Kaapstad ([ˈkɑːpstat], Engels: Cape Town [ˈkeɪptaʊn], Xhosa: iKapa) is (as die wetgewende hoofstad) een van die drie hoofstede van die Republiek van Suid-Afrika. Dit is ook die setel van die Suid-Afrikaanse parlement. Die ander twee hoofstede is Pretoria (die uitvoerende hoofstad) en Bloemfontein (die geregtelike hoofstad). Hierbenewens is Kaapstad die administratiewe en parlementêre hoofstad van die provinsie Wes-Kaap en die naasgrootste stad in Suid-Afrika ná Johannesburg. Die Kaapstad Internasionale Lughawe is die naasgrootste lughawe in die land ná Johannesburg–O.R. Tambo.
duimnael|links|Satellietbeeld van Kaapstad Kaapstad lê aan die suidkus van Afrika en word ook die Moeder-stad van Suid-Afrika genoem. Die stad is oorspronklik as 'n verversingspos vir Nederlandse skepe op pad na Oos-Afrika, Indië en die Verre-Ooste aangelê. Dit was ook een van die eerste permanente Europese nedersettings in Afrika suid van die Sahara. Hier het die leier van die Goringkhoina in 1652 met die Hollanders van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (in destydse Nederlands: Vereenigde Oostindische Compagnie, VOC) kontak gemaak.
Van 'n klein hawe het Kaapstad vinnig tot die grootste stad in Suid-Afrika ontwikkel, wat eers met die goudstormloop aan die Witwatersrand in 1887 deur die nuutgestigte Johannesburg verbygesteek is. Nogtans huisves Kaapstad volgens die sensus van 2011 met 'n bevolking van 1,3 miljoen die grootste Afrikaanssprekende gemeenskap van enige stad in Suid-Afrika. Dit is ook die enigste groot stad in die land waarin bruin Suid-Afrikaners 'n relatiewe meerderheid van die bevolking vorm.
Kaapstad is danksy sy natuurskoon en sy ligging aan die voet van die wêreldbekende Tafelberg vandag een van die mees gesogte internasionale toeristebestemmings en 'n gunstelingstad van die internasionale rolprent- en reklamebedryf. www.kapstadt.com: Mountain Media Production Volgens 'n studie in 2018 deur Mercer, oor die lewenskwaliteit in 231 stede regoor die wêreld, het Kaapstad die 94ste plek verwerf, die naasbeste in Suid-Afrika net ná Durban. Wat persoonlike veiligheid betref, staan Suid-Afrikaanse metropole egter op die onderste sporte van die leer.
Terwyl die chemiese bedryf van die 1970's af agteruitgegaan het en die plaaslike tekstiel- en skoennywerhede hulle in die 1990's teen goedkoop invoere vasgeloop het, het die vestiging van ondernemings uit die hoëtegnologiebedryf van Kaapstad en sy omgewing 'n spilpunt van navorsing gemaak. Reeds in 1987 het die Kaapstadse Stadsraad en die Kleinsake-ontwikkelingskorporasie met TegnoKaap (TechnoCape) 'n liggaam in die lewe geroep wat beleggings in die hoëtegnologiesektor bevorder het.Corporation for Economic Development: Growth: Journal of Development in Southern Africa, Volumes 7-8, 1987, bl. 19
Etimologie Ná sy stigting in 1652 is na die stad oorspronklik verwys as Cabo de Goede Hoop, verkort tot Cabo of De Caab. In die 18de eeu is na die stad verwys as Het Vlek van de Caab. In die middel-18de eeu het die name "Kaapstad" en Cape Town ewe in gebruik gekom. Die Khoisan-naam //Hui !Gaeb beteken "steenplek" en het oorspronklik na die Kasteel die Goeie Hoop verwys, maar deesdae verwys dit na die hele stad.
Geografie duimnael|links|Kaapstad se ligging in die Wes-Kaap duimnael|Kaapstad se middestad, soos gesien vanaf die Kaapstad-hawe duimnael|Kaapstad se sentrale sakekern, soos gesien vanaf Leeukop duimnael|links|Kaapstad uit die ruimte gesien, met die uitsig oos oor die Kaapse Skiereiland en Valsbaai (agter) met Robbeneiland (links voor), Tafelberg (middel voor) en Kaappunt (regs voor) duimnael|links|Sononder in Groenpunt duimnael|Kaapstad, soos gesien vanaf Robbeneiland Kaapstad is in die suidweste van die Republiek van Suid-Afrika en die provinsie Wes-Kaap aan die Tafelbaai van die Atlantiese Oseaan geleë. Die stad staan internasionaal bekend vir sy ligging aan die voet van Tafelberg, 'n groot, platoagtige bergmassief met 'n hoogte van 1 086 meter bo seevlak wat saam met kleiner bergspitse en heuwels soos Vlaeberg, Leeukop en Duiwelspiek die stadshorison oorheers en 'n onmiskenbare baken geword het. Tafelbaai is deur die inheemse bewoners Hoeri (letterlik "Baai van die See", sien ook Khoiname van Kaapstad) genoem en het sy huidige naam aan 'n Portugese admiraal te danke wat in 1503 hier langs geseil het. www.kapstadt-guide: Tafelberg Die Kaapse Skiereiland, wat oor 'n lengte van sowat 35 kilometer van Kaapstad in die noorde tot by die Kaap die Goeie Hoop en Kaappunt strek, is in een van die wêreld se plantkoninkryke en 'n magdom soorte kom slegs hier voor.
Kaapstad se "stadskom" (Engels: City Bowl) of sentrale sakekern met sy wolkekrabbers en die woonbuurte wat rondom lê, word deur Tafelbaai aan die een kant en Tafelberg aan die ander begrens. Die uitgestrekte voorstede aan albei kante van die bergmassief, wat in suidelike rigting in 'n aantal bergkettings oorgaan wat via die Twaalf Apostels tot by Kaappunt strek, verskil ten opsigte van hul karakter duidelik van mekaar. Die hele stadsgebied kan slegs vanaf Tafelberg raakgesien word – net een miljoen van Kaapstad se bewoners woon in die "stadskom" of ander woonbuurte naby die Atlantiese Oseaan of die berge, terwyl twee miljoen stadsbewoners in die uitgestrekte Kaapse Vlakte saamgetrek is.
Vanweë die dikwels onrustige see rondom die Kaapse Skiereiland is die Kaap die Goeie Hoop, wat sowat 50 kilometer suid van die stadsentrum geleë is, deur seevaarders al vroeg die "Kaap van Storms" genoem. Die ysige Benguela-stroom vloei vanuit die suide langs die kus en skep 'n Mediterreense winterreënklimaat waarin vrugte en wingerde goed aard. Bemarkers beskryf Kaapstad dikwels as "die enigste stad ter wêreld wat aan twee oseane geleë is", hoewel die Atlantiese en die Indiese Oseaan streng gesproke mekaar eers by Kaap Agulhas, sowat 200 kilometer oos van Kaapstad, ontmoet. Hierdie kaap is ook die mees suidelike punt van Afrika. South Africa.info: Where the two oceans really meet
Administratiewe gebied en verstedeliking Die administratiewe gebied van Kaapstad strek tans oor meer as 2 400 km², terwyl die beboude gebied van die Kaapse Metropolitaanse Gebied sowat 774 km² beslaan. Die huidige beboude gebiede brei veral in die Kaapse Vlakte, langs die noordelike kusvlakte en na die landelike gebiede in die noordooste uit. Veral in die noordelike voorstede het sedert die laat 20ste eeu 'n noemenswaardige verskuiwing van sakebedrywighede uit sentrale dele na die stadsrand plaasgevind.
Die bevolkingsdigtheid varieer grootliks, van tussen twee en vier wooneenhede per hektaar tot tussen 90 en 100 eenhede in digbeboude buurte van die middestad waar veelverdieping-woonstelgeboue ontstaan het. Informele nedersettings is die mees digbevolkte dele van Kaapstad waar die bevolkingsdigtheid so hoog as 350 tot 450 bewoners per hektaar kan wees.
Jaar Bevolking Beboude gebied Bevolkingsdigtheid 1904 265 881 23 km² 115 inwoners/ha 1946 631 427 86 km² 73 inwoners/ha 1970 1 335 435 255 km² 52 inwoners/ha 2000 ~3 000 000 774 km² 39 inwoners/ha
Klimaat duimnael|links|Klimaatdiagram van Kaapstad duimnael|Suid-Afrika soos gesien van die Internasionale Ruimtestasie in April 2016. Kaapstad en die Kaapse Skiereiland is duidelik sigbaar duimnael|Tafelberg met 'n wolkkleed Kaapstad het 'n Mediterreense klimaat met warm en droë somers en matige winters. Die meeste reën val in die winter wat van Junie tot Augustus duur. Winter is ook die seisoen wanneer enkele kouefronte van die Atlantiese Oseaan af noordwaarts na die Kaap beweeg wat neerslae en sterk noordwestelike winde meebring. In die laat lente- en vroeë somermaande waai die Kaapse Dokter, 'n kragtige passaatagtige suidooster wat lugbesoedeling teëwerk (vandaar sy naam), meestal in die middag van Valsbaai oor die Kaapse Vlakte. Ook dié wind, wat sy ontstaan aan 'n Suid-Atlantiese hoëdrukstelsel wes van Kaapstad te danke het, is relatief koel en bring vogtige lug met hom saam. www.wynsa.co.za: Durbanville Hills vier 15de jaar in SA-wynbedryf. Besoek op 12 Mei 2014 Februarie en vroeë Maart is die maande wanneer die warm bergwind enkele weke lank van die Karoo-binneland oor die Kaap waai.
Op wintersdae word 'n gemiddelde maksimum van 17,5 °C en 'n gemiddelde minimum van 7,4 °C aangeteken. Somertemperature wissel tussen 'n gemiddelde minimum van 15,4 °C en 'n gemiddelde maksimum van 25,8 °C. Die gemiddelde jaarlikse reënval is 515 millimeter. Met 'n jaarlikse gemiddeld van 3 100 sonskynure vergelyk Kaapstad gunstig met ander metropole soos Los Angeles (3 300 ure) en Madrid (2 900 ure). Watertemperatuur wissel van 10 °C aan die Atlantiese kus tot 22 °C in Valsbaai. Die gemiddelde jaarlikse watertemperatuur is 13 °C aan die Atlantiese kus en 17 °C in Valsbaai.
Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|Rotstekeninge in die Wes-Kaap Suid-Afrika het 'n beduidende rol by die ontwikkeling van die vroeë mens gespeel, en die land is reeds meer as 100 000 jaar gelede deur klein groepe Hominidae of Mensagtiges bewoon. In die Suid-Kaap is in Smitswinkelbaai naby Rooikrans en by die Bonteberg gebeentes en steenwerktuie ontdek wat deur mensagtige bewoners (die Homo erectus) agtergelaat is en deur antropoloë by die sogenaamde Stellenboschbeskawing (200 000 v.C.) gereken word. Daarnaas is in die Langebaan-strandmeer noord van Kaapstad 'n menslike spoor uit die periode omstreeks 115 000 v.C. ontdek. www.kapstadt.de: Geschichte – Frühe Besiedlung: San und Khoikhoi
Hierdie eerste bewoners aan die Kaap was jagters en versamelaars, wat eenvoudige steenwerktuie en vuur gebruik het. In die tydperk omtrent 8 000 v.C. het die plaaslike jagtersgemeenskappe reeds die pyl-en-boog gebruik. Die groot trek na die binneland, wat omtrent 2 000 v.C. begin het, het die Kaapse jagters in aanraking met hoogs ontwikkelde boerderygemeenskappe gebring.
Die San, 'n volk van jagters en versamelaars, het sowat 35 000 jaar gelede tot 'n selfstandige groep ontwikkel; hulle word as afstammelinge van swart Suider-Afrikaanse volke beskou, maar verskil met hulle helder, bruin-geel velkleur, kleiner gestalte van sowat 1,60 meter en hul kenmerkende peperkorrelhare duidelik van die Bantoevolksgroepe. Die Hollanders het na hulle as bosjemans verwys – letterlik "mense wat agter gevlegte takkies woon". Hul leefwyse was baie eenvoudig, maar hulle het nogtans indrukwekkende rotsreliëfs, -tekeninge en -skilderye agtergelaat.
Omstreeks 200 v.C. het nóg 'n etniese groep ontstaan, vermoedelik danksy 'n vermenging van San en Hamitiese herdersvolke in Oos-Afrika – die Khoikhoi (letterlik "Mense-Mense"), 'n volk van skaap- en beestelers wat deur die Hollanders "Hottentotte" genoem is (die term Khoisan verwys na albei groepe, San en Khoikhoi). Die Khoikhoi het groot dele van die westelike Suid-Afrika, waaronder ook die huidige Wes-Kaap, bewoon. Die Kaap was vanweë sy waterrykdom uiters geskik vir 'n veetelers-beskawing.
Alhoewel die twee groepe as jagters en veetelers in ekonomiese opsig mededingers was, het hulle nogtans vreedsaam naas mekaar bestaan. Desondanks is die sosiale status deur die ekonomiese leefwyse bepaal waarby veetelers 'n hoër status geniet het. Die Khoikhoi is gedurende die 18de eeu deur pokke-epidemieë en oorloë verswak en teruggedring.
Die Kaap langs die seeweg na Indië duimnael|Inskrywing by die Bartolomeus Dias-standbeeld in Kaapstad