Elsas (Frans: L'Alsace, Elsasser Duits: s'Elsass, Duits: das Elsass) was 'n administratiewe gewes (Frans: région) van Frankryk wat bestaan het uit die départements Bas-Rhin ("Laer Ryn") in die noorde en Haut-Rhin ("Bo-Ryn") in die suide. Elsas was in die noordooste van Frankryk en aan die wesoewer van die Ryn geleë waar dit 'n gemeenskaplike grens met Duitsland en Switserland gedeel het. As deel van administratiewe hervormings is Elsas saam met Lotaringe en Champagne-Ardenne met ingang van 1 Januarie 2016 tot 'n nuwe gewes verenig, Grand Est.

Die streek se hoofstad en grootste nedersetting is Straatsburg, gevolg deur die nywerheidstad Mulhouse (onderhoofstad van Haut-Rhin), en Colmar, hoofstad van Haut-Rhin. Elsas het verskeie oorgange tussen Duitse en Franse beheer ondergaan en die argitektuur en kultuur het steeds 'n sterk Germaanse karakter.

Histories het die gebied ook vroeër die Territoire de Belfort, vandag deel van Franche-Comté, ingesluit.

Geskiedenis duimnael|links|250px|Mont Sainte-Odile klooster

In prehistoriese tye is Elsas deur nomadiese jagters bewoon, maar teen 1500 v.C. het Kelte hulle in Elsas gevestig en die grond begin bewerk. Teen 58 v.C. het die Romeine die gebied ingeval en Elsas as 'n wynboustreek gevestig. Om die waardevolle nywerheid te beskerm het die Romeine fortifikasies en militêre kampe gebou wat ontwikkel het in verskeie gemeenskappe wat kontinu tot vandag toe bewoon is.

Met die ondergaan van die Romeinse Ryk is Elsas deur die Alemanne ingeneem. Die Alemanne was 'n landbouvolk en hulle taal vorm die basis van die hedendaagse Elsasser dialek. Die Alemanne is in 496 deur die Franke onder Clovis I verower en Elsas het 'n Frankiese hertogdom van die Koninkryk van Austrasië geword. Elsas het onder Frankiese beheer gebly totdat dit in 843 volgens die Verdrag van Verdun in drie verdeel is. Die kleinseuns van Karel die Grote – formeel bekend as die stigter van die Frankiese Ryk – het die ryk in drie dele gedeel. Die Benelux state, Elsas en Lotharinge het die Frankiese Middel Ryk gevorm wat deur die jongste kleinseun Lothar geheers is. Louis die Duitser het die Oostelike deel gekry wat sou ontwikkel tot die Heilige Romeinse Ryk en later tot vandag se Duitsland. Karel die Kale het die westelike gedeelte wat later Frankryk geword het gekry. Pepyn II, 'n kleinneef van die drie broers, is die koninkryk van Aquitaine, vandag 'n région in die suidweste van Frankryk, toegeken maar dit was onder die outoriteit van Karel. Lothar is in 855 vroeg dood en sy ryk is weer in drie gedeel. Die deel wat as Lotharinge bekend saat is aan Lothar se seun gegee. Die res is verdeel tussen Lothar se broers Karel die Kale (heerser van die Wes-Frankiese ryk) en Ludwig die Duitser (heerser van die Oos-Frankiese ryk). Lotharinge is later deur die Heilige Romeinse Ryk geannekseer.

Nadat dit vir 'n tydlank deel was van die Koninkryk van Boergondië het Elsas in die 15de eeu deel geword van die Heilige Romeinse Ryk as die westelike deel van die Hertogdom van Swabe en later onder die administrasie van die Oostenrykse huis van Habsburg. Elsas het 'n bloeitydperk beleef in die 12de en 13de eeue onder die Hohenstaufen Keisers, maar die tydperk van voorspoed is in die 14de eeu deur 'n reeks velle winters, misoeste en die Swart Dood tot 'n einde gebring. Die blaam vir die beproewings is voor die deur van die Jode gelê wat gelei het tot die pogroms van 1336 en 1339. 'n Verdere natuurramp was die Ryngrabenaardbewing van 1356, een van die ergste in Europa se geskiedenis.

Tydens die Renaissance het voorspoed na Elsas teruggekeer onder die Habsburg administrasie, tot met die Dertigjarige Oorlog wat groot dele van suidelike Duitsland swaar getref het. Die grootste deel van Elsas is aan Frankryk afgestaan met die Vrede van Wesfale in 1648, wat die begin aandui van Elsas en Lotharinge, as 'n bestrede gebied tussen Frankryk en Duitsland.

Die stad Straatsburg is tydens die heerskappy van Louis XIV van Frankryk deur Frankryk geannekseer, op 'n stadium toe Habsburg en ander Duitsers betrokke was in gevegte met die Turke, by die Slag van Wene. Sedert 500 is die gebied oorwegend deur Germaanssprekende mense bewoon en hulle het pogings om Frans en gebruike wat op hulle afgedwing is teëgestaan.

duimnael|regs|250px|'n Elsas vrou in tradisionele drag.

Beide Alsace en Lotharinge het as "Reichsland Elsaß-Lotharingen" (Elsas-Lotharinge), deel geword van die nuwe Duitse Ryk onder kanselier Otto von Bismarck na die Frans-Pruisiese Oorlog van 1870–1871. 'n Geskatte 50 000 mense (uit 'n totale bevolking van omtrent 1,5 miljoen) het geëmigreer, onder andere na Frankryk en Amerika. Frans is in skole verban en alle koerante moes in Duits gepubliseer word.Visit Alsace, A Little History , besoek op 10 Maart 2007 Elsas het deel gebly van Duitsland tot aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog toe Duitsland dit in terme van die Verdrag van Versailles afgestaan het. VSA President Woodrow Wilson het egter aangedring dat die région wetlik selfregeringstatus moes hê aangesien die grondwet daarvan gestel het dat dit alleen deur die outoriteit van die Keiser gebind is en nie aan die Duitse staat nie.

duimnael|links|250px|Die ingang na Ouvrage Schoenenbourg langs die Maginotlinie in Elsas Gevolglik het die regering van Elsas-Lotharinge onafhanklikheid verklaar as die Republiek van Elsas-Lotharinge, maar dit kon nie die Franse teëstaan wat dit 'n week later oorgeneem het nie. Frankryk het nie 'n plebissiet geduld soos op daardie stadium deur die Volkebond toegestaan is in sommige Duitse gebiede nie.

Na die Eerste Wêreldoorlog is die vestiging van Duitse identiteit in Elsas omgekeer. Duitsers wat hulle na 1871 in Elsas gevestig het, is verban. Frans het die amptelike en onderwystaal geword. Die région was nie onderworpe aan sommige van die veranderinge in Franse reg van 1871 tot 1919, soos die Wet op die Skeiding van die Kerk en die Staat nie.

Die Maginotlinie wat tussen 1930 en 1939 deur Frankryk gebou is het deur Elsas geloop. In September 1939 toe Hitler Pole binne geval het, is een derde van Elsas se bevolking summier na Perigord aan die ander kant van Frankryk geëvakueer. In Junie 1940 is die Maginotlinie maklik omseil en die région is in effek deur Nazi Duitsland geannekseer en heropgeneem in die Großdeutsches Reich (Groot-Duitse Ryk). Elsas is verenig met Baden, en Lotharinge met Saarland. Die Duitse regering het nooit oor die vraagstuk onderhandel of formeel anneksasie verklaar nie. Hoogduits was die enigste geoorloofde taal. 'n Honderd en veertig duisend mans tussen die ouderdom sewentien en agt-en-dertig, wat as die Malgré-nous (teen ons sin) bekend gestaan het, is deur die Duitse leër opgeroep en gedwing om teen hulle landgenote te veg.

Frankryk het weer beheer oor die oorloggeteisterde gebied verkry in 1944 en die beleid om Frans aan te moedig voortgesit. Van 1945 tot 1984 is die gebruik van Duits in koerante byvoorbeeld beperk tot 'n maksimum van 25%.

Elsas ná 1945 In 1949 is Straatsburg as setel van die nuutgestigte Europaraad gekies. Hierdie besluit het aan die beginpunt van Elsas se na-oorlogse "Europese tradisie" gestaan. Straatsburg is in 1979 ook as een van die twee setels van die Europese Parlement gekies (naas Brussel) sodat Elsas homself naas die Benelux-lande as kerngebied van die Europese Unie gevestig het. Die Europese Parlement het aanvanklik in die vergadersaal (Hémicycle) van die Europese Raad byeengekom en in 1999 sy eie gebou betrek.

Eers in die 1980's het die Wes-Duitse regering ingestem om skadeloosstelling aan Elsassers te betaal wat gedurende die Nasionaalsosialistiese besettingstyd gedwing is om diensplig in die Duitse weermag te doen. Geregtigdes het 'n eenmalige bedrag van gemiddeld DM 3 000 ontvang.

Die Elsassiese taal en kultuur is ná die oorlog deur die Franse owerheid gemarginaliseer sodat 'n groot deel van die bevolking na Frans as omgangstaal oorgeskakel het. Weens die strukturele veranderings in die plaaslike landbousektor, die vinnige verstedelikingsproses en immigrasie uit ander dele van Frankryk asook Italië, Portugal, Turkye en Noord-Afrika het die etniese samestelling van die bevolking ook verander.

Tans fungeer Frans as enigste amps- en onderwystaal. Steeds minder mense het kennis van Elsas se inheemse Alemanniese dialekte of Standaardduits, en dit is veral ouer inwoners wat Elsassiese Duits nog magtig is, of dit as omgangstaal besig. Nogtans het in 2010 48,1 persent van kinders in kleuter- en 91,1 persent van leerders in laerskole onderwys in Duits as vreemde taal ontvang. In middelskole het hierdie persentasie nog 73,2 persent beloop, in die hoogste standerds van hoërskole (lycées) net 15,4 persent. Hierdie persentasies is bo die gemiddeld van Frankryk.

Geografie duimnael|regs|250px|Die Vogese en die Elsasvlakte

Elsas dek 'n oppervlak van 8,280 km² (190 km lank by 50 km wyd 1,5% van die oppervlak van Frankryk), wat dit die kleinste région van metropolitaanse Frankryk maak. Korsika het omtrent die selfde oppervlak. Dit strek van suid na noord langs die Ryn wat dit in die ooste begrens. Dit word in die noorde deur die Lauterrivier begrens waar die Duitse palts begin, en in die ooste deur die Ryn met Baden-Württemberg aan die anderkant van daarvan, in die suide deur Switserland, in die suidweste deur die région Franche-Comté en in die weste deur die région Lotharinge.

Die streek word in 'n aantal verskillende landskappe verdeel:

in die Ooste die Elsasvlakte (wat saam met Baden in Duitsland die Fossé rhénan vorm) wat deur die Illrivier gedreineer word en toegewy is tot grootskaalse graanboerdery; woude beklee steeds 'n belangrike posisie (die Haguenauwoud in die noorde en die Hardt in die suide) ; tussen die Ryn en die Ill, le Ried, van die Alemannies vir riet. Die nat moerassige sone behou sy natuurlike karakter wat op merkwaardige wyse deur die ou vroeër wilde rivier gevorm is (woude deurkruis deur die sytakke van die Ryn, oorspoelde vleie, fonteine, riviere), waar natuurreservate en beskermde gebiede mens met wonder vervul. in die Weste oorheers die Vogese met groot valleie met die slik van die Ill; hier is daar hooglandweivelde (Hautes Chaumes) wat afgewissel word met woude; die Grand Ballon 1424 m , geleë in die Haut-Rhin, is die hoogste punt van Elsas; die Vogese voetheuwels vorm die skakel tussen beide groepe. Die Vogesheuwels bevat die Elsasiese wynlande. Sundgau, heuwelgebied suid van Mulhouse. Elsas-Jura in die suidelike punt van die gebied.

Elsas het 'n half-kontinentale klimaat met koue droë winter en warm somers. Daar is min neerslag aangesien die gebied in die weste deur die Vogese beskerm word. Dia stad Colmar het 'n sonnige mikroklimaat en is die tweede droogste stad in Frankryk met 'n jaarlikse neerslag van slegs 550 mm, wat dit ideaal maak vir vin d'Alsace (Elsas wyn).

Ekonomie duimnael|Houers in die Port autonome de Strasbourg In ekonomiese opsig word Elsas onder die mees dinamiese en welvarendste streke in Frankryk gereken. Sy ligging teen die Ryn en sy moderne infrastruktuur verseker dat die streek voordeel kan trek uit sy integrasie in een van Europa se ekonomiese spilpunte waar handelstrome uit die noorde en suide gehanteer word.

Die florerende nywerheidsektor, met onder meer motorvervaardiging en petrochemiese aanlegte, dra tans sowat dertig persent by tot Elsas se bruto binnelandse produk (BBP). Met sy oop ekonomie word Elsas onder die Franse streke met die grootste buitelandse beleggings gereken. Die dienstesektor is die belangrikste ekonomiese dryfkrag, onder meer danksy die hoogs moderne biotegnogiebedryf. Landboubedrywighede fokus op wynbou en hop.

Taal