Die Seekoeirivier (ook Van Plettenbergrivier genoem) in die Noord-Kaap is 'n sytak van die Oranjerivier.

Die rivier ontspring op die noordelike helling van die Kompasberg in die Sneeuberge in die omgewing van die punt waar die Noord-, Oos- en die Wes-Kaap aan mekaar grens. Dit is suidwes van Richmond en suidsuidwes van Hanover.

Die Seekoeirivier het 'n lengte van nagenoeg 300 km en 'n totale opvanggebied van 8 700 km². Noordoos van die spoorweghalte Hanoverweg is die Mooimeisjeskopdam (Killowendam). Veral wes van Colesberg vind besproeiing van landerye uit die rivier plaas. In die Doornkloof-natuurreservaat, 50 km noordwes van Colesberg, by loop die Seekoeirivier in die Vanderkloofdam. Die dam se water stoot soms enkele kilometers in die Seekoeirivier op.

Stroomaf sluit eers die Elandskloofrivier vanaf noord van Nieu-Bethesda by die Seekoei aan. In hierdie sytak lê ten suide van Hanover die Kriegerspoortdam. Net verder noord sluit die Klein-Seekoeirivier aan.

By die samevloeiing met die Oranjerivier staan een van die twee Van Plettenberg-bakens.

Bibliografie cwac.birdmap.africa De Jongh, Michael: Karretjiemense van die Groot Karoo. Vergete afstammelinge van die vroegste Suid-Afrikaners. Pretoria: Unisa Pers, 2014. thebdi.org

Kategorie:Riviere in Noord-Kaap