Japan (Japannees: 日本, Nippon, [ɲip̚poɴ], , of Nihon, [ɲihoɴ], ; amptelik: 日本国, Nippon-koku of Nihon-koku, , letterlik: "Staat Japan") is 'n eilandstaat in Oos-Asië. Dit is geleë tussen die Stille Oseaan en die See van Japan, oos van die Koreaanse Skiereiland, China en Rusland, en strek van die See van Ochotsk in die noordooste tot by die Oos-Chinese See in die suidweste. Die karakters waaruit Japan se naam bestaan beteken "son-oorsprong" wat aanleiding gee tot die naam "land van die opkomende son", en wat verwys na Japan se oostelike posisie relatief tot die Asiatiese vasteland.
Japan bestaan uit meer as 3 000 eilande; die grootstes daarvan, van suid na noord is Kioesjoe, Sjikokoe, Honsjoe, die grootste eiland, en Hokkaido wat saam 97% van die land se grondoppervlak beslaan. Die meeste van die eilande is bergagtig en baie vulkanies. Japan se hoogste bergpiek, berg Foedji, is byvoorbeeld 'n vulkaan. Japan het met ongeveer 123 miljoen inwoners die wêreld se elfde grootste bevolking. Die Groter-Tokiogebied, wat die hoofstad Tokio en verskeie omliggende prefekture insluit, is die grootste metropolitaanse gebied ter wêreld met meer as 30 miljoen inwoners.
Argeologiese navorsing dui daarop dat die eilande van Japan reeds in die Jong-paleolitikumtydperk deur mense bewoon is. Die eerste geskrewe verwysing na Japan begin met vlugtige verwysings in Chinese geskiedkundige tekste van ongeveer die eerste eeu n.C. Invloede van buite gevolg deur lang tydperke van isolasie, is kenmerkend van Japan se geskiedenis. Sedert die aanvaarding van sy grondwet in 1947 handhaaf Japan 'n unitêre grondwetlike monargie met 'n keiser en 'n verkose parlement, die Kokkai.
Japan is 'n reuse ekonomiese moondheid en was met die eerste kwartaal van 2010 nog die wêreld se tweede grootste ekonomie, volgens nominale bruto binnelandse produk, totdat dit deur China ingehaal is. http://qa.www.sake24.com/Markte/JSE-bestendig-toe-China-Japan-verbysteek-20100817 http://www.businessweek.com/news/2010-08-16/china-gdp-surpasses-japan-capping-three-decade-rise.html Japan is 'n lid van die Verenigde Nasies, G8, G4 en ESASOG, met die wêreld se vyfde grootste verdedigingsbegroting. Dit is ook die vierde grootste uitvoerder ter wêreld en die vierde grootste invoerder asook 'n wêreldleier in tegnologie en masjinerie.
Naam In Japannees is die land se naam Nihon of Nippon, amptelik of Nihon-koku. Voordat Japan verhoudinge met China gehad het, het dit bekendgestaan as Wa (倭) of Yamato (大和). Die Japannese naam Nippon word gebruik vir meeste amptelike doeleindes, insluitende geld, posseëls, en internasionale sportbyeenkomste. Nihon is ook 'n gewilde term in Japan. Die naam "Japan" is afgelei uit die Chinese weergawe van die naam. Die vroeë Mandaryns-Chinese woord vir Japan is opgeteken deur Marco Polo as Cipangu. In Afrikaans word die land eenvoudig "Japan" genoem. Die amptelike Japannese titel is Nihon-koku (日本国), letterlik "Staat Japan."
Geskiedenis
duimnael|links|'n Houer uit die Middel-Jōmon-periode (3000 tot 2000 v.C.) duimnael|links|Byodoin (1052) duimnael|Samoerai konfronteer Mongole tydens die Mongoolse invalle van Japan in 1293 duimnael|links|Een van Japan se Rooiseëlskepe (1634), wat vir handel oral in Asië gebruik is duimnael|Murasaki Shikibu se Verhaal van Genji duimnael|links|Kaart van Japan in 1790 duimnael|Die atoombomaanval in 1945 op Nagasaki duimnael|links|Samoerai van die Satsuma-stam gedurende die Bosjinoorlog, ca. 1867 Die eerste tekens van menslike vestiging in die Japanse Argipel het verskyn met 'n Paleolitiese kultuur in ongeveer 30 000 v.C, gevolg van ongeveer 14 000 v.C. deur die Jōmon-tydperk, 'n Mesolitiese tot Neolitiese halfgesette jagter-versamelaar kultuur van kuilwonings en 'n rudimentêre vorm van landbou. Versierde kleihouers uit die tydperk, baie keer met gevlegte patrone, is van die oudste oorblywende voorbeelde van pottebakkery ter wêreld. Habu Jinko, "Ancient Jomon of Japan", Cambridge Press, 2004
Die Yayoi-tydperk, wat in omtrent die 3de eeu v.C. begin het, het nuwe gebruike ingevoer, soos nat-rysverbouing, yster- en bronsvervaardiging en 'n nuwe pottebakkerstyl, ingevoer deur handelaars uit China of Korea. Met die ontwikkeling van die Yayoi-kultuur het hoofsaaklik 'n landbougemeenskap in Japan ontwikkel.
Die Japannese verskyn vir die eerste keer in geskrewe geskiedenis in China se Boek van Han. Volgens die Chinese Kronieke van die Drie Koninkryke was die naam van die magtigste koninkryk op die Japanse Argipel gedurende die derde eeu "Yamataikoku". Asuka-kyō en Fujiwara-kyō het gedien as hoofstede van die Yamatostaat. Minnesota State University, Timeline of Japanese History , Asuka Period , besoek op 3 Februarie 2008
Japan is vir die eerste keer aan Boeddhisme bekendgestel uit Baekje op die Koreaanse Skiereiland, maar die ontwikkeling van Japannese Boeddhisme en Boeddhistiese beelde is hoofsaaklik deur China beïnvloed. Ondanks vroeë weerstand is Boeddhisme deur die heersende klas aangemoedig en dit het uiteindelik in die Asuka-tydperk inslag gevind.
Die Nara-tydperk van die 8ste eeu het die opkoms van die eerste sterk sentrale Japannese staat aangedui wat gesentreer was om die keiserlike hof in die stad Heijō-kyō, of die hedendaagse Nara. Benewens die volgehoue aanneming van Chinese administratiewe gebruike, word die Nara-tydperk gekenmerk deur die verskyning van ontluikend geskrewe letterkunde met die voltooiing van die massiewe kronieke Kojiki (712) en Nihonshoki (720). Nara was egter nie die eerste hoofstad in Japan nie.
In 784 het keiser Kammu die hoofstad vlugtig vir tien jaar van Nara na Nagaokakyō geskuif voor dit na Heian-kyō (die hedendaagse Kioto) geskuif is in 794, waar dit vir meer as 'n millennium gebly het. Dit het die begin van die Heian-tydperk aangedui, waartydens 'n bepaalde inheemse Japannese kultuur verskyn het wat welbekend is vir sy kuns, poësie en letterkunde.
Murasaki Shikibu se Verhaal van Genji en die lirieke van moderne Japan se nasionale volkslied, Kimi ga Yo, is in die tydperk geskryf.
Japan se feudale era is gekenmerk deur die opkoms van 'n heersende klas van soldate, die samoerai. In 1185, na die omverwerping van die mededingende Taira-familiegroep, is Minamoto no Joritomo aangestel as Sjogoen en het hy 'n magsbasis in Kamakura gevestig. Ná Joritomo se dood het dit uitgewerk dat die Hōjō-familiegroep as regente van die sjogoens regeer het. Zen-Boeddhisme is in die Kamakura-periode (1185–1333) uit China ingevoer waarna dit gewild geword het onder die samoerai-klas. Die Kamakura-sjogoenaat het in 1274 en 1281 daarin geslaag om die Mongoolse invalle af te weer, bygestaan deur 'n storm wat die Japannese as 'n kamikaze, of "Goddelike Wind" geïnterpreteer het. Die Kamakura-sjogoenaat is uiteindelik deur keiser Go-Daigo afgeset, wat weer spoedig daarna in 1336 deur Ashikaga Takauji verslaan is. Die Ashikaga-sjogoenaat wat daarop gevolg het kon nie daarin slaag om die feudale oorlogshere (daimyo) onder bedwang te bring nie, en 'n burgeroorlog (die Ōnin-oorlog) het in 1467 uitgebreek wat 'n eeu-lange Sengoku-tydperk ingelui het.
Gedurende die 16de eeu het handelaars en Jesuïetsendelinge uit Portugal Japan vir die eerste keer bereik en aktiewe kommersiële en kulturele bande tussen Japan en die Weste (Nanban-handel) gevestig.
Oda Nobunaga het talle ander daimyo verower deur Europese vuurwapens en ander tegnologie te gebruik en het byna daarin geslaag om die nasie te verenig voor hy in 1582 vermoor is. Toyotomi Hideyoshi het Nobunaga opgevolg en die nasie in 1590 verenig. Hideyoshi het Korea twee keer binne geval, maar na verskeie nederlae deur Koreaanse en Ming-Chinese magte en Hideyoshi se dood, is Japannese troepe in 1598 onttrek.
Na Hideyoshi se dood het Tokugawa Ieyasu sy posisie as regent vir Hideyoshi se seun, Toyotomi Hideyori, gebruik om politieke beheer en militêre ondersteuning te bewerkstellig. Toe oorlog openlik uitgebreek het, het hy verskeie mededingende clans in die Slag van Sekigahara in 1600 verslaan. Ieyasu is in 1603 as sjogoen aangestel en het die Tokugawa-sjogoenaat by Edo (moderne Tokio) gevestig. Die Tokugawa-sjogoenaat het 'n verskeidenheid maatstawwe soos Buke sjohatto in plek gestel om die outonome daimio te beheer. In 1639 het die sjogoenaat die isolasionistiese sakoku ("geslote land") beleid aangeneem, wat gestrek het oor die twee en 'n half eeue van tenger politiese eenheid wat bekendstaan as die Edo-tydperk. Die studie van Westerse wetenskap, wat as rangaku bekend staan, het in die tydperk voortgeduur deur kontak met die Nederlandse enklawe by Dejima in Nagasaki. Die Edo-tydperk het ook aanleiding gegee tot kokugaku, of letterlik "nasionale studies", die studie van Japan deur die Japannese self.
Op 31 Maart 1854 het Kommodoor Matthew Perry en die "Swartskepe" van die Amerikaanse Vloot die opening van Japan tot die buitewêreld afgedwing met die Konvensie van Kanagawa. Soortgelyke verdrae wat daarop gevolg het met die Westerse lande in die laat Tokugawa-sjogoenaat het Japan in 'n ekonomiese en politiese krisis gedompel. Die oormag van die prerogatief en die bedanking van die sjogoenaat het gelei tot die Bosjin-oorlog en die vestiging van 'n gesentraliseerde staat onder die naam van Keiser Meiji (Meiji-Herstelling). Met die aanneming van Westerse politiese, geregtelike en militêre instellings het die Kabinet die Geheime Raad ingestel, die Meiji-grondwet ingevoer en die Ryksdag van Japan gevestig. Die Meiji-Herstelling het die Japannese Keiserryk in 'n geïndustrialiseerde wêreldmoondheid omskep wat 'n reeks militêre konflikte van stapel gestuur het om die nasie se invloedsfeer uit te brei. Na oorwinnings in die eerste Chinees-Japannese oorlog (1894–1895) en die Russies-Japannese Oorlog (1904–1905), het Japan beheer van Taiwan, Korea en die suidelike helfte van Sachalin bewerkstellig.
Die vroeë 20ste eeu het 'n kort tydperk van "Taishō-demokrasie" (genoem na die regeringstyd van Keiser Taishō) gesien wat oorskadu is deur die opkoms van Japannese ekspansionisme en militarisasie. Die Eerste Wêreldoorlog het Japan, wat by die seëvierende Geallieerdes aangesluit het, toegelaat om sy invloed en territoriale besittings uit te brei. Japan het sy ekspansionistiese beleid voortgesit deur Mantsjoerye in 1931 in te val. As gevolg van internasionale veroordeling van die besetting het Japan twee jaar later uit die Volkebond bedank. In 1936 het Japan die Anti-Kominternpakt met Nazi-Duitsland se Nasionaalsosialistiese regering gesluit en in 1941 by die Spilmoondhede aangesluit.
In 1937 het Japan ander dele van China ingeval wat gelei het tot die Tweede Chinees-Japannese Oorlog (1937–1945), waarna die Verenigde State 'n olieboikot teen Japan ingestel het. Op 7 Desember 1941 het Japan die Amerikaanse Vlootbasis in Pearl Harbor aangeval en oorlog teen die VSA, die Verenigde Koninkryk en Nederland verklaar. Die optrede het Japan in die Tweede Wêreldoorlog betrek. Na die atoombomaanvalle op Hirosjima en Nagasaki in 1945, tesame met die Sowjetunie se aansluiting by die oorlog teen die land, het Japan ingestem tot 'n onvoorwaardelike oorgawe op 15 Augustus. Die oorlog het Japan miljoene lewens gekos en groot dele van die land se nywerhede en infrastruktuur in puin gelaat. Die Internasionale Militêre Tribunaal van die Verre-Ooste is byeen geroep deur die Geallieerdes van die Tweede Wêreldoorlog (op 3 Mei 1946) om Japannese leiers vir oorlogsmisdade soos die "Bloedbad van Nanjing" te vervolg.