Hierdie artikel handel oor die Rugbykompetisie in Suid-Afrika. Vir die voorheen gelyknamige Krieketkompetisie in Suid-Afrika, sien Sunfoilreeks.

Die Curriebekertoernooi (tot 2015 ook bekend as die ABSA Curriebeker weens borgskapvereistes) is Suid-Afrika se oudste en belangrikste plaaslike rugbykompetisie wat viertien provinsies of streke binne ’n provinsie verteenwoordig. Hoewel dit die belangrikste plaaslike kompetisie is, ding Suid-Afrikaanse spanne ook jaarliks in die Verenigde Rugbykampioenskap mee.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013,

Die Curriebeker dateer so ver terug as 1889 en is een van die oudste rugbykompetisies ter wêreld. Die toernooi word as die hoeksteen van Suid-Afrika se rugby-erfenis beskou. Tussen 1892 en 1966 is daar op ongereelde grondslag om die beker meegeding, maar sedert 1968 word 'n wenner jaarliks bepaal. Dié goue trofee is steeds die hoogste prys in plaaslike Suid-Afrikaanse rugby.

Geskiedenis Die kompetisie het sy nederige begin as ’n interdorp-kompetisie in 1884 gehad, maar toe die Suid-Afrikaanse Rugbyraad in 1889 gestig is, is besluit om ’n nasionale kompetisie te organiseer wat spanne van al die groot unies sou insluit. Die unies wat deelgeneem het was die Westelike Provinsie, Griekwaland-Wes, Transvaal en Oostelike Provinsie. Die eerste toernooi is in Kimberley gehou en is deur die Westelike Provinsie gewen. Die wenprys was ’n silwer beker wat geskenk is deur die Suid-Afrikaanse Rugbyraad, wat nou in die SA Rugbymuseum in Kaapstad te sien is.

Die huidige goue beker is in 1892 in gebruik geneem. Sir Donald Currie, die skeepsmagnaat, het dit aan W.E. Maclagan, kaptein van die eerste toerspan uit die Britse Eilande na Suid-Afrika, toevertrou op die vooraand van hulle vertrek na Suid-Afrika. Maclagan sou die trofee aan die eerste span toeken wat die toerspan kon klop. Daarna moes dit ’n wisseltrofee vir die Suid-Afrikaanse provinsiale kampioenspan word. Die toerspan het al sy wedstryde gewen, maar nogtans die trofee oorhandig aan Griekwaland-Wes, wat met net 3-0 verloor het. Sir Donald het ook trofeë aan verskeie ander Suid-Afrikaanse sportsoorte geskenk, insluitende krieket, sokker, swem en waterpolo, maar net die rugbytoernooi het onder die oorspronklike naam voortgegaan.

Terwyl plaaslike unies reeds van 1892 om die Curriebeker meegeding het, het dit ’n paar dekades geduur voordat ’n amptelike kompetisie tot stand gebring is. Ná jare van geleentheidstoernooie wat deur die Westelike Provinsie oorheers is, het Suid-Afrika se belangrikste kompetisie met groot verwagting in 1968 afgeskop. In daardie jaar het Noord-Transvaal, onder leiding van die legendariese Frik du Preez, Transvaal met 16-3 in die eindronde gewen, wat ’n era van algehele oorheersing deur die Pretorianers ingelyf het waarin hulle die Curriebeker 16 keer gewen het en drie keer die titel gedeel het. Hierdie besonderse prestasie sou waarskynlik nie moontlik gewees het sonder die kundigheid van Naas Botha nie. Hy kon die spel meesterlik beheer met uitmuntende taktiese bewustheid deur ’n loopbaan wat oor drie dekades gestrek het. Botha kon manalleen opponerende spanne op hul knieë dwing en hy het in 1987 al Noord-Transvaal se 24 punte teenoor Transvaal se 18 in die eindronde aangeteken.

Sedertdien het die Curriebeker ’n jaarlikse kompetisie geword met net een span wat Noord-Transvaal se oorheersing kon teenstaan – die Westelike Provinsie. Feesvierings het in Kaapstad uitgebreek toe die Westelike Provinsie Noord-Transvaal met 24-7 in die eindronde van 1982 gewen het, wat die Westelike Provinsie se eie goue era ingelyf het. Curriebekerhelde soos Faffa Knoetze, Calla Scholtz en die stoomroller-vleuel Neil Burger het verseker dat die Beker vir vyf jaar in Kaapstad gebly het voordat dit weer terug noorde toe is.

Met die keer van die dekade is Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners getrakteer op twee van die mees onvergeetlike Curriebeker-eindrondes. In 1989 het die vleuel Carel du Plessis ’n drie in die doodsnikke van die wedstryd gedruk om te verseker dat die Beker met Noord-Transvaal gedeel is. Die telling was 16-elk. Die daaropvolgende jaar was die gevoel dat Noord-Transvaal net moes opdaag om teen Natal te wen. Die piesangboere het egter ’n opskudding veroorsaak toe hulle, geïnspireer deur die losskakel Joel Stransky, die wedstryd met 18-12 gewen het. Die 1990’s het ook gesien hoe Natal asook Transvaal, onder kapteinskap van Francois Pienaar sterker word, maar sedert Suid-Afrika se hertoelating tot internasionale sport in 1992 het die belangrikheid van die Curriebeker stelselmatig afgeneem.

Deesdae is die kompetisie in die skadu van die Verenigde Rugbykampioenskap en die Rugbykampioenskap in terme van belangrikheid vir Suid-Afrika se topspelers. ’n Mens hoef egter net te kyk na die glimlagte op spelers se gesigte wanneer hulle die Curriebeker wen, om te bevestig dat die Curriebeker steeds ’n spesiale plek het in die harte van Suid-Afrikaanse rugbyspelers en -toeskouers.

Vir die 2013-seisoen was die prysgeld soos volg bepaal: Wenner van die premierafdeling: R1,8 miljoen Naaswenner van die premierafdeling: R1,2 miljoen Wenner van die eerste afdeling: R1 miljoen Naaswenner van die eerste afdeling: R500 000 Wenner van die o/21 A-afdeling: R200 000 Naaswenner van die o/21 A-afdeling: R50 000 Wenner van die o/19 A-afdeling: R200 000 Naaswenner van die o/19 A-afdeling: R50 000

In 2016 en 2017 het die Welwitschias van Namibië aan die Curriebeker deelgeneem. In 2019 het die Argentynse Jaguares XV aan die Curriebeker deelgeneem. In 2020 het die Georgiese span Tbilisi Caucasians aan die Curriebeker deelgeneem. In 2022 het die Georgiese span Black Lions, die Keniaanse span Simbas en die Zimbabwiese span Zimbabwe Goshawks in die eerste afdeling meegeding. In 2023 het die Namibiese Welwitschias, die Zimbabwiese Goshawks, die Keniaanse Simbas en die Amerikaans-Meksikaanse San Clemente Rhinos aan die eerste afdeling deelgeneem.

Trofee duimnael|Die Curriebekertrofee Die trofee waarom jaarliks meegeding word is deur sir Donald Currie, eienaar van die Union-Castle-Redery, aan die toerspan van die Britse Eilande geskenk. Sy instruksies aan die span was om die trofee te oorhandig aan die span wat die beste wedstryd teen die besoekers gespeel het, en na ’n moedige stryd het Griekwaland-Wes die eerste ontvangers van die Curriebeker geword. Die trofee is vandag nog die heilige graal van Suid-Afrikaanse rugby.

Aan die einde van 2012 is die trofee na Garrard van Londen, die Kroonjuweliers en oorspronklike vervaardigers, gestuur om gerestoureer te word. Die trofee, wat in 1875 vervaardig is, se handvatsel is in ere herstel en die trofee het ook weer sy goue glans aangeneem.

Spanne duimnael|300px|Kaart van Suid-Afrika wat die grense van die Curriebekerspanne aandui Suid-Afrika is tans verdeel in 14 unies. Vier trek spelers van ’n hele provinsie: Griekwas – Noord-Kaap (tuiswedstryde in Kimberley) Luiperds – Noordwes (tuiswedstryde in Potchefstroom en Rustenburg) Natalse Haaie – KwaZulu-Natal (tuiswedstryde in Durban) Pumas – Mpumalanga (tuiswedstryde in Nelspruit)

Daar is twee unies in die Oos-Kaap: Grens Bulldogs – oos (tuiswedstryde in Oos-Londen) Oostelike Provinsie – wes (tuiswedstryde in Gqeberha)

en ook in die Vrystaat: Vrystaat Cheetahs – sentraal en suid (tuiswedstryde in Bloemfontein) Griffons – noord en wes (tuiswedstryde in Welkom)

Daar is drie unies in die Wes-Kaap: Boland Kavaliers – noord (tuiswedstryde in Wellington) SWD Arende – oos (tuiswedstryde in George) Westelike Provinsie – Kaapstad Metropolitaanse gebied (tuiswedstryde in Kaapstad)

Gauteng het twee unies wat eksklusief van dele van daardie provinsie spelers kry: Valke – die Oos-Rand en munisipaliteite ten ooste en suide van Johannesburg (tuiswedstryde in Kemptonpark) Goue Leeus – Johannesburg en munisipaliteite ten weste (tuiswedstryde in Johannesburg)

Laastens is daar een unie wat gedeeltelik spelers van Gauteng asook ’n hele provinsie kry: Blou Bulle – Pretoria, die twee Gauteng-munisipaliteite ten ooste en Limpopo (tuiswedstryde in Pretoria)

Uitslae