thumb|200px|Mowgli was ’n fiktiewe wilde kind in Rudyard Kipling se The Jungle Book.
’n Wilde kind, soms ook ’n wolwekind genoem, is ’n menslike kind wat van ’n vroeë ouderdom af alleen in die natuur oorleef en geen kontak met ander mense gehad het nie. Hy het dus geen of min ondervinding van menslike sorg, gedrag en taal. Daar is verskeie bevestigde én spekulatiewe gevalle.
Wilde kinders kon erg mishandel gewees of trauma ondergaan het voordat hulle aan hulle lot oorgelaat is of van die huis af weggeloop het. Hulle is soms die onderwerp van folklore en legendes, en word gewoonlik uitgebeeld as dat hulle deur diere grootgemaak is.
Beskrywing Wilde kinders ontbreek die basiese sosiale vermoëns wat gewoonlik deur ’n kind aangeleer word. Hulle is dalk nie in staat om te leer hoe om ’n toilet te gebruik nie, leer moeilik regop loop nadat hulle lank hande-viervoet gekruip het, of toon ’n algehele gebrek aan belangstelling in die menslike bedrywighede om hulle. Hulle kom dikwels verstandelik gestrem voor en kan soms glad nie ’n taal aanleer nie.
Min wetenskaplike kennis bestaan oor wilde kinders. Een van die bes gedokumenteerde gevalle was veronderstel om die een te wees van die susters Amala en Kamala wat in 1926 deur eerwaarde J.A.L. Singh beskryf is. Hulle is glo in ’n woud in Indië deur wolwe grootgemaak. Die Franse chirurg Serge Aroles het egter gereken dit is ’n bedrogspul wat deur Singh uitgedink is om geld vir sy kinderhuis in te samel. Volgens die kindersielkundige Bruno Bettelheim is Amala en Kamala fisiek en verstandelik gestrem gebore.
Tog bestaan daar ander wetenskaplike studies oor wilde kinders, soos die geval van Genie.
Geskiedenis Voor die 1600's was verhale van wilde kinders gewoonlik tot mites en legendes beperk. In dié verhale is beskryf hoe wilde kinders kos soek, hande-viervoet loop en geen taal ken nie. Filosowe en wetenskaplikes het belanggestel in die konsep van sulke kinders en het begin wonder of hulle dalk van ’n ander spesie van die menslike familie is.
Die vraag is ernstiger opgeneem toe die wetenskap in die 18de en 19de eeu probeer het om die ontwikkeling van die mens te benoem en kategoriseer, en die natuur beter te verstaan. Omstreeks die 20ste eeu het sielkundiges probeer onderskei tussen biologiese gedrag en kultuur. Wilde kinders wat afgesonder of saam met diere gewoon het, het voorbeelde van dié dilemma verskaf.
Aangetekende gevalle van wilde kinders Deur primate/ape grootgemaak Marina Chapman het beweer sy het tussen die ouderdomme van vyf en nege jaar in die woude van Colombia saam met ape gewoon ná 'n mislukte poging tot ontvoering in omstreeks 1954. Sy het later getrou, kinders gehad en 'n grootliks normale lewe gelei sonder blywende probleme, wat ongewoon vir 'n wilde kind is. Robert Mayanja (1982) het op sowat drie jaar sy ouers in die Ugandese Burgeroorlog verloor toe Milton Obote se soldate hulle dorpie, sowat 80 km van Kampala af, geplunder het. Robert het vermoedelik drie jaar lank saam met ape in die natuur oorleef, totdat soldate van die Nasionale Weerstandsleër op hom afgekom het. Saturday Mthiyane (1987), 'n seun van sowat vyf jaar oud, is ontdek nadat hy sowat 'n jaar saam met ape in KwaZulu-Natal, Suid-Afrika, deurgebring het. Hy is Saturday gedoop omdat hy op 'n Saterdag gevind is, en Mthiyane was die van van die skoolhoof van die spesiale skool wat haar oor hom ontferm het. Op sowat 17 jaar kon hy nog nie praat nie, en het hy soos 'n aap geloop en gespring. Hy het nooit gekookte kos geëet nie en het geweier om saam met ander kinders te speel of iets met hulle te deel. Hy is in 2005 in 'n brand dood. John Ssebunya van Uganda was 'n kleuter toe sy pa sy ma vermoor en daarna selfmoord pleeg. Hy het saam met ape gaan woon. Twee jaar lank het hy geleer hoe om kos te soek en te reis terwyl die ape hom beskerm het. Op sowat sewe jaar is hy teruggebring na die beskawing. Volgens 'n dorpenaar was sy enigste vorm van kommunikasie om te huil en kos te vra, en was hy 'n "wilde seun" vir wie almal bang was.
thumb|220px|Dina Sanichar as jong man, omstreeks 1889-1894.
Deur wolwe grootgemaak Hessiaanse wolwekindersFantini, Alvino. Language Acquisition of a Bilingual Child: A Sociolinguistic Perspective (To Age Ten). VK: Multilingual Matters, 1985. (1304, 1341 en 1344) het saam met Eurasiese wolwe in die woude van Hesse gewoon. Dina Sanichar is in 1872 op sesjarige ouderdom tussen wolwe ontdek in 'n grot in Sikandra (naby Agra) in Uttar Pradesh, Indië. Hy het vir langer as 20 jaar tussen mense gaan woon en het selfs begin rook, maar het nooit leer praat nie en het sy hele lewe lank erg gestrem gebly. Marcos Rodríguez Pantoja (omstreeks 1946, Sierra Morena, Spanje), het 12 jaar lank saam met wolwe in die berge van Suid-Spanje gewoon. Hy is op 19 jaar ontdek.Lupine Lore by Walter Tarello Rodríguez se verhaal is in 2010 in die Spaans-Duitse rolprent Entrelobos vertel. Vir sy uitbeelding van Rodríguez is die jong akteur Manuel Camacho vir 'n Goyaprys vir beste nuwe akteur benoem.
Deur honde grootgemaak Oksana Malaja was 'n agt jaar oue Oekraïense meisie wat ses jaar lank saam met swart Russiese terriërs gewoon het. Sy is in 1991 saam met honde in 'n hondehok gevind. Sy is deur haar ouers, wat alkoholiste was, verwaarloos. Die driejarige meisie het op soek na vertroosting by die honde op die plaas ingekruip. Sy het meer soos 'n hond as soos 'n mens opgetree. Sy het hande-viervoet geloop, geblaf en haar tande gewys. Die welsyn het haar van haar ouers weggeneem. Sy kon net twee woorde sê: "ja" en "nee". Toe sy groot was, kon Oksana haar hondegedrag beteuel. Sy het vlot en intelligent leer praat en het op die plaas gewerk deur koeie te melk. Tog het sy intellektueel gedeeltelik gestrem gebly.У героини публикации «фактов» оксаны малой, которая выросла в… Собачьей конуре, нашлись родной брат и маленькая племянница, тоже оксана – 2003-opvolgartikel in Fakti i kommentariji (in Oekraïens). Oksana het jare later op 'n Russiese geselsprogram erken haar verhaal was effens minder dramaties. Sy is deur haar ouers verwaarloos en het die honde se geselskap opgesoek; sy het geleer om hulle na te aap omdat hulle meer reaksie as haar ouers getoon het. Iwan Misjoekof, 'n sesjarige seun wat in Reoetof, Rusland, gebore is, is in 1998 deur die polisie uit die sorg geneem van wilde honde, by wie hy twee jaar lank gewoon het. Hy het op vierjarige ouderdom van sy ma en haar mishandelende alkoholis-kêrel weggeloop. Hy het die honde se vertroue gewen deur vir hulle kos te gee en in ruil daarvoor het hulle hom beskerm. Die seun het opgang gemaak totdat hy die trop se dominante figuur ("alfamannetjie") was. Toe die polisie hom ontdek, het hulle hom en die honde in 'n lokval gelei deur kos in die kombuis van 'n restaurant te los. Omdat hy net sowat twee jaar tussen die honde gebly het, het hy taamlik gou weer leer praat. Hy het in die Russiese weermag gedien ná opleiding aan 'n militêre instelling. 'n 10-jarige seun van Chili is gered nadat hy twee jaar lank saam met honde gewoon het. Die seun is op vyfjarige ouderdom deur sy ouers aan sy lot oorgelaat. Nadat hy daarna uit 'n kindersorginrigting ontsnap het, het hy saam met 15 straathonde rondgeloop. Hy het saam met hulle in 'n grot gewoon en kos gesoek, soms in vullisdromme. In 2001 is sy situasie onder die polisie se aandag gebring. Toe die polisie hom probeer red, het hy weggehardloop en in die vrieskoue see gespring. Hy is egter gevang en in die hospitaal opgeneem. Hy was geneig tot depressie en aggressie en hoewel hy kon praat, het hy dit selde gedoen. Traian Căldărar van Roemenië, ook bekend as die "Roemeense hondeseun" of "Mowgli", is in 2002 ontdek. Van sy vierde tot sy sewende jaar het Traian sonder sy familie gelewe. Hy is op sewe jaar gevind en is as 'n driejarige beskryf weens wanvoeding. Sy ma het die gesin verlaat as gevolg van huislike geweld, en Traian het kort daarna weggeloop. Hy het alleen in 'n kartonboks gewoon. Hy het ontsteekte wonde gehad, asook swak sirkulasie en 'n kindersiekte weens 'n tekort aan vitamien D. In 2007 het Traian se oupa vir hom gesorg en het hy goed gevaar in graad drie op skool. Andrei Tolstik (2004) is in 'n afgeleë deel van Siberië deur honde grootgemaak vandat hy drie maande oud was tot op sewejarige ouderdom. Sy ouers het hom verwaarloos omdat hy spraak- en gehoorprobleme gehad het. Welsynwerkers wat hom gekry het, wou uitvind hoekom hy nie by die plaaslike skool ingeskryf is nie. Die seun kon nie praat nie omdat hy 'n gebrek aan menslike interaksie gehad het en het baie hondagtige eienskappe gehad, soos om hande-viervoet te loop, mense te byt en aan sy kos te ruik voordat hy eet. Madina was 'n driejarige meisie wat in 2013 in Rusland gevind is. Sy het van haar geboorte af saam met honde gewoon totdat sy ontdek is. Sy het saam met hulle in die koue geslaap, saam met hulle geëet en met hulle gespeel. Haar pa het die gesin kort ná haar geboorte verlaat en dit het daartoe gelei dat haar ma 'n alkoholis geword en haar verwaarloos het. Toe welsynwerkers haar in 2013 vind, was sy heeltemal nakend en het sy hondegedrag geopenbaar soos om aan bene te kou. Dokters het kort daarna bevestig sy is steeds verstandelik en fisiek kapabel, al is sy feitlik haar lewe lank verwaarloos.
Deur ander diere grootgemaak 'n 14-jarige seun, ook bekend as "die skaapseun" (2009), is in Kirgisië gevind waar hy al agt jaar lank saam met skape woon. Hy kon nie praat of die toilet gebruik nie. Sy ouers het gaan werk soek en hom in sy ouma se sorg gelaat. Dié het vir hom gesorg totdat sy dood is. Daniel (1990) het ook sowat agt jaar lank in die natuur gewoon. Hy is in die berge van Peru gevind waar hy deur bokke grootgemaak is en hande-viervoet saam met hulle gehardloop het. Hy het bokmelk gedrink en bessies en wortels geëet. 'n Seun met die naam Hadara, ook bekend as "die volstruisseun", is op sowat twee jaar deur sy ouers in die Saharawoestyn agtergelaat, waar hy deur volstruise aangeneem is. Op 12-jarige ouderdom is hy gered en na sy ouers teruggeneem. Hy het later getrou en kinders gehad. Sy storie word dikwels in die westelike Sahara vertel. In 2000 het Hadara se seun Ahmedu sy pa se storie aan die Sweedse skrywer Monica Zak vertel, en sy het dit in boekvorm gepubliseer.Zak M, Pojken som levde med strutsar, Opal Förlag, 2003.Zak M, "Möte med Hadaras son ", Västsahara, nr. 3-4/2001 (in Sweeds).
Ander aangetekende gevalle Nog ’n paar van die ander gevalle wat aangeteken is, is: Jean de Liège. Deur die natuurfilosoof sir Kenelm Digby beskryf in sy boek Two Treatises (1644). Victor van Aveyron (1800). Victor was ’n wilde kind wat 12 jaar lank in die woude van Aveyron gewoon het. Die onderwerp word met ’n sekere mate van realisme behandel in François Truffaut se rolprent van 1970 L’Enfant Sauvage. Dit handel oor ’n wetenskaplike se gesukkel om ’n wilde seun te rehabiliteer. 200px|thumb|Kaspar Hauser. Marie-Angélique Memmie Le Blanc was ’n beroemde wilde kind van die 18de eeu in Frankryk. Sy was onder andere bekend as die "wilde meisie van Champagne". Marie-Angélique het 10 jaar lank, van 10 tot 19 jaar, in die woude van Frankryk oorleef voordat dorpenaars in Songy in Champagne haar in September 1731 gevang het. Sy is in 1775 in Parys dood. Volgens dokumente het sy as volwassene leer lees en skryf, ’n unieke kenmerk onder wilde kinders. Hany Istók, ook bekend as Steve van die Moeras van Kapuvár, Hongarye (1749). Volgens dokumente wat in Kapuvár gebêre word, het twee vissermanne ’n kind in ’n moerasagtige woud aan ’n meer ontdek. Hy is na Kapuvár gebring, waar hy gedoop is en die naam Steven gekry het. Die plaaslike goewerneur het hom na sy kasteel geneem en probeer opvoed, maar die seun het eindelik ontsnap en terug na die woud gehardloop. Later het talle volksvertellings oor die seun ontstaan, waarin hy uitgebeeld is as halfvis, halfmens. , "Hany Istók legendája" (Legende van Hany Istók)