Die Mbiyamitirivier is 'n rivier in die verre suide van die Krugerwildtuin, in Mpumalanga, Suid-Afrika. Die opvangsgebied ontvang 'n neerslag van 500 tot 600 mm per jaar, en die monding is aan die noordoewer van die Krokodilrivier oorkant sirkelbesproeiingslanderye en die nabye Marlothpark. Die rivier is oorwegend 'n klein stroompie op 'n breë sandbedding wat uit Ecca-skalie verweer is. Mbiyamiti is 'n Tsonganaam wat omheinde statte in herinnering roep.Van der Wateren, Floors: Pocket Guide to the Placenames of the Kruger National Park, bladsy 6, April 2018 Die eMlambenirivier se samevloeiing met die Krokodil is 13 km stroomop, en die Bumespruit se samevloeiing 2,6 km stroomaf.

Flora en geologie Langs die rivieroewers groei onder meer jakkalsbessies en trosvye, waarvan groot eksemplare by Biyamiti-bosveldkamp aangetref word. Deur die vlaktes weerskante van die S139-rivierpad loop 'n band van relatief sagte Ecca-skalie noord- en suidwaarts deur die laeveld, wat ook plaaslike riviere se vloeirigting beïnvloed. Die eiesoortige veldtipe op hierdie substraat beslaan slegs 3% van die wildtuin en word die Delagoa-ruigtes genoem. Die ruigtes word oorheers deur Delagoadorings en meerstamvalsdorings, met swartapiesdorings plek-plek.

Verblyfplekke Op die regteroewer, net stroomop van die H3-toeristeroete, word die Jock Safari Lodge en Fitzpatricks Lodge deur private konsessiehouers bedryf. Stroomaf, 5 km van die Krokodilsamevloeiing, is die relatief klein Biyamiti-bosveldkamp ook op die regteroewer geleë. Dit word deur Sanparke bestuur en bestaan uit slegs vyftien selfsorg-akkommodasie-eenhede, sonder 'n restaurant of winkel. Die 22 km lange S139-rivierpad wat dit met die buitewêreld verbind is vir die uitsluitlike gebruik van Biyamiti-gaste.Biyamiti Bushveld Camp, De Wets Wild, 29 Junie 2013 Begeleide staptogte en dag- en nagritte kan ook bespreek word, en die uitkykpunt sowat 2 km van die kamp bied vergesigte oor die omgewing. Digby die S139 se aansluiting met die S114-roete is die Biyamiti-keerwal, waarvan die standhoudende rotspoele veral in droër tye 'n bestendige toeloop van dier- en voëllewe verseker.

Sytakke Mitomenispruit Meetsemohlaba Matimachwewu Mtlhowa Mahlambamadube Mhlambanyathi Siphampanane Dabidabi Komapiti Mhukweni Samarhole Napispruit Shitlhavespruit

Monding

Fotogalery

Eksterne skakel Google-kaart van die Mbiyamitirivier se monding by Geonames.org (cc-by)

Verwysings

Kategorie:Krokodilrivier (Mpumalanga) Kategorie:Krugerwildtuin Kategorie:Riviere in Mpumalanga