Shabnim Ismail (gebore 5 Oktober 1988) is 'n Suid-Afrikaanse voormalige internasionale krieketspeler wat haar debuut vir die Suid-Afrikaanse nasionale vrouespan in Januarie 2007 gemaak het.
Ismail is 'n regterarm snelbouler en een van die vinnigste vroueboulers in die wêreld. Een van haar aflewerings is in Januarie 2016 aangeteken as 128 km/h. Sy het verteenwoordig haar land tydens die vrouekrieketwêreldbekertoernooie in 2009 en 2013 verteenwoordig en is Suid-Afrika se alletye voorste paaltjienemer in beide EDI- en T20I-krieket. Sy het onder meer tydens die vrouekrieketwêreldbekertoernooie in 2009, 2013, 2017 en 2022, asook die T20I-vrouewêreldbekertoernooie in 2009, 2010, 2012, 2014, 2016, 2020, 2023 en 2026 vir Suid-Afrika gespeel. Tydens die T20I-vrouewêreldbeker 2023 het die Proteas vir die eerste keer ’n wêreldbekereindstryd – beide mans en vroue – gehaal, maar met 19 lopies teen Australië vasgeval.
Plaaslike loopbaan Ismail het in Oktober 2005 op ouderdom 17 haar buiging vir die vroueseniorspan van die Westelike Provinsie gemaak, tydens die 2005-06 seisoen van die Suid-Afrikaanse Provinsiale Vroueliga. Sy het 15 paaltjies in haar debuutseisoen geneem, die tweede meeste vir die Westelike Provinsie ná Shandre Fritz en Alexis le Breton. Dit is gevolg deur 21 paaltjies tydens die 2007-08 seisoen, wat die sesde meeste in die kompetisie was. Sy verlaat die Westelike Provinsie vir Gauteng in die 2015–16 seisoen.
Internasionale loopbaan Ismail maak haar internasionale debuut vir Suid-Afrika in Januarie 2007 op ouderdom 18, in 'n EDI teen Pakistan. Haar toets- en T20I-debuut was in dieselfde jaar, teen Nederland en Nieu-Seeland onderskeidelik. Ismail is vir Suid-Afrika se span gekies vir die Vrouekrieketwêreldbeker 2009 in Australië, maar sy kon slegs 'n enkele paaltjie neem in haar drie wedstryde. Tydens die T20I-vrouewêreldbeker 2009 in Engeland later die jaar het sy sewe paaltjies in drie wedstryde (insluitend 3/27 teen Australië) geneem, wat die meeste vir Suid-Afrika was en ook die derde meeste van die toernooi.
Tydens die Vrouekrieketwêreldbekerkwalifisering 2011 in Bangladesj het Ismail in 'n wedstryd teen Nederland 6/10 geneem en só gehelp om dié span op slegs 36 lopies uit te boul . Haar prestasie het 'n nuwe EDI-rekord vir Suid-Afrika opstel, dit was destyds die vierde beste boulprestasie in al die vroue-eendagwedstryde. Ismail se goeie vorm is voortgesit tydens die Vrouekrieketwêreldbeker 2013 in Indië, waar sy elf paaltjies in sewe wedstryde geneem het. Dit was die meeste vir Suid-Afrika en die vyfde meeste van die toernooi. Haar syfers sluit in 4/41 teen Australië, 2/18 teen Pakistan en 2/22 teen Sri Lanka.
Met sewe paaltjies in vyf wedstryde eindig Ismail as Suid-Afrika se gesamentlike voorste paaltjievraat (saam met Marizanne Kapp) tydens die T20I-wêreldbeker 2014 in Bangladesj. Teen Ierland neem sy 3/5 in drie boulbeurte. Suid-Afrika het die halfeindstryd van die toernooi vir die eerste keer gehaal, maar het minder sukses tydens die T20I-wêreldbeker 2016 in Indië gehad en hulle wen net een wedstryd. Ismail het ook min sukses en neem slegs drie paaltjies in haar vier wedstryde.
Persoonlike lewe Ismail is in Kaapstad gebore. Sy het reeds op skool begin krieket speel en het aanvanklik in 'n gemengde span gespeel, omrede haar skool nie 'n afsonderlike span vir dogters gehad het nie. Ismail is 'n praktiserende Moslem, en is die enigste Moslemvrou wat internasionale krieket vir Suid-Afrika speel. Sy studeer tans vir 'n meganiese ingenieur.
Verwysings
Eksterne skakels
Shabnim Ismail by ESPNcricinfo
Kategorie:Suid-Afrikaanse vrouekrieketspelers Kategorie:Geboortes in 1988 Kategorie:Lewende mense