duimnael|265px|’n Kaart wat goeie en slegte dae aandui om bloed te laat en wanneer om teen demone te waak. Detail: Die kaart bevat ’n sme ba (9 figure wat die Vyf Elemente in waarsêery verteenwoordig in die middel, met die Chinese pa-kua (8 trigramme) en 12 diere van die maande en jare wat dit omring.
Die Chinese astrologie (Chinees: 占星術 / 占星朮, zhānxīngshù ‚ "kuns van die waarsêers") is geskoei op die tradisionele Chinese astronomie en filosofie. Dit bereken nie soos die Westerse astrologie die uitwerking van sterrebeelde op iemand se toekoms nie. Dit gebruik in plaas daarvan ’n kalender met onderliggende betekenisse vir die bepaling van ’n persoon se bestemming. Dit berus verder op verskeie dissiplines wat onderling afhanklik is van mekaar. Dit sluit in die Vyf Elemente (Wu Xing), jin en jang, die 10 Hemelstamme, die 12 Aardtakke en die Chinese kalender, ’n maansonkalender met tydsbepaling volgens jare, maande, dae en dubbelure.
Die Chinese astrologie het hand aan hand gegaan met die astronomie, wat in die tyd van die Han-dinastie (2de eeu v.C. tot die 2de eeu n.C.) floreer het. Een rede waarom die astrologie tot vandag oorleef het, was moontlik die Chinese kalender. Nes die Chinese karakters het dit oor die millennia ’n onafskeidbare deel van die Chinese kultuur geword en is dit vandag steeds deel van die alledaagse lewe in China.
Agtergrond Die Chinese astrologie is uitgebrei tydens die Zhou-dinastie (1046 tot 256 v.C.) en het floreer tydens die Han-dinastie (2de eeu v.C. tot 2de eeu n.C.). Tydens laasgenoemde dinastie is die bekende elemente van die tradisionele Chinese kultuur – die jin-jang-filosofie, die Vyf Elemente, die begrippe hemel en aarde, en Cunfuciaanse moraliteit – byeengevoeg om die filosofiese beginsels van Chinese medisyne, waarsêery, astrologie en alchemie te formaliseer.Xiaochun Sun, Jacob Kistemaker, The Chinese sky during the Han: constellating stars and society, pp.3-4. BRILL, 1997.
Nes op ander plekke in die wêreld het die Chinese nie net die beweging van die son en maan in die lug waargeneem nie, maar ook van die planete. Volgens hul siening van die wêreld was daar eers water, toe vuur, toe hout, toe metaal en laastens die aarde. Planete is toe aan die elemente toegewys:Weber, Harald: Das chinesische Horoskop. Astra-Verlag, Leipzig 1930, bl. 26–32.Derek Walters: Chinesische Astrologie. Geschichte und Praxis. Ein methodisch aufgebautes Lehrbuch. M&T Edition Astroterra, Zürich 1990, , bl. 16, 17.
Mercurius – Water (Swart Skilpad) Mars – Vuur (Vermiljoen Voël) Jupiter – Hout (Asuur Draak) Venus – Metaal (Wit Tier) Saturnus – Aarde (Geel Draak)
Volgens die Chinese astrologie kan ’n mens se bestemming bepaal word deur die posisie van die groot planete met ’n mens se geboorte, asook die posisie van die son, maan en komete, die tyd van sy geboorte en sy diereteken. Die stelsel van die twaalfjaarsiklus van dieretekens is saamgestel uit waarnemings van Jupiter (die "Jaarster", Suìxīng) se wentelbaan om die Son. Chinese sterrekundiges het die wentelbaan in 12 dele verdeel en dit tot 12 jaar afgerond (van Jupiter se wenteltyd van 11,86 jaar).Dr Zai, J. Taoism and Science: Cosmology, Evolution, Morality, Health and more. Ultravisum, 2015. Jupiter word verbind met die Chinese sterrebeeld Sheti (摄提 of 歳星), die Veewagter, en word soms Sheti genoem.
’n Stelsel om iemand se bestemming te bepaal geskoei op sy geboortedatum, en , bekend as Zi wei dou shu (紫微斗数 of 紫微斗數), word steeds in hedendaagse Chinese astrologie gebruik.
Chinese filosofie Die Chinese filosofie gaan oor die harmonie van die hemel, aarde en mens, die drie komponente van die heelal wat die orde van die wêreld uitmaak. Dit moet weerklank vind in die menslike gemeenskap. Harmonie met die kosmos kan dus ’n gelukkige lewe meebring. Kennis van die wêreldverloop kan help om huidige en toekomstige tendense waar te neem.
Vyf elemente duimnael|220px|’n Diagram van die wisselwerkings tussen die Vyf Elemente.
Wu Xing, of die Vyf Elemente, is ’n vyfvoudige skema wat op baie tradisionele Chinese terreine gebruik word om ’n groot verskeidenheid verskynsels te verduidelik, van kosmiese siklusse tot die wisselwerking tussen interne organe, en van die opvolging van politieke regimes tot die eienskappe van medisyne. Die Vyf Elemente is Hout (木, mu), Vuur (火, huo), Aarde (土, tu), Metaal (金, jin) en Water (水, shui).Deng Yu et al; Fresh Translator of Zang Xiang Fractal five System,Chinese Journal of Integrative Medicine; 1999Deng Yu et al,TCM Fractal Sets中医分形集,Journal of Mathematical Medicine ,1999,12(3),264-265
Die elemente beteken die volgende: Hout: om te vorm, soos die daaglikse roetine, met waardigheid, standvastigheid en vrede. Vuur: om aan te steek, soos om ’n projek aan te pak en dit te volvoer, met ’n vonk, energie, dinamiek, gereed vir ’n geveg of stryd. Aarde: om te verstewig, soos stabiliteit en balans, met versigtigheid en akkuraatheid. Metaal: om te vorm, soos om veilige risiko's te neem; eerlik, regverdig, saaklik; aandenergie; oorsig; oes. Water: om op te los, soos die einde van ’n siklus en die vooruitsig van nuwe dinge; versigtigheid; vrugbaarheid; om slim te werk; ’n neiging om te droom.
Jin en jang Jin en jang stel die skeppende krag in die heelal voor wat altyd volkome gebalanseerd moet wees sodat kosmiese energievloei kan plaasvind. Jin is die vroulike of negatiewe pool wat swart, koud en stadig is. Dit sluit ook die maan, skaduwee, aarde, nag en ewe getalle in. Jang is die manlike of positiewe pool wat wit, warm en vinnig is. Dit sluit ook die son, lig, hemel, dag en onewe getalle in.Derek Walters: Chinesische Astrologie. Geschichte und Praxis. Ein methodisch aufgebautes Lehrbuch. M&T Edition Astroterra, Zürich 1990, , bl. 20.
Chinese diereriem Die Chinese diereriem is die klassifikasiestelsel wat ’n dier en sy beweerde eienskappe toewys aan elke jaar in ’n herhalende twaalfjaarsiklus. Dit en variasies daarvan bly gewild in baie Asiatiese lande, insluitende China, Japan, Suid-Korea, Viëtnam, Mongolië, Kambodja, Laos, Nepal, Bhoetan en Thailand.
Die diereriem word in Mandaryns 生肖 (Shēngxiào) genoem. Die term "diereriem" weerspieël verskeie kunsmatige ooreenkomste met die Westerse diereriem: Albei het tydsiklusse wat in 12 dele verdeel word, die meeste van dié dele het die name van diere en elkeen word verbind met ’n persoon se persoonlikheid of gebeure en hul lewe.
Daar is egter groot verskille wat die term onakkuraat maak. Die diere van die Chinese diereriem word nie met sterrebeelde verbind nie; die Chinese 12 dele stem ooreen met jare, nie maande nie; en die Chinese diereriem word deur 12 diere verteenwoordig, terwyl al die tekens in die sogenaamde Westerse diereriem nie die name van diere het nie.
Tekens duimnael|’n Klipgravering van die Chinese diereriem.
Die diereriem begin tradisioneel met die teken van die Rot. Hier volg die 12 tekens (elk met sy Aardtak, jin/jang-eienskap,Theodora Lau, The Handbook of Chinese Horoscopes, pp. 2–8, 30–5, 60–4, 88–94, 118–24, 148–53, 178–84, 208–13, 238–44, 270–78, 306–12, 338–44, Souvenir Press, New York, 2005 trigoon en Wu Xing-element. Rot – 鼠 (子) (jang, 1ste trigoon, Water) Os – 牛 (丑) (jin, 2de trigoon, Aarde) Tier – 虎 (寅) (jang, 3de trigoon, Hout) Konyn – 兔 (卯) (jin, 4de trigoon, Hout) Draak – 龍 (辰) (jang, 1ste trigoon, Aarde) Slang – 蛇 (巳) (jin, 2de trigoon, Vuur) Perd – 馬 (午) (jang, 3de trigoon, Vuur) Bok – 羊 (未) (jin, 4de trigoon, Aarde) Aap – 猴 (申) (jang, 1ste trigoon, Metaal) Haan – 雞 (酉) (jin, 2de trigoon, Metaal) Hond – 狗 (戌) (jang, 3de trigoon, Aarde) Vark – 豬 (亥) (jin, 4de trigoon, Water)
In Chinese astrologie verteenwoordig die dier wat volgens jou geboortejaar aan jou toegeken word hoe ander jou waarneem of hoe jy jouself uitbeeld. Dit is egter nie al teken wat jy het nie; daar word ook diere volgens maand (innerlike diere), dag (ware diere) en uur (geheime diere) aan jou toegeken.
Terwyl iemand soos ’n Draak voorkom omdat hulle in die Jaar van die Draak gebore is, kan hulle ook ’n innerlike Slang, ’n ware Os en ’n geheime Bok wees.
Vier Bestemmingspilare Die Vier Pilare kan teruggespoor word na die Han-dinastie (omstreeks 201 v.C. – 220 n.C.), en dit word steeds dikwels gebruik in Feng shui-astrologie. Dit word so genoem omdat die Chinese skrif veroorsaak dat dit in kolomme val. Elke pilaar of kolom bevat ’n stam en ’n tak – en elke kolom hou verband met die jaar, maand, dag en uur van geboorte. Die eerste kolom verwys na die jaardier en element, die tweede kolom na die maanddier en element, die derde kolom na die dagdier en element en die laaste kolom na die uurdier en element.
Die jaarkolom verskaf na bewering inligting oor die persoon se voorouers of vroeë lewe, die maandkolom oor die ouers of kinderdae, die dagkolom oor die persoon self (hoofletters) en hul gade (kleinletters) of hul volwasse lewe en die uurkolom oor hul kinders of latere jare.chinesefortunecalendar.com
Chinese kalender Maansonkalender
Die Chinese kalender vorm ’n 60-jaarsiklus, met twee aparte siklusse wat in wisselwerking met mekaar is. Die eerste is die siklus van die 10 Hemelstamme. Dit is die Vyf Elemente (in die volgorde Hout, Vuur, Aarde, Metaal en Water) in hul Jin- en Jangvorms.
Die tweede is die siklus van die 12 tekens in die Chinese diereriem (生肖 shēngxiào), of Aardtakke. Hul volgorde is Rot, Os, Tier, Konyn, Draak, Slang, Perd, Bok, Aap, Haan, Hond en Vark.
Hierdie kombinasie skep die 60-jaarsiklus – dit is die minimum aantal jare om te vorder van "Jang-Houtrot" tot "Jin-Watervark". Omdat die dieresiklus van 12 deelbaar is deur twee, kan elke teken net as óf Jin óf Jang voorkom: Die Draak is byvoorbeeld altyd Jang en die Slang Jin. Die huidige siklus het in 1984 begin, soos in die tabel hieronder duidelik is.
Om die maansonkalender te deurkruis, kan die maklike reël gevolg word dat jare wat op ’n ewe getal eindig, Jang is. Dié wat op ’n onewe getal eindig, is Jin. Die siklus lyk soos volg:
As die jaar op 0 eindig, is dit Jang-Metaal. As die jaar op 1 eindig, is dit Jin-Metaal. As die jaar op 2 eindig, is dit Jang-Water. As die jaar op 3 eindig, is dit Jin-Water. As die jaar op 4 eindig, is dit Jang-Hout. As die jaar op 5 eindig, is dit Jin-Hout. As die jaar op 6 eindig, is dit Jang-Vuur. As die jaar op 7 eindig, is dit Jin-Vuur. As die jaar op 8 eindig, is dit Jang-Aarde. As die jaar op 9 eindig, is dit Jin-Aarde.
So was 1924 die 1ste jaar in ’n siklus: Jang-Hout (Houtrot; sien die tabel regs bo). 1925 was die 2de jaar, Jin-Hout (Houtos), 1926 die 3de jaar, Jang-Vuur (Vuurtier), ens. 1983 was die 60ste en laaste jaar in dié siklus: Jin-Water (Watervark).
Die tradisionele Chinese diereriem volg die Chinese maansonkalender en die volgende jaar begin op die Chinese Nuwejaar, nie op 1 Januarie soos in die Gregoriaanse kalender nie. 1990 was byvoorbeeld die Jaar van die Perd, maar omdat dit eers op 27 Januarie begin het, sal iemand wat tussen 1 en 26 Januarie 1990 gebore is, in die vorige jaar, die Jaar van die Slang, val. Baie aanlyn berekenings van mense se geboorteteken is dus verkeerd omdat dié feit nie altyd in ag geneem word nie.
Jare en die 60-jaarsiklus Binne die Vier Pilare is die jaar die pilaar wat inligting aandui oor ’n persoon se familie-agtergrond en gemeenskap, of sy verhouding met sy grootouers. Sy ouderdom kan ook maklik afgelei word van sy teken, die huidige teken van die jaar en sy waargenome ouderdom (tienerjare, middel-20's, 40's, ensovoorts). In 2010, die Jaar van die Tier, is ’n Tier byvoorbeeld 12, 24, 36 of 48 jaar oud. In 2011, die Jaar van die Konyn, is die persoon ’n jaar ouer.
Die volgende tabel wys die siklus van 60 jaar volgens die Gregoriaanse kalender vir die jare 1924 tot 2043. Die 60-jaarsiklus begin omstreeks 4 Februarie met lichun, volgens sommige astrologiese bronne.