C. Louis Leipoldt (1880–1947) was ’n Suid-Afrikaanse dokter, digter, dramaturg en skrywer, wat verskeie toekennings ontvang het vir sy skryfwerk, insluitende die Hertzogprys vir poësie en drama. Hy was een van die leidende figure van die Tweede Taalbeweging (tesame met Jan F.E. Celliers en J.D. du Toit). Benewens gedigte, het hy ook romans, toneelstukke, kinderverhale, kookboeke en 'n reisjoernaal geskryf. Hy was 'n liefhebber van die natuur, en het dit dikwels as tema vir sy werk gebruik, maar met spesifieke klem op die legendes en landskappe van sy geliefde Hantam. Ander temas betrek die lyding en pyn wat deur die Tweede Vryheidsoorlog veroorsaak is, en die kulturele leefwêreld van die Kaapse Maleiers.

Lewe en werk Christiaan Frederik Louis Leipoldt is op 28 Desember 1880 geboreLewensbesonderhede is veral verkry uit J.C. Kannemeyer se omvattende biografie, “Leipoldt: ’n Lewensverhaal” in die huis van sy grootvader aan moederskant, eerwaarde Louis François Esselen, destyds sendeling op Worcester. Beide sy ouers stam uit sendingfamilies. Leipoldt se grootvader aan vaderskant is Johann Gottlieb Leipoldt, wat saam met P.D. Lückhoff en G.A. Zahn in 1818 die grondlegger was van die Rynse Sending in Suid-Afrika en die eerste sendingstasie op Ebenhaezer aan die Olifantsrivier gestig het. Sy vader, Christian Friedrich Leipoldt (4 Oktober 1844 – 11 November 1911), is ’n Duitse predikant wat op Wupperthal in Suid-Afrika gebore is maar sy skoling vanaf sy vyfde jaar in Barmen in Duitsland ondergaan. Onder die vaandel van die Rynse Sendinggenootskap het hy vanaf 1869 tot 1879 sendingwerk gedoen in Nederlands Oos-Indië (Sumatra). Sy moeder is Anna Meta Christina Esselen (29 Maart 1848 – 23 November 1903), vroeër van Worcester. Sy ouers is op 15 Oktober 1874 in Sumatra met mekaar getroud. Hy is die vierde van vyf kinders waarvan net vier groot word. Hy het ’n ouer suster, Louisa Frances Carolina (Issa) (gebore 1875), ’n ouer broer Johann Gottlieb Wilhelm (Johnny) (1877) en ’n jonger suster Catharina Wilhelmina (Katy) (1888). Sy ouer broer Charles William is in Mei 1879 gebore, maar is slegs tien dae na sy geboorte oorlede en word in Sumatra begrawe voordat die gesin terug na Suid-Afrika verhuis.

Omdat alle poste binne die Rynse Sendinggenootskap in daardie tyd gevul is, kan Leipoldt se vader slegs as hulpprediker by sy skoonvader se gemeente op Worcester diens doen, waar hy hoofsaaklik onderwys gee in die sendingskool. Tot met sy vierde jaar bly die jong Leipoldt dus op Worcester. Ten einde ’n pos te kry gaan sy vader in 1883 oor na die Calvinistiese geloof. In Junie 1884 verhuis die gesin dan na Clanwilliam, waar sy vader leraar word in die plaaslike Nederduits Gereformeerde Kerk en waar hy groot word. Sy eerste besoek aan Kaapstad is in 1886, waar sy vader die sinodesitting bywoon en hy besoek Kaapstad dan weer in 1890 met die volgende sinodesitting. Hy is in 1887 langdurig siek aan sinkingskoors (waarskynlik rumatiekkoors), wat sy hart aantas en vir die res van sy lewe moet hy sorg dra om nie sy hart te ooreis nie. Hoewel Louis ’n goeie verhouding het met sy vader, is sy moeder sieklik en temperamenteel en voel die jong Leipoldt nooit geborge in sy verhouding met haar nie. Sy moeder is op 23 November 1903 aan beri-beri oorlede.

Alhoewel daar ’n goeie dorpskool op Clanwilliam was, ontvang hy sy skoolopleiding tuis van sy vader en ’n Latynse leraar. As kind het hy vrye toegang tot sy vader se groot verskeidenheid boeke en is al vroeg belese in die Engelse, Nederlandse, Duitse en Franse taal en literatuur, terwyl hy ook van Latyn kennis dra en ook Maleis kon praat. Die nadeel van sy tuisopleiding is dat hy nie goed onderrig is in rekenkunde of meetkunde nie, waarmee hy vir die res van sy lewe sukkel. Van vroeg af het hy ’n belangstelling in die natuur en begin as jong kind reeds met ’n plantversameling en klipversameling. Hy vergesel sy vader na die periodieke Sinodesittings van die Nederduits Gereformeerde Kerk in Kaapstad, waar hy in 1890 die skeikundige professor Daniel Hahn van die Suid-Afrikaanse Kollege ontmoet, wat hom oor sy vakgebied onderrig. Hy ontmoet ook vir professor Peter MacOwan van die herbarium van die regering en leer in 1895 deur hom ook vir meneer (later doktor) Harry Bolus ken. MacOwan en Bolus stel hom bekend aan die geheime van die plantkunde. In 1895 ontmoet hy die plantkundige en reisiger Rudolf Schlechter op Clanwilliam en onderneem dieselfde jaar ’n reis deur Namakwaland saam met hom. Hier vind hulle ’n onbekende blomsoort, wat deur Schlechter vernoem word as Aspalathus leipoldtii, ter herinnering aan sy jong vriend. In Julie 1897 lê Leipoldt die matrikulasie-eksamen van die University of the Cape of Good Hope suksesvol af.

Vanaf Maart 1896 begin hy gereeld berigte skryf vir The Cape Argus, The Cape Illustrated Magazine, The Cape Times en De Zuid-Afrikaan. Reeds op 24 September 1896 publiseer hy onder ’n skuilnaam (Forsythe W. Bancombe) ’n brief in The Cape Times waarin hy gelyke regte vir alle burgers, swart en wit, bepleit, wat tot groot polemiek in die koerant lei. Ná matriek verlaat hy teen November 1898 sy ouerhuis en verhuis na Kaapstad, waar hy hom voorberei vir die staatsdienseksamen en dit in Desember 1898 suksesvol aflê. Deeltyds studeer hy dan verder aan die University of the Cape of Good Hope vir ’n Intermediêre B.A.-graad, maar weens sy probleme met die vereiste Wiskunde en Rekenkunde slaag hy nie die eksamen nie. In hierdie tyd verstewig sy vriendskap met Harry Bolus, by wie hy dikwels besoek aflê. Leipoldt werk as junior verslaggewer mee aan De Kolonist (opvolger van Het Dagblad, wat in 1896 deur S.J. du Toit begin is) en in September 1899 word hy aangestel op die redaksie van die nuut gestigte The South African News. Na die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog tree hy op as korrespondent van ’n hele aantal pro-Boerse Europese koerante, onder andere Het Nieuws van den Dag in Den Haag in Nederland, Neueste Nachrichten van Hamburg in Duitsland, Petit Bleu in Brussel in België, die Chicago Record en die Boston Post in die Verenigde State van Amerika en Daily Express en die Manchester Guardian in Brittanje. Vir Het Nieuws van den dag skryf hy benewens oorlogsberigte ook maandeliks ’n reeks “Brieven uit de Kaapkolonie”. Hy is vanaf 1900 tot 1901 werksaam as verslaggewer van die Rondgaande Hof wat die Kaapse rebelle moet verhoor en moet vanaf April 1901 optree as waarnemende redakteur van The South African News wanneer die redakteur tot gevangenisstraf veroordeel word op grond van sogenaamde opruiende artikels teen die Britse magte. Baie van sy oorlogsverse, wat later in “Oom Gert vertel en ander gedigte” saamgebundel word, dateer uit hierdie tyd nog voor sy een-en-twintigste verjaardag.

As The South African News in Oktober 1901 weens krygswet nie meer gepubliseer mag word nie, vertrek hy op 25 Januarie 1902 met die S.S. Persic na Londen. Hier doen hy aanvanklik vryskut joernalistieke werk vir die Manchester Guardian, vir wie hy oorlogskorrespondent was, wat hom ook na Europa stuur om verslag te doen oor die stakings wat in daardie tyd onder dokwerkers, lettersetters en diamantslypers in Nederland, België, Spanje en Frankryk geheers het. Sodoende leer hy ook die vasteland van Europa ken en hierdie is die eerste van ’n aantal sodanige besoeke wat hy later namens verskeie koerante doen. In Utrecht voer hy ook kort voor die Vrede van Vereeniging onderhoude met dr. Willem Leyds, staatsekretaris van die Zuid-Afrikaansche Republiek, en president Paul Kruger.

Vanaf September 1902 skryf Leipoldt hom in by Guy’s Hospital waar hy met geldelike hulp van meneer Bolus in die geneeskunde studeer, terwyl hy steeds vryskut joernalistieke werk vir verskeie koerante en tydskrifte doen, insluitende die Manchester Guardian, The Spectator, The Gentleman’s Magazine, Macmillan’s Magazine, The Monthly Review en The Westminster Review. In 1905 onderneem hy ’n maandlange reis deur Italië, terwyl hy gereeld die Kerstyd in Yorkshire deurbring en tydens vakansies telkens ’n ander deel van Brittanje besoek. In 1907 besoek hy die vasteland weer wanneer hy na Switserland toe gaan om ’n mediese kongres by te woon en ook tyd in Italië deurbring.

Reeds in 1905 het hy al sy verpligte werk vir sy mediese kursus voltooi en is gereed om die eindeksamen af te lê, maar die regulasies vereis dat hy hom eers na vyf jaar as student vir die eksamen kan aanmeld. Vir die volgende twee jaar wy hy dus sy aandag aan spesiale onderwerpe. Hy skryf ook in vir die Londense matriekeksamen, maar druip twee keer Wiskunde, wat die Engelse kwalifikasie van M.D. buite sy bereik plaas. Tydens sy studentejare word Leipoldt in Maart 1906 redakteur van Guy’s Hospital Gazette, wat daartoe lei dat hy later daardie jaar deur sir Henry Burdett genader word om as redakteur op te tree van sy blad The Hospital, in daardie tyd die grootste mediese tydskrif in die land. Hy beklee hierdie posisie met kort onderbrekings tot laat in 1910 en in hierdie hoedanigheid maak hy kennis met verskeie groot hospitale in Europa en Amerika. In Junie 1907 maak hy sy studies as geneesheer klaar en verwerf die Licenciate of the Royal College of Physicians (L.R.C.P.) en die Membership of the Royal College of Surgeons (M.R.C.S.). Hy ontvang ook die goue medaljes (die hoogste toekenning wat ’n student van Guy’s kan ontvang) plus sertifikate in die medisyne sowel as die chirurgie.

Hy werk dan vir ’n aantal maande tot Januarie 1908 as huisarts in Guy’s Hospital, ’n aanstelling wat ’n groot eer is, al is daar nie ’n salaris aan verbonde nie. Sy akkommodasie in die hospitaal en voedsel is egter gratis. Hierna werk hy ’n rukkie as locum tenens vir ’n dokter in New Cross. In Maart 1908 vertrek hy op ’n studiereis deur Europa, wat deur The Hospital geborg word op voorwaarde dat hy ’n reeks artikels skryf oor studiemoontlikhede vir Britse studente op die vasteland. Sy eerste stop is in Berlyn in Duitsland, waar hy by plaaslike klinieke werk en lesings bywoon, hoofsaaklik in die ortopedie. Hiervandaan besoek hy Europese stede soos Leipzig, Hamburg, Dresden, Halle, Praag, Brünn, Wene, Warschau en Wroclaw (destyds Duitse Breslau), waarna hy na Rusland gaan om in Moskou ondersoek in te stel na die stand van die mediese dienste in hospitale aldaar. Hierna gaan hy na Graz in Oostenryk waar hy vir ’n aantal maande kindersiektes bestudeer, waarna hy saam met ander ’n paar van die spitse in die Alpe gaan uitklim. Vier van die artikels wat hy in hierdie tyd skryf word in 1909 deur die Londense Scientific Press in ’n pamflet van 32 bladsye onder die titel “The ideal graduate study institution: What Germany has done” gepubliseer. Deur Italië keer hy dan terug na Londen, waar hy in Oktober 1908 aankom en in November 1908 die eksamens vir die Fellowship of the Royal College of Surgeons (F.R.C.S.) aflê. Weens griep wat hy onder lede het, druip hy egter hierdie eksamen.

Hy kry dan ’n aanstelling as persoonlike geneesheer vir die geselskap van die blinde koerantmagnaat Joseph Pulitzer en in Desember 1908 gaan hy per boot na Amerika, vanwaar die geselskap in ’n luukse seiljag al langs die kus vaar en onder andere Kuba, Meksiko en Brasilië aandoen en dan terugkeer via die ooskus van Amerika. Leipoldt kry tydens hierdie reis die geleentheid om stede soos New York, Washington, Chicago en Boston te besigtig. Daarna vertrek hulle na Europa en arriveer op 18 April 1909 in Lissabon in Portugal, waar Leipoldt die geselskap verlaat.