Charles III (Charles Philip Arthur George; 14 November 1948) is koning van die Verenigde Koninkryk en 14 ander lande van die Statebond. Hy was die regmatige Britse troonopvolger sowel as die Hertog van Cornwall en van Rothesay van 1952 tot met sy opvolging in 2022. Hy was die langs lewende regmatige troonopvolger in die geskiedenis van Brittanje. Hy was ook die langs dienende Prins van Wallis: van Julie 1958 tot 8 September 2022 ná die dood van sy moeder, Elizabeth II. Verder is hy die oudste persoon wat dié land se troon bestyg: op 73-jarige ouderdom. Hy is op 6 Mei 2023 in Westminster-abdy gekroon.

Charles is in Buckingham-paleis gebore as die eerste kleinkind van koning George VI en koningin Elizabeth. Hy het sy opvoeding aan die skole Cheam en Gordonstoun ontvang, wat albei ook deur sy vader bygewoon is. Nadat hy 'n B.A.-graad aan die Universiteit van Cambridge ontvang het, het Charles van 1971 tot 1976 in die Britse lugmag en vloot gedien.

In 1981 is hy getroud met lady Diana Spencer, by wie hy twee seuns het: prins William en prins Harry. In 1996 is die paartjie geskei ná buite-egtelike verhoudings deur albei partye, waaroor breedvoerig in die pers berig is. Diana is die volgende jaar in Parys in 'n motorongeluk dood. In 2005 is Charles getroud met sy minnares van 'n lang tyd, Camilla Parker Bowles.

As Prins van Wallis het Charles verskeie amptelike verpligtinge namens koningin Elizabeth II behartig. Hy het in 1976 die Prince's Trust gestig, wat die borge van sy welsynorgansasies is, en is die beskermheer, president of 'n lid van meer as 400 ander welsynorganisasies. Prins Charles se menings oor die rol van argitektuur in die gemeenskap en die bewaring van historiese geboue het wye aandag van Britse argitekte en ontwerpers ontlok. Hy is ook die skrywer of medeskrywer van 'n paar boeke.

As 'n selfverklaarde omgewingsbewuste het Charles hom in die openbaar uitgespreek oor sake soos organiese landbou en aardverwarming, wat tot toekennings en erkennings van omgewingsgroepe gelei het.

Weens sy steun aan alternatiewe medisyne, onder meer homeopatie, was hy ook die onderwerp van kritiek.

Vroeë lewe en opvoeding thumb|240px|links|Charles in die arms van sy moeder met sy doop, saam met sy vader en grootouers aan moederskant, 1948

Charles is op 14 November 1948 in Buckingham-paleis gebore tydens die bewind van sy oupa aan moederskant, George VI, as die oudste kind van prinses Elizabeth, Hertogin van Edinburg, en prins Philip, Hertog van Edinburg. Hy is op 15 Desember daar gedoop deur die aartsbiskop van Kantelberg, Geoffrey Fisher.

Met die dood van sy oupa en die troonbestyging van sy ma in 1952 as koningin Elizabeth II het hy die regmatige troonpvolger geword. As die monarg se oudste seun het hy dadelik die titels Hertog van Cornwall, Hertog van Rothesay, Graaf van Carrick, Baron van Renfrew, Lord of the Isles en Prins van Skotland gekry. Soos die gewoonte was met kinders van aristokrate, is 'n goewernante, Catherine Peebles, aangestel om na die vroeë opvoeding van Charles en sy jonger sibbes, Anne, Andrew en Edward, om te sien.

thumb|200px|Charles saam met sy ouers en suster, prinses Anne, in Oktober 1957 Buckingham-paleis het in 1955 aangekondig dat Charles 'n skool sal bywoon eerder as om 'n privaat onderwyser te hê. Hy was die eerste regmatige troonopvolger van Brittanje wat op dié manier opgevoed is. Op 7 November 1956 het Charles begin skoolgaan aan Hill House School in Wes-Londen.About the Prince of Wales royal.uk - 26 December 2018 Daarna het hy twee van sy vader se voormalige skole bygewoon: Cheam van 1958 af en Gordonstoun van 1962 af. In 1959 kry hy die titel "Prins van Wallis", maar die besetting sou eers plaasvind sodra hy volwassenheid bereik het.

In sy gemagtigde outobiografie van 1994 deur Jonathan Dimbleby word Elizabeth en Philip as fisiek en emosioneel afsydige ouers beskryf, en Philip word daarvan beskuldig dat hy Charles se sensitiewe geaardheid misken het deur hom te dwing om Gordonstoun by te woon, waar hy geboelie is. Charles het Gordonstoun egter later geloof en gesê die skool het hom baie oor homself en sy eie vermoëns en onvermoëns geleer. "Dit het my geleer om uitdagings te aanvaar en die leiding te neem." In 1975 het hy in 'n onderhoud gesê hy is bly dat hy Gordonstoun bygewoon het en dat die "hardheid van die plek baie oordryf word". Charles het sy skoolopvoeding in 1967 voltooi.

Charles het ná skool vir die tweede keer die tradisie verbreek deur reguit universiteit toe te gaan, eerder as om by die Britse weermag aan te sluit. In Oktober 1967 is hy toegelaat tot Trinity-kollege in Cambridge, waar hy vir die eerste deel van sy tyd daar argeologie en antropologie bestudeer het voordat hy na geskiedenis oorgeslaan het. In sy tweede jaar het Charles die Universiteitskollege van Wallis in Aberystwyth bygewoon. Hy het op 23 Junie 1970 aan die Universiteit van Cambridge afstudeer met 'n B.A.-graad. Hy was die eerste Britse regmatige troonopvolger met 'n universiteitsgraad. Op 2 Augustus 1975 het Cambridge 'n MA aan hom toegeken. Aan Cambridge is MA 'n akademiese rang en nie 'n nagraadse graad nie.

Prins van Wallis thumb|240px|Charles by die Amerikaanse president Richard Nixon tydens 'n ampsbesoek aan die VSA in Julie 1970.

Charles het op 26 Julie 1958 die titels Prins van Wallis en Graaf van Chester gekry, hoewel sy inhuldiging eers op 1 Julie 1969 gehou is toe sy ma hom in 'n televisieuitsending kroon. Hy het sy setel in die Britse Hoërhuis in 1970 ingeneem en sy eerste toespraak in Junie 1974 gelewer. Hy was die eerste koninklike wat 'n toespraak daar lewer ná die toekomstige Edward VII in 1884.

Charles het begin om meer openbare pligte na te kom en die Prince's Trust in 1976 gestig. In 1981 het hy na die VSA getoer.

Militêre opleiding en loopbaan Charles het in die Britse Lugmag gedien, en het ook in die voetspore van sy pa, oupa en twee oupagrootjies gevolg deur in die Britse Vloot te dien. Tydens sy tweede jaar aan Cambridge het hy versoek om lugmagopleiding te kry en dit ontvang. Op 8 Maart 1971 het hy self na die lugmagkollege Cranwell gevlieg om verder daar as vlieënier opgelei te word.

Hy het daarna 'n vlootloopbaan gevolg. In 1974 het hy as 'n helikoptervlieënier gekwalifiseer en by die vloot se lugeskader aangesluit. Hy het ophou vlieg ná 'n ongeluk in 1994, waarvoor 'n ondersoekraad die bemanning verantwoordelik gehou het.

Amptelike pligte Op sy 18de verjaardag (14 November 1966) het hy, as erfgenaam van die troon, een van die vier staatsraadgewers (councellors of state) geword.

In 2008 het The Daily Telegraph Charles beskryf as die "lid van die koninklike familie wat die hardste werk". Hy het in dié jaar 560 amptelike afsprake gehad, in 2010 altesaam 499 en in 2011 meer as 600.

duimnael|240px|Charles, die Hertogin van Cornwall en die koningin op 7 Junie 2011 saam met Walliese politici in die gebou van die Walliese parlement in Cardiff. As Prins van Wallis het Charles amptelike pligte namens die koningin uitgevoer. Hy het inhuldigings gedoen en die begrafnis van oorsese ampsdraers bygewoon. Hy het dikwels na Wallis gereis en elke somer 'n week lank afsprake daar nagekom en belangrike nasionale gebeure bygewoon.

In 1970 het Charles Bermuda besoek vir die viering van die parlement se 350ste herdenking. Hy het ook die koningin verteenwoordig op die onafhanklikheidsvierings in Fidji in 1970, die Bahamas in 1973, Papoea-Nieu-Guinee in 1975, Zimbabwe in 1980Zimbabwe Gains Independence en Broenei in 1984.

In 1983 het Christopher John Lewis, wat in 1981 'n skoot met 'n .22-geweer op die koningin gevuur het, uit 'n psigiatriese hospitaal probeer ontsnap om 'n sluipmoord uit te voer op Charles, wat Nieu-Seeland saam met Diana en William besoek het. Terwyl Charles Australië in Januarie 1994 op Australiëdag besoek het, het David Kang twee skote met 'n afsitpistool op hom gevuur uit protes teen die behandeling van 'n paar honderd Kambodjaanse asielsoekers wat in kampe aangehou is. In 1995 was Charles die eerste lid van die koninklike familie wat die Republiek Ierland in 'n amptelike hoedanigheid besoek het. In 1997 het hy die koningin by die oorhandigingseremonie van Hongkong verteenwoordig.

Charles en die Hertogin van Cornwall het ook 'n week per jaar in Skotland deurgebring. Hy is die beskermheer van verskeie Skotse organisasies. Sy diens aan die Kanadese weermag laat hom toe om oor troepaktiwiteite ingelig te word en om die troepe te besoek terwyl hy in Kanada is en aan seremonies deel te neem.

Op die begrafnis van pous Johannes Paulus II in 2005 het Charles per ongeluk 'n opskudding veroorsaak deur die hand van Robert Mugabe, die president van Zimbabwe, te skud wat langs hom gesit het. Sy kantoor het in 'n verklaring gesê die prins is onverhoeds betrap en kon dit nie vermy om Mugabe se hand te skud nie. Hulle het ook gesê Charles is gekant teen die huidige Zimbabwiese regering.

duimnael|240px|links|Charles op sy negende besoek aan Nieu-Seeland in 2015. In 2010 het Charles die koningin verteenwoordig op die openingseremonie van die Statebondspele in Delhi, Indië. Hy het ook amptelike geleenthede in Brittanje bygewoon ter ondersteuning van Statebondslande, soos die Christchurch-aardbewingsgedenkdiens in Westminster-abdy in 2011. Van 15 tot 17 November 2013 het hy die koningin die eerste keer verteenwoordig op 'n vergadering van die hoofde van Statebondslande in Colombo, Sri Lanka.

Charles en die Hertogin van Cornwall het die republiek Ierland in Mei 2015 die eerste keer saam besoek. Die Britse ambassade het die besoek genoem 'n belangrike stap in "die bevordering van vrede en versoening". Tydens die besoek het Charles in Galway die hand geskud van Gerry Adams, die Sinn Féin- en vermeende IRL-leier. Die media het dit beskryf as 'n "historiese handdruk" en 'n "belangrike oomblik vir Anglo-Ierse betrekkinge". Voor die besoek is twee Ierse republikeinse andersdenkendes in hegtenis geneem vir die beplanning van 'n bomaanval. Vuurpyle is gevind in die huis in Dublin van een verdagte, Donal Ó Coisdealbha. Hy is later vyf en 'n half jaar gevangenisstraf opgelê.

Op 7 Maart 2019 het die koningin 'n geleentheid by Buckingham-paleis gehou vir die 50ste herdenking van Charles se inhuldiging as Prins van Wallis. Gaste het ingesluit die Hertogin van Cornwall, die Hertog en Hertogin van Cambridge, die Hertog en Hertogin van Sussex, die premier, Theresa May, en die Walliese premier, Mark Drakeford. In dieselfde maand het Charles en Camilla op versoek van die Britse regering 'n ampsgesoek aan Kuba gebring: Hulle was die eerste Britse koninklikes wat die land besoek het.

duimnael|240px|Charles lewer 'n toespraak in Bridgetown nadat Barbados 'n republiek geword het, November 2021. Op 25 Maart 2020 is aangekondig Charles het Covid-19 opgedoen. Hy en sy vrou het hulle in hulle Birkhall-tuiste geïsoleer. Camilla het negatief getoets. Clarence House het aangekondig Charles het net "ligte simptome".

In November 2021 het Charles seremonies bygewoon om Barbados se oorgang na 'n republiek te vier. Die koningin is daarmee verwyder as die land se staatshoof. Charles is as die toekomstige hoof van die Statebond deur die eerste minister genooi, en dit was die eerste keer dat 'n lid van die koninklike familie die oorgang van 'n eertydse Statebondslid na 'n republiek bygewoon het.

duimnael|240px|Charles lewer die koningin se parlementstoespraak namens haar, Mei 2022 Op 10 Februarie 2022 is aangekondig dat Charles weer positief vir Covid-19 getoets het en dat hy selfisoleer. Sy vrou en die koningin het ook later positief getoets. Charles en Camilla is in Februarie 2021 die eerste keer ingeënt.

In hul hoedanighede as staatsraadslede het hy en prins William die opening van die Britse parlement in Mei 2022 bygewoon en hy het die koningin se toespraak vir die eerste keer namens haar gelewer.

Liefdadigheidswerk