oor die Neckarvallei met 'n maksimale hoogte van 869 meter verrys; geologies jonge bekkens soos die vlaktes van die Ryn tussen die Switserse stad Basel en Mainz in Rynland-Palts, wat in seismiese opsig nog baie aktief is; en vulkaniese bergreekse soos die Vogelsberg (773 meter) in Hesse, die Vulkaan-Eifel in Rynland-Palts en die Hegau en Kaiserstuhl in Baden-Württemberg wat almal deur aardbewegings, vulkaniese aktiwiteite en uitbarstings gevorm is. Duitsland word lankal nie meer deur aktiewe vulkanisme geraak nie.

Aangesien Duitsland heeltemal op die Eurasiese Plaat lê, kom sterk aardbewings normaalweg nie voor nie. Nogtans word die Rynbreuk in Noordryn-Wesfale, veral in die omgewing van Keulen, as 'n gebied beskou waar 'n groot aardbewing moontlik tot ernstige rampe en lewensverlies kan lei.

Hierdie bergreekse gaan in die mees suidelike deelstate Baden-Württemberg en Beiere geleidelik oor na die Alpynse voetheuwels, 'n landskap wat ook hoofsaaklik teen die einde van die laaste ystydperk gevorm is en gekenmerk word deur gletserpuine, vlaktes en 'n aantal mere soos die Bodenmeer met 'n oppervlakte van 538 vierkante kilometer. Die hoogste bergpiek in die Alpe van Suid-Beiere is die Zugspitze met 2 962 meter.

Die Alpe is die enigste hooggebergte waaraan Duitsland 'n aandeel het. Nogtans is daar 'n aantal bergreekse met bergpieke wat hoogtes van meer as 1 000 meter bereik, soos die Swartwoud met die Feldberg (1 493 meter bo seevlak), die Beierse Woud met die Groot Arber (Großer Arber, 1 456 meter), die Ertsgebergte, die Fichtelgebergte, die Swabiese Gebergte en die Harzgebergte, wat danksy sy geïsoleerde noordelike ligging 'n uitsondering vorm. Die Harz bereik met die Brocken 'n hoogte van 1 142 meter bo seevlak.

Noord van die Middelgebergtes is daar net enkele formasies met 'n hoogte van meer as 100 meter, soos die Fläming in die deelstaat Brandenburg (200 meter).

Eilande duimnael|Die Waddesee naby Keitum op die eiland Sylt Duitsland beskik oor 'n relatief groot aantal eilande wat in die Noordsee meesal as eilandkettings net voor die kuslyn lê. Die twee groot eilandgroepe van die Noordsee is die Noord- en Oos-Friese Eilande. Die Noord-Friese Eilande, waaronder Sylt, Föhr, Amrum en Pellworm, asook die klein Halligen-eilandjies, maak deel uit van Sleeswyk-Holstein, die noordelikste deelstaat. Die eilande was oorspronklik deel van die vasteland, maar is as gevolg van geologiese aktiwiteite van die vasteland afgesny, nádat die gebiede daartussen gedaal het en oorvloed is.

Die Noord-Friese Eilande lê langs die kuslyn van die deelstaat Nedersakse en is geleidelik uit sandbanke gevorm.

Die eilande in die Oossee maak deel uit van die sogenaamde strandmeerkus. Hulle word deur groter oppervlaktes gekenmerk; die grootstes van hierdie eilande is Rügen en Usedom. Die uiterste oostelike deel van Usedom behoort tot Pole.

Die grootste eilande in die binneland is die "blomme-eiland" Mainau, Lindau en die kloostereiland Reichenau in die Bodenmeer en Herrenchiemsee in die Chiemmeer.

Mere duimnael|Die bevrore Koningmeer (Königssee) in Beiere Die mere in Duitsland is grotendeels as gevolg van die laaste ystydperk gevorm, toe voormalige gletservalleie met water opgevul is. Die meeste van die groter mere is dus in gebiede geleë wat vroeër deur binnelandse ysmassa's bedek was, of in die voorland van die gletsers, veral in Mecklenburg en die Alpevoorland.

Die grootste meer waaraan Duitsland 'n aandeel het, is die Bodenmeer (Duits: Bodensee) naby die grens met Switserland en Oostenryk. Die grootste meer wat in sy geheel in Duitsland lê, is die Müritz met 'n oppervlak van 117 vierkante kilometer, wat deel uitmaak van die Mecklenburgse Mereplato.

Die grootste mere na die Bodenmeer en Müritz is die Chiemmeer (Beiere, 80 vierkante kilometer), die Schwerinse Meer (Mecklenburg-Voorpommere, 61 vierkante kilometer), die Starnbergse Meer (Beiere, 56 vierkante kilometer), die Ammermeer (Beiere, 46,6 vierkante kilometer), die Plauer Meer (Mecklenburg-Voorpommere, 38,7 vierkante kilometer), die Kummerowse Meer (Mecklenburg-Voorpommere, 32 vierkante kilometer), die Steinhuder Meer (Nedersakse, 29,12 vierkante kilometer), en die Groot Plönse Meer (Sleeswyk-Holstein, 29 vierkante kilometer).

Riviere duimnael|Mis hang oor die Saarschleife, 'n rivierkronkel in Saarland Die ses groot rivierstelsels van Duitsland is Ryn, Donau, Elbe, Oder, Weser en Eems. In hidrografiese opsig behoort die suide van Duitsland tot die Donau se dreineringsgebied – Europa se grootste rivier na die Russiese Wolga met 'n lengte van meer as 2 800 kilometer (waarvan 647 kilometer op Duitse staatsgebied) wat in die Swartsee uitmond. Groot dele van die Oos-Holsteinse Heuwel- en Mereland noord en noordoos van die Mecklenburgse Mereplato maak deel uit van die Oossee se hidrografiese gebied. Alle ander streke word deur die Ryn, Eems, Weser en Elbe gedreineer wat in die Noordsee uitmond.

Met 'n lengte van 865 km is die Ryn die langste rivier in Duitsland. Die Europese Waterskeiding loop oos van die Rynvallei oor die hoofkam van die Swartwoud en volg daarna die Swabiese en Frankiese Gebergtes. Van die Ryn se totale lengte van 1 320 kilometer loop 865 kilometer deur Duitsland. Die rivier speel 'n belangrike rol in die kulturele geskiedenis van die land en sy mites en legendes, maar vervul daarnaas ook 'n ekonomiese funksie as een van die besigste waterweë in Europa.

Die Elbe ontspring in die Reusegebergte, digby die Pools-Tsjeggiese grens en mond na sowat 1 165 kilometer, waarvan 725 in Duitsland, naby die hawestad Cuxhaven in die Noordsee. Sy belangrikste takriviere is die Saale en die Havel. Die Oder vorm saam met die Neisse Duitsland se grensrivier met Pole, terwyl die Weser se stroomgebied heeltemal in Duitsland lê. Die Eemsrivier vloei deur die uiterste noordweste van Duitsland.

Klimaat duimnael|Die Funtenmeer in Beiere. Hier is op 24 Desember 2001 'n temperatuur van -45,9 °C gemeet, wat toe die laagste temperatuur was wat ooit in Duitsland gemeet is