Mandisa Muriel Lindelwa Maya Mlokoti (gebore 20 Maart, 1964) is Suid-Afrikaanse regsgeleerde wat sedert September 2024 as die Hoofregter van die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika dien. Sy is die eerste vrou om die amp te beklee. Sy was ook die eerste vrou om as regterpresident van die Appèlhof (HHA) te dien. Sy het die aanstelling beklee vanaf 26 Mei 2017, voordat sy die benoeming as die eerste vroulike adjunkhoofregter van die Grondwetlike Hof in September 2022 aanvaar het. Sy is ook die eerste vroulike kansellier van die Universiteit van Mpumalanga, welke aanstelling sy sedert 1 Julie 2021 beklee. Sy het voorheen gedien as onder andere regter van die Mthatha Hooggeregshof, as juniorregter van die Appèlhof, en later as adjunk-regterpresident van dieselfde hof, bykomend tot aanstellings as waarnemende regter by verskeie howe.

Op 3 Mei 2022 het Maya President Cyril Ramaphosa se benoeming om as adjunkhoofregter vir Suid-Afrika aangestel te word aanvaar.

Vroeë lewe en opvoeding Mandisa Maya is op 20 Maart 1964 in Tsolo in die destydse Transkei gebore as die oudste van ses kinders. Haar ma en pa was albei onderwysers. Sy het grootgeword in King William's Town naby die voormalige Ciskei-tuisland, en matrikuleer aan St John's College, Mthatha. Hierna sou sy voortgaan om drie regsgrade te verwerf aan onderskeidelik die Universiteit van Transkei, die Universiteit van Natal (ontbind op 1 Januarie 2004, tans deel van die Universiteit van KwaZulu-Natal) en Duke-universiteit in die Verenigde State vanaf 1986 tot 1990.

Loopbaan Regter Maya het aanvanklik van 1987 tot 1988 as regsklerk (kandidaatprokureur) by Dazana Mafungo Ing. in Mthatha gewerk, voordat sy 'n betrekking aanvaar het as tolk en aanklaer by die Mthatha-landdroshof. Hierna was sy van 1991 tot 1993 assistent-staatsregsadviseur, voordat sy haar klerkskap (aansoek om as advokaat toegelaat te word en te praktiseer) by die Johannesburgse Balie in 1993 voltooi het. Sy was 'n geruime tyd in die VSA werksaam by die Woman's Legal Defense Fund in Washington DC as regsbeleidsadvokaat. Vanaf 1993 tot 1995 het Maya as regsdosent aan die Universiteit van Transkei (tans deel van die Walter Sisulu Universiteit vir Tegnologie en Wetenskap) doseer, en ook as advokaat in Transkei gepraktiseer.

Maya is in 1999 na die regbank opgeroep, aanvanklik as waarnemende regter van die Mthatha Hooggeregshof, en daarna in die arbeidshof te Grahamstad, Port Elizabeth, die Bisho Hooggeregshof, die Appèlhof, vanaf 2005, en die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika, vanaf 2011. Sy het in 2008 as waarnemende Regter van die Hooggeregshof van Namibië gedien, en ook in 2015 in dié hoedanigheid by die Appèlhof van Lesotho.

Maya is in 2016 as president van Suid-Afrika se Appèlhof in Bloemfontein aangestel; die eerste vrou wat die rol beklee het, en op 3 Mei 2022 aanvaar Maya President Cyril Ramaphosa se benoeming om as die eerste vroulike adjunkhoofregter van Suid-Afrika te dien.

Maya is in Julie 2024 deur Ramaphosa as Suid-Afrika se eerste vroulike hoofregter aangewys. Sy het die amp op 1 September 2024 aanvaar.Ministry welcomes the appointment of Justice Mandisa Maya as Chief Justice Eerbewyse en toekennings Regter Maya het eredoktorsgrade in regte van 'n aantal universiteite ontvang. Sy is verkies tot president van die Suid-Afrikaanse afdeling van die Internasionale Vereniging van Vroueregters, en het in 2012 die Suid-Afrikaanse Vroueprokureurs-ikoon-toekenning ontvang vir haar rol in die bemagtiging en mentorskap van vroue in beide die regbank en die breër regsprofessie.

Persoonlike lewe Maya is getroud met Dabulamanzi Mlokoti en het drie kinders.

Verwysings

Kategorie:Geboortes in 1964 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Suid-Afrikaanse regters Kategorie:Xhosas