Kimberley is die hoofstad en grootste stad van die Suid-Afrikaanse provinsie Noord-Kaap met 'n bevolking van sowat 225 000 in 2011 (insluitende townships). Die plek waar Kimberley sou ontwikkel, het in 1871 wêreldwyd opslae gemaak ná die ontdekking van 'n diamantveld. Die mynboubedrywighede, wat hier vinnig ontwikkel het, gee onder meer aanleiding tot die industrialisering van Suid-Afrika. Kimberley staan derhalwe bekend as die Diamantstad. In 1881 is die eerste aandelebeurs in Afrika in die stad gestig. Kimberley maak op 2 September 1882 ook geskiedenis as die eerste stad in Suid-Afrika en die Suidelike Halfrond asook die tweede in die wêreld na Philadelphia, Pennsilvanië, in die Verenigde State met elektriese gloeilampstraatverligting – op 'n tydstip toe Londense strate nog met gaslampe belig is. Eskom: Electricity in South Africa – Early Years. Besoek op 21 Maart 2018 Kimberley staan ook bekend vir die beleg tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Die Britse sakemanne Cecil Rhodes en Barney Barnato het hul rykdom in Kimberley begin en Rhodes het die De Beers-diamantmaatskappy in die vroeë dae van die mynstad gestig. Kimberley en die aanliggende Beaconsfield is in 1912 verenig onder een dorpsbestuur en het in Desember daardie jaar stadstatus verwerf.

duimnael|links|Die Groot Gat Alhoewel die stad nie langs die belangrike toeristeroete van Suid-Afrika lê nie, is dit saam met Upington die poort na Suid-Afrika se "Wilde Weste" en na Namibië, met Namakwaland, die Augrabieswaterval, die Kgalagadi-vredespark (voorheen die Kalahari-Gemsbokpark) en die Namibwoestyn met die Visrivier-canyon as die belangrikste toeristebestemmings.

Etimologie Kimberley het veral aan sy begin naamveranderinge ondergaan van grensplaasname oor delwerskampname na die gevestigde name van die dorpe Kimberley en Beaconsfield wat in 1912 saamgesmelt het. Die enigste spore van voorkoloniale nedersettings binne die stadsgrense is verstrooide Laat Steentydperk-artefakte en daar is geen bekende rekord van plekname voor die eerste 19de-eeuse plaasname nie. Dit het buite die gebiede gelê wat in die voorkoloniale tydperk deur die Batswana bevolk is. Gebiede soos die nabygeleë Wildebeest Kuil Rotskunssentrum getuig van 'n Khoe-San-geskiedenis wat tot in die negentiende eeu strek.

In die na-apartheidsera is die Kimberley-stadsraad hernoem in die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit nadat sy gebied uitgebrei is om ook omliggende dorpe en stede in te sluit, waaronder Ritchie. Sol Plaatje, die bekende skrywer en aktivis, het vir 'n groot deel van sy lewe in Kimberley gewoon. Net so het die destydse Diamantveld-distriksmunisipaliteit die Frances Baard-distriksmunisipaliteit geword, met verwysing na die vakbondlid Frances Baard wat in Greenpoint, Kimberley, gebore is.

Geskiedenis Ontdekking van diamante duimnael|Fleetwood Rawstorne se "Rooikappiepartytjie" van prospekteerders op Colesbergkoppie In 1866 het die vyftienjarige plaasseun Erasmus Stephanus Jacobs 'n klein wit klip gevind aan die oewer van die Oranjerivier op sy vader se plaas De Kalk naby Hopetown wat hulle van plaaslike Griekwas gehuur het. Die klip, wat sy moeder aan 'n belangstellende buurman en versamelaar geskenk het, was 'n 21,25 karaat (4,25 g) diamant ter waarde van £500 wat die naam Eureka gekry het. Volgens 'n ander bron het hy die klippie vir sy vader gewys, wie dit toe verkoop het. Die klippie is deur Schalk van Niekerk by Jacobs se vader gekoop, wie dit later herverkoop het.

Drie jaar later is 'n groter 83,50 karaat (16,7 g) diamant, die Ster van Suid-Afrika gevind, ook naby Hopetown. Dié diamant is deur Van Niekerk vir £11 200 verkoop en later op die Londense mark herverkoop vir £25 000.

Henry Richard Giddy het vertel hoe Esau Damoense (of Damon), die kok van die prospekteerder Fleetwood Rawstorne se "Rooikappiepartytjie", in 1871 diamante op Colesbergkoppie gevind het, nadat hy as straf soontoe gestuur is om daar te delf. Rawstorne het die nuus geneem na die nabygeleë delwerye van die De Beer-broers wat die plaas Vooruitzicht besit het – sy aankoms daar het die beroemde New Rush ontketen wat, soos die geskiedkundige Brian Roberts dit stel, eintlik 'n stormloop was. Binne 'n maand is 900 eise in die heuwel gesny waar twee tot drieduisend mans freneties gewerk het. Soos die land gesak het, het die heuwel in 'n myn verander – mettertyd die wêreldbekende Kimberley-myn. Delwery het hier onder ellendige omstandighede plaasgevind – die meeste mense het net oor armsalige hulle of tente beskik en is gepla deur hitte, vuiligheid, insekte en geweldpleging.

Die Kaapkolonie, Transvaal, Oranje-Vrystaat en die Griekwaleier Nicolaas Waterboer het almal aanspraak gemaak op die diamantvelde. Veral die Vrystaatse Boere wou die gebied hê, aangesien dit binne die natuurlike grense geleë is wat deur die Oranje- en Vaalriviere gevorm word. Ná die bemiddeling waaroor die Goewerneur van Natal toesig gehou het, het die Keate-toekenning ten gunste van Waterboer gegaan, wat homself onder Britse beskerming geplaas het. Die grondgebied bekend as Griekwaland-Wes is gevolglik op 27 Oktober 1871 geproklameer.

Plekname: van Vooruitzicht oor New Rush tot Kimberley duimnael|Kimberley rondom 1899 duimnael|Griekwaland-Wes-Hooggeregshof in Kimberley Op 17 November 1871 het koloniale kommissarisse in New Rush aangekom om gesag oor die gebied uit te oefen namens die Kaapse goewerneur. Delwersbesware en myneropstande het goewerneur Henry Barkly se besoek aan New Rush in September die volgende jaar tot gevolg gehad, waar hy 'n plan bekend gemaak het om Griekwaland-Wes tot 'n kroonkolonie te laat verklaar.

Die voortdurende magstryd en hebsug het nogtans 'n aantal merkwaardige mense voortgebring, wie in die ekonomiese geskiedenis van Suid-Afrika 'n beduidende rol sou speel: Cecil John Rhodes, die seun van 'n Engelse vikaris, het hier die welvarendste en magtigste man op die Afrikavasteland geword. Barney Barnato, 'n voormalige straathandelaar uit 'n Londense krotbuurt wie op 20-jarige leeftyd na Suid-Afrika geëmigreer het, het hier sy loopbaan as mynmagnaat en multimiljoenêr begin.

Richard Southey sou in Januarie 1873 as luitenant-goewerneur van die voorgenome kroonkolonie aankom. Maande het egter verstryk sonder enige teken van die proklamasie of die nuutbelowe grondwet en voorsiening vir verteenwoordigende regering. Die vertraging was in Londen waar die Staatsekretaris vir die Kolonies, John Wodehouse, 1ste Graaf van Kimberley, daarop aangedring het dat voor die bepaling van verkiesingsafdelings die plekke "ordentlike en verstaanbare name moes kry. Sy lordskap het geweier om op enige manier met so 'n vulgarisme verbind te wees soos New Rush en wat die Nederlandse naam betref, Vooruitzicht … kon hy dit nie spel of uitspreek nie." Die saak is oorgedra aan Southey wie dit aan sy koloniale sekretaris J.B. Currey gegee het. Roberts skryf "toe dit by die hernoeming van New Rush gekom het, het [Currey] homself as 'n waardige diplomaat bewys. Hy het redelik seker gemaak dat lord Kimberley die naam van die hoofverkiesingsafdeling sowel sou kon spel as uitspreek deur, soos hy sê, dit 'na sy lordskap' te noem." New Rush het deur proklamasie op 5 Julie 1873 Kimberley geword. Delwer-sentiment is in 'n Diamond Field-koerantartikel uitgespreek soos volg "ons het in New Rush gaan slaap en het wakker geword in Kimberley, en só het ons droom verdwyn."

Volgens 'n ooreenkoms deur die Britse regering oor vergoeding aan die Oranje-Vrystaat vir sy mededingende grondeise is in 1877 Griekwaland-Wes deur die Kaapkolonie geannekseer. Die Kaapse eerste minister John Molteno het aanvanklik ernstige twyfel gehad oor die anneksasie van die streek met 'n groot skuldlas, maar nadat hy 'n ooreenkoms met die binnelandse regering aangegaan en die versekering ontvang het dat die plaaslike bevolking in die proses geraadpleeg sou word, het hy op 27 Julie 1877 die Griekwaland-Wes-anneksasiewet goedgekeur.

Groot Gat en ander myne

duimnael|Die Groot Gat Delwery het veral by die Colesbergkoppie plaasgevind, maar die koppie is geleidelik weggedelf en staan nou bekend as die Groot Gat – die grootste gat in die wêreld wat met pik en graaf gemaak is. Amptelik is die Groot Gat se naam Kimberleymyn. Die gat het 'n omvang van 1 600 meter, 'n diepte van 215 meter, 'n deursnee van 460 meter en 'n oppervlak van twaalf hektaar (29,7 akker). In die tydperk van 1871 tot 1914 het sowat 50 000 myners 2 722 kilogram of 14,5 miljoen karaat diamante gemyn en 25 miljoen ton aarde en gesteentes verwyder. In 1914 was die grond van diamante uitgeput, die delwers het na ander plekke getrek en die Groot Gat was voortaan aan die elemente blootgestel. Dit is opgegrawe tot 'n diepte van 240 m, maar daarna met puin gevul waardeur sy diepte tot sowat 215 m verminder is; sedertdien het dit water tot op 'n hoogte van 40 m opgehoop, waardeur 175 m sigbaar is. Onder die oppervlak is die Kimberleymyn onder die Groot Gat tot 'n diepte van 1097 m ontgin. Volgens 'n gewilde plaaslike mite is dit die grootste handgegrawe gat ter wêreld, maar die Jagersfonteinmyn hou waarskynlik daardie rekord. Dit vorm vandag die middelpunt van 'n opelugmuseum met oorspronklike delwersbehuisings uit die tyd van die diamantestormloop wat van ander plekke na die museumsterrein verskuif is.

Die Groot Gat is die hoofkenmerk op 'n voorlegging van Mei 2004 met die naam "Kimberleymyne en geassosieerde vroeë nywerhede" op die Suid-Afrikaanse kandidaatlys as 'n Unesco-wêrelderfenisgebied.

Ander myne by Kimberley was Bultfontein, Wesselton, De Beersmyn en Dutoitspan.

Teen 1873 was Kimberley die naasgrootste Suid-Afrikaanse stad na Kaapstad met 'n bevolking van sowat 40 000. In 1885 is 'n spoorwegverbinding met Kaapstad, Port Elizabeth en Oos-Londen voltooi wat die invoer van hout en steenkool vergemaklik het. Sewe jaar later is die Kimberley and World Exhibition (Kimberley- en wêreldtentoonstelling) gehou as die eerste van sy soort buite die Verenigde Koninkryk. K.A. Berney, Trudy Ring, Noelle Watson, Paul Schellinger (eds.): Middle East and Africa: International Dictionary of Historic Places, Volume 4. Chicago and London: Fitzroy Dearborn Publishers 1996, bl. 434 Ter geleentheid van die tentoonstelling is ook die eerste nasionale gholfkampioenskap in Suid-Afrika gehou. Neville Ivor and James Leck: South African Sport. MacDonald South Africa 1977, bl. 14

Suid-Afrika se eerste mynbouskool, wat in 1896 in Kimberley geopen is, is later na Johannesburg verskuif, waar dit tot die Universiteit van die Witwatersrand uitgebou is. Huise, strate en brûe is opgerig, en teen die eeuwisseling was Kimberley 'n bloeiende stad.

Rol en invloed van De Beers

duimnael|'n Bordjie by die Groot Gat wat lees: "Indien alle diamante wat by die Kimberleymyn ontgin is versamel word, sal dit drie koekepanne soos hierdie kan vul" Die talle kleiner mynmaatskappye is saamgesmelt deur Cecil Rhodes en Charles Rudd tot De Beers en The Kimberley onder Barney Barnato. In 1888 het dié twee maatskappye saamgesmelt tot De Beers Consolidated Mines, wat op 'n stadium die monopolie gehad het oor die wêreldwye diamantmark.

Kimberley het baie vinnig die grootste stad in die gebied geword, deels te danke aan 'n groot Afrikamigrasie na die gebied vanuit die hele vasteland. Die migrante is met ope arms verwelkom, omdat die De Beers-maatskappy op soek was na goedkoopwerkers om die myne aan die gang te hou. 'n Ander groep wat na die stad getrek het vir geld was prostitute uit 'n wye verskeidenheid etniese groepe wat in kroeë en saloons gevind kon word. Dit is geprys as 'n stad van onbeperkte geleenthede.

Vyf groot gate is in die aarde gegrawe na aanleiding van die kimberlietpype wat na die stad genoem is. Kimberliet is 'n diamantdraende blou rots wat onder 'n geelkleurige grond lê.

Tweede Vryheidsoorlog

duimnael|Beleg van Kimberley-gedenkteken