Estland (Esties: Eesti, [ˈeːsti], ), amptelik die Republiek Estland (Eesti Vabariik), is 'n land in Noord-Europa, wat in die weste begrens word deur die Oossee, in die noorde deur die Finse Golf, in die ooste deur Rusland en in die suide deur Letland. Dit is die noordelikste en die kleinste van die drie Baltiese lande. Estland bestaan hoofsaaklik uit bosryke heuwellande met talle mere, vleie en moerasgebiede. Inwoners praat oorwegend Esties wat nou verwant is aan Fins en – in teenstelling met die ampstale van Letland en Litaue – deel uitmaak van die Fins-Oegriese taalgroep. Net soos Letland en Litaue word Estland dikwels 'n Baltiese Tier genoem.

duimnael|links|'n Kaart van Estland Estland is eeue lank deur Europese moondhede soos die Duitse Orde, Denemarke, Swede, Pole, Rusland en die Sowjetunie oorheers en het – ná 'n kortstondige periode as 'n onafhanklike staat tussen die twee wêreldoorloë – saam met die ander twee Baltiese lande, Letland en Litaue, in 1991 sy onafhanklikheid verklaar. Vanweë sy geografiese ligging en historiese bande met Sentraal- en Noord-Europa het Estland homself steeds as 'n voorpos van die westerse beskawing beskou. Sy huidige buitelandse beleid word dan ook deur sy nou bande met Finland en Skandinawiese lande asook sy lidmaatskap in die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO), die Europese Unie, die OESO en die OVSE oorheers.

In die 13de eeu is die kerstening van Estland vanuit Denemarke deurgevoer, en die land is later deur die Duitse Orde oorheers, terwyl Duitse koopmans van die Hansebond handelskantore in Lyfland, die huidige Letland en Estland geopen het. Tallinn, wat deur die Duitsers Reval genoem is, het net soos Narva, Tartu (Dorpat), Pärnu (Pernau) en Viljandi (Fellin) tot 'n bloeiende Hansestad ontwikkel.

In die 16de en 17de eeu het Pole, Swede en Russe pogings onderneem om Estland by hulle magsgebied in te lyf. Dit was Rusland wat uiteindelik oorwinning behaal het. Alhoewel Estland in 1917/1918 sy onafhanklikheid van Rusland bereik het, is die land as gevolg van die sogenaamde Hitler-Stalin-ooreenkoms van 1939 weer by die Sowjet-invloedsfeer ingelyf en in 'n Sowjetrepubliek omgeskep. Ná die Duitse besetting tydens die Tweede Wêreldoorlog is Estland met geweld gesowjetiseer, en duisende Estiese burgers het uit die land gevlug of is na Siberië gedeporteer. Talle inwoners is deur die nuwe bewindhebbers vermoor, en uiteindelik het Estland sowat 'n kwart van sy oorspronklike bevolking kwytgeraak, terwyl honderdduisende Russiese immigrante hulle in die land gevestig het. Vandag is sowat 72 persent van die totale bevolking etniese Estlanders.

Met die sogenaamde "Singende Rewolusie" in die tydperk tussen 1989 en 1991 het Estland tydens die ontbinding van die Sowjetunie sy kans waargeneem om sy onafhanklikheid te herwin. Die nuwe onafhanklike Republiek van Estland is op 20 Augustus 1991 geproklameer, en Estland het 'n lidland van die Verenigde Nasies geword.

Etimologie Die naam Estland word verbind met Aesti, wat in 98 n.C. deur die Antieke Romeinse historikus Tacitus vir die eerste gebruik is. Sommige geskiedkundiges is van mening dat hy direk na Balte (d.w.s. nie-Oosseefinstalige Este) verwys het, terwyl ander voorstel dat die naam na die hele Oos-Baltiese streek verwys. Die Skandinawiese sagas en Wiking-runestene, wat die naam Eistland gebruik, was van die vroegste bronne wat dit in sy huidige betekenis gebruik het. Die toponiem Estland/Eistland word verbind aan die Oud-Skandinawiese eist, austr wat "die ooste" beteken. In Fins word Estland Viro genoem, afgelei van die geskiedkundige onafhanklike graafskap Virumaa. Op 'n soortgelyke wyse is die ooreenstemmende Letse woord Igaunija afgelei van die Ugandi-distrik.

Die diplomaat Eerik-Niiles Kross het voorgestel dat die land se amptelike naam in Engels en verskeie ander tale van Estonia na Estland verander moet word (die land staan reeds so bekend in Afrikaans, Deens, Nederlands, Duits, Sweeds, Noors en talle ander Germaanse tale). Voorstellings oor die grense van Europa: Politiek en Identiteit in die Baltiese en Suid-Kaukasiese State, Tsypylma Darieva, Wolfgang Kaschuba, Campus, 2007, bl. 154

Geografie duimnael|Nasa-satellietbeeld van Estland duimnael|Die Peipusmeer naby Kallaste Estland is die noordelikste van die drie Baltiese lande en lê op dieselfde breedtegraad as byvoorbeeld suidelike Alaska, Sentraal-Siberië, die noorde van Skotland of die Sweedse hoofstad Stockholm. Dit is tegelykertyd een van die kleinste en mees yl bevolkte lande in Europa – sy oostelike buurland, die Russiese Federasie, is 377 keer so groot. Die huidige staatsgebied strek oor 45 335 km². 'n Verdere gebied van 2 322 km², wat voor die Tweede Wêreldoorlog nog deel uitgemaak het van die onafhanklike Estiese Republiek, is in 1945 by die Russiese Sowjetrepubliek ingesluit en ook ná die herwinning van die onafhanklikheid nie aan Estland teruggegee nie.

Die gletsers, wat gedurende die laaste kouetyd sowat 20 000 jaar gelede die hele noorde van Europa bedek het, het die tipiese Estiese landskapsvorm met lae heuwelreekse gevorm. Meer as 90 persent van Estland se oppervlakte is laer as 100 meter bo seevlak geleë, en net in die suidooste van die land is daar heuwelagtige streke met moeras- en grasgebiede en eensame bosse. Hier is ook die hoogste bergpiek van Estland en die Baltiese gebied geleë, die Suur Munamägi (letterlik "Groot Eierberg") met 'n hoogte van 318 meter.

Die oosgrens met Rusland word grotendeels gevorm deur die Peipusmeer (3 555 km²) en die Meer van Pskof, en in die noorde deur die Narva-rivier. Slegs in die suide het Estland geen natuurlike grens nie.

Estland is die enigste land in die Baltiese gebied wat oor 'n afwisselende eilandgroep langs sy kus beskik.

Wes en ten noorde van die vasteland lê honderde eilande, waarvan verreweg die meeste onbewoon is en sommige vroeër deur die Sowjetunie as militêre terrein gebruik is – dikwels het dit beteken dat die inheemse bevolking hul eilande moes ontruim. Die grootste eilande is Saaremaa en die digbeboste Hiiumaa, beide met 'n herkenbaar eie karakter.

Klimaat duimnael|Die Pedeli-rivier in die laat somer Estland het 'n koel-gematigde klimaat met koue winters en matig warm somers wat goed vergelyk met dié van ander gebiede in Noord-Europa. Net soos in Suid-Skandinawië word die kusklimaat deur maritieme en die klimaat van die binneland deur kontinentale invloede gekenmerk. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur in Tallinn is 4,5 °C en die gemiddelde reënval 650 mm per jaar – met 'n maksimum gedurende die laat somer wanneer kort en swaar donderbuie uitsak.

Die sterker kontinentale invloed beteken dat lente later begin en herfstyd vroeër kom as in Sentraal-Europa, terwyl daar ook groter temperatuurskommelinge tussen dag en nag en tussen winter en somer is. Lente en herfs is jaargetye wat deur relatief droë weer en matige temperature gekenmerk word. Die lente begin gewoonlik in laat Mei wanneer appelbome in bloei staan.

Tydens die Estiese somer styg die kwik tot maksimale temperature tussen 20 en 30 °C, met 'n gemiddelde van 16,5 °C in Julie. Watertemperature bereik in mere en riviere dikwels meer as 20 °C, die Oossee-water is ietwat koeler. Veral in moerasgebiede word mense deur muggies gepla. Vanweë sy noordelike ligging word die Estiese nagte gedurende midsomer nouliks donker. Die bekende Wit Nagte van Tallinn en ander gebiede lok talle toeriste. Teen die middel van Junie is daar sowat 19 dagligure – dagbreek begin nog voor drie uur soggens, en die son gaan nie voor tien uur saans onder nie.

Gedurende die winter daal die kwik tot 'n gemiddelde van -6,0 °C in Januarie, met laer temperature van tot by -20 °C in die berggebied van Otepää wat sodoende goed geskik vir wintersport is. In baie koue winters raak die Oossee se oppervlak soms bevries, tog bly die kusgebiede in die algemeen dikwels ysvry.

Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|Estland in 814 duimnael|Lyfland in 1260 Enkele argeologiese spore dui daarop dat die gebied van die huidige Estland reeds omstreeks 9000 v.C. deur mense bewoon is en sodoende as een van die oudste menslike habitatte in Noord-Europa beskou kan word. Klaus Schameitat: Estland entdecken. Berlyn: Trescher 2003, bl. 44 Oossee-Finse stamme het hulle as deel van die Fins-Oegriese volkegroep, wat oorspronklik uit die Oeral-gebied afkomstig is, reeds vanaf 3 000 v.C. in die gebied van die huidige Republiek van Estland asook in dele van die huidige Letland gevestig. Christian Nowak: Estland. Ostfildern: Dumont 2009, bl. 42 Die uitgestrekte Estiese stamgebied het vanuit Narva in suidelike rigting langs die oewer van die Peipus-meer tot by die huidige Esties-Letlandse grens en verder weswaarts tot by die eilande langs die kus gestrek. Ralph Tuchtenhagen: Geschichte der baltischen Länder. Tweede hersiene uitgawe. München: C.H. Beck 2009, bl. 12

Deur die eeue heen het barnsteen tot die belangrikste handelsgoed ontwikkel en in die eerste eeue van ons tydrekening sy hoogtepunt bereik. Handelspaaie het langs rivierlope en oor bergpasse in die Alpe so ver as die Middellandse See en Egipte gegaan.

Die eerste historiese bron oor die volk dateer uit die 1ste eeu n.C., toe die Romeinse geskiedkundige na die bewoners van die gebied as Aesti verwys het. Vanuit die ooste en suidooste het Slawiese groepe geleidelik begin uitbrei sodat die Baltiese volke genoodsaak was om hulle permanent in hul huidige gebied te vestig. Die Estiese bevolking omstreeks 1200 word op 150 000 beraam. Tuchtenhagen (2009), bl. 11 Die Este was in dorpsgemeenskappe georganiseer, en so het ook Estland se huidige groot stedelike nedersettings – Tallinn en Tartu – hul oorsprong in versterkte dorpe.

Die Middeleeue Omstreeks 800 was seerowery vir talle Este 'n lonende bedryf, tog het die maatreëls wat deur Swede en Dene ingestel is om dit te bestry ook tot eerste pogings gelei om Estland te verower.

Uiteindelik is die gebied van die heidense Estiese stamme in die 13de eeu deur 'n koalisie van Denemarke en die Duitse Orde verower. Die Dene het in 1219 die nuwe hoofstad Reval (tans Tallinn) gestig en die Westerse kultuur en Christelike godsdiens in Estland ingevoer. Die Dene, wat aanvanklik die noorde van Estland oorheers het, het hulle gebied in 1346 aan die Duitse Orde verkoop, wat voorheen die suide beheer het. Estland het tot by die Orde se ontbinding in 1561 onder die heerskappy van die Duitse ridders en koopmanne van die Hansebond gebly. Die landelike bevolking het onder die Duitse bewind in 'n toestand verkeer wat feitlik op lyfeienskap neergekom het.

Sweedse en Russiese heerskappy duimnael|Die Estiese hoofstad Tallin in die eerste helfte van die 17de eeu Noord-Estland is daarna deur Swede beset, en ná die Sweeds-Poolse Oorlog en 'n kortstondige besetting deur Pole het ook die suide volgens die Verdrag van Altmark in 1629 onder Sweedse bewind gekom. Die situasie van die Estiese boerebevolking het in hierdie periode ietwat verbeter.

In 1710 is Lyfland, 'n Baltiese streek, wat oor dele van Letland en Estland gestrek het, deur die Russiese tsaar Pieter I verower. Hierdie besetting is in 1721 met die Verdrag van Nystad erken. Ondanks 'n aantal hervormings het die landelike Duitse adel die plattelandse Estiese bevolking tot die tyd van die Russiese Oktoberrewolusie in 1917 oorheers, en ook die welvarende stedelike burgers was merendeels van Duitse afkoms.

In die 19de eeu het Estland se industrialisering 'n aanvang geneem. Spoorlyne is gebou, en Tallinn het tot 'n beduidende seehawe ontwikkel. Met die ekonomiese opswaai het ook Estland se nasionale bewussyn teen die middel van die 19de eeu geleidelik begin ontwikkel, maar 'n beleid van russifisering het tot politieke onluste en grootskaalse emigrasie, veral na die Verenigde State en Kanada, gelei. Estland se belangrike rol in die Russiese Rewolusie van 1905 is deur die owerhede met bloedige onderdrukking beantwoord.

Die eerste onafhanklike republiek