Denemarke (Deens: Danmark, [ˈd̥ɛnmɑɡ̊], ), amptelik die Koninkryk Denemarke (Kongeriget Danmark, [ˈkʰɔŋəʁiːəð ˈtænmak], ), is geleë in Noord-Europa in die gebied wat as Skandinawië bekend staan. Dit is 'n grondwetlike monargie met koning Frederik X as simboliese leier en 'n eenkamerparlement, die Folketinget. Saam met Groenland en die Faroëreilande vorm dit die Koninkryk van Denemarke.

duimnael|links|Nasa-satellietbeeld van Denemarke duimnael|links|Die Öresundbrug verbind die Deense hoofstad Kopenhagen met die Suid-Sweedse stad Malmö Denemarke is met 'n oppervlakte van sowat 43 000 vierkante kilometer die kleinste van die Skandinawiese lande, maar nogtans die mees digbevolkte en ten opsigte van sy bevolking ook die tweede grootste ná Swede. Denemarke bestaan uit die skiereiland Jutland (Deens: Jylland) – in geologiese opsig 'n uitbreiding van die Noord-Duitse Vlakte – en 'n groot aantal eilande waarvan sowat 100 bewoon is. Seeland (Deens: Sjælland), wat naby die Suid-Sweedse kus lê, is die grootste en mees digbevolkte van die eilande.

Denemarke se hoofstad Kopenhagen is aan die nou seestraat van die Øresund geleë, 'n deurvaart wat van die Kattegat na die Oossee lei. Denemarke se kontrole oor al drie deurvaarte, wat die Atlantiese Oseaan met die Oossee verbind – naas die Sund ook die Groot en Klein Belt (Deens: Store og Lille Belt), het van die land gedurende die Middeleeue 'n Noord-Europese groot moondheid gemaak wat sy buurlande oorheers en sy magsgebied tot by Noorweë, Ysland, Groenland en die Faroëreilande uitgebrei het. Die twee laasgenoemde gebiede is nog steeds Deense besittings.

Die land vorm in sommige opsigte 'n soort oorgang tussen Middel- en Noord-Europa – sy landskappe en klimaat kom grootliks ooreen met dié van Noord-Duitsland en lyk baie min op dié van die Skandinawiese Skiereiland (behalwe vir Suid-Swede).

Vanweë sy taalkundige erfenis – Deens maak deel uit van die Noord-Germaanse en Oos-Nordiese taalfamilie – en 'n gemeenskaplike geskiedenis van meer as duisend jaar, waartydens die land saam met Noorweë of Swede deur dieselfde koningshuis geregeer is, handhaaf Denemarke nou politieke en kulturele bande met die ander vier Nordiese lande Swede, Noorweë, Finland en Ysland.

Denemarke het egter ook in politieke en kulturele opsig steeds 'n brugfunksie tussen Middel- en Noord-Europa vervul. Die Deense koning was as die heerser van Sleeswyk en Holstein ook 'n vors van die Heilige Romeinse Ryk, en Denemarke was die eerste Nordiese land wat by die Europese Unie aangesluit het. Die land het egter geen lidstaat van die Eurosone geword nie.

Ná 'n vinnige industrialisering in die 19de en 20ste eeu het Denemarke, wat nog steeds oor 'n hoogs moderne landbousektor beskik, tot een van die mees gevorderde nywerheidslande ontwikkel. Die land het 'n welvaartstelsel volgens die Nordiese model.

Etimologie duimnael|links|Die Jelling-stene, waarna algemeen verwys word as Denemarke se "doopsertifikaat" Die etimologie van die naam "Denemarke", die verhouding tussen "Dene" en "Denemarke", en die ontstaan van Denemarke as 'n verenigde koninkryk is onderworpe aan 'n voortdurende wetenskaplike debat. Dit fokus veral op die voorvoegsel "Dan" en of dit na die Dani of 'n geskiedkundige persoon Dan verwys en die presiese betekenis van die "-marke"-agtervoegsel.

Volgens die meeste etimologiese woorde- en handboeke is "Dan" ontleen aan 'n word wat "plat land" beteken, verwant aan Duits Tenne "dorsvloer" en Engels den "grot". Daar word geglo dat die "marke"-element woud of grensgebied beteken, met waarskynlike verwysings na die grenswoude in Suid-Sleeswyk.

Die eerste gebruik van die woord "Denemarke" in Denemarke self is gevind op die twee Jelling-stene, twee runestene wat glo opgerig is deur Gorm die Oue (ca. 955) en Harald Bloutand (ca. 965). Ná die groter van die twee stene word dikwels verwys as die "doopsertifikaat" (Deens: dåbsattest) van Denemarke, hoewel albei die woord "Denemarke" gebruik, in die akkusatiefe naamval ᛏᛅᚾᛘᛅᚢᚱᚴ tanmaurk ([danmɒrk]) op die groot steen, en in die genitiewe naamval ᛏᛅᚾᛘᛅᚱᚴᛅᚱ tanmarkar ([danmarkaɽ]) op die klein steen, terwyl die datiewe naamval tąnmarku ([danmarkʊ]) op die kontemporêre Skivum-steen verskyn. Na die inwoners van Denemarke word daar verwys in die akkusatiewe naamval as tani ([danɪ]), of "Danes".

Geografie

duimnael|Kaart van Denemarke Denemarke neem 'n besondere stelling binne die Skandinawiese lande in. Dit vorm 'n soort "brug" tussen Sentraal- en Noord-Europa en bestaan met uitsondering van die skiereiland Jutland, wat sowat die helfte van die land se oppervlakte verteenwoordig, uit meer as 470 groot en klein eilande, wat tussen Jutland en die Suid-Sweedse gewes Skone lê. Slegs sowat honderd van hierdie eilande is bewoon. Die grootste eilande is Seeland (met die hoofstad Kopenhagen), Funen (Deens: Fyn), Falster, Lolland, Langeland en Bornholm.

Denemarke se enigste landgrens is dié met Duitsland (byna sewentig kilometer), terwyl die kuslyn vanweë die groot aantal inhamme oor sowat 7 400 kilometer strek. Geen plek in die land lê verder as sowat vyftig kilometer van die see af nie.

Klimaat duimnael|links|Klimaatsones in Denemarke volgens die Köppen-klimaatklassifikasie In vergelyking met die ander Skandinawiese lande het Denemarke danksy die invloed van die Atlantiese Oseaan en sy suidelike ligging 'n betreklik milde klimaat met gematigde somers en milde winters. Neerslae kom dwarsdeur die jaar voor, alhoewel daar min sneeuvalle aangeteken word.

Die Atlantiese invloede neem in die oostelike landsdele geleidelik af; hier word laer windsnelhede en minder neerslae aangeteken as in Wes-Denemarke. In koue winters, wat egter selde voorkom, word die kontinentale invloede duidelik – die Oossee bevries, en koue lugmassa's uit die ooste oorheers die winterweer.

Fauna en flora duimnael|Die heuwellandskap van Rebild Bakker Gedurende die afgelope eeue is groot dele van Denemarke se oorspronklike woude afgekap. Klein oorblyfsels van hierdie ongerepte woude het in natuurreservate soos die Nasionale Rebild Bakker-park bewaar gebly. Dié park maak deel uit van Rold Skov ("Trollwoud") wat tans met 'n oppervlakte van 86 km² die mees uitgestrekte bosgebied in die land vorm. Sowat twaalf persent van die huidige Deense grondgebied is met bosse (veral loofbos met beuke en eikebome) bedek. Daarnaas kom olms, haselneutbome, esdorings, dennebome, berke, espe- en lindebome asook kastaiingbome algemeen voor.

In die vlaktes van Wes-Jutland het enkele moeraslande bewaar gebly, net soos duinlandskappe en heidevelde.

Tipiese inheemse dierspesies sluit rooi wild, hase, eekhorings, krimpvarkies, vosse, dassies, marters, wasbere en wasbeerhonde in. Seehonde word langs die Deense kuste aangetref. Die kusgebiede is daarnaas die habitat van talle voëlspesies soos eksters, duiwe, bleshoenders, ganse, eende, seemeeus, seeswaeltjies en seeduikers.

Geskiedenis Oorsig duimnael|Die Ladby-skip is die grootste skeepsgraf wat tot dusver in Denemarke opgegrawe is Denemarke se geskiedenis is nou verweef met dié van die ander Nordiese lande. Denemarke se pogings om die Oossee te oorheers het tot by die 16de eeu die kwaai mededinging van Swede gehad, maar daar was nogtans ook langdurige periodes waartydens Denemarke met ander Skandinawiese lande in politieke en dinastiese opsig verenig het soos die Kalmarunie.

Ander belangrike aspekte, wat 'n groot invloed op die Deense geskiedenis uitgeoefen het, was die betrekkinge met die Europese vasteland en die uitbreiding van die Deense magsgebied in oorsese gebiede soos Engeland, Ysland en Groenland in die Wiking-tydperk.

Gedurende die tiende eeu het die klein Deense koninkryke in 'n gemeenskaplike staat verenig, en tot by die Vredesluiting van Roskilde in 1658, waardeur Denemarke sy besittings in Suid-Swede verloor het, het die Deense heersers hul magsgebied voortdurend probeer uitbrei.

In die 19de eeuse konflik met Duitsland oor Sleeswyk en Holstein en die Duitse minderheid in die suide van die land moes Denemarke sy suidelike gebiede uiteindelik in 1864 aan Duitsland afstaan en het vervolgens 'n beleid van politieke neutraliteit gevolg.

Ná die Duitse besetting tydens die Tweede Wêreldoorlog het Denemarke by die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) en die Europese Ekonomiese Gemeenskap (die latere Europese Unie) aangesluit.

Die Middeleeue duimnael|Koning Knoet die Grote (1018–1035) duimnael|Onse-Liewe-Vroukerk (Vor Frue Kirke) in Kalundborg. Die magtige baksteendomkerk met vyf torings het omstreeks 1175 as deel van Kalundborg se versterkings ontstaan Denemarke was reeds in sy voorgeskiedenis deur Germaanse stamme bewoon. Die eerste historiese dokumente, wat na die Deense volk verwys, dateer egter eers uit die sesde eeu v.C. Daar word aangeneem dat Suid-Swede die oorspronklike tuisland van die Dene was en dat hulle later na die huidige Deense eilande en die skiereiland Jutland uitgebrei het. Tydens die 11de eeu het die Deense gebied tot by die Schleilinie gestrek – die grenslyn met die Heilige Romeinse Ryk in die suide wat deur die Schleirivier gevorm is.

Die Denekoning Dan, na wie die land vernoem sou wees, is eerder 'n legendariese as 'n historiese figuur. Denemarke is aanvanklik deur plaaslike heersers geregeer, en omtrent 800 het een van hulle, Gøttrik, die sogenaamde Danewerk, 'n versterking suid van die Schleirivier ter beskerming teen aanvalle van die Frankiese Ryk opgerig. As gevolg van die Frankiese magsuitbreiding onder Karel die Grote het die Dene vir die eerste keer in aanraking met 'n ander beduidende Europese nasie gekom. Karel se stigting van 'n mark, 'n militêre gebied langs die Deense grens, het naas die oprigting van die Danewerk ook tot die versterking van die handelsentrum Haithabu gelei. Met 'n Deens-Frankiese ooreenkoms in 811 is die Eiderrivier as grenslyn vasgelê en die noordwaartse uitbreiding van die Franke stopgesit. Met die gelyktydige begin van die Skandinawiese Wikings se handels-, roof- en veroweringstogte, waaraan ook talle Deense krygers deelgeneem het, het Denemarke nou self daarmee begin om sy invloed in Noord-Europa te versterk en handelsbande met oorsese nasies aan te knoop.

Eers in die tiende eeu het die Deense konings Gorm en Harald Bloutand daarin geslaag om die Deense volk in een koninkryk te verenig. Harald het die Christelike geloof aangeneem en die Christelike sendingwerk in Denemarke bevorder.

Tydens die 11de eeu het die grootskaalse togte van Deense Wikings in die Noordseegebied 'n aanvang geneem. Die Deense koning Sven Vurkbaard (986–1014) het Engeland verower, en Knoet die Grote (1018–1035) was heerser oor 'n uitgestrekte Deense Noordseeryk wat naas Denemarke en Engeland ook Noorweë en Skotland ingesluit het. Ná sy dood het hierdie ryk egter weer begin verbrokkel, en eers koning Sven II (Svend Estridsøn 1047–1074) het daarin geslaag om die sentrale gesag op ryksvlak te herstel. Hy het gereeld munte laat slaan en klerici en beamptes, wat tot dusver grotendeels uit Engeland afkomstig was, deur inheemses vervang. Harm G. Schröter: Geschichte Skandinaviens. München: C.H. Beck 2007, bl. 24

In die periode tussen 1025 en 1035 het die Eiderrivier die nuwe suidgrens van Denemarke geword. Saam met die ander lande van Noord-Europa het Denemarke in geestelike opsig 'n deel van die nuutgestigte bisdom Lund geword, en die tradisionele bande met die bisdom van Bremen en Hamburg, wat sedert 948 bestaan het, is verbreek.

Ná 'n tyd van politieke instabiliteit het koning Waldemar die Grote (1157–1182) wet en orde herstel, die bedreiging deur Slawiese stamme afgeweer en die land weer deur 'n bloeitydperk laat gaan. Met die bou van 'n kasteel by die Groot Belt was hy in staat om die toegang tot die Noord- en Oossee te kontroleer, terwyl met die verowering van die Duitse eiland Rügen in 1169 'n ekspansiewe fase in Denemarke se buitelandse beleid ingelui is.