Cebalrai (ook bekend as Beta Ophiuchi of β Oph) is ’n ster in die sterrebeeld Slangdraer (Ophiuchus). Sy skynbare magnitude is 2,7 en dit is dus redelik maklik met die blote oog sigbaar, selfs in stedelike gebiede. Volgens parallaksmetings is die ster sowat 81,8 ligjare van die Son af.
Eienskappe Cebalrai is ’n reusester met ’n sterreklassifikasie van K2 III. Hoewel sy massa net 13% groter as dié van die Son is, is dit in ’n stadium van sy evolusie waar die atmosfeer tot 12 keer die grootte van die Son s’n uitgesit het en sy ligsterkte tot 63 keer dié van die Son. Sy oppervlaktemperatuur is redelik koel, sowat 4 467 K, wat dit die oranje kleur van ’n K-tipe ster gee. Nes by sommige ander K-tipe reuse wissel Cebalrai se helderheid effens, met sowat 0,02 magnitude.,
Die ster is lid van die Melkweg se dunskyfsterre; dit is in ’n wentelbaan met ’n lae eksentrisiteit wat dit neem van 27 300 tot 30 900 ligjare van die galaktiese sentrum af, en van 620 ligjare bo tot dieselfde afstand onder die galaktiese vlak.
Moontlike planeetstelsel Wisselings in sy radiale snelheid, met ’n tydperk van 142 dae, dui op die moontlikheid van ’n eksoplaneet wat om Cebalrai wentel. Tot dusver is geen planeet ontdek nie; periodieke radiale pulserings wat deur intrinsieke sterveranderlikheid veroorsaak word, kan die rede vir die waargenome wisselings wees.
Name Die ster se Bayer-naam is "Beta Ophiuchi" en sy Flamsteed-naam "60 Ophiuchi". Die tradisionele naam, "Cebalrai", kom van die Arabiese كلب الراعي kalb al-rā‘ī, "die veewagter se hond".
In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die naam "Cebalrai" vir die ster goedgekeur.
Verwysings
Eksterne skakels
15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Flamsteed-voorwerpe Kategorie:Slangdraer (sterrebeeld) Kategorie:Sterre met eiename Kategorie:Veranderlike sterre Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:K-tipe reusesterre