Israel, ook Israël (Hebreeus: יִשְׂרָאֵל, Yisrā'el; Arabies: إِسْرَائِيل, Isrāʼīl), amptelik die Staat Israel (Hebreeus: מְדִינַת יִשְׂרָאֵל, Medīnat Yisrā'el, [mediˈnat jisʁaˈʔel], ; Arabies: دولة إسرائيل, Dawlat Isrāʼīl, [dawlat ʔisraːˈʔiːl]), is 'n demokratiese grondwetlike republiek in die Midde-Ooste en antieke tuisland van die Jode. Dit oorvleuel gedeeltelik met Palestina, tuisland van die Palestyne. Israel word begrens deur Sirië en Libanon in die noorde, Jordanië in die ooste, Egipte in die suidweste en die Middellandse See in die weste. Die amptelike hoofstad is Jerusalem, die setel van die presidentswoning, regeringskantore, hooggeregshof en die parlement (Knesset). Die sentrum van ekonomiese en tegnologiese aktiwiteit is Tel Aviv; hier is ook die meeste ambassades gesetel. Dit is die mees ontwikkelde land in die Midde-Ooste en een van die mees ontwikkelde in die wêreld. Dit is 26ste in die wêreld volgens BBP en 16de volgens BBP per capita.

Geskiedenis duimnael|links|'n Israelse vlag waai in die Negev-woestyn duimnael|links|Internasionale erkenning van Israel As gevolg van Zionisme, wat 'n Joodse tuisland in die destydse Britse mandaat van Palestina geëis het, is die moderne staat Israel op 14 Mei 1948 uitgeroep en feitlik onmiddellik deur Arabiese lande aangeval.

Die geskiedenis van dié land tot op hede was en bly omstrede en die vroeë jare van die 21ste eeu word gekenmerk deur aanvalle op Israeli burgers deur Palestynse vegters en 'n gepaardgaande determinasie van die regering van Israel om 'n totale skeiding in die alledaagse lewe tussen die Palestyne, wat grotendeels nie Israeli burgers is nie, en die burgers van Israel te bewerkstellig. Nie-Joodse burgers van Israel, waaronder sowat een miljoen Arabiessprekende mense, geniet wel burgerskap en stemreg.

Sedert 29 Desember 2022 regeer die Netanyahu VI-kabinet met Benjamin Netanyahu van die konserwatiewe Likoed-party as eerste minister.

Geografie duimnael|links|Topografiese kaart van Israel Israel strek oor 'n lengte van 470 kilometer in noord-suidelike rigting, terwyl dit tussen 15 en 135 kilometer wyd is. Die land word in die noorde deur Libanon, in die ooste deur Sirië en Jordanië, en Egipte in die suidweste begrens. Die land het 'n kuslyn langs die Middellandse See in die weste en aan die suide die Golf van Eilat, wat ook as die Golf van Akaba bekend staan. In die ooste vloei die Jordaanrivier.

Alhoewel die land baie klein is, is daar verskillende klimaatsones. Die beboste noorde het 'n gematigde klimaat, terwyl die suide baie warm en woestynagtig is. Sowat die helfte van Israel se oppervlak word deur woestyne soos die Negev beslaan. Die kusgebiede langs die Middellandse See en die Jordaanvallei is subtropiese gebiede. Die Dooie See aan die Israel-Jordaanse grens is die laagste plek onder seespieël ter wêreld.

Gedurende die Sesdaagse Oorlog het Israel in 1967 die Wesoewer (Engels: West Bank) van die Hasjemitiese Koninkryk van Jordanië, die Golanhoogtes van Sirië en die Sinai-skiereiland van Egipte verower. Israel het sy troepe en setlaars op die Sinai-skiereiland in 1982 en dié in die Gasastrook tot 12 September 2005 onttrek. Die toekomstige status van die Wesoewer, die Gasastrook en die Golanhoogtes is tans nie duidelik nie.

Die totale oppervlak van Israel, sonder die gebiede wat in 1967 verower is, beslaan 20 770 vierkante kilometer. Een persent hiervan is wateroppervlaktes.

Die totale oppervlak van alle gebiede wat tans deur Israel beheer word, ook Oos-Jerusalem en die Golanhoogtes, is 22 145 vierkante kilometer. As die Wesoewer ingesluit word, wat reeds gedeeltelik selfregerende status verkry het, beslaan Israel se oppervlak 28 023 vierkante kilometer.

Daar is vier metropolitaanse gebiede in Israel (2017): Tel Aviv en omgewing met 3 854 000 inwoners Jerusalem en omgewing met 1 254 000 inwoners Haifa en omgewing met 924 000 inwoners Be'er Sheva en omgewing met 377 000 inwoners

Demografie duimnael|links|Ná eeue van diskriminasie en vervolging – die foto toon Joodse kinders wat die slagoffers van 'n anti-Joodse pogrom in Rusland geword het – het Joodse mense in Israel 'n nuwe tuiste gevind Met 'n bevolking van sowat 9,6 miljoen is Israel tans die 92ste mees bevolkte land in die wêreld.

Sowat 91 persent van die bevolking is verstedelik. Die Joodse godsdiens en Westerse modernisme oefen die grootste invloede op die huidige Israelse samelewing uit, alhoewel ook ander godsdienste en kulture van die Midde-Ooste 'n rol speel. Israelse burgerskap kan deur geboorte of inburgering verkry word. Ook dubbele burgerskap word erken, onder meer in die geval van Amerikaanse Jode, wat hulle in Israel gevestig het en ingeburger is.

Die reg op godsdiensvryheid word in die Israelse grondwet gewaarborg, en die groot aantal heilige plekke in die land word deur die betrokke godsdienstige gemeenskappe beheer. Vrye toegang daarin en beskerming teen ontwyding daarvan word deur 'n aantal wette beheer.

Amptelike statistiek verdeel die bevolking in burgers van Joodse en nie-Joodse afkoms. In die jaar 2004 was 81 persent van alle Israelse burgers van Joodse afkoms (uitgesluit die bevolking van die besette gebiede).

Die Joodse bevolking word verdeel in: die sogenaamde Watikim of bewoners van die Jisjoef, dit wil sê die ou Joodse nedersettings, wat reeds voor die stigting van die Staat Israel bestaan het, en burgers, wat voor die stigting van die staat geïmmigreer het; die sogenaamde Olim, dit wil sê mense wat hulle ná die stigting van die Staat Israel in die land gevestig het; en die sogenaamde Tsabarim, dit wil sê burgers wat in Israel gebore is.

duimnael|links|Die hawestad Haifa, met die Baha’i-wêreldsentrum, Heiligdom van die Baha’i in die voorgrond 26 persent van alle nie-Arabiese burgers het ten minste een ouer wat in Israel gebore is, 37 persent is Israeli's van die eerste generasie, 27 persent is immigrante uit Westerse lande en 42 persent het vanuit Asië of Afrika na Israel gekom.

Daar is ook klein minderhede Droese (1,5 persent), Armeniërs, Baha’i, Alawiete, Ahmadi en Sirkassiërs. Meer as die helfte van die 170 000 Arabiese Bedoeïene het tans 'n vaste woonplek, terwyl die ander die tradisie van 'n nomadiese leefwyse bewaar het. Hulle bly egter in bepaalde gebiede van die land.

Sowat een miljoen immigrante het uit die gebiede van die voormalige Sowjetunie gekom, waarvan meer as 'n driekwart miljoen in die tydperk tussen 1989 en 1999.

Meer as 220 000 Israeli's het hulle in nedersettings in die Wesoewer-gebied gevestig. In 2005 het sowat 7 500 setlaars hulle aan die Gasastrook onttrek.

Hebreeus en Arabies was reeds in die tydperk van die Britse mandaat van Palestina naas Engels die amptelike tale. Ivrit, die moderne Hebreeus, is die huistaal van die meeste Israelse burgers, terwyl sowat een miljoen Arabies as moedertaal praat. Arabiese skole gebruik Arabies as onderwystaal, en die taal is naas Engels ook 'n belangrike vak in Hebreeuse skole. Amptelike dokumente soos wette is in Hebreeus en Arabies beskikbaar.

Mense in Israel het een van die hoogste lewensverwagtings ter wêreld, met 80,9 jaar vir vroue en 76,7 jaar vir mans.

Godsdiens duimnael|Die Wesmuur, 'n oorblyfsel van die Joodse Tempel, en die goue koepel van die Tempelberg in Jerusalem In Augustus 2013 was 75,1 persent van Israel se bevolking Joods; dit maak van Israel die enigste land ter wêreld met 'n Joodse meerderheid. Van die Joodse bevolking beskou ses persent hulself as Charedim of ultra-ortodokse Jode; nege persent as vrome Jode; 34 persent as Joodse tradisionaliste en 51 persent as sekulêre Jode.

Sowat 2 persent van Israel se bevolking is Christene, 17 persent Moslems, 1,4 persent Droese en 4,1 persent andere. Die Rooms-Katolieke Kerk is die grootste Christelike kerk in Israel met sowat 75 000 lede. 'n Klein minderheid Jode – na ramings sowat 4 000 lidmate in 80 gemeentes – is Messiaanse Jode, wat die Joodse kultuur en die meeste leerstellings van die Joodse godsdiens aanvaar, maar nogtans Jesus van Nasaret as Messias beskou. Hulle word deur ander Jode meestal as Christene beskou.

Van die sowat 20,7 persent Israelse Arabiere is 14,6 Soennise Moslems. 'n Klein minderheid van Moslems behoort tot die Ahmadiyyah-hervormingsbeweging, wat tolerante en vreedsame aspekte van die Islamitiese geloof beklemtoon. Daar is ook 'n klein minderheid van enkele honderd Bahá'í, veral in Haifa en omgewing, waar ook sommige van hulle belangrikste heiligdomme te vinde is. Daar bestaan 'n klein Samaritaanse gemeente van sowat 800 lidmate wat in Israel en op die besette Wesoewer woon.

Sendingwerk is in Israel verbode.

Ekonomie Ekonomiese geskiedenis duimnael|Hiperinflasie in die vroeë 1980's: hierdie 10 000 sheqalim-banknoot van 1984 is in die volgende jaar deur 'n banknoot ter waarde van 10 Nuwe sikkel met dieselfde ontwerp vervang Toe die onafhanklikheidsoorlog in 1948 uitbreek, is die Joodse bevolking in die Britse mandaatgebied Palestina op sowat 600 000 beraam. Nogtans het hierdie minderheid 'n besliste invloed op die land se ekonomie uitgeoefen. Dit was veral omdat ondernemings in Joodse besit die Britse leër en ander geallieerde magte, wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in die Midde-Ooste gestasioneer was, van benodigde basiese goedere voorsien het. In 'n tyd, toe miljoene Joodse burgers in Europa slagoffers van die Nasionaalsosialistiese verdelgingsbeleid geword het, het die Britse mandaatgebied ekonomiese voorspoed ervaar wat later die materiële basis vir Israel se ontwikkeling sou vorm. Bundeszentrale für politische Bildung (bpb): Israel – Wirtschaftliche Grundzüge und Entwicklungen. Besoek op 12 Junie 2018

Die tydperk tussen 1948 en 1972 was 'n periode waartydens immigrasie van Joodse burgers uit alle wêrelddele tot vinnige bevolkingsgroei gelei het. Terwyl kapitaal in groot hoeveelhede uit die buiteland ingevoer is, het die totale Bruto nasionale produk (BNP) en die BNP per capita buitengewoon sterk groei getoon. Die BNP het in hierdie tydperk jaarliks met 'n gemiddeld van 10,4 persent toegeneem.

Hierdie groei het in die volgende periode tussen 1973 en 1986 verstadig tot sowat twee persent. Die BNP per capita het selfs gestagneer, en terwyl die periode tussen 1948 en 1972 nog deur 'n enkelsyfer-inflasiekoers gekenmerk is, het dié koers dramaties versnel tot 'n maksimum van 445 persent in 1984. In enkele jare – 1975, 1983 en 1984 – is Israel se bronne van korttermynfinansiering byna volledig uitgeput om die tekort op die betalingsbalans te dek.

Die regering het in Julie 1985 ekonomiese noodmaatreëls toegepas om die hiperinflasie, wat die ekonomiese oorlewing van die land bedreig het, te bowe te kom. Laat in 1985 het die inflasiekoers skerp gedaal tot 20 persent. Nog merkwaardiger was die sukses wat met die vermindering van die begrotingstekort behaal is. Teen die begin van die 1986 fiskale jaar was dit byna nul.

Die noodmaatreëls het 'n einde gemaak aan 'n periode van veerien jaar waartydens die ekonomie deur stygende inflasie, waardeverlies van Israel se geldeenheid en groot begrotingstekorte ontwrig is. Ekonomiese stabiliteit is ook verseker wat benodig is om alle strukturele tekortkominge, wat die groei van die ekonomie sedert 1973 bemoeilik het, uit die weg te ruim.

Kenmerke duimnael|Die Azriely Centre in Tel Aviv, die ekonomiese spil van Israel Israel het sedert sy stigting in 1948 van 'n agrariese ekonomie met sosialistiese elemente (met kibboetsim of kollektiewe gemeenskappe en die invloedryke vakbondvereniging Histradoet as belangrikste rolspeler in sosiaal-politiese opsig) tot 'n uitvoergerigte ope markekonomie met 'n sterk hoëtegnologiebedryf ontwikkel. Met die Europese Unie, die Verenigde State en die Volksrepubliek China as belangrikste handelsvennote is Israel volledig in die wêreldekonomie geïntegreer en het in 2010 by die OESO aangesluit.