Neil du Preez (gebore 10 Desember 1984) is 'n Suid-Afrikaanse musikant.
Du Preez is in 1984 in Rustenburg, Transvaal gebore. Hy matrikuleer aan Hoërskool Grenswag in 2003. Du Preez het op 'n vroeë ouderdom begin sing en as kleuter het hy ure lank homself, familie en vriende vermaak. Op 5 jarige ouderdom het hy sy heel eerste talentkompetisie by Loskopdam Aventura-oord gewen.
Op skool het Du Preez verskeie A+-diplomas in eisteddfods gewen en het ook aan verskeie musiekblyspele, kore en revues deelgeneem waarvan hy solo's gesing het. Op negejarige ouderdom het Du Preez en sy broer, Johan, tans sy bestuurder, saam opgetree en gehore vermaak. Hulle het bekendheid verwerf met hul album Ons bring hulde wat einde Junie 1993 vrygestel is. Hulle was ook deel van Simeon en Tjommies en het saam met Sonja Heroldt en Simeon Hamman getoer en opgetree. In 1997 nader die kulkunstenaar Chester hulle om saam met hom vertonings te doen en staan hulle bekend as The New Generations. In die jaar 2002 wen Du Preez Rustenburg Coca-Cola Pop Idols, wat deur Ricus Nel, Zak van Niekerk, Blackie Swart en ander beoordeel was. Streets of Gold Produksies het vir hom 'n demo-CD opgeneem. Du Preez het sy sangtalent verder ontwikkel deur aan verskeie sangkompetisie deel te neem waar hy dikwels met die louere weggestap het. In 2003 word Du Preez gekies om in die Afrikaanse produksie Gister, vandag en more deel te neem, wat deur die uitvoerendekunste-akademie vervaardig was, onder leiding van Toni Timms. Die regie was deur Alex Hasquar behartig en die tegniese bystand deur Studio-A . Die keurspel wat aangebied was, het vir so 'n geweldige positiewe reaksie gesorg, dat die akademie besluit het om 'n nuwe gevoel te gee en daarmee dan die geboorte van 'n Druppel rooi met opleiding aan die kunstenaars deur Mauri Mostert, Jackie Sims, Gerry Jansen, Tessa Riles en Leonie Minnie. Die 'n Druppel Rooi-keurspel bestaan toe uit 13 kunstenaars wat verskeie Afrikaanse liedjies opgevoer het. 'n Druppel Rooi het in 2003 in die Rustenburg-ouditorium opgetree en Du Preez en nog drie ander kunstenaars van 'n Druppel Rooi het by die Emerald Casino opgetree.
Alhoewel sy droom was om te sing, het Du Preez die besigheidswêreld betree. Na matriek verhuis Du Preez na Pretoria om by die familiebesigheid te werk. In 2011 besluit Du Preez om sy talent as sanger en liedjieskrywer verder te neem en maak so sy talent sy loopbaan.
In Februarie 2011 betree Du Preez die musiekwêreld. Hy nader sy broer, Johan, as bestuurder en registreer 'n besigheid Neil Shows Music and Productions en toer die land vol. By optredes en feeste het Du Preez die die verhoog met onder andere Lance James, Bobby Angel, Sally Vaughn, Bles Bridges, Frida Francis, Freddie Nest, Manie Jackson, Charlize Berg, Kevin Leo, Jakkie Louw, Quinton Prinsloo, Bobby van Jaarsveld, Guillaume, Richard van der Westhuizen, Dewald Dippenaar, Albert de Wet, Karlien Husselman en Riaan Nienaber gedeel.
Einde Maart 2012 stel Du Preez sy debuutalbum vry wat deur Wouter van de Venter by Lemon Jack Studios opgeneem is: Middernagsoene.
Musiekvideo – Middernagsoene deur Jackie Hancke geskryf en geregisseer.
Met 'n vol dagboek in 2013 was Du Preez te sien en te hoor by verskeie kuierplekke, radiostasies, funksies, skole en feeste landswyd soos insluitende die Klein Karoo Nasionale Kunstefees.
Du Preez was in 2014 betrokke by 'n projek genaamd Oppi Pad Fees waar hy en ander kunstenaars landswyd getoer en by 36 feeste opgetree het.
Eksterne skakels
Kategorie:Suid-Afrikaanse musici Kategorie:Geboortes in 1984 Kategorie:Lewende mense