Die bonobo, of Pan paniscus, is ’n spesie groot ape (Hominidae). ’n Nabyverwant is die gewone sjimpansee. Fossiel- en DNS-toetse wys albei spesies is sustersgroepe van die moderne menslike lyn.
Die bonobo is 'n bedreigde spesie en een van die twee spesies van die genus Pan. Die ander spesie is die sjimpansee. Hoewel die term "sjimpansee" soms gebruik word om na albei spesies te verwys, word dit deesdae meestal gebruik vir Pan troglodytes, terwyl die naam "bonobo" gebruik word vir Pan paniscus. Hulle is voorheen as 'n enkele spesie beskou en die bonobo was bekend as die dwergsjimpansee. Taksonomies word die subtribus Panina heeltemal deur die genus Pan opgeneem en daarom is die sjimpansee en bonobo saam as die "paniene" bekend.
Die bonobo word gekenmerk deur relatief lang bene, pienk lippe, ’n donker gesig en lang hare wat 'n middelpaadjie vorm. Hy kom voor in ’n gebied van 500 000 km2 in die Kongobekken van die Demokratiese Republiek die Kongo. Die spesie is omnivore, veral vrugtevreters, en kom hoofsaaklik in woude voor.
Nie die bonobo of sjimpansee is goeie swemmers nie en die vorming van die Kongorivier sowat 1,5-2 miljoen jaar gelede het moontlik gelei tot die splitsing van die bonobolyn vanweë spesievorming. Bonobo's bly suid van die rivier en het dus geskei geraak van die voorouers van die sjimpansee, wat noord van die rivier voorgekom het. Daar is geen konkrete inligting oor getalle nie, maar daar is na raming tussen 29 500 en 50 000 bonobo's oor. Die spesie is op die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur (IUBN) se lys van bedreigde spesies. Hulle word bedreig deur die vernietiging van hul habitat en die groter wordende mensbevolkings, maar hoofsaaklik deur wilddiefstal. In aanhouding leef hulle sowat 40 jaar.Rowe, N. (1996) Pictural Guide to the Living Primates, Pogonias Press, East Hampton, . Hulle lewensverwagting in die natuur is onbekend, maar waarskynlik heelwat korter.
Etimologie Ondanks die ou naam "dwergsjimpansee" is die bonobo nie eintlik kleiner as die gewone sjimpansee nie. Die "dwerg"-deel kom moontlik van die pigmeevolk wat in dieselfde gebied woon. Die naam "bonobo" is in 1954 die eerste keer gebruik deur Tratz en Heck. Dit is vermoedelik die verkeerde spelling op ’n skeepskrat van die dorp Bolobo aan die Kongorivier, wat verbind word met die verskeping van sjimpansees in die 1920's.
Taksonomie Die Duitse anatoom Ernst Schwarz het die bonobo in 1928 eerste as 'n aparte takson erken, gebaseer op 'n skedel in die Tervuren-museum in België wat voorheen geklassifiseer is as 'n jong Pan troglodytes (sjimpansee). Schwarz het sy bevindings in 1929 gepubliseer en die bonobo geklassifiseer as Pan satyrus paniscus, 'n subspesie van die sjimpansee. Coolidge's paper contains a translation of Schwarz's earlier report. In 1933 het die Amerikaanse anatoom Harold Coolidge dit tot spesiestatus verhoog.
Groot gedragsverskille tussen bonobo's en sjimpansees is in die vroeë 1950's die eerste keer in detail deur Tratz en Heck bespreek. Die Amerikaanse sielkundige en primatoloog Robert Yerkes was ook een van die eerste mense wat groot gedragsverskille bespeur het.
Bonobo's en sjimpansees is die twee spesies wat die genus Pan vorm. Hulle is die naaste lewende verwante van die mens (Homo sapiens). Die presiese tyd waarin die laaste gemeenskaplike voorsaat van Pan en Homo gelewe het, is onbekend, maar DNS-vergelykings dui daarop dat verbastering tussen die twee groepe se voorsate nadat die spesies geskei het, tot sowat 4 miljoen jaar gelede voorgekom het.
DNS-bewyse dui aan die bonobo en sjimpansee het sowat 890 000 - 860 000 jaar gelede geskei vanweë veranderings in die omgewing. Die twee spesies word tans deur die Kongorivier geskei. Die rivier het lank voor die skeidingsdatum bestaan, maar die voorouers van Pan het dalk die rivier oorgesteek met natuurlike brûe wat nie meer bestaan nie. Die eerste Pan-fossiele is in 2005 aangeteken uit die Middel-Pleistoseen (ná die splitsing tussen bonobo's en sjimpansees) van Kenia, saam met fossiele van vroeë lede van Homo.
Volgens A. Zihlman lyk die beenproporsies van die bonobo baie soos dié van Australopithecus, en dit het die evolusionêre bioloog Jeremy Griffith laat voorstel bonobo's kan 'n lewende voorbeeld van ons verlangse menslike voorsate wees. Volgens die Australiese antropoloë Gary Clark en Maciej Henneberg het die menslike voorsate deur 'n bonobo-agtige fase gegaan met minder aggressie en verwante anatomiese veranderings, soos voorkom in Ardipithecus ramidus.
Beskrywing thumb|links|220px|Die bonobos Kanzi (middel) en Panbanisha by Sue Savage-Rumbaugh en 'n buitelug-simbole-"toetsbord".
Die bonobo word algemeen beskou as slanker as die sjimpansee. Hoewel groot sjimpanseemannetjies baie groter en swaarder as enige bonobomannetjie kan wees, oorvleuel die twee spesies se liggaamsgrootte in 'n groot mate. Volwasse bonobowyfies is effens kleiner as volwasse mannetjies. Liggaamsmassa wissel van 34 tot 60 kg, met 'n gemiddelde gewig van 45 kg in mannetjies teenoor sowat 33 kg in wyfies.
Die lengte van bonobo's van die neus tot die agterstewe as hy handeviervoet staan, is 70 tot 83 cm.
Die bonobo se kop is relatief kleiner as dié van gewone sjimpansees en hulle het minder prominente oogbanke. Hulle het 'n swart gesig met pienk lippe, klein ore, wye neusvleuels en lang hare op die kop wat 'n paadjie vorm. Wyfies se borste is effens groter as die ander mensape se plat borste, maar nie so prominent soos by mense nie. Die bonobo het ook 'n slank torso, smal skouers, 'n dun nek en lang bene in vergelyking met die gewone sjimpansee.
Bonobo's hou op die grond en in bome. Op die grond loop hulle meestal op hulle kneukels. In minder as 1% van gevalle loop hulle op twee voete in die natuur, terwyl daar in gevangenskap 'n groot mate van variasie is – van sowat 3,9% van die tyd tot sowat 19% wanneer volop kos verskaf word.
Dié fisieke eienskappe en houding laat die bonobo meer soos die mens as soos die gewone sjimpansee lyk. Die bonobo het ook hoogs individuele gelaatstrekke, nes mense, sodat een individu heelwat anders as ander individue kan lyk. Dié eienskap sorg vir visuele herkenning in sosiale situasies.
Gedrag Algemeen Volgens die Nederlandse primatoloog Frans de Waal is bonobo's in staat tot naasteliefde, deernis, empatie, goedhartigheid, geduld en sensitiwiteit. Hy beskryf die bonobogemeenskap as matriargaal. Primatoloë wat bonobo's in die natuur bestudeer het, het 'n wye verskeidenheid gedrag waargeneem, onder meer aggressiwiteit en meer sikliese seksuele gedrag nes by sjimpansees, hoewel bonobo's meer seksuele gedrag in 'n groter verskeidenheid verhoudings openbaar. 'n Ontleding van die binding (bonding) tussen wyfies in die natuur het vroulike seksualiteit beklemtoon en gewys hoe wyfies baie langer bronstig bly as sjimpansees.
Sommige primatoloë reken De Waal se data weerspieël net die gedrag van bonobo's in gevangenskap, wat aandui dat hulle in die natuur 'n vlak van aggressiwiteit toon wat nader aan dié van sjimpansees is. De Waal het gereageer deur te sê die kontras in temperament tussen bonobo's en sjimpansees in gevangenskap is betekenisvol, want die invloed van die omgewing kan beheer word. Die twee spesies tree verskillend op, al is die omstandighede identies.
'n Studie in 2014 het ook bevind bonobo's is minder aggressief as sjimpansees, veral die oostelike sjimpansees. Die skrywers reken die relatiewe vreedsaamheid van westelike sjimpansees en bonobo's kan hoofsaaklik aan ekologiese faktore toegeskryf word. Bonobo's waarsku mekaar oor gevaar minder doeltreffend as sjimpansees in dieselfde situasie.
Sosiale gedrag thumb|220px|Bonobo's is baie sosiaal. Bonobo's is ongewoon onder mensape vanweë hulle matriargale sosiale struktuur (die groot oorvleueling van manlike en vroulike hiërargieë laat sommige kenners na hulle verwys as gendergebalanseerd in hulle magstruktuur). Bonobo's het nie 'n afgebakende gebied nie en gemeenskappe sal oor groot gebiede rondbeweeg. Danksy die nomadiese aard van die wyfies en die eweredige verspreiding van voedsel in hulle omgewing kry mannetjies nie 'n duidelike oorhand in die vorming van bondgenootskappe met ander mannetjies of in die verdediging van hulle tuiste, soos by sjimpansees, nie. Bonobowyfies het ook skerper oogtande as sjimpanseewyfies, en dit help verder om hulle status in die groep te verhoog.
Hoewel 'n mannetjie in 'n bonobopaartjie oorheers, na gelang van die gemeenskap, kan wyfies wat sosiaal bind net so oorheersend as mannetjies wees of die mannetjies oorheers, in so 'n mate dat wyfies onwillige mannetjies kan oorreed om met hulle te paar.
Aan die bopunt van die hiërargie is 'n koalisie van wyfies en mannetjies van 'n hoë rang met gewoonlik 'n ou, ervare matriarg wat as besluitnemer en leier van die die groep optree. Wyfies verdien gewoonlik hulle rang met ondervinding, ouderdom en die vermoë om alliansies met ander wyfies in die groep te vorm, eerder as deur fisieke intimidasie, en wyfies met 'n hoë rang sal nuwe wyfies in die groep teen manlike teistering beskerm.
Terwyl bonobo's dikwels matriargaal genoem word en elke gemeenskap deur 'n wyfie oorheers word, sal sommige mannetjies steeds 'n hoë rang bereik en saam met die alfawyfie werk. Hulle sal dikwels die inisiatief neem om die groepsbewegings te koördineer. Hulle kan nie net 'n hoër rang as die ander mannetjies in die groep bereik nie, maar ook as baie wyfies. Sekere mannetjies waarsku die groep teen moontlike bedreigings en beskerm die groep teen roofdiere soos slange en luiperds.
thumb|links|'n Bonobo op soek na termiete. Aggressiewe wisselwerking tussen mannetjies en wyfies is seldsaam, en mannetjies verdra kleintjies en jong diere. Daar is 'n bevestigde geval van 'n mannetjie wat sy boetie aangeneem het nadat dié wees gelaat is. 'n Mannetjie kry gewoonlik sy status van dié van sy ma. Die band tussen ma en seun bly dikwels dwarsdeur hulle lewe sterk. Hoewel sosiale hiërargieë bestaan en die seun van 'n wyfie met 'n hoë rang groter beheer as 'n wyfie met 'n laer rang kan hê, speel range 'n kleiner rol as in ander primaatgemeenskappe.
Bonobo's is nie territoriale diere nie en die verhoudings tussen verskillende gemeenskappe is dikwels positief en samewerkend. Hulle sal ook hulle kos met ander deel, selfs met vreemdelinge. Volwasse bonobo's behou dikwels eienskappe van jong diere, en dit verhoed aggressie in 'n groot mate. Dit stel ook vreemde bonobo's in staat om vrylik te meng en saam te werk.
Mannetjies knoop lang vriendskappe met wyfies aan en op hulle beurt verkies wyfies om te paar met mannetjies wat respek teenoor hulle betoon en maklik is om oor die weg mee te kom. Omdat wyfies alliansies kan gebruik om oorheersende mannetjies te ondermyn, neem hulle hulle tyd om maats te kies wat nie aggressief teenoor hulle is nie. Ouer bonobo's verloor hulle spelerige aard en raak makliker geïrriteer. Albei geslagte toon dieselfde mate van aggressiwiteit.
Bonobowyfies migreer na nuwe gemeenskappe, terwyl die mannetjies in die groep bly waarin hulle gebore is. Dit is egter nie ongehoord dat mannetjies ook na 'n nuwe groep trek nie. Soms bly wyfies met invloedryke ma's ook in hulle geboortegroep.
Terwyl alliansies tussen wyfies sterk is, is dié tussen mannetjies in die meeste gemeenskappe onderontwikkel. Wyfies kan ook alliansies met mannetjies vorm, soos in 'n jaggeselskap met albei geslagte.
'n Wyfie sal haar volwasse seun ondersteun in konflikte met ander mannetjies en hom help om beter bande met wyfies aan te knoop. So sal sy haar kans vergroot om kleinkinders van hom te kry. Sy sal selfs fisiek tussenbeide tree om mannetjies te keer om met sekere wyfies te paar wat sy vir haar seun wil hê. Wyfies is ook al waargeneem wat kinders van 'n ander gemeenskap aanneem.