regs|duimnael|Tutsi-volksmoord in Rwanda (1994)
Volksmoord is die misdaad om 'n menslike groep opsetlik te vernietig, in die geheel of gedeeltelik. In die volksmond word dit as die grootskaalse doodmaak van mense verstaan, maar in die reg en in die wetenskap is dit die groep self wat geteiken word. Dade van volksmoord sluit naas moord ook niedodelike dade in, soos die voorkoming van geboortes binne die groep, die gedwonge oorplasing van kinders na 'n ander groep, en kulturele volksmoord.
Die woord is in die vroeë 1940's deur Raphael Lemkin geskep. Hy wou volksmoord deur 'n internasionale verdrag verbied hê, maar die Volksmoordkonvensie het sy aanvanklik breë omskrywing tot vyf bepaalde dade teen 'n nasionale, etniese, rasse- of godsdienstige groep beperk. Regsgeleerdes, historici en sosioloë stry steeds oor die omskrywing.
Volksmoord kom deur die hele geskiedenis van die mens voor, ook reeds in die voorgeskiedenis. Die meeste volksmoorde vind in oorlogstyd plaas, en hulle is veral waarskynlik waar 'n ryk uitbrei of 'n bewind sy mag konsolideer. Die verskynsel word met kolonialisme verbind, veral met setlaarskolonialisme, sowel as met die twee wêreldoorloë en met onderdrukkende regerings van die twintigste eeu. Ondanks pogings om volksmoord te beëindig, het doeltreffende ingryping nog nie plaasgevind nie.
Volksmoord word wyd as die toppunt van menslike boosheid beskou en word dikwels die "misdaad van misdade" genoem. Dit is meesal 'n staatsmisdaad, en die meeste oortreders is sielkundig normaal. Dit is nooit 'n doel op sigself nie, en vind gewoonlik plaas wanneer die oortreders hulle eie voortbestaan as bedreig beskou. Die geweld volg gewoonlik 'n patroon waarin volwasse mans doodgemaak word terwyl vroue en kinders seksuele geweld en verslawing ly. Ander algemene middele is verplasing onder dwang, die steel van grond en die vernietiging van kultuurerfenis. Ná 'n volksmoord is ontkenning en straffeloosheid vir die oortreders die reël.
Oorsprong van die begrip duimnael|Die Holocaust beïnvloed die volksopvatting van volksmoord sterk, naamlik as die massamoord op onskuldige mense op grond van hulle etniese identiteit. Die Pools-Joodse regsgeleerde Raphael Lemkin het die woord genocide tussen 1941 en 1943 geskep. Hy het die Griekse woord genos met die Latynse agtervoegsel -caedo verbind. Genos beteken "geslag" of "volk" en -caedo "die doodmaak van". Sy belangstelling in die onderwerp is as regstudent deur die Armeense volksmoord gewek. Hy het die manuskrip van sy boek Axis Rule in Occupied Europe vroeg in 1942 ingedien, en dit is in 1944 gepubliseer juis toe die Holocaust buite Europa bekend geword het. Sy voorstel om volksmoord strafbaar te stel, was meer as die blote verbod op 'n soort massaslagting: hy het gemeen dat 'n wet teen volksmoord verdraagsamer en pluralistiese samelewings kon bevorder.
Volgens Lemkin was die kern van volksmoord "die vernietiging van 'n nasie of van 'n etniese groep", waarin die lede daarvan nie as individue nie maar as lede van die groep geteiken word. Die oogmerke daarvan sou "die ontbinding van die politieke en maatskaplike instellings, van die kultuur, die taal, die nasionale gevoelens, die godsdiens en die ekonomiese bestaan van nasionale groepe" wees. Dit was vir hom nie afsonderlike misdade nie maar verskillende kante van dieselfde proses. Sy omskrywing van 'n nasie was breed genoeg om op byna enige soort menslike groepering toegepas te word, selfs een wat op 'n onbeduidende eienskap berus. Hy het volksmoord as 'n wesenlik koloniale proses beskou en het in sy latere werk die koloniale volksmoorde ontleed wat binne die Europese kolonies plaasgevind het, ook binne die Sowjet- en die Nazi-ryk. Lemkin het gemeen dat volksmoord sedert die begin van die menslike geskiedenis voorkom, en het die pogings om dit strafbaar te stel tot by die Spaanse kritici van koloniale uitspattings, Francisco de Vitoria en Bartolomé de las Casas, teruggevoer. Die Poolse hof wat die SS-amptenaar Arthur Greiser in 1946 skuldig bevind het, was die eerste wat die woord in 'n uitspraak gebruik het, en het Lemkin se oorspronklike omskrywing gevolg.
Definisie Die omskrywing van volksmoord verskil aansienlik tussen regerings, organisasies en navorsers, en telkens wanneer 'n nuwe geval opduik, ontstaan daar weer 'n twis oor die vraag of dit as volksmoord tel. Die redes vir dié verskille hang dikwels saam met wat diegene wat die begrip omskryf, wel en nie onder die misdaad wil laat val nie, juis omdat dit so 'n uiterste aanklag is. Die sosioloog Martin Shaw skryf: "Min idees is so belangrik in die openbare debat, maar in min gevalle is daar so min ooreenstemming oor die betekenis en die omvang van 'n sleutelidee." Sienings wissel van volksmoord as 'n uiters seldsame misdaad wat moeilik bewys kan word, tot 'n verskynsel wat in eufemistiese taal in enige geskiedenisboek aangetref kan word.
Die Volksmoordkonvensie
duimnael|upright=1.2|Deelname aan die Volksmoordkonvensie Volgens die regsinstrument waarmee die verslane Duitse leiers tydens die Neurenberg-verhore vervolg is, was wreedheidsmisdade slegs deur die internasionale reg vervolgbaar as hulle deel van 'n onwettige aanvalsoorlog was; die moondhede wat die verhoor gevoer het, was nie bereid om 'n regering se optrede teenoor sy eie burgers aan bande te lê nie. Lemkin het sy voorstel om volksmoord strafbaar te stel in 1946 na die pas gestigte Verenigde Nasies geneem. Die teenkanting was groter as wat hy verwag het, omdat state gevrees het dat hulle eie beleide, waaronder die behandeling van inheemse volke, die Europese kolonialisme, rassesegregasie in die Verenigde State en die Sowjet-nasionaliteitsbeleid, as volksmoord bestempel sou word. Voor die konvensie aanvaar is, het die Verenigde State, die Verenigde Koninkryk en die Sowjetunie daaraan gewerk om dit onafdwingbaar te maak en om dit op hulle geopolitieke teenstanders se optrede maar nie op hulle eie nie van toepassing te maak. Min voormalige kolonies was verteenwoordig, en "die meeste state het geen belang daarby gehad om hulle slagoffers te bemagtig nie".
Die uitkoms was 'n vernouing van Lemkin se oorspronklike begrip, wat hy self as 'n mislukking beskou het. Onder die geweld wat so van die stigma van volksmoord bevry is, tel die vernietiging van politieke groepe, waarvoor veral die Sowjetunie geblameer word; die gedwonge verskuiwing van bevolkings, wat die Sowjetunie en sy bondgenote met die Westerse moondhede se goedkeuring teen miljoene Duitsers uit Sentraal- en Oos-Europa uitgevoer het; en kulturele volksmoord, ondanks Lemkin se argument dat dit en fisiese volksmoord twee meganismes met dieselfde doel is. Die gegenderde geweld van gedwonge swangerskap, huwelike en egskeidings is ook uitgelaat, hoewel Lemkin die aanvaarding van die konvensie aan vroueorganisasies toegeskryf het.
Die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies het die konvensie op 9 Desember 1948 aanvaar, en dit het op 12 Januarie 1951 in werking getree nadat 20 lande dit sonder voorbehoud bekragtig het. Dit omskryf volksmoord soos volg:Artikel IIConvention on the Prevention and Punishment of the Crime of Genocide, un.org
In die huidige konvensie beteken volksmoord enige van die volgende handelinge wat gepleeg word met die bedoeling om 'n nasionale, etniese, rasse- of godsdienstige groep as sodanig in die geheel of gedeeltelik te vernietig: (a) Lede van die groep doodmaak; (b) Ernstige liggaamlike of geestelike leed aan lede van die groep veroorsaak; (c) Doelbewus lewensomstandighede aan die groep toedien wat bereken is om die fisiese vernietiging daarvan in die geheel of gedeeltelik teweeg te bring; (d) Maatreëls instel wat bedoel is om geboortes binne die groep te voorkom; (e) Kinders van die groep met geweld na 'n ander groep oorplaas.
Die bedoeling om te vernietig is wat volksmoord van ander misdade onderskei, en dit is vir aanklaers die moeilikste element om te bewys. Die howe sukkel om te bepaal wat dit beteken om 'n groep "as sodanig" te vernietig en hoe groot 'n deel van 'n groep geteiken moet word voordat die konvensie in werking tree. Die oorheersende benadering vereis dat die oortreder die groep uitdruklik wou vernietig, hoewel daar ook steun is vir 'n benadering wat volstaan met die wete dat 'n mens se dade 'n oorkoepelende volksmoordoogmerk bevorder. Oortreders voer dikwels aan dat hulle slegs die groep uit 'n bepaalde gebied wou verwyder eerder as om dit as sodanig te vernietig, of dat die dade neweskade van militêre optrede was.
Ook poging tot volksmoord, sameswering om volksmoord te pleeg, aanhitsing daartoe en medepligtigheid daaraan is strafbaar, maar die konvensie laat nie die vervolging van gebeure van voor 1951 toe nie. Ondertekenaars is ook verplig om volksmoord te voorkom en die oortreders te vervolg.
Omstrede omskrywings Die vakgebied volksmoordstudies het in die 1970's en 1980's ontstaan toe die sosiale wetenskappe die verskynsel begin ondersoek het. Die volksmoorde op inheemse volke in die loop van die Europese kolonialisme is aanvanklik nie as volksmoord erken nie, en die meeste navorsing bly op 'n beperkte kanon van twintigste-eeuse gevalle toegespits terwyl baie ander gevalle onderbestudeer of vergete is. Baie navorsers is met sowel die objektiewe studie van die onderwerp as met insigte gemoeid wat toekomstige volksmoorde kan help voorkom.
Die konvensie se omskrywing word deur baie navorsers en aktiviste gebruik. Ander verkies enger omskrywings wat volksmoord tot massamoord beperk of dit van ander soorte geweld onderskei deur die onskuld, hulpeloosheid of weerloosheid van die slagoffers. Aangesien die meeste volksmoorde in oorlogstyd plaasvind, is dit moeilik om volksmoord van gewone oorlogvoering te onderskei. Volksmoord word net so onderskei van gewelddadige en dwingende regeringsvorme wat daarop gemik is om gedrag te verander eerder as om groepe te vernietig. Verskynsels wat aan volksmoord herinner maar afgesonderd of van korte duur is, word volksmoorddadige geweld genoem.
Kulturele volksmoord of etnosied verwys na dade wat op die voortbestaan van 'n groep se taal, kultuur of leefwyse gemik is. Hoewel dit uit die konvensie gelaat is, meen die meeste navorsers dat sowel kulturele volksmoord as strukturele geweld by die omskrywing ingesluit behoort te word wanneer dit met die bedoeling gepleeg word om die geteikende groep te vernietig. Baie van die meer sosiologiese omskrywings oorvleuel met dié van uitwissing as 'n misdaad teen die mensdom. Politieke en maatskaplike groepe is ook uit die konvensie gelaat, hoewel Lemkin hulle ingesluit het; die gevolg is dat oortreders die stigma van volksmoord probeer ontduik deur hulle teikens as politieke of militêre vyande voor te stel.
Die meeste burgerlike sterftes van die twintigste eeu was nie die gevolg van volksmoord nie, en vir die prosesse wat buite die enger omskrywings val, is ander begrippe geskep. Etniese suiwering, die gedwonge verdrywing van 'n bevolking uit 'n bepaalde gebied, het algemeen ingang gevind, hoewel baie navorsers erken dat dit dikwels met volksmoord oorvleuel. Ander terme op -sied het vermenigvuldig vir die vernietiging van bepaalde soorte groeperings: demosied (mense deur 'n regering), elitesied (die elite van 'n geteikende groep), etnosied (etniese groepe), gendersied (gendergroeperings), politisied (politieke groepe), klassesied (maatskaplike klasse) en urbisied (die vernietiging van 'n bepaalde plek).