duimnael|280px|Die rolprent Roundhay Garden Scene, vervaardig in 1888, word beskou as die eerste rolprent. duimnael|280px|Pens en Pootjies en ander Suid-Afrikaanse films. Die groot filmspoele vir elke fliek is tipies in tasse gepak om na die volgende teater versend te word
'n Rolprent of film is 'n verhaal wat uitgebeeld word deur 'n reeks vinnig opeenvolgende, stilstaande beelde. Die spoed waarteen die beelde geprojekteer word, laat dit lyk of dit 'n vloeiende, aaneenlopende beweging vorm, gedeeltelik vanweë die nawerking van elke beeld op die netvlies van die kyker se oog.
Rolprente is kulturele kunsvoorwerpe wat deur spesifieke kulture geskep word en daardie kulture weerspieël en ook beïnvloed. Dit word as ’n belangrike kunsvorm beskou, en ook 'n bron van vermaak en metode van opvoeding. Die visuele elemente bied 'n universele manier van kommunikasie. Sommige rolprente is wêreldwyd gewild danksy die gebruik van byskrifte wat die dialoog vertaal, of deur die dialoog geheel en al oor te klank.
Rolprente word gemaak deur mense en voorwerpe met kameras op te neem, of deur hulle met animasietegnieke en spesiale effekte te skep. Hulle bestaan uit 'n reeks afsonderlike beeldjies, maar wanneer die beelde vinnig na mekaar vertoon word, sien die kyker die illusie van beweging. Die flikkering tussen die beeldjies is nie opvallend nie weens 'n verskynsel wat tradisioneel as die nawerking van die beeld op die netvlies beskryf is en vandag eerder as flikkersmelting bekend staan, waar die visuele stelsel 'n voldoende vinnige reeks beelde en onderbrekings tot 'n bestendige beeld van gemiddelde helderheid verwerk. Die waarneming van die beweging self word aan die verskynsel van skynbeweging toegeskryf eerder as aan die nabeeld op die netvlies.
Daar word ook na rolprente as "flieks" verwys, afkomstig van die Engelse term flick of the flickers, wat na die flikkerende ligte tydens destydse rolprentvertonings verwys, of "films", weens die feit dat dit voorheen altyd deur middel van fotografiese film vervaardig is (tans is die hele proses digitaal).
Die mens se belangstelling in bewegende afbeeldings het langs die weg van 'n reeks uitvindings werklikheid geword toe die broers Lumière in 1895 die eerste openbare geprojekteerde rolprent vertoon het. Sedertdien het die rolprent op tegniese gebied stap vir stap tot ʼn hoogs gespesialiseerde kuns ontwikkel met hoogs gevorderde tegniese apparaat as basis.
Historiese agtergrond Die mens se begeerte om beweging op een of ander manier vas te lê is al eeue oud. Duisende jare voor Christus het die primitiewe mens dit al gedoen deur byvoorbeeld diere af te beeld met hul pote in verskillende posisies sodat die geheelbeeld 'n loopbeweging voorstel.
Dit was egter eers in die 19de eeu, met sy algemene wetenskaplike en tegnologiese ontwaking (waaronder die uitvinding van die fotografie), dat beweging vasgelê en hervertoon kon word.
Die vaslê van beweging is gebaseer op 'n traagheidsbeginsel waarby stilstaande beelde of ligprikkels vinnig voor die oog verbybeweeg. Deurdat die oog 'n beeld behou nadat dit verdwyn het (retensie of nabeeld), ontstaan daar dan die illusie van beweging.
Die rolprentkuns het op verskeie ouer tradisies gebou, onder andere mondelinge storievertelling, letterkunde, teater en die visuele kunste. Vorme van kuns en vermaak wat reeds bewegende of geprojekteerde beelde gebruik het, sluit skaduspel, die camera obscura, skaduwee-poppespel en die towerlantern in.
Die stroboskopiese animasiebeginsel is in 1833 met die stroboskopiese skyf – beter bekend as die fenakistiskoop – ingevoer en daarna in die zoötroop (vanaf 1866), die blaaiboek (vanaf 1868) en die praksinoskoop (vanaf 1877) toegepas, voordat dit die grondbeginsel van die kinematografie geword het. Eksperimente met vroeë projektors wat op die fenakistiskoop gebaseer was, is reeds in 1843 gedoen en in 1847 in die openbaar vertoon.
Die rolprent het ontwikkel uit 'n aantal afsonderlike, dog verwante ontdekkings en uitvindings wat mekaar opgevolg het:
Fotografie het byvoorbeeld algaande ontwikkel tot 'n verfynde opnametegniek (deur die werk van pioniers soos onder andere Louis Daguerre). Buigbare en oprolbare selluloïed is ontwikkel en kon gebruik word as draer van die liggevoelige emulsielaag (Hannibal Goodwin en George Eastman). Perforasies is in die filmstroke aangebring waardeur dit gelykmatig oor die filmrolle kon draai (Louis Le Prince en Thomas Alva Edison). Die kinematograwe (Grieks: kinema = beweging + graphein = skryf) van Auguste en Louis Lumière het met 'n spesiale sluitermeganisme gelykmatige projeksie, sonder flikkering, moontlik gemaak.
Ontwikkeling In 1828 het die Belgiese natuurkundige Joseph Antoine Plateau (1801–1883) die verskynsel van 'n nabeeld (retensie) ontdek. Hierby het lig die uitwerking op die oog se netvlies dat die ligindruk vir 'n tydjie lank behoue bly nadat die lig verdwyn het.
Wanneer die beelde van die verskillende stadia van 'n beweging mekaar dus baie vinnig opvolg (minimaal ongeveer 16 beelde per sekonde), vloei dit vir die oog saam tot 'n bewegende beeld. Tydens die verwisseling van die beelde word die verligting onderbreek, aangesien die nabeeld op die netvlies die periodes opvul. In 1832 het Plateau 'n apparaat gebou waarmee hy die nabeeldverskynsel kon illustreer. Die apparaat bestaan uit 'n ronde skyf met 'n reeks tekeninge op die rand, wat die verskillende bewegingsfases van byvoorbeeld 'n lopende figuur weergee.
Nader aan die middelpunt van die skyf was 'n reeks gleuwe. Die skyf is geroteer voor 'n spieël en die kyker het deur die gleuwe die beeld in die spieël waargeneem as 'n loopbeweging van die figuurtjie. William George Horner (1786–1837) het in 1834 'n verbetering op Plateau se apparaat aangebring deur 'n trom in plaas van 'n skyf te gebruik. Sy uitvinding, wat as ‘n wondertrommel bekend gestaan het, was jare lank 'n gewilde speelding in die 19e eeu.
Die Oostenryker Franz von Uchatius het 'n betekenisvolle bydrae gelewer toe hy daarin geslaag het om tekenbeelde op 'n skerm te projekteer. Tot dusver het alle bewegende beelde egter bestaan uit tekeninge van een of ander aard. Bewegende beelde met behulp van foto's is vir die eerste keer verkry deur die Amerikaanse uitvinder Coleman Sellers, wat 'n reeks foto's geneem het van sy seun wat 'n spyker in 'n kis inslaan. Elke beweging is afsonderlik gefotografeer, en dit was vir 'n tyd lank die enigste suksesvolle manier waarop die vroeëre kameras en ongevoelige filmemulsies hierdie bewegende beeld kon vasvang.
Gaandeweg het die filmemulsies egter sodanig verbeter dat Pierre-Jules-César Janssen (1824–1907) in 1874 die baan van Venus voor die son verby met sy fotografiese "rewolwer" kon fotografeer. Die Fransman Etienne Jules Marey (1830–1904) het Janssen se rewolwer verbeter en in 1882 'n fusil photographique (fotografiese geweer) gebou waarmee 'n groot aantal foto's baie kort na mekaar geneem kon word. In 1877 het Eadweard Muybridge (1830–1904) in Kalifornië 24 kameras in 'n ry opgestel en 'n perd wat galop deur middel van 'n ingewikkelde stelsel van toutjies oor die renbaan gefotografeer.
Hy het daarin geslaag om 'n stel foto's te neem wat die galopbewegings van 'n perd pragtig kon illustreer. Muybridge het 'n spesiale projektor vir sy foto's ontwerp, en dit was 'n belangrike voorloper van hedendaagse rolprentapparaat. In 1887 het 'n Amerikaanse predikant, Hannibal Goodwin, rolfilm uitgevind.
Sy landgenoot George Eastman (1854–1932) het die Kodak-onderneming gestig en rolfilms begin vervaardig. In dieselfde jaar het Thomas Alva Edison (1847–1931) met bewegende beelde begin eksperimenteer, en sy medewerker W.K.L. Dickson het 'n kyktoestel ontwerp wat hy die kinetoskoop genoem het. Dit was nie 'n projektor in die ware sin van die woord nie, maar het goed gewerk en in 1894 is die eerste paar vervaardig en aan 'n onderneming in New York verkoop. Die eerste films wat met die kinetoskoop vertoon is, is in Edison se eie ateljee vervaardig.
In Engeland het Robert W. Paul (1869–1943) en sy vennoot Birt Acres (1854–1918) hul eie weergawes van Edison se kinetoskoop gebou – Edison het dit nie in Brittanje gepatenteer nie, wat dit vir hulle wettig gemaak het – en die ontwerp aangepas om 'n eie kamera en projektor te bou wat bewegende beelde op 'n skerm kon projekteer. Die Lumière-broers het hulle egter voorgespring en was die eerste wat 'n soortgelyke toestel aan die publiek gedemonstreer het. Reeds in 1894 het die broers Auguste (1862–1954) en Louis Lumière (1864–1948), wat vervaardigers van fotografiese apparaat was, 'n projektor vir Edison se films gebou en in 1895 het hulle die cinematographe gepatenteer.
Op Saterdag, 28 Desember 1895, in die kelder van 'n kafee in Parys, het die Lumière-broers hulle projektor aan die publiek gedemonstreer. 'n Week later is die kafee in 'n rolprentteater omskep wat vandag nog bestaan.
Die 20ste eeu Vroeë verhaalfilm duimnael|'n Greep uit die stilrolprent The Bond (1918) met Charlie Chaplin Die vroegste rolprente was baie kort – gewoonlik 'n paar minute of minder – en het meestal uit 'n enkele, stilstaande opname bestaan wat 'n gebeurtenis of handeling sonder enige redigering of ander filmtegnieke wys. Voorbeelde is Workers Leaving the Lumière Factory (1895), waarin 'n stilstaande kamera werknemers wys wat deur 'n hek uitstap, en A Trip Down Market Street (1906), wat 'n gevoel van beweging gehad het omdat dit uit 'n kabeltrem geneem is.
Om en by die eeuwending het rolprentmakers verskeie tonele begin aanmekaarryg om 'n verhaal te vertel. Die eerstes wat verskeie opnames aanmekaargelas het, het ontdek dat wanneer een opname op 'n ander volg, dit 'n verband tussen die inhoud van die twee opnames in die kyker se gedagtes vestig; dié verband maak alle filmvertelling moontlik. As 'n persoon byvoorbeeld gewys word terwyl hy by 'n venster uitkyk, sal wat ook al in die volgende opname verskyn, as die uitsig beskou word wat hy sien. Elke toneel was aanvanklik 'n enkele stilstaande opname, en later is die tonele in verskeie opnames uit verskillende afstande en hoeke opgedeel.
Tot klankfilm in die laat 1920's kommersieel haalbaar geword het, was die rolprent 'n suiwer visuele kunsvorm, maar hierdie vernuwende stilrolprente het die publiek se verbeelding aangegryp. Eerder as om die gehoor met net die geraas van die projektor as begeleiding te laat, het teatereienaars 'n pianis of orrelis – en in groot stadsteaters 'n volle orkes – gehuur om musiek te speel wat by die stemming van elke oomblik pas. Teen die vroeë 1920's is die meeste rolprente met 'n voorbereide lys musiekblaaie vir dié doel versprei, en volledige partiture is vir groot produksies gekomponeer.
Die opkoms van die Europese rolprentkuns is deur die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog onderbreek, terwyl die Amerikaanse bedryf met die opkoms van Hollywood gefloreer het – die duidelikste in die vernuwende werk van D.W. Griffith in The Birth of a Nation (1915) en Intolerance (1916). In die 1920's het Europese rolprentmakers soos Sergei Eisenstein, F.W. Murnau en Fritz Lang, saam met die bydraes van akteurs soos Charlie Chaplin en Buster Keaton, egter vinnig met die Amerikaanse rolprentmakery ingehaal en die medium verder gevoer.
Die koms van klank In die laat 1920's het die ontwikkeling van elektroniese klankopnametegnologie dit haalbaar gemaak om 'n klankbaan van spraak, musiek en klankeffekte met die handeling op die skerm te sinchroniseer. Die klankfilms wat daaruit gevolg het, is aanvanklik van die gewone stil "bewegende beelde" onderskei deur hulle "praatprente" te noem. Die omwenteling wat hulle gebring het, was vinnig: teen 1931 was die stilrolprent in die Verenigde State so te sê uitgestorwe en is dit reeds as "die ou medium" beskryf. Van die Amerikaanse stilvollengterolprente van 1912 tot 1929 het in 2013 net 14 % nog in hul oorspronklike formaat bestaan.