Durban (Engels: [ˈdœːbən]; Zoeloe: eThekwini, [ˈɛːʔtʰɛˌkwinĭ], afgelei van itheku, letterlik: "baai/lagoon"; vroeër Port Natal) is 'n hawestad in KwaZulu-Natal, Suid-Afrika, langs die Indiese Oseaan met tussen 3,4 en 3,8 miljoen inwoners uit 'n diverse groep kulture. Dit is 'n gewilde vakansiebestemming weens sy goeie weer en die warm Agulhasstroom. Suid-Afrika se besigste hawe, Durban-hawe, is by Durban wat een van die wêreld se diepste natuurlike hawens is. Durban beskik ook oor Suid-Afrika se derde besigste lughawe, die Koning Shaka Internasionale Lughawe, ná die O.R. Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg en die Kaapstad Internasionale Lughawe.

duimnael|links|'n Uitsig oor die Goue Myl van Suid-Afrika se vakansiehoofstad duimnael|links|Branderplankryer in Noordstrand Die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit is een van Suid-Afrika se agt metropolitaanse munisipaliteite en volgens die sensus van 2011 die derde grootste metropolitaanse munisipaliteit van Suid-Afrika ná die Stad Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit en die Stad Kaapstad Metropolitaanse Munisipaliteit. Durban is een van Afrika se grootste stede aan die Indiese Oseaan en Suid-Afrika se tweede belangrikste nywerheidsentrum ná Johannesburg.

In 2000 het Durban saam met Umlazi en ander gebiede in die omgewing deel geword van die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit met 'n geskatte bevolking van 3 442 361 in 2011. Sedert 2024 dien Cyril Xaba (ANC) as uitvoerende burgemeester van Durban.

Dit het die hoogste getal van dollarmiljoenêrs van enige Suid-Afrikaanse stad; die getal het tussen 2000 en 2014 met 200 persent gestyg. In Mei 2015 is Durban amptelik erken as een van die New7Wonders-stede, saam met Vigan, Doha, La Paz, Havana, Beiroet en Kuala Lumpur. Volgens 'n 2018-studie deur Mercer oor die lewenskwaliteit in 231 stede regoor die wêreld het Durban die 89ste plek verwerf, die tweede beste in Afrika net na Mauritius se Port Louis.

Etimologie In 1824 is Durban gestig, toe die nedersetting aan die noordelike oewer van die baai by Farewell Square gestig is. Op 23 Junie 1835 het tydens 'n vergadering 35 Europese inwoners op Henry Francis Fynn se gebied besluit om 'n hoofstad te bou en dit "D'Urban" te noem na Benjamin D’Urban, die destydse goewerneur van die Kaapkolonie. Tot sowat 1870 is die naam gespel as D’Urban.

Die oorspronklike naam was Port Natal, afgelei van die Portugese naam Terra do Natal – "land van die geboorte (van Jesus Christus)" – só genoem omdat Vasco da Gama dié gebied op Kersdag 1497 bereik het.

Geografie en klimaat Geografie duimnael|links|Ligging van Durban in KwaZulu-Natal langs die Indiese Oseaan duimnael|links|Nasa-satellietbeeld van Durban Durban se stadsgebied strek langs die oostelike Suid-Afrikaanse kus tussen die Drakensberge in die ooste en die Indiese Oseaan in die weste. Die stad is amper op dieselfde breedtegraad as die hawestad Porto Alegre in die Suid-Brasiliaanse deelstaat Rio Grande do Sul geleë.

Die stad Durban beslaan 'n oppervlakte van 225,91 km², terwyl die metropolitaanse gebied van eThekwini 'n oppervlakte van 2 292 km² beslaan. Durban vorm die geografiese en politiese sentrum van die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit. Die metro word deur die distriksmunisipaliteite iLembe in die noorde, uMgungundlovu in die weste en Ugu in die suide begrens en word deur vier rivierlope gekenmerk: net noord van Durban se Noordstrand mond die Umgenirivier in die Indiese Oseaan uit, die Umbilorivier vloei in die Durban-hawe, in die verre suide bereik die Lovurivier tussen Illovo Beach en Illovo die see en nog verder suid mond die Umkomaasrivier uit by Umkomaas.

Die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit is in 2011 gevorm en sedert 2016 behoort die noordwestelike deel van die voormalige Vulamehlo Plaaslike Munisipaliteit tot die eThekwini Metro, terwyl die suidoostelike deel by uMdoni Plaaslike Munisipaliteit ingelyf is. Die gebied rondom Mapumulo behoort sedertdien tot eThekwini Metro.

Klimaat duimnael|Klimaattabel van Durban Durban is bekend vir sy gematigde, sonnige winterklimaat. Die stad het 'n oorvloed plantegroei en 'n subtropiese klimaat met sonskyn vir ten minste 320 dae per jaar. Gedurende die wintermaande van Junie, Julie en Augustus bly temperature tussen 16 °C en 25 °C en in die somer kan temperature 32 °C bereik met relatief hoë humiditeit. Durban se klimaat word deur die ewenaarstroom van die Indiese Oseaan voortgebring, die Agulhasstroom, wat 'n bron van warm, helderblou water is wat suidwes deur die Mosambiekkanaal vloei. Seewatertemperature aan die kus vergelyk meer gunstig met dié van die Mediterreense gebied in die somer (gemiddeld 24 °C), maar in die winter val die kwik selde onder 19 °C — Durban is sodoende 10 °C warmer as die Mediterreense gebied in dieselfde seisoen.

Geskiedenis Die eerste spore van menslike aktiwiteit is rotstekeninge in die nabye Drakensberge en sowat 100 000 jaar oud. Hulle was vermoedelik jagter-versamelaars en is deur Bantoevolke wat ná die suide migreer het, verdryf. Andersins is min oor die tydperk voor die aankoms van Europese koloniste bekend. Die gebied is voor die aankoms van die Europeërs deur Nguni beheer wat later die Zoeloes sou word.

Portugese en Britse verkenning duimnael|Kaart van Durban in 1860 wat die geografiese hoofkenmerke aandui duimnael|links|Standbeeld van John Ross Durban se natuurlike hawe is deur die Zoeloes Thekwini ("Strandmeer") genoem. Op 24 Desember 1497 het 'n klein vloot van drie Portugese skepe onder bevel van Vasco da Gama die Natalse kus verken. Oornag het die skepe in die windskadu van 'n landpunt voor anker gelê – moontlik was dit die Bluff. Na aanleiding van die datum – die volgende dag was Kersdag of 25 Desember – het Da Gama die gebied Terra do Natal genoem. Of die Portugese hier voet aan wal gesit het om varswater in te skeep is onbekend. Dit is egter onwaarskynlik aangesien die historiese bronne vermeld dat hulle drie dae later by die monding van die Limpoporivier aan land gestap het. sahistory.org.za: Durban Timeline 1497–1990. Besoek op 1 Augustus 2018

Na die baai is later verwys as Port Natal. Die Portugese het nie verder belang gestel in die baai wat deur wortelboommoerasse en digte bosse omring was nie; ook was daar reeds 'n geskikte hawe in die gebied van die huidige Mosambiekse hoofstad Maputo. In die volgende drie eeue het skepe van seerowers, ivoor- of slawehandelaars soms in Port Natal voor anker gelê. Daarnaas het die gebied as toevlugsoord vir Europese skipbreukelinge gedien.

In die vroeë 19de eeu was die gebied ná die vestiging van 'n Britse Kolonie aan die Kaap weer in fokus. Kaptein James King en luitenant Francis George Farewell, albei eertydse offisiere van die Britse Vloot tydens die Napoleontiese Oorloë, was sakemanne met belange wat tot Delagoabaai gestrek het. As een van die vennote van The Farewell Trading Company wat opgerig is om in Natal handel met ivoor te dryf, het Farewell in Junie 1823 saam met James Saunders King aan die maatskappy se eerste handelsekspedisie na Natal deelgeneem en aan boord van die brik Salisbury na Natal vertrek. 'n Hewige seestorm het die bemanning genoodsaak om 'n beskermde ankerplek in die baai van Port Natal te vind. Die brik het uiteindelik by 'n eiland vasgemaak wat vervolgens sy naam sou dra. Die omliggende terrein is as die geskikte plek vir die vestiging van 'n permanente nedersetting geag.

Britse handelspos duimnael|Uitbeelding van die Slag van Bloedrivier in 1838 In die volgende jaar het Farewell met 'n klein groep van dertig setlaars uit Kaapstad – onder wie twintig Afrikaners en tien Britte – en sy drie Khoikhoi-bediendes na Port Natal teruggekeer. Nog in dieselfde jaar is die toestemming van die Zoeloekoning Shaka verkry om 'n handelspos te vestig wat as tussenstasie vir skepe op pad na Indië en as basis vir Farewell se ivoorhandel met die Zoeloes sou dien. Lewensomstandighede in die vroeë nedersetting, wat aan die baai se noordoewer naby die huidige Farewellplein ontstaan het, was moeilik. Toe Farewell se vrou in 1826 in Port Natal aangekom het, is sy in 'n eenvoudige rietdakskuur sonder vensters gehuisves. Geneesmiddels en ander benodigdhede was skaars. In 1827 is 'n ekspedisie na die Portugese nedersetting en seehawe in Delagoabaai gestuur. Onder leiding van John Ross, 'n vyftienjarige Skot, en in die begeleiding van ervare Zoeloes het die ekspedisie sy taak binne die kort tyd van drie weke bewerkstellig – wat gelykstaan aan 'n gemiddeld van meer as dertig myl per dag.

Farewell is in 1829 deur Zoeloekrygers vermoor, maar die nedersetting, wat hy gevestig het, het geleidelik begin groei en is in 1835 ter ere van die destydse goewerneur van die Kaapkolonie, sir Benjamin D'Urban, genoem. In dieselfde jaar was daar dertig blanke manlike bewoners wat handel gedryf het met ivoor, seekoeitande, buffelvelle, vee en mielies.

Tydens die Groot Trek het Piet Retief Durban in 1837 bereik. In 1839 het die Voortrekkers die Natalia Republiek met die hoofstad in Pietermaritzburg, 80 km noordwes van Durban, gestig. Piet Retief en sy delegasie wou met die Zoeloekoning Dingaan oor grond onderhandel, maar die koning het hulle laat vermoor. Dingaan het sy halfbroer Shaka as koning opgevolg, maar was in teenstelling met hom egter vyandelik tenoor blankes gesind. Die moord op Piet Retief het tot spanning tussen Boere en Zoeloes gelei en in die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 geëindig, wat deur die Boeremagte gewen is. Aansluitend het die Boere die beheer oor Durban en die omliggende gebied oorgeneem.

Britse koloniale bewind duimnael|Die Britse kamp van Port Natal in 1842 Op 23 Mei 1842 het die Britte die Boere tydens die Beleg van Congella verslaan en die stad, destyds met 'n bevolking van sowat 1 200, oorgeneem. In 1843 het Natal 'n Britse kolonie geword en talle Britte het in Durban gevestig. Suikerrietplantasies is aangelê en suikerriet het die belangrikste uitvoer geword. Op 21 April 1854 word Durban as 'n dorp erken en kry sy eerste dorpsraad. Destyds het Durban 1204 blanke inwoners en op 15 Julie is die Natalkolonie as 'n aparte kolonie met sy hoofstad in Pietermaritzburg gestig.

Britse immigrasie duimnael|links|Uitsig oor Sandy Bay en The Point tot die Bluff-skiereiland in 1878) Die Angel-Saksiese element in Natal se bevolking is versterk deur die sogenaamde Byrne-setlaars – enkele honderd immigrante uit Engeland, Skotland en Ierland – wat in die tydperk tussen 1849 en 1851 op altesaam twintig skepe vanuit Groot-Brittanje en Ierland vertrek het en hulle in Durban en elders in die kolonie gevestig het. Hul immigrasie is volgens 'n skema georganiseer wat deur Joseph Charles Byrne, 'n boorling van Dublin, vanuit sy kantoor in Pall Mall East, Londen, bestuur is. Byrne se Natal Emigration and Colonization Office het voornemende Britse emigrante gewerf wat bepaalde beroepe soos boer, wamaker of smid moes uitoefen en aan hulle twintig akkers grond in Natal teen 'n prys van 5 sjieling per akker belowe.

Byrne het 'n opmeter en ingenieur, John Swales Moreland, as sy agent in Natal aangestel. Maar met die aankoms van die setlaars het dit geblyk dat beskikbare landbougrond met 'n vrugbare laag bogrond en toegang tot voldoende water- en vuurhoutbronne – anders as wat verwag is – uiters skaars was. Verder was twintig akkers by verre nie voldoende vir lewensvatbare boerdery nie. Die setlaars het derhalwe elders grond teen bekostigbare pryse gekoop of hulle in een van die kolonie se jong nedersettings gevestig. Byrne se skema is in 1851 gestaak. Dr Shelagh O'Byrne Spencer: British settlers in Natal: 1849–1857. Byrne Settlers 1849–1851

Victoriaanse handel- en hawestad duimnael|links|Weststraat omstreeks 1900