Jan Sebastian Rabie (14 November 1920 – 15 November 2001) was 'n Afrikaanse skrywer van kortverhale, romans en ander literêre werke. Rabie was een van die sogenaamde Sestigers, 'n groep invloedryke Afrikaanse skrywers van die 1960's. Hy het een-en-twintig werke gelewer.Stellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/rabijan.html
Lewe en werk
Herkoms en vroeë lewe Jan Sebastian Rabie is op 14 November 1920 in Rondevlei naby George gebore. Hy was een van agt kinders, vyf seuns en drie dogtersDie vernaamste bron vir Jan Rabie se lewensbesonderhede was J.C. Kannemeyer se biografie, Jan Rabie. Sy ouers is die onderwysers Johannes Wilhelm Rabie (21 Desember 1887 – April 1977) en Susanna Maria le Roux (13 Augustus 1893 – 20 Augustus 1986), wat op 25 Junie 1918 met mekaar getroud is. Hy is die tweede oudste kind. Sy broers en susters is Martha Johanna (9 April 1919), Louwrens Petrus (20 Junie 1922), Elizabeth Margaretha (2 Januarie 1924), Johannes Wilhelm (20 Maart 1926), Carel Wynand (28 Januarie 1928), Adriaan Louw (6 Oktober 1929) en Susanna Maria (25 September 1936).
Jan het tydens sy lewe nie ’n goeie verhouding met sy streng militaristiese vader gehad nie. Ná die eerste paar maande van sy lewe te Rondevlei, verhuis die gesin in 1921 na Stellenbosch, waar sy vader verder studeer in die onderwys. In 1923 verhuis hulle na die Paarl waar sy vader hoof en inwonende koshuishoof word van die Engelsmedium Klein Drakensteinskool in Dal Josafat. In 1926 aanvaar sy vader ’n pos as hoof van die driemanskool op die plaas Riethuiskraal (naby Riversdal), waar Jan begin skoolgaan en waar sy vader aan die einde van 1947 aftree. Hier woon die gesin aan die oewer van die Kafferkuilsrivier.
Vanaf 1933 gaan hy na die Hoërskool Riversdal, waar hy in die koshuis inwoon en in 1936 matrikuleer. Van 1937 af studeer hy aan die Universiteit van Stellenbosch en woon in Wilgenhofkoshuis. Hy verwerf in 1939 die B.A.-graad met Aardrykskunde en Geskiedenis as hoofvakke en Engels op eerstejaar en Hollands op tweedejaarsvlak. In 1939 is hy redaksielid van Die Stellenbosse Student. Op universiteit is W.A. de Klerk, Ernst van Heerden, Holmer Johanssen, Barend Toerien, F.A. Venter, Audrey Blignault en Gerhard J. Beukes van sy medestudente. In 1940 verwerf hy die Sekondêre Onderwysdiploma.
Loopbaan Vanaf 1941 gee hy onderwys. Omdat daar in die oorlogstyd meer onderwysers as poste is, word hy verplig om die volgende paar jaar tydelike poste meestal op laerskole te beklee, waar hy dit ook al kan vind. Hy gee in hierdie omstandighede in 1941 klas by Swellendam en dan vanaf September 1941 tot Mei 1942 by ’n plaasskool naby Ruigtevlei tussen Wildernis en Sedgefield, waar hy weer naby sy geboorteplek is. In die laaste kwartaal van 1942 neem hy waar by Langfontein, wat wes van Gouritsriviermond en naby Riethuiskraal geleë is. In 1943 gee hy ’n tyd lank skool by die hoërskool op Jamestown en die daaropvolgende jaar is hy aan ’n onderwyskollege te Clarkesbury naby Umtata in die Transkei verbonde, waar hy Afrikaans en Aardrykskunde onderrig. Reeds vanaf 1943 studeer hy deeltyds verder aan die Universiteit van Suid-Afrika en behaal Engels II en Hollands in 1944. Hierdie verdere kwalifikasies stel hom in staat om nagraadse studie in die letterkunde te volg en in 1945 keer hy terug na die Universiteit van Stellenbosch waar hy aan die einde van daardie jaar die M.A.-graad in Afrikaans en Nederlands behaal. In hierdie jaar is Ina Rousseau, H.W. Truter en Berta Smit van sy medestudente en dien hy weer op die redaksie van Die Stellenbosse Student.
Hy woon in 1946 eers in Simonstad, waar hy veral vele bydraes aan die tydskrifte Die Naweek en Die Huisgenoot lewer. Sommige oggende reis hy met die trein na Kaapstad om self sy bydraes af te lewer en ontmoet so die jong Elsa Joubert by Die Huisgenoot, wat hom hier ook aan D.J. Opperman voorstel. Vanaf Augustus 1946 woon hy in Johannesburg, waar hy voltyds skryf. Vir Bartho Smit (met wie hy ’n ruk lank ’n kamer in Brixton deel) en Peter Blum leer hy goed ken in die tyd wat hy in Johannesburg is. In 1947 onderneem hy ’n lang reis deur Natal met die oog daarop om stof vir ’n reisboek in te samel (wat later as Groen reise gepubliseer word), in die tweede semester neem hy as onderwyser op Riethuiskraal waar wanneer sy pa op siekteverlof is en aan die einde van die jaar keer hy terug na Johannesburg. In Februarie 1948 keer hy terug na Stellenbosch, met die vaste voorneme om oorsee te gaan ten einde meer van die letterkunde te leer.
Europese reise Op 4 April 1948 vertrek hy met net £150 in sy sak aan boord van die Indrapoera na Europa, waar hy vir ’n week in Londen vertoef en dan verder reis na Parys. Met hierdie stad as basis reis hy in die komende jare deur verskillende lande soos Nederland, België, Italië, Switserland, Spanje, Oostenryk en Duitsland. Hy leer om Frans, Duits, Spaans en Italiaans te praat en lees uitvoerig in die Europese letterkunde, wat hom ’n goeie basis van die klassieke en insig in die tendense in die moderne letterkunde gee. Met allerlei los werkies (moltreine vee, poseer as model, smous, opplak van biljette, verpakker van koerante) voer hy ’n karige bestaan maar kry geleentheid om heelwat te skryf. Sy gereelde bydraes aan Suid-Afrikaanse tydskrifte bring darem ook periodiek iets in die sak. Wanneer ’n roman (Helgard van die hel) deur Nasionale Pers afgewys word vir publikasie, skryf hy hierna voorlopig net in Engels, maar dit bly slegs ’n emosionele voorneme wat hy gou verbreek, al skryf hy ook om finansiële redes al hoe meer in Engels. Sommige van sy korter prosas, waarvan talle later in verwerkte vorm in Een en twintig opgeneem is, verskyn in hierdie tyd in Tydskrif vir Letterkunde onder redaksie van C.M. van den Heever. Ook De Gids in Nederland publiseer ’n aantal van hierdie verhale. Dergelike bydraes wat hy aan Standpunte onder redaksie van D.J. Opperman stuur, word egter sonder opgaaf van redes herhaaldelik afgekeur.
Jan verloor sy maagdelikheid eers in Parys toe hy reeds 27 jaar oud is en wel met die Franse meisie wat hy in sy dagboeke as Ginette identifiseer. In November 1948 ontmoet hy die Skotse skilderes Marjorie Wallace en vanaf die begin van 1949 het hulle ’n hegte verhouding. Kort daarna begin hulle saamwoon en doen dit vir ses jaar lank in Paryse dakkamers. Hy verwerf ’n Franse studiebeurs wat hom in staat stel om in 1952 aan die Sorbonne in die letterkunde te studeer en hy het die doktorale tesis van Georges Bernanos, écrivain malgré lui (Georges Bernanos, skrywer ten spyte van homself) byna klaar toe die beurs (en daarmee saam sy studies) ophou.
In Parys word Jan en Marjorie gereeld besoek deur Afrikaanse skrywers soos Uys Krige (wat Rabie aansienlik help met Afrikaanse verwerking uit die oorspronklike Engels en skaafwerk aan wat later 21 sou word), Bartho Smit en Etienne Leroux. Uys Krige daag in Desember 1952 by hulle op met die voorneme om ’n naweek oor te bly, maar sy kuiertjie is eindelik vir langer as drie volle maande! Elsa Joubert besoek hom reeds so vroeg as Julie 1948 tydens haar reis deur Europa wat sy later in Die verste reis te boek stel, terwyl sy in April 1949 weer daar aandoen, hierdie keer vergesel van Klaas Steytler. Die digter Jannie Coetzee is ook ’n gereelde gas wanneer hy op een van sy vele wêreldreise is. Rabie het ook noue kontak met die Nederlandse Vyftigers soos Simon Vinkenoog, Rudy Kousbroek, Lucebert, Hugo Claus, Gerrit Kouwenaar en Bert Schierbeek en die skilder Karel Appel. Hy begin in Frankryk ook om in die see te duik, ondervindings wat sy reeds intieme kennis van die see verder verbreed en weerklank vind in sy latere jeugboeke soos Twee strandlopers”en Seeboek van die Sonderkossers.
Jan en Marjorie trou op 4 Januarie 1955 voor die Britse konsul in Parys. Jan trou in Bartho Smit se ou bruin pak klere en Marjorie dra Kita Redelinghuys se skoene, met Jannie Coetzee wat die getuie is met die huweliksvoltrekking. Jan vertrek ’n paar dae daarna terug na Suid-Afrika, om ’n werk en woonplek te kry en geld bymekaar te maak, waarna Marjorie haar in November 1955 by hom aansluit. Hulle vestig hulle in Groenpunt in Kaapstad, waar hulle vir ongeveer elf jaar ’n dubbelverdiepinghuis deel met die kunstenaars Erik Laubscher en sy vrou Claude Bouscharian. Kort daarna verskyn Een-en-twintig, waarin daar van ’n radikale verandering in die Afrikaanse prosa sprake is en word hierdie boek dan ook dikwels genoem as die werklike wegbereider vir die Sestiger-beweging in die Afrikaanse prosa.
Terugkeer na Suid-Afrika Aan die begin van Desember 1957 vlieg Marjorie inderhaas na Skotland om haar terminaal siek vader by te staan, wat nog voor die einde van daardie jaar oorlede is. Nadat sy ’n ruk haar moeder bystaan, gaan Marjorie na Parys waar sy steeds haar ateljee gehuur het en probeer so om Jan te oorreed om terug te keer na Europa. Hy voel egter sterk oor sy roeping om die rassebeleid in Suid-Afrika deur sy skryfwerk teen te staan en is selfs bereid om te skei as dit dan moet, maar weier om in hierdie stadium terug te keer na Europa. Marjorie keer dan noodgedwonge aan die begin van November 1958 terug na Suid-Afrika en aanvaar daardeur ook dat dit voortaan hulle permanente tuiste sal wees.
Jan trek die aandag as “betrokke” skrywer met sy sterk oortuigings oor die onreg teenoor bruin en swart in die naam van apartheid en die Rabies se huis in Groenpunt word algaande ’n stimulerende bymekaarkomplek van jonger skrywers en skilders. Ook die noordelike skrywers kom hier bymekaar as hulle, gewoonlik in die Desember-Januarie skoolvakansies, Kaapstad besoek. Hierdie gereelde besoekers sluit mense in soos Uys Krige, Jack Cope, W.A. de Klerk, Peter Blum, Barend Toerien, Breyten Breytenbach, Adam Small, Richard Rive, Ingrid Jonker, Bartho Smit, André P. Brink, Athol Fugard en Chris Barnard.
Aanvanklik werk Jan (vanaf Maart 1955 tot Augustus 1956 permanent en tot einde 1957 tydelik) as omroeper by die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie en word verskeie van sy hoorspele, soos Voetbal of fortuin en Nuus van die land, ook uitgesaai. Laasgenoemde hoorspel word deur Tone Brulin in Nederlands vertaal en deur die Belgische Nationale Omroep uitgesaai en beleef later ook ’n Franse verwerking. In hierdie tyd lewer Jan ook vryskutwerk aan koerante en tydskrifte, onder meer ’n gereelde posseëlrubriek onder die skuilnaam Jan Roets in Die Burger en wetenskaplike artikels in ligte trant vir die jeugtydskrif Die Jongspan. Vanaf einde 1957 wy hy hom voltyds aan sy skryfwerk. Na die stigting van Contrast in 1960 deur Jack Cope dien Jan ook vir byna drie dekades op die redaksie van hierdie tydskrif, veral om Afrikaanse bydraes te werf. Self lewer hy ook verskeie skeppende bydraes en artikels vir hierdie tydskrif. Hy is ook lid van die redaksie van Sestiger. ’n Liefdeswerk is die 2 200 kaartjies met seeterme wat hy by die buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal op Stellenbosch inlewer.
Polemiek as skrywer