Normandië (Frans: Normandie, [nɔʁmɑ̃di], ; Normandies: Normaundie of Nouormandie, [nɔʁ.mɛnde]) is 'n région en historiese provinsie in die noordweste van Frankryk, wat van die riviervlaktes van die Seine (Haute-Normandie) tot by die skiereiland Cotentin (Basse-Normandie) en die Kanaaleilande strek. Hoewel die vasteland deel uitmaak van die Franse Republiek, is die Kanaaleilande sedert die middeleeue 'n Britse kroongebied.

In die huidige Frankryk verwys die term Normandië dikwels na die voormalige administratiewe geweste Haute-Normandie met die départements Seine-Maritime en Eure, en Basse-Normandie met die départements Calvados, Manche en Orne met 'n totale oppervlakte van 29 906 vierkante kilometer en 'n bevolking van sowat 3,45 miljoen. 'n Aantal kantonne, wat histories deel uitmaak van die ou provinsie Normandië, is tydens die Franse Rewolusie by die départements Eure-et-Loir, Mayenne en Sarthe ingelyf en maak nou deel uit van die geweste Centre en Pays de la Loire.

'n Nimmereindigende stryd teen natuurkragte het net soos die avontuurlus van hulle Wiking-voorvaders die karakter van die mense in Normandië gevorm, wat dikwels as eiesinnig, koppig en terughoudend beskryf word.

Etimologie Die naam "Normandië" is ontleen aan die term normand met die oorspronklike Latynse agtervoegsel -ie (vergelyk. Germania "Germanië", Italia "Italië", ens.). Normand is op sy beurt afgelei van die Frankiese *nortman of die Oudnoorse norðmaðr wat albei "mans van die noorde" beteken. In die negende eeu is in Middeleeuse Latynse tekste vir die eerste keer na Normandiërs verwys. Charles du Fresne, sieur du Cange, Glossarium. Die term "Normandiërs" (geskryf as Norman) verskyn vir die eerste keer in die Rolandslied. Vers 3794 Baivier e Saisne sunt alet à cunseill, e Peitevin e Norman e Franceis ; asez i as Alemans e Tiedeis ("Saksers en Beiere het saam met die Poitevine, die Normandiërs en die Franse in die raad getree; die Alemanne en die Thiois is baie."). Normandië beteken dus "land van die manne uit die noorde".

Die term Norðmannaland, die Germaanse ekwivalent vir Normandië, is aan die einde van die negende eeu in Oud-Engels in Orosius vir die eerste keer gebruik en verwys na "Denemarke", 'n land wat destyds moeilik bepaal kon word.

Geografie en klimaat Die kontinentale Normandië duimnael|links|Rotskus naby Etretat Normandië vorm geen geografiese eenheid nie, maar word deur twee groot natuurlike landskappe van Noord-Frankryk gekenmerk: Die Paryse Bekken en die Armorikaanse massief. Hierdie indeling stem nie met die grense van die twee Normandiese geweste op die vasteland ooreen nie, en die grenslyn tussen die twee geologiese formasies loop eerder in noord-suidelike rigting deur die départements Calvados en Orne.

Die geologiese verskeidenheid word deur 'n aantal verskillende landskapsvorme weerspieël, wat egter almal in dieselfde gematigde en vogtige klimaatsone lê. Grasvlaktes en beboste gebiede kom – naas 'n aantal unieke landskapsvorme wat op klein gebiede beperk is – dwarsoor Normandië voor.

Die kuslyn bevat 'n verskeidenheid landskapsvorme. Bo-oor die klippiestrande van die Alabasterkus (Frans: Côte d'Albâtre) in die Pays de Caux verrys hoë krytrotse, 'n relatief sagte gesteente met dun lae flint (vuursteen) en klei wat sowat 200 miljoen jare gelede gevorm het en tot by die Seinemonding strek. Die krytrotse word deur natuurlike verwering opgebreek sodat dikwels groot rotsbrokke in die see stort. Dele van die staproete bo-oor die rotse word op 'n gereelde basis gesluit sodra skeure in die grond begin vorm.

duimnael|Die sandstrand van Deauville Die ruwe see en sy getye het op verskeie plekke diep boë en naalde uit die rotswande gesny soos byvoorbeeld in Etretat. Ook riviere het langs die hele Normandiese kuslyn tussen Le Tréport en Le Havre diep klowe in die krytrots gesny. Die natuurlike baaie, wat in grootte wissel, was geskikte plekke vir die stigting van klein seehawens. In eb-gety word uitgestrekte klippiestrande blootgelê, dikwels met strepe nat sand daartussen. Suiwer sandstrande soos dié van Dieppe of Veules-les-Roses kom nouliks voor in die Normandiese rotskusgebied. Klaus Simon: Normandie. Ostfildern: DuMont 2007, bl. 18

Slegs die département Calvados spog in die landskappe Pays d'Auge et Bessin met uitgestrekte sandstrande langs die Côte Fleurie en die Côte de Nacre, terwyl die kuslandskappe van Manche verskillende gebiede bevat: Die steile kristalliene rotspunte van Kaap de La Hague in die noorde van die skiereiland Cotentin en die laer kusstreke met hulle tipiese sandstrande in die omgewing van Saint-Vaast en Mont-Saint-Michel.

Normandië se maritieme klimaat lei tot gematigde temperature dwarsdeur die jaar. Die weer langs die kusgebiede van die Engelse Kanaal word gekenmerk deur die sogenaamde Atlantiese versteurings, wat gereeld optree en windige weer met die berugte sombere tot donkergrys lig saam bring. Die suidwestelike winde waai steeds.

Die Kanaaleilande duimnael|Jersey: Noirmont met St. Aubin's Fort Tot en met die tyd van die Noormanne-invalle is die Kanaaleilande deur Bretonners bewoon. Die eilandgroep maak in die tydperk tussen 933 en 1204 deel uit van die Hertogdom Normandië. Teen die einde van die Honderdjarige Oorlog met Engeland misluk 'n Franse poging om die eilande weer by Frankryk in te lyf.

Die Kanaaleilande bly gevolglik 'n deel van die Hertogdom Normandië en 'n selfregerende Britse Kroongebied, aangesien die Engelse monarg gelyktydig ook as Hertog van Normandië fungeer. Die eilande bewaar talle ou tradisies soos die Normandiese regstelsel en maak nóg deel uit van die Verenigde Koninkryk nóg van die Europese Unie nie.

Slegs die hoofeilande Jersey, Guernsey, Alderney, Sark en Herm en die kleiner eilande Jethou, Brecqhou en Lihou is bewoon. Die klein Minquiers-rotsbank en Ecréhous het geen permanente bevolking nie.

Die eilande het danksy die invloed van die Golfstroom 'n baie gematigde klimaat. Die see se getye skep 'n ongewone natuurskouspel, wanneer tydens eb 'n uitgestrekte seelandskap rondom die eilande droog lê.

Geskiedenis Die prehistoriese tydperk Argeologiese vondse uit die steentydperk, wat veral in Eure en Calvados opgegrawe is, lewer bewys van prehistoriese menslike nedersettings in Normandië. In die grot van Gouy naby Rouen is rotstekeninge teen die grotwande geskilder, wat as die mees noordelike in Europa beskou word. Daarnaas is 'n groot aantal megaliete volgens sekere patrone dwarsoor Normandië opgerig.

Normandië voor die Romeinse verowering Omtrent die Keltiese geskiedenis van Normandië is nou baie besonderhede bekend, veral danksy 'n groot aantal argeologiese bronne, waarvan die ouderdom noukeurig bepaal kan word. Plaaslike geleerdes soos die geestelike Cochet en Léon Coutil het die argeologiese vondste van veral Haute-Normandie sedert die 19de eeu ondersoek en in wetenskaplike standaardwerke gepubliseer.

Van die belangrikste Keltiese objekte, wat in Normandië opgegrawe is, is die goue Galliese helm van Amfreville-la-Mi-Voie (4de eeu v.C.); die ysterhelm, wat nou in die museum van Louviers vertoon word en die groot nekropool van Pîtres (Eure) met sy Keltiese urnegrafte, waarin swaarde en die oorblyfsels van 'n lykwa ontdek is.

Die Keltiese volk van die Belgae het hulle in opeenvolgende immigrasiegolwe tussen die 4de en 3de eeu v.C. in Normandië gevestig. Die huidige kennis oor die verskillende Galliese stamme is grootliks te danke aan Gaius Julius Caesar se noukeurige beskrywings in sy boeke oor die Galliese Oorlog (De bello Gallico). Ná die Galliese neerlaag naby Alesia het die plaaslike stamme in Normandië nog 'n tyd lank weerstand teen die Romeinse veroweraars gebied, tog het die Romeine in 51 v.C. hulle gesag oor Gallië uiteindelik gevestig.

Die Romeinse tydperk duimnael|Orfeus-mosaïek uit Lillebonne (Rouen, Musée des Antiquités) Met keiser Augustus se administratiewe hervormings van die jaar 27 v.C. het die Normandiese gebiede 'n deel van die Galliese provinsie Lugdunensis geword. Soos elders in die weste van die ryk, is die Romanisering van die plaaslike bevolking deur die bou van paaie en verstedeliking bevorder.

duimnael|links|Romeinse borsbeeld uit Lillebonne In die Normandiese gebiede het die sogenaamde villa-kultuur oorheers, waarby 'n groot plattelandse bevolking outarke landgoedere bewoon.

In die tweede derde van die 3de eeu is talle dorpe en stede in Normandië deur barbare-invalle verwoes, en die kusgebiede is deur Saksiese seerowers bedreig. Spore van brande, en skatte en geld, wat bewoners haastig ingegrawe het om dit teen plunderaars te beskerm, getuig nog steeds van daardie onrustige tye in Noord-Gallië.

As gevolg van Diocletianus (285-305) se administratiewe hervormings is die Normandiese gebiede van die huidige Bretagne geskei om die gebied Lugdunensis Secunda te vorm. Teen hierdie tydperk het ook die kerstening van Normandië begin, en die eerste biskop is in Rouen geordonneer.

Sedert 406 is die Wes-Romeinse gebiede deur Germaanse stamme oorstroom. Die Sakse het hulle langs die Normandiese kus gevestig. Die gesag van die Romeinse keisers het vinnig gedaal, en Normandië het weer onder sy ou naam Armorika bekend gestaan. Die plattelandse villas is ontruim en vervolgens verwoes, terwyl die stadsbewoners hulle agter hulle versterkings verskans het. Nog voor die amptelike einde van die Wes-Romeinse Ryk in 476 het talle barbare-groepe hulle as Romeinse bondgenote in Gallië gevestig, wat veral uit die toponimie blyk.

Die Hoë Middeleeue In 486 het die Galliese gebiede tussen Somme en Loire onder die heerskappy van die Frankiese koning Clovis I gekom. Die Frankiese verowering het nie tot 'n grootskaalse vestiging van Franke in Normandië gelei nie, tog getuig sowel talle plekname met die eindings -ville en -court asook die administratiewe en militêre verdeling in graafskappe van die Frankiese invloed.

Daarenteen het die kerstening 'n diepgaande invloed op Normandië uitgeoefen. In die grootste stede is katedrale opgerig, terwyl kerke op die platteland aan heiliges gewy is. Langs die paaie is kapelle opgerig, en in die Karolingiese tydperk het dorpsbewoners hulle begraafplase meesal rondom hulle parogiale kerke aangelê. Sedert die 6de eeu het die Normandiese kloosterlewe – dikwels volgens die reëls van die heilige Benedictus – veral in afgeleë gebiede van die weste begin ontwikkel.

Die Skandinawiese invalle Teen die einde van die eerste millenium het die strooptogte van Skandinawiese Wikings in 'n groot aantal Europese gebiede begin. Daar was twee golwe van invalle, met die eerste in die tydperk tussen 790 en 930 en die tweede tussen 980 en 1030. Die Wikings het onder hulle gelatiniseerde naam Northmanorum of "Manne uit die noorde" bekend gestaan. Die naam van Normandië is afgelei van die Skandinawiese krygers.

duimnael|Normandië in die 10de en 11de eeu. Die grafiek wys die uitbreiding van die Normandiese gebied en die aandeel van Skandinawiese setlaars Tussen 790 en 800 het die Noormanne hulle eerste strooptogte langs die kusgebiede van die westelike Gallië onderneem, en onder die heerskappy van Lodewyk die Vrome (814-840) het hulle vir die eerste keer stede in die huidige Normandië aangeval. Die inval van 841 het groot skade in Rouen en Jumièges berokken. Net soos by hulle eerste strooptog op die Britse kloostereiland Lindisfarne teen die einde van die 8ste eeu het die Wikings hulle op sagte teikens soos kloosters toegespits. Die Skandinawiërs het hulle teikens meesal tydens die somer aangeval, om daarna met hulle prooi na die noorde terug te keer en daar te oorwinter. Met die ekspedisie van 845 het hulle die Seine rivier-op geseil en Parys geplunder.