Die Steenbrasdam is in die Steenbrasrivier geleë naby Gordonsbaai, in die Wes-Kaap, Suid-Afrika. Dit strek sowat 8 km in 'n nou riviervallei in die Hottentots-Hollands-berge op en beslaan 'n oppervlakte van 397 ha wanneer die dam vol is.
Die dam voorsien water aan Kaapstad en word deur die stad se munisipaliteit beheer. Voordat die oorspronklike bouwerk in 1921 voltooi is, was die stad afhanklik van 'n aantal klein opgaardamme wat hul water ontvang het van strome wat op Tafelberg ontspring. Die Steenbrasrivier ontspring in die reënryke gebied van die Hottentots-Hollandsberge waar die neerslag soms 1 900 mm per jaar is.
Ondanks die klein opvanggebied van 67 km2, is die gemiddelde watertoevloei na die dam tydens die reënseisoen derhalwe relatief hoog, naamlik 34 miljoen m3. Die damwal is sedert 1921 altesaam 4 keer verhoog: in 1924 (6 m), in 1927 (11,5 m), in 1954 (1,35 m) en in 1957 (6 m).
Die betonboogwal het 'n kruinlengte van 412 m en is aan die suidelike punt van die Steenbrasriviervallei gebou. Onderkant die dam is die rivierbedding met onder meer rotstuine en terrasse verfraai en kampeerterreine is ook in die omgewing aangelê.
Let Wel Daar is 'n Bo-Steenbrasdam (volume onbekend) en 'n Benede-Steenbrasdam (met 'n bakmaat van 33,9 miljard liter).
Sien ook Lys van grootste damme in Suid-Afrika
Bonne Wêreldspektrum, 1982, , volume 26, bl. 165
Kategorie:Damme van Suid-Afrika Kategorie:Wes-Kaap