duimnael|regs|250px|Die heel laaste uitgawe van Dagbreek, Sondag 22 November 1970.

Dagbreek (van kort ná sy ontstaan Dagbreek en Sondagnuus en van 1968 tot en met sy samesmelting met Die Beeld om op 29 November 1970 Rapport te vorm, Dagbreek en Landstem) was 'n Sondagkoerant wat in 1947 in Johannesburg ontstaan het as die tweede Afrikaanse Sondagkoerant. (Sondagnuus was die eerste, maar is kort ná sy oprigting by Dagbreek ingelyf.)

Voorspel duimnael|regs|180px|Prof. Wicus du Plessis, eerste voorsitter van die direksie van Dagbreekpers Beperk. duimnael|180px|regs|Adv. J.G. Strijdom, tweede voorsitter van die direksie van Dagbreekpers Beperk, tot 1958. links|duimnael|180px|Wollie van Heerden, redakteur van Die Vaderland van 1936 tot 1946 en in 1947 eerste hoofredakteur van Dagbreek. duimnael|180px|regs|Ben Schoeman het hom saam met ander Nasionale ministers beywer vir die verkryging van Dagbreek. duimnael|links|180px|M.E.J. van Rensburg.

Kort ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog in 1945 het 'n onopgesmukte koerantjie, Die Werksman se Weekblad, in Johannesburg die lig gesien onder leiding van die Volksraadslid M.J. van den Berg, bygestaan deur V. Michaelson (ander bron: Michelson) en enkele andere. Sy doelwit was om die politieke beleid van die destydse Arbeidersparty uit te dra. In 1946 neem die mynmaatskappy Strathmore Investments, met kol. Jack Scott, kol. J.C. McIntyre en adv. C.W. Roper aan die stuur, die koerantjie oor. Die nuwe eienaars het die naam verkort tot Die Weekblad en die verskyningsdag na Sondag verander. Hulle wou samewerking in die burgerlike lewe tussen Afrikaans- en Engelssprekendes bevorder soos dit tydens die oorlog op die slagveld bestaan het. Met die myngroep se oorname het hulle ook 'n ou en sukkelende drukkery bekend as T.W. Hayne Ltd., suid van die spoorlyn in Doornfontein, aangekoop en 'n ewe mankolieke pers. Hieruit sou die samesnoering van kragte voortspruit vir die stigting van die begeerde Sondagkoerant voortspruit. Mick van Rensburg, 'n kollega uit hulle Afrikaanse Pers-dae, was sakebestuurder van Die Weekblad en bestuurder van die Scotia Press, 'n filiaal van Strathmore-myngroep.

Kort daarna knoop die myngroep, deur middel van Scotia Press, onderhandelinge aan met twee Afrikaanse koerantmanne, Marius Jooste en Wollie van Heerden, vroeër redakteur van Die Vaderland. Dit was kort na 'n ernstige meningsverskil in die bestuur van die Afrikaanse Pers toe Van Heerden, Jooste, A.M. van Schoor en Otto Schwellnus uit die diens van die Pers getree het. Kort daarna volg M.E.J. van Rensburg, sakebestuurder. Die eienaars van Die Weekblad het ook die hulp ingekry van bekendes soos prof. L.J. (Wicus) du Plessis van Potchefstroom, dr. P.J. Meyer, dr. Hans van Rensburg en dr. Phil Bothma.

Dagbreekpers Beperk gestig Dié onderhandelings lei vroeg in 1947 tot die oprigting van Dagbreekpers Beperk en die besluit om 'n Sondagkoerant met die naam Dagbreek, waarby Die Weekblad ingelyf sou word, die lig te laat sien. Dit was die verwesenliking van die droom van Schwellnus en Van Heerden nadat hulle in 1946 by die Afrikaanse Pers bedank het, want hulle het die behoefte aan 'n Afrikaanse Sondagkoerant sterk aangevoel. Destyds het 'n groot aantal Afrikaanssprekendes gereeld die Engelse Sondagkoerante in Johannesburg gelees. Daarom het die twee dit op hulle geneem "om kapitaalkragtige individue en instansies te nader vir steun aan so 'n projek".L.J. Erasmus, "'n Volk staan op uit sy as: Verhaal van Die Afrikaanse Pers (1962) Beperk". Johannesburg: Afrikaanse Pers Beperk. 1969. Dit was egter makliker gesê as gedaan. In Fleur, Tydskrifbylaag tot Dagbreek van 30 Junie 1957, skryf Van Heerden: "[Dit is moeilik] om my voor te stel dat ek en Otto Schwellnus elf jaar gelede vrugteloos in en om Johannesburg rondgestap en rondgery het om £30 000 te probeer bymekaar kry om 'n Afrikaanse Sondagblad te begin!" Van Heerden aanvaar toe 'n pos by die SAUK terwyl sy lewenslange vriend Schwellnus by 'n landboublad in die Kaap gaan werk het. Jooste en Van Schoor, wat vroeër saam aan die Afrikaanse Pers se vrouetydskrif Rooi Rose verbonde was, het intussen saam die tydskrif Fleur begin met kapitaal wat Jooste van 'n meubelhandelaar verkry het.

Omstreeks dieselfde tyd (1947) was prof. Wicus du Plessis, voorsitter van die direksie van Kopersbond in Johannesburg, baie nou verbind met Perskor, 'n perskorporasie gestig deur die Ossewabrandwag en wat nie verwar moet word met Perskor, wat in 1971 ontstaan het uit die samesmelting van die Afrikaanse Pers (1961) Beperk en Voortrekkerpers nie. Du Plessis was eers direkteur en later voorsitter van Perskor se direksie. Perskor het Pro Ecclesia-Drukkery op Stellenbosch, wat die landboublad Die Landman uitgegee het, en 'n boekhandel in Johannesburg, genaamd L en S Boek- en Kunssentrum, besit. Daarbenewens was daar die Oranje-Drukkery op Bethlehem (Trans-Oranje-Drukpers, volgens 'n ander bron), asook 'n drukkery op die destydse Pietersburg, uitgewer van Die Noordelike Stem. Al die drukkerye het gesukkel om kop bo water te hou.

Onder inspirasie van dr. P.J. Meyer, bestuurder van L en S Boek- en Kunssentrum, is 'n nuwe persorganisasie geskep met die benaming Onafhanklike Pers van Suid-Afrika Beperk. Perskor is kort daarna in dié maatskappy opgeneem en ook van hiervan word prof. Du Plessis voorsitter. Hy en dr. Meyer was albei kennisse van Jooste en toe hy tydens samesprekinge gevra is of hy kans sien om die Onafhanklike Pers oor te neem, het hy ingestem, waarskynlik omdat hy gehoop het dat 'n Sondagkoerant van formaat mettertyd daaruit sou kon voortspruit. Terwyl Jooste dan sy aandag aan die uitgewerye onder sy vlerke gewy het, het prof. Du Plessis op sy versoek met kol. Jack Scott geskakel "met die versoek dat sy Strathmore-myngroep iets sou doen vir die Afrikanersaak". Na 'n tyd het Scott se vennoot, kol. J.C. McIntyre, Du Plessis laat weet dat die groep aan die versoek sou voldoen.

Die Strathmore-myngroep was bereid om 'n nuwe maatskappy, Dagbreekpers Beperk, te stig in samewerking met Du Plessis en Jooste se instansies. Aanvanklik sou dit 'n heeltemal onafhanklike blad, Dagbreek, uitgee "as besonderse hartsbegeerte van prof. Du Plessis én mnr. Jim McIntyre wat hom deur die jare heen 'n onverbeterlike idealis betoon het met opsig tot die hartlike samewerking tussen die Engels- en Afrikaanssprekende Afrikaner in Suid-Afrika". Die Strathmore-verteenwoordigers en die Du Plessis-Jooste-mense sou gelyke verteenwoordiging in die maatskappy se direksie hê. Die Onafhanklike Pers se bates was egter onvoldoende teenoor Strathmore se bydrae en daarom werf Jooste ondersteuning by wyse van onderskrywings voorsien deur prof. Du Plessis se Kopersbond, Anton Rupert se Rembrandt en dr. Phil Bothma se President-Finansieringsmaatskappy. Bothma het selfs gehelp om Onafhanklike Pers se skuld uit te wis.

So ontstaan Dagbreekpers Beperk met vyf Strathmore-verteenwoordigers in die direksie en Du Plessis, Jooste, Rupert, regter J.W. de Vries en mnr. R.L. Barry aan die Afrikaanse kant. Du Plessis was die voorsitter en Jooste die besturende direkteur. Jooste het Wollie van Heerden as hoofredakteur vir die nuwe Sondagskoerant gekry. Jooste se vennoot in Fleur, A.M. van Schoor, het sy aandeel daarin aan die nuwe maatskappy verkoop en ná enige maande by Dagbreek koers gekry na die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie, waar hy hoof van die nuusafdeling geword het.

Moeilike geboorte Alles is in gereedheid gebring sodat die eerste uitgawe van Dagbreek op 22 Junie 1947 die lig kon sien. Die dag vantevore om agtuur was die redaksie en bestuur almal op kantoor. Die redaksie is gedurende die week gehuisves in die P.F.A.C.-gebou in De Villiersstraat, maar Saterdagmiddae sou hulle oorskruif na die bejaarde drukkerygebou, waar hulle gesete sou wees op 'n timerasie in die dak van die enkelverdiepinggebou. Vandaar het hulle omstreeks negeuur die laaste stukkies kopie ingehandig nadat hulle sowat 13 uur lank nie gewas of geëet het nie. 'n Redaksielid van destyds het die eerste uitgawe, wat toe nie verskyn het nie, agterna as 'n "misbaksel" beskryf.

Teen die volgende oggend sonop het die hele redaksie gebid dat enigiets tog net moet verskyn, selfs net 'n paar eksemplare sodat die nuwe koerant darem "nominaal" sou verskyn. Die tegniese personeel het egter nie een genoeg ervaring van koerantpublikasie gehad nie en toe die eerste busse van die CNA, wat die verspreiding sou behartig, al moes vertrek, het van 'n groot aantal van die vorms nog net die rame op die steen gelê, met setsel oor die hele drukkery versprei sonder dat enigeen geweet het waar wat hoort.

Eers teen middernag daardie Sondag was die boel min of meer uitgesorteer en die laaste vorm vasgedraai. Hulle was te laat vir al die verspreidingspunte behalwe Johannesburg se middestad, maar sou darem 'n paar eksemplare gedruk kon kry. Die ou rolpers het gekraak, gekreun en gerammel, maar verseg om so te druk en te vou dat iets met die resultaat gedoen kon word. 'n Paar van die jonger personeellede het openlik begin huil. Toe die son die Maandagmôre opkom het Dirk Richard, latere redakteur, aangekondig hy loop. Marius Jooste en Du Plessis het tot halfnege gebly, maar toe hulle loop, het hulle "albei geweet Dagbreek sou nie misluk nie", het Du Plessis later vertel. Die week daarna het Voortrekkerpers die redaksie te hulp gekom en Dagbreek gedruk.

Voorsprong met verspreiding duimnael|270px|links|Die voorblad van Dagbreek en Sondagnuus van 22 Oktober 1961. Joel Mervis, destyds subredakteur by die Rand Daily Mail, skryf in "The Fourth Estate" dat die nuwe Afrikaanse Sondagkoerant in die begin nie as 'n ernstige mededinger beskou is nie en klaarblyklik lank sou vat om by die Sunday Times in te haal. E.B. Dawson is in 1947 bevorder tot algemene bestuurder van die maatskappy wat die Rand Daily Mail, Sunday Times en Sunday Express uitgegee het. Mervis sê Dawson was vanweë opleiding en ervaring nie juis goed toegerus vir die nuwe pos nie. Só het hy die vestiging van Dagbreek aansienlik makliker gemaak as wat andersins die geval sou wees. Danksy sy wye verspreiding het die Sunday Times, in samewerking met die CNA, deur die jare 'n groot vloot vragmotors opgebou wat die koerant na al die uithoeke van die destydse Transvaal gebring het. Die Sunday Times het alleengebruik van die vragmotors geniet, hoewel die Sunday Express, as susterkoerant en met slegs 'n klein plattelandse verspreiding, toegelaat is om die vloot te deel. Onder gewone omstandighede sou dit jare geduur het voordat Dagbreek 'n soortgelyke vloot en netwerk kon opbou.

'n Vindingryke bestuurder by Dagbreek het egter aan Dawson voorgestel dat die nuwe koerant die vervoerkoste sou help betaal as hy ook van die vragmotors gebruik kon maak. Dawson het gehou van die kostebesparingsmaatreël en die voorstel aanvaar. Op die lange duur het dit egter onmeetbare skade berokken aan die Sunday Times se leserskap op die platteland. Teen geringe koste kon Dagbreek die mark binnedring en toegang kry tot elke dorp op die roete wat die Sunday Times oor veertig jaar gevestig het. Dagbreek het aanvanklik net 'n paar eksemplare saamgestuur vir elke verspreidingspunt langs die pad en so dit oraloor bekendgestel. Binne maande, selfs weke, kon die Afrikaanse koerant se bestuur dan sien hoe groot die aanvraag was en die eksemplare dienooreenkomstig aanpas. Mervis glo Dawson het die koerant gehelp om binne maande 'n verspreiding te behaal wat hy dalk selfs oor baie jare nie sou kon regkry nie. Hy beskryf Dagbreek se opgang as "fenomenaal".

Eie drukkery danksy brand