Izak Wilhelmus van der Merwe (1897–1967), welbekend onder sy skrywersnaam Boerneef, was ’n Suid-Afrikaanse skrywer, digter, leksikograaf en akademikus. Hy word beskou as 'n fyn prosaïs en die beste onder die Afrikaanse skrywers wat "klein-realisme" of "fantasie-realisme" gelewer het. Hierdie skrywers het hulself buite die groter lewensproblematiek gestel, en hul blik gevestig op volkstipes, eenvoudige mense, kleindorpse lewe en die noue lewenskringe daarvan.
Die Hertzogprys vir digkuns word in 1968 postuum aan hom toegeken. Talle van sy gedigte is getoonset, onder meer Voshaarnooi en Die berggans het ’n veer laat val. Hy het ook 'n toonaangewende Afrikaans-Engels woordeboek saam met medewerkers gelewer.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013,
Lewe en werk duimnael|links|280px|Boerneef omstreeks 1966 Boerneef is op 11 Mei 1897 op Boplaas in Ceres se Kouebokkeveld gebore.NB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/Authors/7967 Sy ouers was Carel Petrus van der Merwe en Eliza Lubbe. Boplaas is sedert 1743 in die familie se besit en die plaaswerf met die historiese gebou is in 1973 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar. By die plaasskole op Boplaas en die buurplaas Houdenbek kry hy sy laerskoolonderrig, waarna hy in 1914 op die dorpskool in Ceres matrikuleer. Hierna boer hy ’n jaar lank op die familieplaas en studeer dan vanaf 1916 verder aan die South African College (vandag die Universiteit van Kaapstad) waar hy in 1918 ’n B.A.-graad en in 1919 ’n M.A.-graad in Afrikaans-Nederlands en ’n Onderwysdiploma behaal. Hy gee ’n jaar aan die South African College School onderwys in Hollands, waar N.P. van Wyk Louw een van sy leerlinge was.Steyn, J.C. Van Wyk Louw: ’n Lewensverhaal Deel I. Tafelberg-uitgewers Beperk Eerste uitgawe 1998 bl 35-36 Vanaf 1922 tot 1961 is hy as dosent in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad verbonde, later as senior lektor en die laaste aantal jare (1956–1961) as medeprofessor.Esaach: http://esaach.org.za/index.php?title=Van_der_Merwe,_Izak_Wilhelmus In hierdie tyd is hy ’n gereelde deelnemer aan radioprogramme.
Op 6 Mei 1924 trou hy met Marie Roux, dogter van ds. Paul Roux wat ’n Boeregeneraal was in die Anglo-Boereoorlog en ’n krygsgevangene op Ceylon. Een kind, Carl Petrus, word uit die huwelik gebore
Moeilike jare In 1929 kry hy tering, wat hom etlike maande van die werk af weghou. Vir ’n tyd is hy in die sanatorium van dr. D.P. Marais van Kloofnekweg en hy kry ook behandeling in die Vrystaat, maar hy herstel volkome. In 1933 verhuis die gesin na Tamboerskloof in Kaapstad, waar hulle in Byronstraat 2 ’n huis gebou het, wat hy Hantam noem. Marie sterf op 27 Augustus 1940 op 44-jarige ouderdom aan maagkanker. Hy trou weer kort daarna, op 31 Oktober 1941 met Annie de Kock. Slegs ses weke na die huwelik word ontdek dat Annie borskanker het en haar bors word voor Kersfees verwyder. Die kanker was egter reeds te ver versprei en op 9 Mei 1943 sterf sy, slegs vyf en dertig jaar oud. Kort voor sy aftrede trou hy in 1956 met Francina Alida (Fannie) Jordaan, weduwee van J.J. Jordaan, die eerste hoof van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad. Sy is die moeder van Willem Jordaan, wat as boekkunstenaar die tegniese en kreatiewe versorging van ’n groot aantal Afrikaanse boeke behartig het. Hulle het getrek na haar huis, Berg-en-See, in Moltenoweg 28 in Oranjezicht in Kaapstad.
Betrokkenheid by Kaapstad se literêre beweging In die dertigerjare is hy een van die leidende figure in die Kaapse letterkundige kring, wat ook N.P. van Wyk Louw, W.E.G. Louw, Hettie Smit, F.J. le Roux en J. du P. Scholtz insluit. Hy is in 1936 ’n stigterslid van die Vereniging vir die Vrye Boek, wat onder meer Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan en Van Wyk Louw se Die halwe kring publiseer. In 1934 word die Kaapstadse Afrikaanse Toneelvereniging (K.A.T.) gestig, waarvan hy saam met H.A. Fagan en sy vrou Queenie, A.M. Viljoen, Anna Neethling-Pohl, M.I. Murray, Herman Rooseboom, N.P. van Wyk Louw en Jacques Malan die eerste bestuurslede is. Die doel van die K.A.T. is om die Afrikaanse toneel deur opvoerings, besprekings en vertalings te bevorder, ’n toneelbiblioteek en ’n teater met die nodige fasiliteite op te rig en die Afrikaanse Eisteddfod te ondersteun. Self tree hy op die verhoog op in die 1936 opvoering van Die heks.Esat: http://esat.sun.ac.za/index.php/I.W._van_der_Merwe Wanneer die Nederlander Jan Greshoff hom in 1939 in Kaapstad vestig, word Boerneef goeie vriende met hom, asook met D.J. Opperman nadat hy in 1949 as dosent aan die Universiteit van Kaapstad aangestel word.
Liefde vir kuns Hy reis nie baie in sy leeftyd nie en verkies om eerder sy geld op kunswerke te bestee. So koop hy skilderye aan van kunstenaars soos Cecil Higgs, Pranas Domšaitis, Irma Stern, Enslin du Plessis, François Krige, Erik Laubscher en Jean Welz, wat in vandag se waarde ’n fortuin van baie miljoene rand werd is. Hy skenk die kern van sy versameling in 1962, vyf jaar voor sy dood, aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad. Hierdie skenking beloop altesaam 64 skilderye.
Hy is op Sondag, 2 Julie 1967 in sy huis in Kaapstad oorlede. Sy as is na Boplaas geneem, soos dit sy begeerte was.
Skryfwerk links|duimnael|Boerneef voor 1936
Prosa Boerneef se eerste skryftaak (onder sy regte naam) was om saam met professor D.B. Bosman (en later ook L.W. Hiemstra) ’n Tweetalige Woordeboek vir Engels en Afrikaans saam te stel, wat dan ook die standaardwerk op hierdie gebied word (eerste uitgawe in 1936 en daarna telkens hersien en aangevul).
Sy vriende moedig hom aan om die stories wat hy aan hulle vertel, neer te skryf. Vanaf 1935 verskyn hierdie stories dan ook in Die Huisgenoot en word dit later in boekvorm gepubliseer. Hoewel baie van die vertellings by anekdotes bly en nie veel spanning het nie, tref dit met die woordgevoeligheid, die pretensieloosheid, opregtheid en die menslikheid daarvan. Hierin spreek hy sy verlange na ’n kinderwêreld uit en gebruik hy woorde en uitdrukkings wat eie is aan sy grootwordjare en andersins verlore sou geraak het. Waar die werke van sy tydgenote die plaaslewe sterk romanties gekleur het, munt Boerneef se bydrae uit in die nugter uitbeelding van die wrede en harde aard van hierdie lewe, sowel as aan die heerlikheid daarvan. Vir sy tyd, waar die romantiese rigting in die prosa oorheers, is hierdie eenvoud en natuurlikheid van segging iets besonders. Gewilde temas uit sy werk sluit in die jaarlikse trek met die veetroppe uit die Koue Bokveld na Ceres se Karoo, die oes, die geestigheid, gebruike en gewoontes van die outydse wêreld van die boer en die talle bruin mense en feitlik simbolies geworde diere (voorbokke, osse en perde met hulle treffende name soos Mooiveld, Stokwil, Douland) uit hierdie kontrei, wat soms op die periferie beweeg en soms sentraal in die vertelling staan. Wat die bruin mense betref, is daar Jakob April, Jan Skotland, Pensie en bowenal Dirk Ligter.
Sy eerste bundel kortverhale of sketse is Boplaas, waarin hy stories vertel oor sy jeugherinneringe van sy kontrei en ook die legendariese Dirk Ligter aan ’n breër publiek bekendstel. Die lewe op ’n plaas in vergange jare word in sy voorspoed en teenspoed geteken, met die plaaswerkers en plaasdiere as belangrike karakters. P.G. du Plessis neem Dirk Ligter – die nimlike hy in die versamelbundel Halfeeu op, waarin hoogtepunte uit die eerste vyftig jaar van Die Huisgenoot saamgebundel word. Dit is ’n humoristiese verhaal van die besoek wat die verteller en sy broer Frans by Dirk Ligter gaan aflê. Hulle spoor hom op by Tankwafontein en luister die hele dag na sy verhale oor sy wedervaringe.
Van my kontrei is soortgelyk van aard, met plaassketse wat die bundel oorheers. Hierdie herinneringe aan die lewe op die plaas word vertel in kleurryke taal, deurspek met die volksidioom. Die geaardheid van die plaaswerkers en die interaksie tussen die boer en sy werkers word in verskeie humoristiese insidente verhaal. Ook Dirk Ligter maak weer sy verskyning, hierdie keer op sy oudag in ’n Kaapse tehuis, waar hy verteer word deur verlange na sy kontrei.
In Stad en land bevat, soos die titel aandui, sketse uit die plaaslewe wat aansluit by sy vorige bundels, en sketse uit die stadslewe. Op die plaas word Dirk Ligter se prominente plek nou gevul deur Hans Saal, wat doepa gooi en deur al die plaaswerkers met ontsag behandel word. ’n Hoogtepunt uit Boerneef se sketse uit die stad is Stortreën, waarin hy hulde bring aan ’n Kleurlingseun wat ten spyte van die yskoue reën wat hom deurdrenk laat, met opregte vrolikheid sy stootkarretjie met vis stoot terwyl hy onophoudelik sing. Die skaapwagter se vrou ontgin die waansin op ontroerende wyse. Ook treffend is die skets oor ’n aantal teringlyers in ’n sanatorium, waar hulle verhoudings onderling en hulle geestestoestand met goeie insig geteken word. In ’n paar sketse verskuif die agtergrond na die Vrystaat in die tyd van die Anglo-Boereoorlog.
Sketsboek bevat weer verskeie sketse oor die Kaapse Kleurlinge, vol simpatie en humor. Elize Botha neem Dennepitte uit hierdie bundel op in Afrikaanse essayiste. In hierdie opstel word die temas van herinnering, verlange en verlatenheid wat gereeld in sy werk voorkom, goed gekombineer met die vereistes van die werklikheid en hoe die beste uit albei wêrelde behou kan word. Hierdie bundel bevat ook die kinderreeks oor Oupie, die koerantverkopertjie.
Teen die helling munt uit in die sober weergawe van die gebeure, waarin telkens die karakters, oomblik en stemming helder vasgevat en weergegee word. Dit geskied alles sonder boodskap of strekking en bly slegs suiwer weergawe waarop die leser self sy eie gevolgtrekkings moet maak, sodat elke skets tot nadenke stem. Die bundel bevat onder andere die aangrypende verhaal van Klara Mentoor, wat in yskoue weer uitgaan om haar byna blinde vader te gaan soek en in die koue omkom, terwyl haar vader veilig was by ’n vriend. Papadiamantopoulos is ’n ou Griekse kafee-eienaar wat gereeld skaak speel met die digter Dietlof. Dit is sy enigste intieme kontak met ander mense, want hy slyt sy lewe in eensaamheid en met baie geldelike probleme in ’n vreemde land waar sy gebrekkige taalkennis kommunikasie feitlik onmoontlik maak. Iewers in sy verlede was daar egter ’n vrou en ’n hartseer storie, verklap deur die skildery van ’n pragtige jong vrou wat in die verwaarloosde kafeetjie hang. Teen die helling, die titelstuk in hierdie bundel, het die Kleurling Andries Harlekyn as hoofkarakter. Hy bly in die stad maar hunker steeds terug na die plaas, ’n ver en onbereikbare wêreld. In sy taalgebruik, vertelwyse en wanaangepastheid in die stad vorm hy ’n band met die verteller. Dialoog beslaan die oorgrote meerderheid van die lengte van die verhaal, waardeur dit ook ’n sterk dramatiese karakter kry. Die titel is simbolies van die steilte van die laaste dae, voor die dood ons kry. Hoewel hierdie stuk hoofsaaklik beskrywend van aard is, slaag die skrywer daarin om met fyn vakmanskap die gegewe te verdig sodat meerduidige interpretasies van die teks moontlik word.Antonissen, Rob. Standpunte. Nuwe reeks 16, Februarie-April 1957Antonissen, Rob. Kern en tooi. Nasou Beperk Eerste uitgawe Eerste druk Elsiesrivier 1963 Vir Teen die helling ontvang Boerneef in 1956 die W.A. Hofmeyr-prys.
Ook vir die jeug lewer hy ’n bydrae met sy boeke Pensie (oor ’n kleurlingseuntjie), Van my kinderdae (waarin veral Heldermuis en Joors Jorie ’n hoogtepunt is) en Vlettervlie en Koesnaatjie. Hierdie boeke bestaan hoofsaaklik uit sketse uit die lewe van bruin kinders uit sy geboortekontrei.