Istanboel 280px Kaart Wapen 200px|senter Vlag Land  Administratiewe gewes Marmara Provinsie Istanboel Koördinate  Stigting 660 v.C. (Byzantion) Stigting van Nova Roma (Konstantinopel) 11 Mei 330 Turkse verowering 29 Mei 1453 Oppervlak:    - Totaal 1 830,92 vk km  Hoogte bo seevlak 40 m Bevolking:    - Totaal (2010) 13 120 596  - Bevolkingsdigtheid 7 166/vk km  - Metropolitaanse gebied (1 Januarie 2008) 28 550 000 Tydsone OET – UTC +2  - Somertyd OEST – UTC +3 Burgemeester Ekrem İmamoğlu (CHP) Amptelike webwerf

Istanboel of Istanbul (Turks: İstanbul, [isˈtanbuɫ], ) is die grootste stad in Turkye en met ’n bevolking van sowat 12 miljoen een van die grootste stede ter wêreld. Dit is die kulturele, ekonomiese en finansiële sentrum van Turkye.

Die stad lê in die Istanboel-provinsie en beslaan 27 van die provinsie se 39 distrikte. Dit is in die noordweste van die land aan die Bosporus-seestraat geleë en omsluit die natuurlike hawe die Goue Horing. Dit strek oor beide die Europese kant (Thrakië) en die Asiatiese kant (Anatolië) van die Bosporus en is die enigste stad ter wêreld wat op twee kontinente geleë is.

Sy geskiedenis strek oor ’n tydperk van 3 000 jaar en dit word as een van die oudste stede beskou wat steeds bestaan. In sy lang geskiedenis was Istanboel die hoofstad van die Romeinse (330–395), die Bisantynse (395–1204 en 1261–1453), die Latynse (1204–1261) en die Ottomaanse Ryk (1453–1922). Dit is aangewys as Europa se kulturele hoofstad van die jaar 2010. Die historiese dele van die stad is sedert 1985 ’n Unesco-wêrelderfenisgebied.

Name duimnael|250px|Istanboel met sonsondergang. Die moderne Turkse naam İstanbul (isˈtanbuɫ, in streekstaal ook ɯsˈtambuɫ) is in verskeie variante al sedert die 10de eeu vir die stad gebruik. Die Turke het dit al so genoem voor die verowering van Konstantinopel in 1453. Die naam kom van die Middeleeuse Griekse εἰς τὴν Πόλιν (is tin ˈpolin), of in die Egeïese dialek εἰς τὰν Πόλιν (is tan ˈpolin), wat "in die stad" of "na die stad" beteken.

Bisantium is die eerste bekende naam van die stad. Dit is in 667 v.C. gestig deur setlaars van die stadstaat Megara, en hulle het dit na hulle koning, Bisas, genoem. Nadat die Romeinse keiser Konstantyn die Grote die stad op 11 Mei 330 die nuwe hoofstad van die Oos-Romeinse Ryk gemaak het, het dit bekend geword as Konstantinopolis (die Latynse vorm van die Griekse Κωνσταντινούπολις, wat beteken "Stad van Konstantyn"). Sy opvolger, Konstantyn II, het probeer om die naam na "Nova Roma" (Nuwe Rome) te verander, maar dit het nie inslag gevind nie. Die naam Konstantinopel word reeds in amptelike dokumente onder keiser Theodosius II (408–450) aangetref. Dit het deur die Bisantynse tydperk die amptelike naam gebly.

Istanboel het ook al die bynaam "Die Stad op Sewe Heuwels" gekry, omdat die oudste deel, die historiese skiereiland, nes Rome op sewe heuwels gebou is, met ’n historiese moskee op elke heuwel. Die heuwels word in die stad se embleem uitgebeeld as sewe driehoeke, met vier minarette wat bo hulle uittroon.

Spelling in Afrikaans In Afrikaans word die vorms "Istanboel" en "Istanbul" albei as korrek aanvaar. Dit word nie soos in Turks geskryf met ’n punt op die I nie. In Turks is daar ’n onderskeid tussen ’n i met ’n punt (hoofletter İ) en ’n ı sonder ’n punt (hoofletter I).

Geskiedenis Bisantium duimnael|250px|Die ligging van die huidige Kadıköy, waar ’n hawenedersetting uit die tyd van die Fenesiërs ontdek is. In 2008, tydens die bou van die Yenikapı-moltreinstasie en die Marmaray-tonnel op die historiese skiereiland aan die Europese kant, is ’n voorheen onbekende nedersetting van omstreeks 6700 v.C., uit die Nuwe Steentydperk, ontdek.BBC: "Istanbul's ancient past unearthed" Gepubliseer op 10 Januarie 2009. URL besoek op 11 Januarie 2009. Die eerste nedersetting aan die Anatoliese kant, die Fikirtepe-heuwel, is uit die Kopertydperk, met artefakte wat uit 5500–3500 v.C. dateer. In die nabygeleë Kadıköy (Chalcedon) is ’n hawenedersetting uit die tyd van die Fenesiërs ontdek. Cape Moda in Chalcedon was die eerste plek wat die Griekse setlaars van Megara in 685 v.C. gekolonialiseer het voordat hulle Bisantium aan die Europese kant van die Bosporus in 667 v.C. verower het onder bevel van koning Bisas. Bisantium is gestig op die terrein van ’n antieke hawenedersetting met die naam Lygos, wat saam met die naburige Semistra tussen die 13de en 11de eeu v.C. deur Thraciese stamme gestig is. Net ’n paar mure van Lygos is vandag nog oor, naby die Seraglio-punt (Turks: Sarayburnu), waar die beroemde Topkapı-paleis nou staan. In die Bisantynse tydperk het die Akropolis op dié plek gestaan.

Nadat die Bisantyne hulle verset het teen die magte van die Romeinse keiser Septimius Severus, het die Romeine die stad in 196 n.C. verower. In 324 het Bisantium die aandag getrek van Konstantyn die Grote nadat hy sy medeheerser Licinius op 18 September 324 oorwin het by die Slag van Chrysopolis (Üsküdar) aan die Bosporus, wat die burgeroorlog tussen die twee keisers finaal beëindig het. Bisantium, toe bekend as Nova Roma en later as Konstantinopel, is ses jaar later, in 395, aangewys as die nuwe hoofstad van die Romeinse Ryk.

Ná die dood van Theodosius I in 395 en die permanente verdeling van die Romeinse Ryk tussen sy twee seuns, het Konstantinopel die hoofstad van die Oos-Romeinse Ryk (Bisantynse Ryk) geword. Sy unieke ligging tussen twee kontinente het dit ’n gewilde sentrum vir internasionale handel, kultuur en diplomasie gemaak. Die Bisantynse Ryk was duidelik Grieks wat kultuur betref en het die sentrum van die Griekse Ortodokse Christendom geword. Manjifieke kerke is gebou, onder andere die Aya Sophia, eens die wêreld se grootste katedraal. Die setel van die Patriarg van Konstantinopel, die spirituele leier van die Oosters-Ortodokse Kerk, is steeds in die Istanboelse distrik Fener (Phanar).

duimnael|250px|Vloot van Venesië en van die kruisvaarders voor Konstantinopel in 1203. Les passages d'Outremer: Bibliothèque Nationale de France. In 1203 het die Vierde Kruistog begin om Jerusalem te verower, maar die kruisvaarders het hulle in plaas daarvan na Konstantinopel gewend. Die stad is verwoes en ontheilig. Dit was daarna die hoofstad van die Katolieke Latynse Ryk van die kruisvaarders en is verdeel in ’n aantal splinterstate. Een van hulle, die Ryk van Nicea, het Konstantinopel in 1261 terugverower onder bevel van Michael VIII Paleologus.

In die laaste dekades van die Bisantynse Ryk se bestaan het die stad agteruitgegaan terwyl die Bisantynse staat al hoe meer geïsoleerd en finansieel bankrot geraak het. Die inwoners al hoe kwesbaarder geword vir aanvalle van buite. Die Ottomaanse Turke het met ’n strategie begin waarvolgens hulle sekere dorpe en kleiner stede mettertyd oorgeneem het: Bursa in 1326, İzmit (Nikomedia) in 1337, Gallipoli in 1354 en eindelik Edirne (Adrianopel) in 1362. Dit het Konstantinopel afgesny van sy hoofroetes vir voorraad en dit is geleidelik doodgewurg.

Ottomaanse Ryk duimnael|links|Die Galata-toring. Op 29 Mei 1453 het sultan Mehmet II (Mehmet die Veroweraar) Konstantinopel verower ná ’n beleg van 53 dae (waartydens die laaste Bisantynse keiser, Konstantyn XI, dood is). Hy het die stad as die nuwe hoofstad van die Ottomaanse Ryk aangewys. Sultan Mehmet het die stad se ekonomie herstel, die Groot Basaar laat bou en die voortvlugtige Ortodokse en Katolieke inwoners gevra om na die stad terug te keer. Gevangenes is vrygelaat om in die stad te gaan woon, terwyl provinsiale goewerneurs in Roemelië en Anatolië gelas is om 4 000 gesinne te stuur om daar te kom bly, ongeag of hulle Moslems, Christene of Jode was, en so is ’n unieke kosmopolitiese gemeenskap gevestig.

Die sultan het die stad ook van verskeie argitektoniese monumente voorsien, soos die Topkapı-paleis en die Eyüp Sultan-moskee. Die Fatih-moskee is gebou op die plek waar die Kerk van die Heilige Apostels eers gestaan het, met aangrensende skole, hospitale en openbare baddens. Sultan Süleyman die Manjifieke se bewind van 1520 tot 1566 was ’n tydperk van groot artistieke en argitektoniese hoogtepunte. Die bekende argitek Mimar Sinan het baie moskees en ander groot geboue ontwerp, terwyl die Ottomaanse kunsvorms keramiek, kalligrafie en miniatuur-skilderye gefloreer het.

Turkye duimnael|Die Taksim-plein in Istanboel. Toe die Republiek van Turkye in 1923 gestig is deur Mustafa Kemal Atatürk, is die hoofstad geskuif na Ankara. In die vroeë jare van die republiek is Istanboel afgeskeep ten gunste van Ankara, maar vanaf die laat 1940's en vroeë 1950's het die stad groot veranderinge ondergaan – nuwe pleine soos Taksim-plein, boulevards en lane is oral in die stad gebou; soms het historiese geboue in die slag gebly daarvoor.

Sedert die 1970's het die stad se bevolking vinnig toegeneem toe mense van Anatolië daarheen getrek het op soek na werk in die talle fabrieke wat in die buitewyke van die groot metropool ontstaan het. Dit het ’n groot behoefte aan behuising veroorsaak en baie dorpe en woude is deur die groeiende Groter Istanboel opgeslurp. Onwettige bouwerk en kortpaaie is die rede dat 65% van die geboue in die stad sonder vooraf beplanning gebou is. Kommer het toegeneem ná die rampspoedige aardbewing op 17 Augustus 1999 in die stad İzmit. Op 9 September 2009 was daar ook aansienlike vloede in die stad.

Geografie Ligging duimnael|upright|Istanboel en die Bosporus vandag. Istanboel is in die noordwestelike Marmara-streek van Turkye geleë. Vanweë sy ligging weerskante van die Bosporus is die stad in Europa sowel as Asië geleë. Die eintlike stad beslaan ’n gebied van 1 830,93 km2, terwyl die metropolitaanse streek, of die Istanboel-provinsie, 6 220 km2 groot is.

Geologie Istanboel lê naby die Noord-Anatoliese breuk, wat van Noord-Anatolië tot by die See van Marmara loop. Twee tektoniese plate, die Afrika- en die Aurasiese plaat, druk hier teen mekaar. Dit was al verantwoordelik vir verskeie rampspoedige aardbewings. In 1509 het ’n katastrofiese aardbewing ’n tsoenami veroorsaak wat oor die seemure van die stad gespoel het – 10 000 mense is dood en 100 moskees verwoes. In 1766 is die Eyüp Sultan-moskee grootliks verwoes. Die 1894-aardbewing het groot dele van die Groot Basaar laat ineenstort. In ’n groot aardbewing op 17 Augustus 1999 met sy episentrum in die nabygeleë İzmit, is 18 000 mense dood en nog duisende dakloos gelaat. In al hierdie aardbewings is die rampspoedige gevolge veral te wyte aan die digtheid van geboue en swak bouwerk. Seismoloë voorspel nog ’n aardbewing van waarskynlik 7,0 op die Richterskaal voor 2025.

Flora duimnael|Ingang tot die Yıldız-park. duimnael|Binne die Gülhane-park. Istanboel en die Marmara-streek waarin dit geleë is, het ’n gematigde klimaat. Maar vanweë Istanboel se geografiese ligging en lengtegraad het dit ’n "oorgangsklimaat", tussen dié van die oseaniese klimaat van die Swartsee, die humiede kontinentale klimaat van die Balkan-skiereiland en die Mediterreense klimaat van die suidweste. Dit word weerspieël in sy flora, want plante van al drie klimaatsoorte floreer hier. Vanweë die konstante humiede klimaat groei ook plante van die Euro-Siberiese ekostreek hier, veral in die noordelike dele naby die kus van die Swartsee. Meer Mediterreense plante kan gesien word in die warmer dele suid van die stad, veral op die Prinse-eilande, die enigste plek in Istanboel met oorheersend Mediterreense vegetasie.

Die stad se ware en dominante bioom is gematigde breëblaar- en gemengde woude. Sowat 44% van die Istanboel-provinsie is met woude bedek. Twee groot gemengdeblaar-woude is die Alemdağ-woud aan die Asiatiese kant en die Belgrado-woud aan die Europese kant, wat beskou word as die stad se longe. Voorbeelde van ongerepte oerwoude kan ook in die hart van Istanboel, weerskante van die Bosporus, gesien word. Die dominante boomspesie is die eikeboom. Ander spesies sluit in beukebome, kastaiings, populiere, else, haselneutbome, olms, lindebome en wilgers.