duimnael|210px|Johannes Anthonie Smith.

Johannes Anthonie Smith (Aberdeen, Kaapkolonie, 4 September 1886 – George, Kaapland, 2 April 1954) was ’n skilder en kunsresensent, kunsredakteur van 'n koerant, verslaggewer en tydens die Tweede Wêreldoorlog Kaaplandse leier van die Nazi-gesinde Ossewabrandwag.

Lewensloop Smith het as jong skoolseun van nog nie 15 jaar oud nie besluit om teen die Britse owerheid te rebelleer. Een nag ontsnap hy uit die beleerde Aberdeen onder geweervuur. Eers sluit hy by kmdt. Gideon Scheepers se kommando aan en veg later onder genl. Wynand Malan. Op 3 Julie 1902 is hy as sestienjarige skolier aan hoogverraad skuldig bevind en gevonnis. Hoewel vrede op 31 Mei 1902 gesluit is, is die Krygswet nie voor 16 September 1902 finaal in Kaapland opgehef nie. Sy doodsvonnis vir hoogverraad is later versag tot lewenslange verlies van stemreg. Hy het sy herinneringe aan die Driejarige Oorlog te boek gestel in Ek rebelleer van 1939. Hy is beskryf as "'n begaafde skrywer" wat "die leser emosioneel (saam neem) op kommando om die wel en wee van die stryders mee te maak". Sy ander twee boeke was Brit en Boer (1917) en Naar Bloedrivier en Paardekraal (1918).

Ná die oorlog het Smith 'n swerwersbestaan gevoer en as verslaggewer gewerk by De Nieuwe Tyd op Aberdeen in die Oostelike Provinsie, daarna by Het Westen op Potchefstroom, by Onze Courant op Graaff-Reinet as bestuurder en redakteur (waar hy die Volkskool se wapen ontwerp het) en toe as redakteur van Die Afrikaner in Pietermaritzburg tot omstreeks 1925. Hy het hom toe aangesluit by die redaksie van Die Burger as Johannesburgse medewerker, waarna hy in 1928 in Kaapstad by dié dagblad gaan werk het. Meer as 20 jaar was hy Die Burger se kunsresensent.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het hy hom by die Ossewabrandwag (OB) aangesluit en dié buiteparlementêre groep se Kaaplandse leier geword. Ten spyte van Smith se vasbeslote teenstand het die OB se militante vleuel, die Stormjaers, wat aan die begin van die oorlog beperk was tot Transvaal, maar weldra ook uitgebrei het na die Vrystaat en Natal eindelik ook vastrapplek in Kaapland gekry. Van Rensburg, Hans. 1956. Their Paths Crossed Mine. Memoirs of the Commandant-General of the Ossewa-Brandwag. Central News Agency Ltd.

Waar hy ook al gewerk het, was hy betrokke by die oprigting van Afrikaanse skole, ook in Pietermaritzburg. Hy was lid van verskeie kunsliggame en het uitstallings gehou.

Sy seun en naamgenoot, wat onder die naam J. Anthonie Smith gewerk het, het tallose kerkgeboue ontwerp. Nog 'n seun was die skilder en omroeper Le Roux Smith Le Roux.

Artikel in Die Nuwe Brandwag duimnael|210px|Die buiteblad van sy boek, Ek rebelleer (1939). In Februarie 1933 het A.C. Bouman die volgende artikel oor Smith in Die Nuwe Brandwag geskryf onder die opskrif "Tentoonstelling van J.A. Smith op Stellenbosch":

Die beeldende kuns van Suid-Afrika vertoon een kenmerk wat uitstaan bo die ander: 'n gesonde naïwiteit. Veral spring dit in die oog by vergelyking met die kuns van ander lande, veral dan van sommige moderne rigtinge. Die Afrikaanse kunstenaar breek nie sy kop oor probleme nie, hy strewe nie in die eerste plek bewus na teoretiese ideale nie: hy skilder uit 'n pure vreugde om die skoonheid, hy getuig daarvan, meer as om dit te herskep tot ander waardes.

Daar is wel 'n weerkaatsing van Europese kunslewe ook in ons land; Pierneef se later werk is daarvan 'n sterk voorbeeld, juis vergeleke by sy vroeër tyd. Irma Stern is 'n persoonlikheid wat worstel, Caldecott was 'n stryder ook vir teoretiese helderheid. En terwyl elke kunstenaar vandag veel meer as in vroeër tye homself rekenskap gee van sy eie strewe en van sy eie plek in die kunswêreld, tog gebruik ek die woord naïwiteit in 'n prysende sin, en nie ironies nie. Sonder om die twee kategorieë: die meer bewus-optredende, wat aan die intellek en die gees 'n groot plek inruim, en die meer naïewe, wat veral uit die hart opwel, teen mekaar te wil afweeg, meen ek dat vir Suid-Afrika die tweede vandag die mees gewenste is. Die kunslewe in ons land is nou eenmaal nog nie so intens soos elders nie, die kunstenaars vorm nog nie so'n aparte kraal soos in Parys en ander wêreldstede nie, en hulle moet dus noodwendig in veel nouer aanraking bly met die volk.

J.A. Smith is 'n seun van die volk, 'n Boereseun. Reeds as kind, na die stryd tussen Boer en Brit, het hy dit gewys in soms pynlike konflikte. Hy het kleur beken van die begin af. En as skilder doen hy dit op 'n dubbele wyse: met die werklike kleure van sy palet, en met die sinnebeeldige van sy gevoel en karakter. Ek, wat hier nou iets oor sy werk skrywe, kan hierdie uitdrukking ‘kleur beken’ gebruik om die man in sy ontwikkeling te probeer bekyk. Dit is naamlik glad nie 'n maklike ding om in hierdie land, met sy dikwels oorweldigende kleureprag, werklik kleur te beken nie. Dit vereis krag, manmoedigheid, om nie jou oë toe te knyp nie maar hulle oop te hou en te gaan skilder wat jy werklik sien.

'n Jaar gelede, op die tentoonstelling in die Nuwe Kunsmuseum in die Kaapstad, was daar enkele fraai klein stukke van hom, beskeie van formaat, maar ook van kleur. Ek het die vergelyking getrek met die werk van Van Goyen, die sewentiende-eeuse Hollander, een van die mees atmosferiese landskapskilders van alle tye. Smith het hom ook besonder aangetrokke gevoel tot onderwerpe met een oorheersende stemming en kleur; dit was dan ook in ooreenstemming hiermee dat sy beste stukke gesigte was op die strand: 'n stuk see en duine, met 'n egalige plantegroei en silwerkleurige wolke daarbo. Hier was geen fel-sprekende kontraste nie, en dus ook nie die moeilikheid om allerlei teenstellings in een skema onder te bring nie. Ek het dit as 'n gelukkige, waarskynlik instinktiewe, insig beskou, dat die skilder sy keus so bepaal het en nie anders nie. Hy het binne die perke wat hy homself gestel het, mooi dinge bereik, en gewys dat hy 'n aangebore gevoel besit vir eweredigheid en 'n beskeie manier om sy gawes aan te pas aan die onderwerp en omgekeerd.

Die tentoonstelling van sy werke op Stellenbosch in Oktober laaslede het hierdie eerste gunstige indruk meer as bevestig. Hier was 'n flinke aantal skilderye, sodat ons 'n vollediger beeld kon kry van die kunstenaar. Daar was verskeie stukke van dieselfde opvatting as die strandgesigte, maar deurgaans was hierdie werk tog ryker en voller van kleur. Die eerste afgebeelde skildery, Landerye, is oorwegend ‘blond’ geskilder; nuanserings van goudgeel koringskowe, grysgroen grond, goudgroen struike en bome wissel mekaar af; daartussen egter straal 'n pers akker uit, sonder om die omgewing te oorstem; die lug is egalig koperkleurig, sterk van lig en gloed - kortom, daar is baie meer individuele kragte binne die omraming; die eenheid is egter behou - 'n bewys dat die skilder gewin het aan selfbeheersing, wat hom openbaar in die beheersing van die kleurwaardes, sterk en gaaf naas mekaar. Daarby is die komposisie rustig-oorwoë, sonder om styf van gestileerdheid te word; dit is 'n weldadig-aandoende verbinding van natuurlikheid en stylgevoel.

Die skilder besef blykbaar dat daar 'n gevaar kan skuil in die altyd opnuut herhaalde poging om terwille van die harmonie elke kleur 'n toon laer te stem; dit sou kan lei tot 'n sekere toonloosheid of grysheid van die geheel. Wanneer jou gemoedstemming miskien ook neig tot 'n gedempte vreugde, wanneer jy dit wil terugvind in jou omgewing, ook in die landskap, dan help dit saam om die palet sober te hou.

Daarom is dit belangwekkend om te sien hoe Smith in die skildery Kontraste doelbewus daarop uit is om besonder sterk sprekende waardes teen mekaar op te weeg. Hy wou homself op die proef stel en uitvind hoever sy illustratie beeldende vermoë kan gaan as dit afwyk van die mees geliefde paaie. Die teenstelling op die skildery is tweeledig: dit steun op die kleure sowel as op die lyne. Swaar slagskaduwees word deur die hoë, dreigende wolke gegooi op die heuwelrug, maar die skoongeveegde lug daartussen is besonder bleek en koel, die voorgrond en die huis belig deur 'n laagstaande son. Die lyne van die landskap self is rustig, langgestrek; die hoë bome saam met die wolke, daarenteen, sterk bewoë en dramaties. Die totaaleffek van die skildery is gelukkig, en in sover 'n verblydende teken van die voorwaarts-strewende gang van die skilder. Oorweldigend is dit nie - daarvoor is dit nog te berekend, dit mis die ietwat brutale durf waarmee Vlaminck, by voorbeeld, 'n landweg onder 'n donderbui neergooi. Tog lê ook in hierdie rigting moontlikhede, al meen ek dit te moet betwyfel of dié moontlikhede die meeste ooreenstem met Smith se aanleg.

Ons beperk ons in hierdie opstel tot vier werke - maar dié is ook die beste van die tentoonstelling. Jammer dat die volgende twee hulle so sleg daartoe leen om gereproduseer te word, dat afgesien moes word van die voorneme om hier 'n afbeelding daarvan te gee. Die ou Botterboom sowel as die Landskap vertoon sterk kwaliteite. Die eerste is meer 'n studie, die tweede 'n komplete skilderstuk. Daarom is daar in die eerste ook meer aksie, meer spontane vormgewing. Die penseelvoering is breed en fors, tog gevoelig, in die goeie sin van die woord ‘modern’. Dit is makliker om daarin tekortkomings aan te wys; so is vir my die berg- en boswêreld op die regterhelfte effens te vlak, te ééntonig, dit neem meer plek in as wat dit toekom; ook die lug is enigsins vlugtig afgeskeep. Maar die tekortkomings is tewens deugde, omdat die vlugtigheid verhinder dat jou aandag afdwaal van die hooffiguur: daardie verweerde, grillige, en tog nog trouhartig lewendige ou boompie. Dit staan daar in 'n hoekie van die wêreld, en dit pronk met sy sierlik verspreide groot blare. Daardie blare is fraai geskilder, fraai bleek-groen van kleur, dit tref jou as die openbaring van die lewe, wat jeugdig stroom, uit die aarde, deur die ou stam en skors van die boom. Hoewel 'n mens die stuk nie dekoratief kan noem nie, is die dekoratiewe werking van die groen blare tog besonder sterk: dit is die lewe, gesien en gevoel deur die herskeppende kunstenaar.

Die ‘Landskap’ is die mees deurwrogte stuk, in sy komposisie en in sy kleure. Dis rype werk, geestelik en vormlik. Die toon is 'n deurdrenkte, warme bruin, waaraan pers en geel-oker ondergeskik bly. Elke detail wat afbreuk sou kon doen, is weggelaat, sodat die stemming ongebroke kan spreek. En juis deur hierdie kenmerke, wat 'n styl openbaar, is die skildery minder ‘naïef’ as al die ander. Daardeur ook is dit wellig moeiliker om aangedaan en getref te word, omdat 'n mens besef dat jy hier staan voor 'n bewuste, intellektueel verfynde arbeid. Gelukkig is dit nie net 'n teoreties-mooi stuk nie, dit behou sy gevoelswaarde saam met sy styl, en daarom plaas ons dit aan die end van ons beskouing. Dit is nie naïef in die sin dat dit 'n blote navolging van die natuur sou wees nie - dit kan 'n mens beter bereik met 'n fotografie -, maar tog oorheers ook hier die gevoel, die spontane liefde vir kleur en lyn, bo die gees. Die laaste, bewus-vormende element egter het die natuur verhef op 'n hoër plan: om 'n spieël te wees vir die menslike geestesoog.

Ons hoop en vertrou dat Smith in die toekoms tyd en krag sal vind om sy skildersaanleg steeds sterker te ontwikkel, sonder om sy eie aard, die met die natuur vergroeide en vertroude liefde, te verloën.

Inskrywing in Kuns in Suid-Afrika duimnael|regs|300px|Johannes Antonie Smith se skildery "Olifantsrivier, Betsjoeanaland". In sy Kuns in Suid-Afrika van 1938 skryf dr. Bouman die volgende oor die skilderwerk van J.A. Smith: