Carl Otto Hager (Dresden, 16 Oktober 1813 – Stellenbosch, 7 Oktober 1898) was 'n Duitse argitek, portretskilder en baanbrekerfotograaf wat veral bekend geraak het in Suid-Afrika vir die ontwerp van talle kerkgeboue van die Nederduitse Gereformeerde Kerk.

Hy was een van die grootste eksponente van die Neogotiese boustyl in Suid-Afrika, maar talle van die kerke wat hy ontwerp het, is intussen gesloop, onder meer dié op Carnarvon, Fraserburg, Willowmore (dit is onseker of hy dit wel ontwerp het), Caledon, Ceres en Heidelberg, Kaap. Van die mooistes wat behoue gebly het, is dié op Stellenbosch, Piketberg, Ladismith, Somerset-Oos en Pearston. Hy het ook kerke in die Vrystaat ontwerp, maar die name daarvan het vergete geraak. Ander noemenswaardige geboue waarvoor hy verantwoordelik was, is die Kweekskool (intussen ingrypend verander) en die neoklassieke Ou Hoofgebou van die universiteit op Stellenbosch.

Kinderjare en opleiding duimnael|300px|Die ontwerp van die Rooms-Katolieke katedraal die Heilige Maria op Staplein in Kaapstad is in 1840 aan Hager en Carel Sparrmann toevertrou. Dié litograaf is geskep deur Thomas Bowler. Dit was Suid-Afrika se eerste groter Rooms-Katolieke kerk. Die Kaapse 'preekkerk' en sy oorsprong, Hans Fransen. URL besoek op 18 November 2014.

duimnael|links|270px|Die Kweekskool op Stellenbosch is in 1859 in die voormalige Drosdy gestig wat 'n barokgewel van 1767 gehad het totdat dit in 1868 'n verdiepinggebou geword het volgens planne opgestel deur Hager. Die platdak van daardie jaar het later plek gemaak vir 'n staandak, soos op dié foto gesien kan word. Die Kweekskool het sy huidige vorm in 1905 gekry, hoewel die fyn Victoriaanse gietysterwerk aan die gebou intussen verwyder en gedeeltelik deur beton vervang is.

Hager was die seun van Johann Carl Gotthelf Hager (Dresden, 1764 – 15 Julie 1816), regskonsultant en belastingamptenaar van die Saksiese regering, en sy tweede vrou, Johanna Rosina Galwitz (Rusland, 1792 – Stellenbosch, 7 Februarie 1854), 'n Russiese dame uit die adelstand. 'n Besprekingsforum oor genealogie. URL besoek op 18 November 2014. Hager het sy vader verloor toe hy drie jaar oud was. Wilhelm Krüger (1775–1820), 'n destyds bekende kunstenaar, Allgemeine deutsche Biographie, Bd.: 51, Nachträge bis 1899: Kálnoky – Lindner, Leipzig, 1906. het by die gesin kom inwoon en die portrette wat hy geskilder het, is so goed deur Hager nageteken dat Kruger hom lesse gegee het. Hy het skool toe gegaan op sesjarige leeftyd, maar sy tekenlesse het intussen voortgeduur tot hy nege jaar oud was.

Vanweë opmerklike kunstalent is Hager in 1828 ingeskryf aan die koninklike akademie van die kunste in Dresden, waar hy tot 1834 studeer en hom as portretskilder bekwaam het. Volgens nog 'n bron het Hager in die argitektuur aan die Koninklike Kunsakademie in Dresden studeer, nie die skilderkuns nie.

Ná sy praktiese opleiding emigreer hy in Desember 1838 saam met sy studentevriend Carel Sparmann na die Kaapkolonie ná 'n toevallige ontmoeting met 'n voormalige Duitse konsul aan die Kaap. Hulle rig saam in die Kaap 'n boufirma op en intussen maak Hager ook opgang as portretskilder en tekenonderwyser, hoewel dit vir hom moeilik was om 'n bestaan te maak weens 'n tydelike handelslapte in Kaapstad. In 1840 word hulle hier met die beplanning van die St. Mary-katedraal op Stalplein toevertrou. Vandag nog toon die sierlike interieur die onmiskenbare spore van Hager se ontwerpe. Ná die voltooiing van die kerkgebou skei die twee se weë.

Hager verhuis in 1841 na Stellenbosch, Duitsers op Stellenbosch. URL besoek op 18 November 2014. waar hy werk kry as portretskilder. Volgens sy memoires, in 'n mengsel van Nederlands en Duits, het dié dorp hom herinner aan sy "... vaterland en een gevoel van voorspelling zegde my dat dit een plaats van rust op de aarde voor my wezen zou (zijn)". Van April 1842 werk hy in die Paarl en omgewing en van Januarie 1843 op Worcester, Swellendam en Port Beaufort aan die Breërivier. Op 9 Augustus 1842 trou hy op Stellenbosch met Cornelia Margaretha Janssen (oorlede 22 April 1886), die dogter van die plaaslike Duitsonderwyser en self 'n musiekonderwyseres. Minstens 20 jaar van hul getroude lewe moes hulle 'n sukkelbestaan voer waarin Hager soms portretskilder, dan weer snuifmaker, dan kersemaker en uiteindelik fotograaf was. Hy was ook lief daarvoor om te skets en heelwat van sy sketse het gelukkig behoue gebly.

Tweede verblyf in Suid-Afrika duimnael|links|230px|Hager het die Evangelies-Lutherse kerkie op Stellenbosch ontwerp wat ingewy is op 28 November 1854. Ook dié gebou is 'n nasionale gedenkwaardigheid.

duimnael|320px|Dié foto is einde 1862 of begin 1863 geneem tydens bouwerk aan die Stellenbosse moederkerk. Hager sit in die middel met die planne in die hand. Regs van hom staan die bouaannemer, James Jardine van Worcester, met sy duimstok in die hand. Die voorman, wie se naam vergete geraak het, dui kamtig iets aan op die planne.

duimnael|links|230px|Die plaak wat die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede in 1970 aan Hager se Evangelies-Lutherse kerk aangebring het.

In April 1845 keer hy met sy gesin na Duitsland terug, maar kom in Desember 1846 met sy moeder, 'n weduwee, terug na Suid-Afrika en open 'n tabakwinkel in Kaapstad nadat hy 'n moeilike bestaan gevoer het as rondreisende portretskilder wat in die distrik Malmesbury te perd gereis het en later ook op Rondebosch en Wynberg gewerk het.

In 1861 verhuis hy opnuut na die Eikestad waar hy lidmaat word van die Lutherse gemeente en sonder betaling die Lutherse kerkie in Dorpstraat ontwerp. Dis 'n uiters sierlike stukkie Neogotiek wat vandag nog bestaan as kunsmuseum (sedert 1969) van die Universiteit Stellenbosch. Sy moeder laat by haar dood in 1854 'n ruim erf en huis aan hom na (De Eiken, Markstraat, Stellenbosch), wat tot vandag behoue gebly het en waarin Hager en sy gesin tot aan sy dood bly woon het. Op Stellenbosch is van 1862 tot 1865 sy bekendste ontwerp, die moederkerk se veranderings en vergroting, opgerig. Met sy gebruik van Gotiese elemente het hy 'n reuse-invloed uitgeoefen op die Suid-Afrikaanse kerkboukuns in die daaropvolgende dekades tot argitekte soos Wynand Louw en Gerard Moerdijk in die eerste helfte van die 20ste eeu 'n inheemse kerkboustyl begin ontwikkel het. Ook op Stellenbosch het hy die dorp se opgaardam en filtreerbeddings ontwerp.

Fotograaf Hager het reeds kort nadat Sparmann sy eerste daguerreotipe-atlejee aan die Kaap oopgemaak het, die afneemtegniek geleer. As beroepsfotograaf het hy self eers heelwat portrette afgeneem en van Mei 1858 af 'n kort tydjie sy eie ateljee by Pleinstraat 16, Kaapstad, gehad. In 1864 het hy 'n fotografiese ateljee op Stellenbosch geopen wat dadelik groot aftrek gekry het. Enkele van die portrette wat hy destyds geneem het, het behoue gebly.

Kerkargitek duimnael|links|230px|Stellenbosch se NG moederkerk het Hager alombekend as kerkargitek gemaak en die werk laat instroom.

duimnael|270px|Hager het die Hoofgebou van die Victoria-kollege op Stellenbosch omstreeks 1879 ontwerp.

Hager se ontwerp van die NG moederkerk op Stellenbosch het hom feitlik onmiddellik alombekend gemaak en bestellings vir soortgelyke kerkgeboue het van oraloor begin instroom. So word hy die vader van die Neogotiese boustyl in Suid-Afrika. Soms het hy persoonlik toesig gehou oor die bouwerk, byvoorbeeld tydens sy verblyf op Somerset-Oos vir die bouwerk aan die plaaslike NG kerk toe hy in die pastorie tuisgegaan het by ds. J.H. Hofmeyr en sy gesin. In sy Memoires vertel Hager hoe hy sy intrek in ds. Hofmeyr se pastorie geneem het en hoe hulle hom aanvaar het soos 'n eie familielid en hy vrylik kon deel in die huislike en godsdienstige lewe.Hofmeyr, W. Louw, Nico J., S.M.. George S. en Johannes W. (samestellers). 1987. Die Hofmeyrs: 'n Familiegeskiedenis. Lynnwoodrif en Bloemfontein: Die Samestellers. Hy het altesaam 18 maande in die pastorie gewoon en het geskryf: "Dit was 'n liewe familie. Ek is dadelik opgeneem en het gedeel in die huislike en godsdienstige samesyn … Deur die voorbeeld van ds. Hofmeyr het ek dierbare vriende gemaak. Ek is geëer en bemin deur elkeen. As ek enige jare lank in Kaapstad op die toppunt van ellende was, dan was ek (op Somerset) op die toppunt van voorspoed, eer en seëninge."Smith, John (red.) 1974. Somerset-Oos-gedenkboek. 1825–1975. Somerset-Oos: Sentrale Feeskomitee.

Hager het die toesighouding soms ook aan sy oudste seun, Johann Carl Maxmillian Hager (1844–1917) opgedra, maar het altyd die planne self geteken. Onder die kerkgeboue wat hy ontwerp het, was dié van Clanwilliam (1864), Fraserburg (1866, intussen gesloop), Somerset-Oos (1870), Heidelberg, Kaap (1872, intussen gesloop), Ladismith (1874), Tulbagh (1876), Caledon (1877, intussen gesloop), Oudtshoorn (1877–1880), Piketberg (1881). Kerke wat hy nie in sy herinneringe roep nie, maar wat bes moontlik sy werk is, is dié van Ceres (1881, intussen gesloop), Porterville (1894, intussen gesloop), Hopefield (1877, later vergroot) en NG gemeente Willowmore (intussen gesloop).

In sy herinneringe het hy ook melding gemaak van verskeie kerke in Oranje-Vrystaatse gemeente tussen 1874 en 1880, maar die name van die gemeentes is nie bekend nie. Ongelukkig noem hager nie dié kerke by name nie. Omdat kerklike dokumente tydens die Tweede Vryheidsoorlog ook grotendeels vernietig is, bestaan daar geen getuienis oor watter geboue hier ter sprake is nie. Dit is wel ook bekend dat hy die planne vir die pastorie op Willowmore opgestel het en vir veranderings aan die dak van die gerestoureerde pastorie op Fraserburg verantwoordelik was. Die enigste ander bouwerke wat ongetwyfeld aan hom toegeskryf kan word, is die ou Kweekskool op Stellenbosch, met die aangrensende wonings vir professore (1868, grondig herbou in 1905) en die hoofgebou van die Victoria-kollege waarvan die hoeksteen in Desember 1880 gelê is. Die gebou is eers vyf jaar en 11 maande later in gebruik geneem. Dis die oudste akademiese gebou op die Universiteit Stellenbosch se kampus en was die gevolg van 'n opvatting wat in 1879 met die Eikestad se 200-jarige bestaansviering ontstaan het om 'n gedenkteken te bou wat die dorp se stigting sou gedenk en daarom is besluit om 'n grootse, nuwe kollegegebou op te rig. Berig oor restourasie van die Hoofgebou . URL besoek op 18 November 2014.

Richard Wocke (1831–1890), wat naas talle regerings- en ander geboue ook die bekende Tweetoringkerk in Bloemfontein en die NG kerke op Boshof, Brandfort, Edenburg, Philippolis en Rouxville ontwerp het, het etlike jare lank opleiding in Kaapstad as pleisteraar en messelaar by Hager gekry. Hy het dan ook Hager se direkte, kragtige styl van kerke as ontwerper aangeneem. Lewensbeskrywing van Wocke op Artefacts.co.za . URL besoek op 19 November 2014.